Woensdag 02 Augustus 2017

Boekbekendstelling: SA Hartswoorde en SA Stories




Boeke is verkrygbaar by my lynelleclark@gmail.com teen R120 posgeld ingesluit. 
U kan ook aansluit by die groep op Facebook om so jou eie skryfwerk te bevorder en te publiseer. 

Ek deel graag fotos van die amptelike boekbekendstelling op Saterdag, 29 Julie te Haphuis, Capital Park.






Verskeie sprekers, wie se werk in die boeke gepubliseer is, het vir ons voor gelees wat by gedra het tot die suksesvolle dag. Dit was 'n belewenis om elkeen te ontmoet en mekaar se werke te kon geniet.








Saterdag 22 Julie 2017

Moord op Duiwelslaagte Deur Lynelle Clark


Kyk hierna Kaptein!” Roep die jong konstabel opgewonde uit terwyl hy in gehardloop kom en hou ‘n opgefrommelde voorwerp uit na hom; vir ‘n oomblik vergeet Shozi van protokol, sy eerste moord saak laat hom skoon lighoofdig van opgewondenheid.
Kaptein Swanepoel kyk op van sy notas, ‘n flitsende oomblik geirriteerd met die nuwe toevoeging tot hul geledere maar hou homself onder beheer. Hy mis niks in die daaropvolgende sekondes nie en spits sy ore opnuut; daar is ‘n paar onbeantwoorde vrae en hy het net een bewysstuk nodig vir ‘n deurbraak op hierdie onverklaarbare moord wat die klein dorpie laat gons van gisteraand af.
Ou Dominee Koornhof was ‘n geliefde persoon op Duiwelslaagte en sy dood was onverwags en sinister – die geskreeu van die uil op sy bors, het soos ‘n aanklag geklink, teen die tyd wat hulle by hom gekom het. Duistere dinge het in die pastorie gebroei. Die hele kontrei was stomgeslaan en simpatie-mandjies met treurende-eienaars ─ wat soos nuuskierige agies op die dorp toegesak het, het die huis vinnig gevul.
Soos blits het die bostelegraaf die storie laat hardloop met stertjies wat aangelas was en teen die vroeë oggend ure het dit ‘n lewe van sy eie gehad; dit was verstane want nuus was seldsaam in hierdie omgewing. Die inwoners het oornag kenners van moord geword en by verskeie geleenthede moes hy op sy tande kners uit frustrasie vir sy dorpsgenote.
Kaptein Swanepoel vat die platgestrykte foto by hom en staar stomgeslaan na die afbeelding. “Waar het jy dit gekry?”
“Onder die buffet, waar die liggaam was.”
“En hoekom sien ek dit nou eers?” bulder hy terwyl ‘n stoel met mening terug geskuif word en hy kwaai na die mannetjie staar wat met groot, verskrikte oë na hom kyk.
“Ek het dit nou eers gekry, dit was half onder die mat ingeskuif en eers toe ek die buffet skuif toe sien ek ‘n stukkie papier uitsteek.” Verduidelik Shozi, nog uitasem, in sy gebrekkige Afrikaans.
Die ou pastorie is reg langs die Polisiestasie maar vir die konstabel kon dit net sowel aan die anderkant van die een-straat dorpie gewees het. Hy blaas onnatuurlik en hou sy heup vas van die ongewone oefening, sweet hardloop in ‘n straal teen sy gesig af. 
“Hoekom nou eers, wat het jy die laaste paar ure gedoen daar?” bulder die Kaptein uit.
Verleë laat sak Shozi sy oë: “Never mind!” Gegrief draai die kaptein weg en gryp sy baadjie in sy haas om uit te kom.
“Kom jy Konstabel!” roep hy uit in die hardloop en swaar voetspore volg hom. Dit was genoegsaam om te weet dat die mannetjie hom volg. Hy kan later die man roskam oor sy nalatgheid; die saak moet nou afgesluit word.
“Skuus Swannie, kan ek jou gou sien?” vra Oom Neels, nog ‘n beterweterige dorpenaar, die oomblik toe hy hom gewaar.
“Nie nou nie Oom, ek moet beweeg.”
“Wanneer jy ‘n tydjie het,” sê die Oom, onverstoorbaar. “Dit gaan oor ou dominee.”
“Ja, ja.” Is al wat Swannie sê en rol sy oë. Hy het ‘n dop nodig maar die sal moet wag.
Hulle hardloop regsom die stasie en gaan by die hekkie van die Pastorie in. Dié kraak onder die geweld waarmee dit oopgeruk word. ‘n Ou plaashuis wat deur ‘n destydse boer aan die dorp geskenk is en omdat die Proponent toe net daar begin het, het hulle dit dadelik vir die toe, jong Dominee Koornhof, as pastorie gegee. Sedertien was dit die spulpunt van bedrywighede in die distrik.
