Dinsdag 17 Julie 2018

Program 3 Ontnugtering van 'n opbreek

In die laaste twee programme het ek met julle gesels oor Alleenheid en ontnugtering, twee groot hindernisse waarmee enkellopende mense sukkel. Daarmee saam wil ek ook net herhaal dat ek nie ‘n berader is nie. Maar dat jy my gerus kan kontak as jy meer vrae het. Indien ek nie antwoorde het nie kan ek jou verwys na ‘n berader of jy kan Riekie Knoetze, ‘n pastorale berader hier by Elan Global Radio kontak. 

Alleenheid, waarmee die meeste enkellopendes sukkel, klop dadelik aan jou deur. Vernaam Vrydaeaande, wanneer families bymekaar kom, gaan jy alleen huis toe en al wat vir jou voorlê is die koue huis en TV. Dit is dan wat depressie jou heeltemal oorval en sommiges selfs selfmoord oorweeg. Dit is ook die tyd wanneer baie enkellopende vroue, net om met iemand te gesels, die verkeerde persoon kontak en so ontwikkel nog groter probleme waarvoor sy nie gereed is nie. 

Ontnugtering is die tweede grootste struikelblok. Jou oogklappe word vinnig afgeruk en jy moet die drade optel op die beste manier vir jou omstandighede. Geen twee sake is die selfde nie en elke persoon hanteer dit verskillend. Ons kan dit nie in ‘n boks sit en dink die resep werk vir almal nie.

Gedurende hierdie tye besef jy hoe belangrik is ‘n ondersteunings groep en dan jy steun nogal baie op hulle. Die meeste van ons is gelukkig as ons een het, die meeste – agv jou verwysings raamwerk – staan alleen. Ons elkeen se pad tot hier was anders, party is deur baie finansiële swaartye, ander moet ontrouheid verwerk of minderwaardigheid omdat hulle vir solank gedwing was om te glo hulle is sleg. Die emosionele en fisies afbreking van ‘n vrou vat jare om te herstel. En hulle is juis die vatbaarste vir enige manupileering. My raad sou wees om dit stap vir stap te vat, gesond te word. voordat daar enige iets anders oorweeg word. Ek sou ook aanbeveel om weg te bly van enige sosiale blaaie totdat jy genoegsame selfvertroue opgebou het om die wêreld weer in die gesig te kyk.

As vrou is ons gewoonte doeners wat weet wat van ons verwag word. Dit kom outomaties, ingeprent deur jare se herhaling wat tydens popspeel begin. In ruil daarvoor soek ons stabiliteit en aanvaarding toegegooi in ‘n kombers van liefde.

Ons is eintlik baie maklik om te vrede te stel wanneer die bogenoemde dinge in plek is maar wanneer ons onseker is van enige iets rakende ons maat dan verander dit ons in die spreekwoordelike druppende kraan, koue yskaste en negatiewe wesens, tevrede met niks. Mans is dan onhandig en heeltemal uit hul gemaksone en het geen benul hoe om die vroulike geslag te hanteer nie. Hulle verskoon dan hulself met verskonings soos ek verstaan nie hoe haar kop werk nie. Of sy is koud en wil net kerk praat die heeltyd. Daarom kan ek die dinge doen wat ek doen.

Van kleins af word vrouens gevorm om kinders groot te maak, te kook,
wasgoed op die regte manier te doen, ons huise perfek skoon te hou. Ons is binneversierders, stokperdjiekundiges, taak navorsers van formaat. Ons word huurmotorbestuurders vir die kinders wat hul oral vat na buitemuurseaktiewieteite, ons is baas baksters, ons kan kerkbasaars reël en kinders die regte leiding gee in elke area, selfs tuiniers en in baie gevalle ‘n handy man. Met ‘n wye belangstelling in die dinge om ons.
Maar oo wee as jy aan die rekenaar wil raak of iets wil leer bloot net om jou kennis te vermeerder en jouself te verryk, dan is jy dom verby. Glo my, dit is nie net ‘n outydse konsep nie, dit gebeur nog, net meer subtiel. Selfs vrouens sal neerhalend wees as jou algemene kennis groter is as hulle sin. Dit is ‘n lelike sirkel wat jou kan maak of breek.

Vir groot meerderheid van vrouens is werk buite die huis net ‘n droom en die vaalheid van jou bestaan strek voor jou uit. Maar dan verander dinge. Omdat die man jou nie kan verstaan nie of wat ookal die rede is wat hy aanvoer, beland jy skielik buite hierdie veilige kokon van aanvaarbare status. Vir sommige is dit ‘n skok wat eers verwerk moet word. Maar wanneer dit verby is staar die werklikheid jou in die oë. Die vissie se bak het gebars en die wêreld is vreemd en geweldig groot. Nou sien jy dit met nuwe oë raak. Jy is vreesbevange, skrikkerig en heeltemal verdwaald.

Jy is alleen met geen steunpillaar wat jou kan help nie. Skielik is die bekende wêreld onbekend en jy voel baie klein, en jy wonder waar pas jy in? Daar is niemand met wie jy kan gesels of raad vra nie. Jou ewewig is versteur sodat dit voel of jy verdrink.

Jy het ook al hierdie stemme om jou en jy voel ongebalanseerd, beangst probeer jy om jou balans te vind tussen die mengelmoes van stemme, verantwoordelikhede en vrouwees.

Vir die meeste jonger vrouens, wat tans deur so iets gaan, is dit tog in ‘n groter mate makliker. Ons huidige, duur lewe veroorsaak dat al hoe meer vrouens die werksmark betree, hulle studies gee hulle alreeds ‘n voet in die deur en hulle loopbaan is suksesvol en dan is baie van hierdie struikelblokke irrelevant. Die meeste van die jonger vrouens het heel moontlik ‘n kar, kan ‘n blyplek bekostig (miskien nie waaraan hulle gewoond was nie maar het nogsteeds ‘n dak oor hul kop) Skeiwette help ook in daardie area en vroue is net meer bekend met die dag tot dag sake. Anders as ons vrouens van 50 en ouer.

Maar in ‘n groot mate is baie van die verskonings van jonger mans nog dieselfde. “Sy verstaan my nie. Of sy is koud en stel nie belang nie daarom soek ek groener weivelde.” Of baie jonger mans is bloot net lui om te werk. Wat ookal die rede is wat aanleiding gee tot die skeiding is die ontnugtering en aanpassing ewe swaar met verrykende gevolge. Jonk en oud.