Die sement paadjie is amper toegegroei met die kleurvolle wintersblomme wat nie weet waar hulle grense is nie, en in die twee polisiemanne se haas word van die blomme vertrap. Swannie draf die paar trappe op in ‘n japtrap en hamer teen die imposante houtdeur en sekondes later maak ‘n gryskop vroutjie die deur oop.
“Middag Tannie Marthie, kan ons in kom?” vra hy die Pastorie-moeder. Formaliteite was nog nooit ‘n groot ding in die distrik nie; die dogter van ‘n Predikant was sy gewoond aan die status wat dit meëbring maar op die platteland moes sy derhalwe aanpas. Nogsteeds ‘n statige vrou, deftig met elke grys haartjie op sy plek het die eens pragtige vrou nou net ‘n skaduwee geword van haar jongerself. 
“Ja seker, Swannie, konstabel, kom in.” en sy maak die deur wyer oop en staan terug sodat hulle verby haar kan kom en in die verhitte sitkamer kan instap. Dié tyd van die dag was die pastorie ‘n koue plek en alhoewel sy baie daaroor gekla het, het sy mettertyd geleer om die beste van die koue te maak. So was die kaggel in konstante gebruik en het dit ‘n gesellige vertrek geword waar kuiergaste gereeld onthaal was.
“Waarmee kan ek help?” vra die Tannie nadat hulle plaas geneem het en koffie bestel is by die huishulp.
Sonder seremonie haal Swannie die verkreukelde foto uit en gee dit vir haar terwyl hy haar noukeurig dophou; haar reaksie spreek boekdele en hy weet hier kom ‘n storie, een wat die dorpie tot in sy fondamente gaan skud. Daar is geen manier dat dit stil gehou kan word nie. 
Marthie trek haar asem in, diep geskok en wasbleek knyp sy haar oë toe. Sy het nie gedink sy sal ooit weer die foto sien nie. Hoe? Waar? Is maar net van die vrae wat deur haar storm. Niemand het geweet nie, daarvoor het sy seker gemaak. Haar keel word kurk droog en haar hande bewe so erg dat sy die foto laat val. Dit fladder tot onder op die Persiese mat – ‘n trougeskenk van haar ouers destyds. Toe het sy geglo in ware liefde totdat sy gekonfronteer was met dié foto. Die Kind. Die eenjarige kind staar terug na haar vanuit ‘n verblykte foto, vergeel van ouderdom. Daar sit sy in haar kantrokkie, haar vuisies saam gebondel in haar skoot terwyl sy ‘n skalkse glimlag gee vir die fotograaf. ‘n Mooi kind - sy moet nou in haar laat vyftigs wees. Van die oomblik wat sy bewus geword het van haar bestaan was sy soos ‘n spook in haar huwelik. Altyd, in elke hoekie en gleufie, haar asem ‘n koue rilling wat sy wou wegbrand met die warm kaggel op koue wintersdae. Hulle het geen kinders nie. Sy was altyd skeef aangekyk, met siestog-oë en sy kon die vernedering nooit gewoond raak nie ongeag die pogings om dit te ignoreer. Die kind ‘n verdere bewys van haar mislukte baarmoeder wat arm gebly het.
Toe die vrou gister op haar stoep verskyn het - haar verkreukelde bloes die nasleep van ‘n lang pad kon haar min skeel. Hoe durf sy so onbedaagsaam wees om ongenooid hier in te wals wou sy verergd weet maar Arrie se blydskap was duidelik sigbaar op sy verrimpelde gesig en hy het haar eenkant toe geskuif – in haar eie huis.
Die vrou het ingekom, daar gesit waar die konstabel nou sit en ongeerg haar storie vertel so asof sy wat Marthie is belanggestel het. Sy wou haar wegvee en vir ewig toesluit maar Arrie het anders besluit. Arrie, die stil en teruggetrokke predikant van die kontrei, gerespekteerd en geliefd tussen sy mense. Maar niemand het geweet van sy dwalende oog nie. 
Sy was in hulle lewe vir 6 maande, het hier in die pastorie gebly omdat sy geen ander heenkome gehad het nie. En stelselmatig het sy haar in Arrie se hart ingewurm en hom na haar bed gelok. Soos ‘n lam het hy hom laat lei deur die addergeslag. Sy kon hom dit nooit vergewe nie. Toe trek sy en Marthie het geglo dit was die einde totdat die foto daar opgedaag het, in ‘n koevert met ‘n kort briefie ter verduideliking. Arrie het daardie vervloekte foto saam met hom gedra – elke dag.