Na 30 jaar van my eie huishouding behartig was ek weer terug in my ouer huis. Niks berei jou voor vir al die veranderinge nie en jy skuifel voetjie vir voetjie vorentoe in die hoop dat iets iewers sin sal maak en dat deurbraak net agter die volgende deur is. In my geval was ek die een wat weggestap het en het myself voorberei vir die tekortkominge waarmee ek sou moes klaar kom. Maar die ontnugtering los jou tog steeds in ‘n maalkolk wat jou balans heeltemal omvergooi en jou met ander oë na die wêreld te kyk.

Dit is ‘n nimmereindigende pad van lesse wat skaaf in elke area. Almal wil help maar op hulle terme. Hulle wil jou slyp na hul prentjie. Hoe jy optree, met wie jy praat, hoe jy praat, elke aksie wat jy maak het nagevolge en jy wonder soms of jy op 50 dan nie met mense kan kommunikeer nie? Is jy rerig so sleg soos mense jou dan beskuldig? As eiendomsagent is ek al rondgeslinger tussen menslike opinies wat my verward agtergelaat het. Van: jy is te reguit tot moenie dankie se wanneer jy samewerking van ‘n klient kry nie. Of jy baklei nie hard nie genoeg nie daarom verdien jy nie die listing nie. Dit is ‘n harde wêreld wat jou goed kan laat twyfel en jou in die duister laat met geen lig in die tonnel nie. Hoe meer jy sug na onafhanklikheid hoe meer sukkel jy om vry te kom van die tentakels van vrees wat jou wil aftrek. Of jy in ‘n staat van afhanklikheid wil hou met geen grasie nie.

Die velle ontnugtering hiervan laat jou terug trek.

Elkeen van ons hanteer sulke situasies anders. Alles dien as verdedigings meganisme – ‘n manier om jouself te beskerm teen mense wat jou “vyandig gesind” is.

‘n Mens sou dink op hierdie ouderdom sal jy teleurstelling beter kan hanteer, wat nie die geval is nie. Die grootste les wat jy kan leer is om jou lewe privaat te hou. Met groter onderskeiding jou pad te stap en te doen wat binne jou vermoë is, die res is uit jou hande.  

Die vraag “Wie is ek?” kom dan weer onwillekeurig op. Die titels het in ‘n groot mate verander. Maar die struikelblokke is nog daar. Hierdie struikelblokke hou aan om jou te slyp en skaaf.



Verdere struikelblokke wat ook op jou pad kom is:

    1.    Verwerping: ‘n Ruk gelede het ek ‘n motiveringsboek gelees. Ek ontvang heelwat boeke van aspirant skrywers vir ‘n Resensie en kry soms met die mees interresantse mense te doen. Tal Gur, ‘n Israeliese jongman wat in Australie bly, se lewe is dinamies en tree hy as motiverings spreker op deur net sy eie raad te leef. Die man kry dit baie goed reg om jou op te bou op ‘n baie praktiese manier. En ek kon werklik aanklank vind met dit wat hy met my gedeel het. Dit is wat hy skryf oor die onderwerp:
a.     “There are many factors that constitute a successful journey. But perhaps the biggest secret of success is one’s mental toughness. Eventually, we all reach a threshold, the point at which we just can’t go any further. This is where our ability to withstand discomfort becomes vital.” TAL GUR. The Art of Fully Living. Omdat hy besig was om voor te berei vir ‘n fiets toernooi het hy verstaan hoe belangrik dit is om verby die fisiese pyn te kom om ‘n wen te kan verseker.
b.    Net so is dit van toepassing vir onsself. Ons moet ons self druk om verby die ongemak te kom van persoonlike verwerping om so te kan seëvier te midde van die probleme. Verwerping is net ‘n vorm van pyn wat ons kan terughou in ons groei en dit is so maklik om verswelg te word daarin. Ons moet ons denke vernuwe sodat ons sterk kan staan en paraat wees vir die pad vorentoe.


    2.    ‘n Negatiewe gesindheid kan soos ‘n gewig word wat jou af trek. Dit is beslis ‘n struikelblok met geen positiewe uitkoms nie. Depressie is een van die grootste dinge waarmee mense sukkel en hulp is die meeste kere ‘n goeie ding. Moenie dan probeer om dinge alleen te verwerk nie. Praat eerder met iemand. ‘n Positiewe gewaarwording maak jou sterker. Dit verander jou gemoedstemming en jy sien als deur ander brille. Wanneer dit gebeur is jou gesindheid ook verskillend van die normale. Geen deprisant kan ‘n negatiewe in ‘n positiewe verander nie. Ek verstaan dat daar wel mense is wat onder dokter toesig dit wel gebruik maar indien jy dit nie nodig het nie bly weg daarvan. Krukke op die ou einde maak jou afhanklik en jy leer nie om op jou eie voete te staan nie.
    3.    Die lewe self kan ‘n struikelblok wees. Daar is baie eerstes wat jy gaan beleef wat nogal intimiderend kan wees. Aanvaar die dinge en maak dit die beste. Kry goeie raad, as jou pa nog leef, vra hom veral as dit by kar of praktiese probleme kom. Daar is heelwat slaggate om voor op te pas in hierdie tyd. Mense wat kringe om jou sal loop omdat hulle weet jy is naïve en desperaat. Daar is mense wat gewetenloos is deur geld uit jou te maak. Jou finansiële tekorte beindruk hulle nie, nog minder jou storie en hulle sal elke sent van jou vat sonder om jammer te voel. Want dit gaan oor hulle en wat hulle kan kry. Bedrieër bladsye op Facebook is een van die grootste probleme wat enige persoon sal jag veral enkellopende vroue. Wees bedag op die kulkunstenaars. Hulle rympies is almal dieselfde.
Dit is ‘n kwessie van copy paste en verder voel hulle niks vir jou nie. Jy kan hulle maklik uitken: Die meeste is sogenaamde “wewenaars” wat in “Kaapstad” bly. Onveranderd in hul storie, probeer hulle jou oortuig dat hulle die ware Jakob is. Hulle sal jou byvoorbeeld oortuig dat hulle op ‘n skip is en fondse nodig het vir ‘n siek kind. En dan moet jy help met geld en beloof plegtig hulle sal jou terug betaal. ‘n Ander profiel wat hulle graag gebruik is die profiele van Amerikaanse soldate. Elkeen het ‘n storie, van ‘n pakkie wat jy op die lughawe moet optel, tot geld wat jy moet oorbetaal.
En die eintlike kriminele, wat daar agter sit, is sindikate wat meerendeels in Nigirie gebaseer is.

Daar is ook sommige SA mans wat skaamteloos in wat hulle soek en sal voorgee hulle het vir jou werk. Baie van hulle het ook alter ego blaaie om hul ding te doen, weg van die vrou en kinders se oë. Hul intensies is nie eerlik nie. Heuning word kwistig om die mond gesmeer en sal sê net wat jy wil hoor. Meeste van die blaaie is splinternuut of het net pornografiese plasings daarop. Indien dit jou nie pla nie gaan voort en gesels maar wees op en wakker en moenie foto daarop plaas wat hulle teen jou kan gebruik nie. FB is ‘n sosiale blad en die goed kan soos ‘n veldbrand versprei so waak daarteen. Hul blaaie het ook geen persoonlike inligting nie. As jy vra hoekom is hulle nie bevriend met hul familie of kinders nie dan het hulle slim stories en so word die lys van leuns net langer. Wees bedag hierop want jy is ‘n teiken.

Ons onskuld lei ons gewoonlik aan die neus en dit is dan wat ons straat wys moet wees. Gewoonlik teen ‘n vinnige pas want die lewe is onvoorspelbaar. Niks kan jou voorberei teen die lewe daar buite nie maar as jy bedag is en bereid is om te leer kan jy redelik skotvry deur dit gaan sonder te veel skade. Moenie dat jou alleenheid jou desperaat maak en jy dom besluite neem nie. Staan eerder terug en vat die pad stadig. Daar is geen haas nie. Word gesond eers. Die regte maat sal kom op die regte tyd. Werk aan jouself en skitter net daar waar jy is.

Tot volgende Woensdag, selfde tyd, selfde plek. 


Woensdag 11 Julie 2018

Program 5: Die wêreld om my en hoe pas ek in? Die praktiese dinge van enkelskap.

Waarheen is ek op pad?


Met soveel stemme wat om jou skree vir aandag en selfs jou eie verwagtinge voel dit of jy in duisende rigtings geskeur word. Jy probeer baie hard om jou balans te hou maar dit is verniet. Alles eis jou tyd op (op die selfde tyd), en jy kan net soveel gee – jy is net een mens. Die wêreld lyk groter as normaalweg met hopeloos te veel onbekende paaie wat wink. Sommige paaie lei na onbekende plekke, ander na gevaarlike plekke, nog ander het geen eindbestemming nie. En so gaan dit aan, jou kop voel of dit wil bars. Jy lees Bakkiesblad, lees boeke, luister na vriende en familie en almal het ‘n idee van die pad wat die beste is vir jou. Ander wil jou amper forseer om dinge te doen wat eintlik nie gaan werk nie. Die lys is eindeloos. Op die ou einde is jy die een wat ‘n besluit moet neem – maar neem die raad in ag. Van dit dra wel meriete so leer om te onderskei en nie als as verkeerd af te maak nie. 

Saam met al die stemme wat skree het jy ook nog al die emosies waarmee jy moet deel, emosies wat jou die een oomblik laat lag en dan weer in ‘n bondeltjie laat ineenkrimp. Emosies wat jou wipplank kan laat ry en soms sonder waarskuwing. Hierdie is belangrike heel word tyd en gaan net saam met dit. Hoe meer jy gefokus raak en in jou eie ritme kom sal die emosies ook begin plek maak vir die normale.
Ek vir so lank finansiële laste gedra, finansiële probleme wat my weg gehou het van die dorp se winkels of enigiemand wat gelyk het of hulle geld wil eis van jou. Ek het “shopping-shy” geword met geen benul wat nuut of beskikbaar op die mark was nie. Ek het net geweet ek kon dit nie bekostig nie. Toe Magda my winkels toe vat vir die eerste keer wou ek weghardloop van die toeloop van inligting. Amper soos ‘n paniek aanval. Dit was oorweldigend. Toe dit na ‘n tyd makliker word kon ek als om my inneem en het in my agterkop ‘n lysie gemaak van die dinge wat ek wel nodig het of graag sal wil aanskaf. So het die pad van genesing begin. Stappie vir stappie kon ek weer deel word van die samelewing en saam praat. Ek kon weer my selfvertroue terug kry en met nuwe ywer die dinge om my geniet.

Wat is my volgende stap? Hoe gaan ek ooit weer die leisels op tel? Waar begin ek? Soveel vrae bombardeer jou dan dat jy eintlik moeg neerval of in ‘n hopie gaan lê met geen benul wat die uiteinde gaan wees nie. Jy doen goed net om te vergeet of skakel jouself af en volg net die vloei – veral wanneer daar klein kindertjies betrokke is. Jy het nie die luuksheid om dan op ‘n hopie te gaan sit nie. Skielik is jy pa en ma vir die kleingoed en wil jy hulle beskerm en hulle wêreld so min as moontlik versteur. Jou ewewig is versteur maar tyd vir pamperlang en net sit, is daar nie. Jou verantwoordelikhede groei soos ‘n berg, en die hellings word styler en styler met geen uitkoms nie. In die oomblike wat daar wel ‘n breek kom wil jy net slaap en vergeet. Aan die een kant was ek baie bly dat my kinders alreeds op hul eie was nie maar ek kan net dink hoe moeilik dit moet wees vir ma en pa met kinders wat op hul eie moet reg kom.

Die nuwe roetine waarin jy gegooi word werk net nie en jy is altyd laat en is knaend vergeetagtig. Mense frons, gee jou skerp kyke, jy kry selfs waarskuwings maar jy sukkel om jou voete te vind. Roetine gee ‘n mens sekuriteit en veiligheid maar wanneer dit verander en jy weer jou voete moet vind tap dit heelwat energie van jou. Weg is die bekendheid van jou ou lewe. Skielik bevind jy jou met nuwe en selfs groter verantwoordelikhede in ‘n nuwe roetine. Skielik moet jy die besluite neem – groot besluite wat ‘n geweldige impak kan hê op jou pad vorentoe. 

Toe ek my kar ontvang, het die oop pad gewink. My hande het gejeuk en ek wou net ry… maak nie saak waarheen nie. Geld was natuurlik nog ‘n probleem maar dit het nie die hunkering minder gemaak nie. ‘n Wye wêreld het gewag vir my. Ek het skielik meer gelees oor die wêreld om my, dinge wat my belangstellings geprikkel het. Wanneer jy vir jare geen kontak met die buite-wêreld gehad het nie, word jy soos ‘n vasgekeerde bok wat net wil spring oor die naaste heining, ongeag van die bome, dorings en duwweltjies aan die anderkant. Jy wil hierdie nuutgevonde vryheid met albei hande aangryp en nooit weer laat gaan nie. Ek het paaie gery en dinge opgemerk wat my ongelooflik verryk het, net om waar te neem en in te neem. Ek was soos ‘n moeselien doek wat alles wou opslurp. Daar was net geen keer aan my nie.