Die resultaat van sy dwaling het gister voor haar gesit en gesels asof dit die mees alledaagse ding was om te doen en Arrie-haar rustige en bedeesde man- het geblom. Sy het daardie vrou gehaat soos wat sy haar ma gehaat het. Toe die vrou daar weg is, met ‘n stywe druk van haar Pa en ‘n belofte dat hy sal kom kuier het Marthie rooi gesien. Stilweg het sy kamer toe gestap terwyl hulle nog gesels het, haar gesig gepoeier en toe kombuis toe geloop om met aandete te begin. Daar het sy lank na die messe gestaar, netjies in ‘n houtblok – een van die geskenke van die Vroue-unie vir onbaatsugtige werk gelewer in haar tyd as Pastorie-moeder.
In die agtergrond kon sy hoor hoe Arrie die voordeur toegemaak en na die badkamer gestap het. ‘n Swanger stilte het in die huis gehang en soos bittergal het sy haar speeksel terug gesluk. Die verraad dik in haar binneste. Toe Arrie in die deur verskyn, met die glimlag nog steeds om sy lippe het sy ‘n mes uitgehaal, en styf vasgeklem in haar regtervuis, na hom gestap. Doelgerig en sonder emosie.
Verdwaas het hy na haar gestaar tot sy by hom was en toe die lem gewaar wat stadig in sy maag weg gesink het. Gefassineerd het sy na die rooikol wat op sy wit hemp gevorm het, gekyk en geglimlag – die eerste in ‘n baie lang tyd. Hy het nie eers probeer om terug te baklei nie. Weer en weer het die lem in hom weggesink totdat hy op die mat inmekaar gesak het. Gou was die mat deurdrenk van sy bloed en toe sy die foto op die mat sien – ‘n skulderkenning van sy ontrouheid ─ het sy dit opgefrommeld onder die buffet ingegooi en badkamer toe geloop. Sy wou die hoofstuk afwas en vergeet maar nou was die Kaptein voor haar.
Sy deurdringende bruin oë boor in haar wese, soekend vir die antwoorde.
“Wie is dit?” vra sy, haar stem bedaard - ongeerg.
Kaptein Swanepoel het vorentoe geleun en sonder aarseling gesê: “Tannie kan my gerus vertel wie sy is, ek het ‘n gevoel tannie ken haar.”
“Nee, ek ken haar nie.”
“Tannie, wie is die baba?”
“Jy weet ek het nie kinders nie so ek weet nie.”
Vir ‘n lang tyd het hy na haar gekyk, die ou klok die enigste teken van lewe in die stil huis. “My ma het altyd vertel van die jong vrou wat hier gekuier het, die een wat ‘n laggie in ou-dominee se stroewe mondering gegee het. Baie mense het gewonder daaroor maar was nie braaf genoeg om te vra nie. Gister daag hier skielik ‘n vrou op wat baie na Ou Dominee lyk, dit is sy, in die foto?”
“Jy het klaar besluit wat is reg, Kaptein, as jy my sal verskoon – ek verwag kuiermense vir aandete en moet klaarmaak.”
Verergd staan Swannie op en verklaar in ‘n growwe stem: “Marthie Koornhof, jy is onder arres vir die moord op Armand Lukas Koornhof.”
“Nee.” Probeer sy keer maar word in die rede geval. “Ek het my huiswerk gedoen. Die foto is die bewys wat ek gesoek het. Ek het Tannie die heeltyd verdink maar nou weet ek sonder twyfel jy het Oom Arrie vermoor. Jy kon hom nooit vergewe vir die misstap nie. Die vrou, Karen Koornhof Grobbelaar was by my gisteroggend, voor haar besoek aan die pastorie, en ons het lank gesels. Na ‘n lang soektog het sy haar pa hier gekry maar jou selfsug het veroorsaak dat sy hom nooit sal ken nie.”
Marthie luister in doodse stilte na hom maar vermy sy oë. Niemand sal verstaan nie.
“Jy is ‘n verbitterede ou vrou wat hulle nie gelukkig wou sien nie en toe besluit jy om ‘n einde te maak aan hom. Jou selfsug en afguns beroof Karen die geluk waarna sy so lank gehunker het. My ma was reg oor jou.” Hy stop die stortvloed en staar na die vrou wat plotesling soos ‘n vreemdeling voel, voor hy na die konstabel draai en met ‘n moeë stem die opdrag gee: “Neem haar weg, konstabel.”
Op die vensterbank sit die uil grootoog en staar na die Kaptein, toe hulle oë ontmoet knip hy sy oog voor hy wegvlieg en Kaptein Swanepoel ontspan.