Toe kry ek die werk as eiendomsagent wat jou wel die vryheid gee om rond te beweeg, jou onmiddelike area te leer ken en mense te ontmoet. Die bonus was dat ek kon leer en myself bekwaam om eendag op my eie te wees. Ek het altyd die begeerte gehad om verder te studeer maar dinge het net nooit so uitgewerk nie. Nou is dit binne my bereik. As agent sien jy meer plekke en gesels jy met interessante mense wat jou wêreld verbreed. Jou kennis verbreed op elke vlak.

Moenie ‘n fout maak nie – dit is nie hemel op aarde nie – om ‘n agent te wees is harde werk met baie slaggate. So as jy daaraan dink weet dit gaan baie opofferings kos, soms met geen geld om daarvoor te wys nie. Dit is die meeste van die tyd ‘n ondankbare werk en jy moet baie tyd in sit om ‘n paar rand te kry. Maar vir my is dit die ideale plek om te wees omdat dit my die vryheid gee om te skryf en die program aan te bied en  dit te geniet ongeag die hekkies in die pad.

Wat gaan jy maak daarmee?

Jou optrede gaan bepaal hoe die res van jou tog gaan wees. Gaan jy vir altyd kla en jammer wees vir jouself of gaan jy die geleenthede wat die lewe bied vat en jouself ontwikkel en bekwaam as vrou, as mens en in die proses besef wie jy is. Onthou niemand hou van ‘n Jannie-jammergat nie. Niemand help ook so ‘n persoon nie.

1.    Maak vrede met jou pad. Om te bly hunker na die verlede gaan niks makliker maak nie. Deur om die heeltyd te verlang na die eks gaan jou net depresief maak. Hou op om hom te stalk op Bakkiesblad of uit te vind hoe dit met hom gaan. Vergeet van hom en stap aan. Hou op om jouself in ‘n plek te sit waar jy hom sal raakloop of per ongeluk sal sien. Hoekom wil jy dit doen aan jouself? Dit bereik niks nie. Maak vrede met jou pad.
a.     Kry nuwe belangstellings. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie. Hoe vinniger jy dit kan doen hoe vinniger kan jy herstel. Skaaf aan jou diamant. Besef jou waarde.
b.    Doen iets spesiaal vir jouself, elke dag. Al is dit net om agteroor te sit, jou oë toe en te maak en te ontspan vir 10 minute. Haal asem.
c.     Laat gaan die bitterheid en vergewe. Gee jouself tyd om te herstel. Probeer om in vrede met die eks of die skoonma te leef waar moontlik. Vernaam as die kinders nog afhanklik is van julle twee. Dit gaan nie help om vyandig te wees nie. Daardeur bereik jy niks nie behalwe om die probleem te vererger.
d.    Kry jou ritme terug, roetine, veral vir kinders is belangrik. Lag meer. Die lewe is nie so ernstig dat jy moet vergeet om dit te geniet nie. Leef in die hier en nou. Die verlede is verby en more kom nog.
e.     Leer jou doel ken. Jy is nie net ‘n ma nie maar jy is vrou met begeertes. Hoe bepaal jy dit? Die kortse antwoord sal wees wat is jou passie? Wat begeester jou? Sodra jy dit kan identifiseer het jy jou doel uitgewerk. Skryf jou doel neer sodat jy dit daagliks kan sien en werk daarheen. Wees gedissiplineerd ongeag wat die lewe na jou kant toe gooi.
f.    Kyk na jou houding, wat sê dit van jou. Is jy depressief gaan jou liggaam dit wys en mense gaan jou vermy. Onthou jou gevoelens is tans ‘n mallemeule, dit het sy op en afs. Kom in aanraking met jou self, dan. Hetsy deur meditasie of gebed of sommer net stil word met ‘n koppie tee of boek.
g.     Moenie jouself kul nie. Wees eerlik met jouself. As jy nie dit kan doen nie hoe gaan ander mense jou vertrou. Leer om na jou hart te luister. As iets nie reg voel nie, luister na jou instink en stap weg. Soms selfs sonder ‘n woord. Leer om nee te sê… onthou jy is die een wat daaronder gaan lei as jy bly ja sê. 
1.    Leef binne jou vermoëns maar moenie ophou droom nie.
   Wees dankbaar vir elke dag wat aan jou geskenk word. Wees oop vir nuwe onderwerpe. Reik uit na mense. Daar is geen moet dat jy iets nou moet hê nie. Jy kan sonder baie dinge klaar kom. Jy wedywer nie meer met iemand om ‘in’ te wees nie. Jy moet nou oorleef. Leer oordeelkundigheid aan. Daar was tye wat ek ook paniekerig was, hulp gevra het maar op die ou einde moes ek leer om aan te pas en reg te kom met wat ek het. Soms het hulp opgedaag uit onverwagte oorde en het ek met die min wat ek gehad het oorleef. Soms was vriendskapsbande gesmee bloot net vir die hulp wat dit gebied het en het dit weer verdwyn na ‘n tyd. Ek moes leer om te ‘barter’ – maw: jy gee of doen iets om iets in ruil daarvoor te kry wat jou gaan bevoordeel. Ek het bv. aangebied om ‘n vriendin te help met ‘n blog vir haar nuwe besigheid en in ruil het sy vir my ‘n paar fotos geneem vir my sosiale blaaie. Dit het ons niks geld gekos nie, net tyd.
 2.    Daar is soveel stokperdjies om te doen wat jou kan help om te fokus, te ontspan en net jouself te vind.
    Kreatiwiteit anker jou, hou jou meer gefokus, help om jou ewewig te behou. Net om uit te gaan en die natuur te geniet is al ‘n groot verligting. Ek sal ‘n link deel op Diamant Divas wat jy kan volg van hobbies wat selfs ekstra geld in die sak sal bring.