@Lynelle Clark 2017



Saterdag 15 April 2017

Die verlore dogter vind haar pad terug deur Lynelle Clark





Ek het so lank laas geskryf dat ek eintlik dom voel hier voor die sleutelbord maar tog maal die woorde nimmereindigend in my kop dat ek nie anders kan as om wel stil te sit en neer te pen dit waarvan my hart van vol is nie. Die laaste paar jaar was ‘n warboel van emosies en gebeurtenisse en ek het gesukkel om enige iets neer te pen. Persoonlik dink ek 'n mens is bang om nabetraging te doen vir wat jy mag vind. Ons is immers ons mees kritiese kritic. Skryf gee my die platform om my gedagtes te orden, my gevoelens raak te sien vir wat dit is en opreg te bly in my soeke.

My fokus het geskuif van dit wat vir my belangrik was na die gejaag na fisiese satisfaksie: “I want it my way.” en basta die res, maar tog, indien dit nie gebeur het nie sou ek nie nou met meer insig en wysheid my lewe weer op die regte koers gekry het nie. Die “varkhok” pad het my juis gelouter - soos leer gelouter en die harde kors is gebreek sodat God se lig weereens kan skyn in die donkerste kamers van my hart.

Daar is niks soos lewenservaring wat ons terug bring na die werklikheid toe nie. Vir ‘n geruime tyd was my balans so versteur dat ek swak besluite geneem het en nou dra ek die verantwoordelikheid van daardie besluite.

Die belangrikste lesse wat ek geleer het is:
Wie is ek; wie het ek nodig in my lewe en wie kan ek vertrou. En natuurlik, wat wil ek rerig he van die lewe. My binnekring van vriende is ook op die lys van belangrikheid en kan op een hand getel word maar hulle is die mense wat by my staan deur dik en dun – selfs deur al my onnosele foute. Hulle is onselfsugtig in hul bystand, versigtig met hul wysheid maar met ‘n onbaatsugtige liefde wat my veilig laat voel in hierdie groot wêreld met sy voort snellende skommelinge wat my soms laat voel dat ek gaan verdrink. Hulle is die mense teenoor wie ek my hart kan oop maak en ek weet is veilig; daar is geen veroordeling van hulle af nie. Dit is dan wat ek weer besef hoe gelukkig ek is.