Kom ons kyk na ‘n paar:

i)      Ek het dit al so baie gesê maar skryf bly maar vir my ‘n goeie wegkruip plek en gee my die nodige dissipline en selfvertroue in my lewe. Daar deel ek my hart, soms in fiktiewe stories. Soms in motiverings boodskappe of deel ek net wat my geraak het in daardie spesifieke oomblik. Ek maak nog nie ‘n lewe daaruit nie maar dit gee my tog die platform om my skryfkuns uit te leef. Omdat ek ook avontuurlustig is en ‘n goeie uitdaging my aantrek sal ek dan ook verskillende, uiteenlopende stories skryf. Daar is heelwat skrywers wat net by een genre bly maar ek is ‘n diverse mens met heelwat belangstellings en skryf verskeie velde. As jy nie kan skryf nie skryf poësie en plaas dit op jou FB blad. Klim uit jou hokkie en geniet die terugvoer. Groot onthou: die negatiewe kritiek kan jy omsit in positiewe terugvoer. Daar is groepe op FB wat aspirant skrywers en digters help om hul kuns te slyp maar dan moet jy oop wees.  
ii)   Lees is my ander passie. Ek is mal daaroor. Om weg te raak in ‘n goeie boek stel jou bloot aan nuwe wêrelde en gedagtes. Weereens ek lees heelwat verskeie genres. Agv van dit bied ek ook my hulp aan aspirant skrywers aan, deur ‘n resensie te los op Goodreads of Amazon wat hulle baie help en ek kry boeke verniet. Hoe cool is dit… J
iii)            Blogging is ‘n ander goeie plek om jouself uit te leef. Onthou voor jy begin, dit vat tyd om ‘n plasing saam te stel en iets sinvols te kan byvoeg. Blogging is ‘n gratis platform deur Google of jy kan ook Wordpress gebruik. Jy het nie nodig geld uit te haal daarvoor nie. Indien julle belangstel kan ek meer daaroor sê omdat ek dit alreeds vir 5 jaar doen. Bepaal wat is jou belangstellings: dit kan kosmaak wees, of koekies bak of resensies op flieks of eetplekke. Hierdie bedrywighede kan jy opneem en op YouTube plaas. Die geleenthede is eindeloos. Gaan doen net jou huiswerk en jy sal vinnig sien hoe dit gedoen word, deur mense soos ek en jy. Blogging is ‘n manier om uit jou gemaksone te beweeg en te gee. So ontmoet jy mense en verbreed jou kennis.
iv)Dan is daar Scrapbooking. Persoonlik is dit vir my ‘n baie duur stokperdjie maar die kreatiwiteit wat jy daaraan bestee verryk jou ook. Ek het my vriendin baie keer dopgehou terwyl sy aan ‘n nuwe idee gewerk het. Die resultate was altyd kort van Wow gewees. Net so is daar volwasse inkleurboeke wat jou eindeloos kan besig hou of lapverf. Lapverf is ook iets wat jy en jou kinders saam kan doen en dit sorg vir eindelose pret. Jy kan sover gaan om hulle kunswerke of in kussings te verander of te raam. Mosaik is natuurlik ook ‘n gunsteling of ou meubels restoreeur.
v)   Self doen projekte is net so goed en kan baie keer in ekstra inkomste omskep word. Houtwerk vind gewoonlik baie byval. Bottels wat geverf en versier kan word en wat jy kan gebruik in jou huis of kan verkoop as geskenke. Spesifiek by Boeremarkte of kerkbasaars. Dit is ook iets wat kinders kan help doen en jy leer hulle sekere vaardighede: speel-speel aan. Brei en hekel is natuurlik net so ‘n goeie plek. Baie mense het ekstra wol wat jare in die kaste lê en sal met die grootste graagte vir jou gee.
vi)Skilder is nog ‘n goeie plek wat nie net ontspanning bied nie maar ook jou kreatiwiteit kan ontwikkel. En daar is verskeie plekke waar jy kan aansluit of as jy dit alreeds kan doen bied klasse aan – goeie sakgeld en jy leer mense ken.
i)      Dans is ‘n goeie plek om in oefening te bly en mense te ontmoet. Musiek is altyd ‘n goeie medium om mense te leer ken.
ii)   Skryf in vir ‘n kursus – daar is heelwat op Google wat nie veel kos nie of soos reeds genoem: ‘barter’ daarvoor veral as jy die persoon goed ken.

iii)  Om heeldag flieks te kyk doen niks vir jou gemoed nie. Inteendeel dit maak jou passief en lui. Facebook grap en klets groepe op is nie ‘n hobby nie tensy jy ‘n groep begin waar jy uitreik na mense toe met iets wat jy wil verkoop, of voel jy kan iets deel met eenders denkende persone. Maar hou jou tyd dop. Dit is ongesond om te veel tyd daar te spandeer en voor jy jou oë uitvee word jou dae gevul met niks.  

iv)As jy lief is vir hare mooi maak meld aan by jou naaste ouetehuis. Die oumas en tannies verwelkom iemand wat aan hul haartjies kan aandag gee. Al vra jy net R20 per kop is dit geld wat jy nie voorheen gehad het nie. So ook met hul naels. Kyk wat aangaan om jou en kyk hoe kan jy ‘n bepaalde leemte vul met jou kreatiwiteit en kennis. Daar is heelwat ouetehuise wat hulp sal waardeer vanaf die publiek so klim uit jou dop en geniet die nuwe omwentelinge. Al hierdie dinge help jou om uit te reik, jou te verryk en gee jou die bevrediging dat jy iets kan bydra.


Ons wêreld word geskep deur dit wat met ons gebeur, ons agtergrond en waar ons bly. Baie van hierdie dinge laat wesenlike merke of voetspore en vorm ons denke en aksies. Ons is sagte teikens, wat lank nadat die daad verby is, nog die letsels in ons siel rond dra. Met ons politiek in skommeling is daar ook ander dinge waarvan ons as vrou kennis moet neem. Jy het skielik nie meer iemand om jou te beskerm wanneer dinge verkeerd gaan nie daarom is dit belangrik om paraat te wees. Baie van ons moet op donker paaie terug ry huis toe wat op plase of plotte geleë is. Of jy werk in ‘n nywerheidsarea, wat teen die tyd dat jy huis toe gaan, verlate is. Maak seker jy is in verbinding met jou plaaslike buurt/burgerwag en dat iemand altyd in verbinding is met jou.
 Baie van ons, en ek is ook in die groep ingesluit weet eintlik min van selfverdediging af of hoe om ‘n vuurwapen te gebruik. Indien moontlik skryf iewers in en kry die nodige agtergrond. Daar was ‘n tyd wat ek met alle mag en mening die kursusse wou doen maar my lewe het anders uitgewerk as toe. Nou probeer ek sover moontlik paraat wees en kyk wat om my aangaan.

Dinge om toe te pas: 1)   Beskerm jouself deur basiese dinge in plek te stel. Bv. Maak seker dat jou woonplek gesluit is. Maak seker dat jou familie weet waar jy is. Maak seker dat jou kar altyd genoeg petrol in het sodat jy nie op onveilige plekke gaan staan sonder brandstof nie. Maak seker dat jou kar altyd reg is. Indien jy met ‘n probleem kar sukkel wat jou in die steek kan laat wanneer jy hom die nodigste het kry iemand om daarna te kyk. Gebruik jou eie oordeel in sekere plekke en as dinge nie reg voel nie kom daaruit so gou moontlik al moet jy ‘n paar verkeerswette verontagsaam. Soos stop by ‘n rooi lig 11 uur die nag met geen siel in sig nie. Natuurlik met die nodige waaksaamheid.
2)   Vermy onveilige plekke. Daarom is dit belangrik dat jy weet wat om jou aangaan. Moenie naïef wees nie. Geniet die lewe maar bly oop kop en waaksaam.
3)   Maak seker jou foon is gelaai voor jy die huis verlaat. Dit is basiese goed wat jou lewe kan red. Daar is selfs applikasies wat jou kan verbind aan sekuriteisgroepe sodat hulp net ‘n knoppie ver is.
4)   Maak seker dat jy die mense in jou vriende groep ken wanneer jy uitgaan. As jou welstand nie vir hulle belangrik is nie dan hoort jy nie daar nie. Moet ook nie enige geopende bottels van vreemdelinge ontvang nie. As vrou is jy ‘n teiken vir gevoellose mense wat jou sal seermaak sonder om te huiwer. Soms met die idee van dit is ‘n grap. Wees bedag op mense en waar jy is. “Safety in numbers” is altyd ‘n goeie moto om te hê.
5)   Indien jy sover gaan om weer uit te gaan maak seker dat die man goeie intensies het. My ondervinding met sulke dinge is jy vind dit eers later uit terwyl jy geleenthede gehad het om die regte vrae te vra vooraf. So vra die vrae en as dit hom irriteer dan het jy jou antwoord. Bly weg.
a)    Die belangrikste vraag is altyd wat is sy intensie met jou? ‘n Man sal vir jou vinnig sê wat hy verlang. As hy se hy soek nie ‘n verhouding nie hou daarby. ‘n man wat gedwing word vlug nog voor julle gaan koffie drink het. Hierby wil ek dit ook uitlig maak dit uit met jouself wat is jou eie intensies. As jy eerlikheid verwag moet jy ook oop boek speel en daarby hou. Indien jy nie seker is nie kuier in ‘n groep en leer die persoon so ken. Moenie aanneem dat jou eerste koffie-sessie beteken julle is nou ‘n item nie. Gee jouself die geleentheid om heeltemal te herstel voordat jy enige lang verhoudings begin.
b)   En moenie oor jou eks praat nie. Geen man of vrou wil dit weet nie. Indien die verhouding verby kuier twee is dan kan jy daaroor gesels in meer diepte.
c)    Indien hy vaag is oor sy vorige huwelik of die vraag ignoreer bly weg, block en delete. Glo my hy is nie eerlik nie.
d)   Die manier wat hy met jou praat op WhatsApp is baie keer die manier wat hy jou gaan behandel op jul eerste date. As hy nors en aggressief klink hou verby, jy mis niks. As hy “eerlik” is om jou in die bed te kry – dit is jou keuse maar onthou ‘n man se denke agterna verander en skielik is jy die goedkoop een en hy sal nie skroom om jou so te behandel nie. Dit is net iets om te onthou.
 Wees versigtig wie jy toelaat in jou binnekring, vernaamlik as jy nog kinders in die huis het. As jou kinders nie gelukkig is met die man nie vra eerder hoekom. Soms sien hulle deur hom terwyl jy nog met roosbrille na hom kyk. Daarmee wil ek ook nou nie sê dat alle mans sleg is nie, en soms is kinders wel verkeerd maar dit is goed om te let op die dinge. Vernaam as hulle nog in jou huis is. Moenie dat jou alleenheid jou doof of blind maak vir die verkeerde tekens nie.    Ek hoop dat hierdie praktiese dinge jou sal help om so ook te groei as ‘n waardevolle diamant. Skitter net waar julle is vriendinne.
 
ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
https://www.elanglobalradio.com
Lynelle Engelbrecht Clark: Diamant Diva's
WOENSDAG 11 JULIE 2018 at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Web: https://www.elanglobalradio.com/
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com/
…/elan-global-radio.htm

Woensdag 04 Julie 2018

Program 4: Is God kwaad vir my?



Dit is ‘n knaende vraag hier in jou agterkop. Soms wil jy jouself meet met godsdienstige brille en jy dink jy skiet ver tekort. Jy bevraagteken God en die rede vir jou bestaan. Waar pas jy in sy plan die mees gevraagde vraag tussen mense wat deur swaarkry gaan. Jy is amper sku om te praat te bang vir die kritiek en veroordelende houdings.

Elkeen ervaar dit anders: hulle vind hulle beweeg juis nader aan God in hierdie tyd. In my lewensverhaal het ek ‘n heeltemal ander pad gevolg waar ek vinnig moes groot word. ‘n Rowwe pad gevul met slaggate en verkeerde afdraaie. Ek het God blameer vir al die verkeerde dinge in my lewe wat my gelei het na hierdie pad en moes dit deur werk. Stap vir stap leer ek om Hom weer te vertrou maar, ek sal erken, dit is moeilik. Weg is die kinderlike naiwiteit van vroeër. Die lewe slyp mens so geweldig dat elke oogklap dan verwyder word en jy gedwing word om sekere dinge in die gesig te staar, soms in die donkerste ure, op ‘n vreemde pad, waar jy so gekletter is dat jy nie weet hoe jy by die huis gaan kom nie. Maar jou uitroep na Hom, bring jou tog deur. Dit is daardie tye dat jy weet dat daar nog ‘n God is wat omgee.

‘n Vriendin het Maandag by my kom kuier: ‘n vriendin wat ek jare laas gesien het en bewus was van die swaar kry in my lewe. Oor die jare het ek het alle kontak met haar verloor. Deels ook maar my skuld omdat ek niemand wou sien nie. Maandagoggend, toe ek my epos oop maak is daar ‘n brief van haar. Ek dog amper ek val van my stoel af. Ek het haar al so baie gaan soek by haar ou adres, nie baie ver van waar ek nou bly nie, in die hoop om haar weer te sien. En daar was sy, in my briefboks. Wat ‘n verrassing. Ons het sommer nog dieselfde middag om ‘n paar koppies koffies gekuier. Omdat sy ook ‘n enkel persoon is wat die pad baie langer as ek loop kon ek luister wat sy geleer het.