Ek kan ook die bewaring van die Hoër Hand sien in dit alles – kon altyd, wou dit net nie erken nie. Telkemale is ek beskerm op die self opgelegde pad en ten spyte van die eie ek was God altyd daar. Dit in sig self  laat my besef hoe spesiaal ek vir Vader is.



Die warboel van gebeure het defnitief sy merk gelaat en ek bevind my op ‘n mooi plek op die oomblik, die terug keer na die Hemelse Vader ‘n welkome terugkoms soos versadigende reën op dorre grond, terug na die bekende toe – dit nadat ek so verbitterd was oor die lewe.

En deur dit alles vind ek my voete weer op die pad na die enigste uitlaatklep wat vir my werk: skryf. Daar was ‘n tyd in my lewe dat ek boeke vol geskryf het maar in die laaste twee jaar het dit weg gesyfer tot druppels tot die woorde later opgedroog het: leeg, sonder betekenis.

Ek het dit alles geweet maar soos ‘n steeks donkie het ek geweier om te erken dat ek God nodig het maar Hy was nogtans getrou. Die ironie van alles is die ondersteunings groep wat ek om my geskaar het is juis Sy kinders – gebrei deur die lewe in elke opsig – dit is hoe groot Sy Liefde vir my is. Hy het geweet wie ek nodig het en mense so geposisioneer dat ek nie anders kon as om Sy einddoel te sien nie. Hoe kosbaar om te weet dat Hy nog steeds in beheer is.

In 2010 was ek ‘n verbitterede mens wat my rug op Vaders’ Liefde gedraai het en ek het baie verhard in my uitkyk. In die proses het ek baie mense weg gestoot, selfs my 30-jaar lange huwelik het in die slag gebly en die verhoudings met my kinders het bitter seer gekry. Nou, 7 jaar later, vind my voete weer die pad terug en durf ek dit aan tree vir tree. Ek leer weer om Hom te vertrou, om oor te gee en toe te laat dat Sy Gees die leemtes vul en die hardheid finaal af te breek. My lewens uitkyk is besig om te verander en nou, wanneer ek die Woord van God oop maak is dit met nuwe begrip.

Ek het geleer om op te hou om myself te veroordeel en af te skryf op grond van wat ander dink of praat oor my maar myself in die lig van God se genade te beskou. Immers tel Sy opinie meer.

My verhouding met my kinders het die jaar sodanig verbeter dat ek met opregtheid kan sê dit is wel met my siel. Sonder hulle liefde, aanvaarding en bystand sou dit nie moontlik gewees het om weer my voete te vind nie. Kinders maak ons heel – selfs die kleinseuns se kleine handjies is genesing vir die moeë siel. Nathan se woorde het my nou die dag, tydens ‘n kuier, diep getref: “Ek is so bly ouma het nie Kaap toe gegaan nie.” Meer daaroor in ‘n volgende aflewering maar ek het net weereens besef hoe my besluite selfs hom geraak het. Dit is daardie woorde wat dan soos ‘n lieflike geur om my hals hang en ek weet ek is geliefd ongeag die modder waarin ek my bevind het. Miskien klink dit narsisties vir sommige maar my gemoedtoestand was so stukkend en rou dat sulke klein gebare vir my die wêreld beteken.

Alhoewel die huwelik in die slag gebly het sal die goue klontjies van wysheid en die mooi herinneringe daarvan iets wees wat ek sal vertroetel in my hartkamers en die swaar tye, die tye wat my met insig gevul het, my verder lei soos ek die lewe verder aanpak. Elke nuwe tree wat ek gee vul my met groter dankbaarheid vir dit wat tans gebeur.