Sy vertel dat sy eendag ‘n boom gesien het, skeef gewaai wat net lê na die eenkant toe. Onmiddelik dog sy, nee, maar dit is mos nie reg nie, hoekom het niemand nog probeer om die boom reg te buig nie en toe val sy haarself in die rede. Of soos ek sal sê: ‘n liggie het skielik aangegaan. Die feit dat die boom skeef is keer nie sy groei of sy skoonheid nie. In teendeel, sy uniekheid lê juis daarin dat, ten spyte daarvan dat hy skeef is hy nogsteeds sy doel bereik. Wat is sy doel? Deur om sterk en stewig te staan en skadu te gooi. Hoe dikwels wil ons nie ‘n boompie buig om by ons siening te pas nie terwyl die boompie juis meer bruikbaar is in sy “skewe” toestand. Soveel mense wil ons buig, soveel wil ons forseer in ‘n bepaalde boksie in. ‘n Mens sien dit so baie in die verhoudings tussen tieners en ouers. Pa’s en seuns of dogters en hul moeders. Maar God, in al sy wysheid, is nie so nie.


Die feit dat my boom nie lyk soos joune nie maak my boom nie verkeerd nie.

In my navorsing vir hierdie program het ek op hierdie stukkie af gekom:

“'For I hate divorce!' says the Lord, the God of Israel." (Malachi 2:16)I’ve heard it quoted by so many people. It’s been thrown in my face, reminding me what a sinful person I am for walking away from my marriage. I’ve been told I am required to live a celibate life until my death, pining away for my ex-husband or risk the fires of hell for living in adultery.And yet, I know how hard I tried to save my marriage. I know how I chose forgiveness after learning of his adultery. I know how I prayed without ceasing, fully believing God would save my marriage. I know the hurt and pain I endured for the sake of doing the right thing, of keeping my marriage together.I also know how I was losing my dignity and self-respect. I know how my very life was being chipped away, bit by bit. I know how I doubted myself, wondered what was so terribly wrong with me that I couldn’t keep my husband happy. I know how I began to hate myself, hate my life.Until the day God told me it was time to walk away. Yes, God told me it was time, I had endured enough hurt, pain, and rejection. It was time for me, the captive, to be set free. It was time for me to fulfil the purposes for which He created me.Since that day over seven years ago, my life has changed dramatically. My children and I have found freedom. We have found joy. We have found purpose. We have found life. And we have found our Saviour!But it’s not been easy. I have battled shame, guilt, and condemnation for years, and my fellow Christians have often chosen to add more guilt and shame on top of what I’ve already experienced. I’ve been told how much God hates divorce, how disappointed He is in me. I’ve been told I chose happiness over holiness. But, if that’s true, why would God tell me to walk away?-Dena Johnson


Voor ek verder gaan wil ek julle net herinner dat ek nie ‘n Prediker of berader is nie. Ek praat net van wat ek geleer het en my interpretasie daarvan.

Ons is so rigied geleer dat wanneer iets buite die raamwerk van die Bybel gebeur dan dink ons outomaties dat ons verdoem is en God sy rug op ons gedraai het. In baie gevalle verstaan ons nie God se oordeel of hoekom hy sekere dinge toelaat nie. In my geval wonder ek soms oor hoekom dinge vir my op so ‘n manier uitgewerk het, dat ek nou, op 53 totaal afhanklik is met niks op my naam nie. Dit nadat ek jare opgeoffer het, gegee het, gesaai het, in geloof gestaan het. God vertrou het vir elke ding in my lewe en toe skielik verander my hele lewe en alles wat ek geleer en geglo het. En ek kyk rondom my en ek sien hoe mense met die spreekwoordelike moord wegkom en nogsteeds goed gaan. Te kort aan niks. Ek sien dit met mede vriendinne wat, net soos ek ook opgeoffer het, getrou was, reg gedoen het en ook met niks moet wegstap.

In die proses word ons boompies gebuig en lê ons skeef. ‘n Aanstoot vir soveel om ons. Mense probeer ons buig om by hulle in te pas. Organisasies, Instansies, kerke, predikers, mans, base, vriende…. Die lys is eindeloos. Sommige dink jy is ondankbaar, onvergenoegd, eintlik net plein “useless” bloot net omdat jy weier om te buig volgens hulle voorskrifte. Een van my vorige base het vir my gesê ek moet terug klim in die hool waar ek vandaan kom, bloot net omdat ek nie my werk gedoen het soos hy wou nie. In sy geskreeuery was ek naderhand so verward want elke dag het die reëls en werk verander. Ek het naderhand nie meer geweet watter kant toe nie. En hy het openlik my beskinder voor mede-kollegas and kliënte. Ek het geen kans by hom gestaan nie en ‘n maand later het ons paaie geskei.

Die merke wat dit laat, laat jou glo God is kwaad vir jou. Dat jy rerig niks verdien nie. Dat jy useless is en nie waardig genoeg is om te floreer nie. Jy twyfel dan in jou eie vermoëns en probeer om net aan te hang so lank as moontlik.

In November 2016, net voor ek sou wegstap, het ek een nag na God uitgeroep, my hart in twee geskeur van al die verwerping, die sere, die leuens en verlorenheid, skielik, val daar ‘n woord in my. “Kom na my toe; Hy wat vermoeid en belas is en ek sal hul rus gee. Kyk ek staan by die deur en klop.” En die beeld van die Vader wat die pad dophou vir sy verlore seun kom by op. Dit was so lank laas dat ek God se stem gehoor het dat dit my regtig nugter laat skrik het. Ek het net voor dit nog vir iemand ‘n boodskap gestuur en gevra vir hulp, so desperaat om van die pyn ontslae te raak maar die persoon kon of wou nie antwoord nie. Hoe ook al sy, God het geantwoord. 

You can argue that God would never plan for any divorce or any of the pain that comes with it. But God allows pain to bring about a greater good for His people. God told Moses to move His people out of Egypt into the desert. After a short period of rejoicing, they started to feel the pain of desert living when they’d been used to a life of abundance in Egypt.
In their pain, they learned that they had to depend on God for everything. Similarly, I had to learn to depend on God, which brought me closer to Him. Every single day God uses sin and destruction in this world to bring His children closer to Him. It’s in the good and abundant times, just like the Israelites, that we often forget how much we still need God every single day.We often feel closest to God in the painful trials of life. But even after the pain has diminished and you start to heal, God hopes that that relationship will be just as valuable as it was in the beginning stages. He wants all humans to first love Him and have a close personal relationship with Him. Second, He asks that we love others with the same love that He loves us. That’s our purpose and that’s our ministry.When we surrender our will to His and accept His redeeming grace, then we can be used to further the Kingdom. Yes, even us divorced women.” 
Jou oorgawe en aanvaarding dat iemand in beheer is van jou lewe kan nogal jou wêreldtjie skud. Vernaam na so baie teëspoed. Vir elkeen van ons verskil die Godheid se beeld en sien ons Hom verskillend. Ongeag van hoe jy hom sien en erken weet dat Sy manier van kyk is anders as die wêreld sin.
Dit is al erg genoeg om iemand hier op aarde te vertrou maar om iemand, wat jy nog nooit gesien het nie, te vertrou is heeltemal anders. Op die ou einde is dit ‘n saak tussen jou en die Opperwese.
‘n Groot gedeelte van genesing, na egskeiding, is emosionele groei. Om emosioneel gesond te word vat baie tyd en aandag waar jy net tyd met jouself beoefen. Omdat ek lief is vir skryf vind ek dit makliker om my gedagtes neer te pen in hierdie tyd. Daar bespreek ek my vrese, waarmee ek sukkel en ook my oorwinnings en soek ek so die vrede wat nodig is.
Musiek is ook ‘n groot hulp. Dit is asof ‘n mens meer sensitief is vir die woorde van die lied. Skielik, nadat jy ‘n lied ‘n honderd maal gehoor het, luister jy na die woorde. Jy kyk weer na die titel van die lied en jy wonder hoe het jy dit nooit voorheen gehoor nie maar dan maak dit sin en jy vereenselwig met daardie woorde. Dit bring ook genesing. 

Daar is 5 emosionele wenke wat belangrik is vir hierdie tyd:
1.     Jy kan nie almal gelukkig maak nie. Nie jou man, kinders, ouers of vriende nie. Jy is die een wat na jou beeld in die spieël kyk en wat terug weerkaats is wat jou gelukkig maak. Jy kan jou hele lewe opoffer vir almal om jou maar wanneer jy niks gedoen het vir jou eie geluk nie dan is jy die een wat daaronder ly. Jy is die enigste persoon wat verantwoordelik is daarvoor. Niemand anders kan dit vir jou doen nie. Dit is in hierdie tyd wat jy ‘n stokperdjie ontdek. Of geroep voel om iets te doen vir die mense om jou.
2.     Ek sal seker nooit perfek wees nie. Perfek wees is ‘n mite wat seker deur skoonmas uitgevind is…LOL…. Skuus julle, ek is ook een… J Maar daar is nie so iets soos perfek wees nie. Jy sal en gaan foute maak. Dit is ‘n feit en deel van die skawingsproses. Hoe vinniger jy daardie mite kan afbreek hoe gelukkiger sal jy wees.
3.     Ek kan maar die appelkar omgooi en dinge sal nog goed wees. Hoe bang is ons tog nie om die bootjie te laat skommel nie en loop letterlik op eiers om tog nie mense se argwaan op jou te hê nie. Glo my, jy kan als “perfek” doen maar jy sal nogsteeds mense die harnas in jaag want jou perfek en hulle perfek verskil. Hoe het Merchley Maandag gesê… solank as wat ek vrede het met myself kan niemand my iets doen nie. Nie deur woord of daad nie. Ai, hoe wens ek, ek kan daar kom.
4.     Moenie jou pyn met iemand anders sin vergelyk nie. Nie een van ons hanteer situasies op dieselfde manier nie. elkeen van ons sal genesing ontvang in ons eie tyd. Daarom kan ek nie dink my pyn is minder of meer as ‘n ander sin nie. Pyn is pyn.
5.     Hou op om verskoning te vra vir wie jy is. Omdat iemand nie met jou saam stem nie maak jou nie verkeerd nie. Waarom dan verskoning maak daarvoor? Verander eerder jou woord keuse en se dankie. Dankie dat jy verstaan. Dankie vir jou oor. Juis in ons dankbaarheid leer ons om ons self te aanvaar vir wie ons is.
Ek wil afsluit hiermee. Lukas 1:39
‘n Hele lang ruk gelede het ek die stukkie in Lukas 1:39 gelees van Maria wat na Elizabeth gegaan het die oomblik wat sy gehoor het sy is swanger. In die eerste plek noem die Bybel dat sy op gegaan het na Elizabeth. Die woord “op” is tweeledig. In die eerste plek dui dit daarop dat sy moes hoër klim, sodat sy bokant haar situasie kon uit beweeg en die hele prentjie kon sien. Soms, wanneer ons so naby aan die bepaalde situasie is kan ons nie sien wat die werklike situasie is nie.
Die ander rede is natuurlik ook sodat dit haar lewe kon spaar want volgens die wette moes sy gestenig word (boompie wat moes buig). M.a.w dit wat in jou is sal mense probeer aborteer nog voor dit volle wasdom bereik het. Daarom gaan so baie drome dood in die eerste 3 maande en mense se “lewe” verdof. Hulle praat te vinnig en soms met die verkeerde mense. Praat met mense wat verstaan, wat die pad ken. Leer by hulle.
Hoekom juis Elizabeth? Sy was ook swanger… ook deur die Heilige Gees bevrug net soos Maria. Met ander woorde hulle het deur die selfde situasie gegaan, die selfde vrae gehad. En omdat Elizabeth ouer was kon sy Maria, slegs 14 jaar oud, leer. Maria kon al haar vrese en vrae aan Elizabeth noem sonder om bang te wees vir veroordeling of steniging.
Die woord leer ons dat sy daar gebly het tot in haar agtste maand. Die getal 8 is baie belangrik, dit dui op opstanding en nuwe lewe. Die perfekte tyd om dan weer deel te word van die lewe omdat jy jouself genoegsame tyd gegee het om te herstel.
Na 8 maande kon niemand meer ontken dat sy swanger is nie en die Fariseërs kon haar nie aanraak nie. Soms moet ons vir ‘n tyd lank net weg gaan, afsonder en stil word by iemand wat verstaan. In hierdie tyd des te meer omdat jou emosionele genesing van jou afhang.
As enkellopende is dit nou die tyd wat jy tyd aan jouself moet spandeer. Hierdie tyd is belangrik en bepaal hoe vinnig jy gaan herstel. Wanneer jy ‘n kompliment kry van iemand hanteer dit met grasie en sê dankie. Onthou, jou veranderde gemoed gaan begin straal uit jou wese uit. Waar jy voorheen vaal en oninteressant gelyk het gaan nuwe lewe uit jou skyn, kompleet asof jy swanger is. Jy is mos besig om geboorte te gee aan ‘n nuwe jy. Daarom kom baie mans terug want skielik sien hulle jou weer raak en hulle luister met ander ore. Of wild vreemde mans gaan om jou kloek. Wat ookal gebeur jou tyd is juis nou om te groei en te floreer. Jy skuld dit aan jouself.
Skitter net waar jy is vriendinne. Tot ‘n volgende keer. 



ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
https://www.elanglobalradio.com
Lynelle Engelbrecht Clark: Diamant Diva's
WOENSDAG at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Web: https://www.elanglobalradio.com/
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com/
…/elan-global-radio.htm

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...