Ek voel voorwaar soos die spreekwoordelike verlore seun wat in die varkhok tot die besef gekom het dat sonder Hom dit ‘n koue plek is. Weer het ek terug gekom na ‘n Vader wat met ope arms my in gewag het: Sy liefde onverandered en sy rus balsem vir ‘n moeë gees.

Sy genade is genoeg. 


@Lynelle Clark 2017






Woensdag 14 Desember 2016

Hart's kiekies deur Lynelle Clark #Kortverhaal #Afrikaans


Hart’s kiekies

 deur

Lynelle Clark

Kliek – en nog ‘n terug flits so duidelik soos die vorige.
Kliek – wens jy was hier.
Kliek – vergeet van hom. Hy het.
Kliek - Soos kortstondige flitse spoed ons verhouding voor my verby.
Elke keer dat dat ek my ooglede knip, is daar nog ʼn herinnering; nog ʼn grepie van ons saamwees kristal helder in my gedagtes. Hoekom het ons nooit foto’s van ons geneem nie? Daar is niks tasbaar van ons kortstondige verhouding nie, maar tog speel die tonele gedurigdeur in my geestesoog af dat ek nie anders kan as om in afwagting my oë oop te maak met die hoop om jou daar te kry nie.
Jou peinsende oë priemend op my ingestel; jou glimlag wat my knieë lam gemaak het en my hart gesmelt het; gevolg deur die ondeunde laggie wanneer jy in ʼn stoute bui was.
Die manier wat jy sou vra: “Is dit nog nie tyd vir ʼn bier nie?”
Die tye wanneer jy staaltjies van jou lewe vertel het en ek net kon luister; vasgevang in die oomblik van jou nostalgie.
Nooit was daardie oomblikke op film vasgelê nie, maar dit is vasgenael in my geheue, so werklik dat dit voel ek kan my hande uitstoot en jy is daar – voor my.
Hoe harder ek probeer om te vergeet, hoe meer spring jy op in my gedagtegang; jy bly deel van my lewe – soms so ongevraagd. Soms raak ek so moeg vir dit. Vir die onthou. Dit mergel my uit. LOS MY UIT!
So verloop meeste van my dae – in tweestryd gewikkel tussen verlange, onthou en herlewing.
Ek het nie foto’s nodig nie; die realiteit van ons saamwees leef nog helder binne my – selfs nou jare later.
Waar ek ook al gaan - hy is daar. Onbewustelik is ek altyd op die uitkyk en hou ek ‘n deur dop met die verwagting dat ek hom nou gaan sien.
Die teleurstelling wanneer hy nie opdaag nie, is soms so oorweldigend dat dit voel of my hart opnuut weer uit my borskas geruk word.
Die absolute alleenheid wanneer ek na my foon kyk en daar geen boodskap van hom is nie; die stille bewys dat ons nie meer is nie.
Daardie stille leegheid wat niks of niemand kan vul nie.
“Is als reg met jou?” Henriette kyk na my met groot vraagtekens in haar helder blou kykers en outomaties knik ek my kop en gee haar ʼn skalkse glimlag.
“Jy is al die heel dag besig met jou eie gedagtes, als reg met die kinders?
“Ja wat, net besig soos altyd.” Beantwoord ek haar starende oë en plaas die afgedroogde bak terug op sy plek in die kas.
“Enige nuus oor jou vakansie?”
“Ja, ek het my kaartjie vanoggend gekry. Ek vlieg môre.”
“Hoe laat?”
“Vroeg, moet ses uur op die lughawe wees.”
“Dit is goed, ek sal jou aflaai.”
“Dit is nie nodig nie, Hettie. Die lugredery het gereël vir vervoer.”
Vir ʼn paar oomblikke rek daar ʼn gemaklike stilte tussen die twee vriendinne terwyl hulle die eentonige werk van kombuis skoonmaak outomaties afhandel. Wanneer hulle klaar is, dryf die soel lug van die aand hulle na buite. Met met ʼn waarderende sug gaan sit elkeen in hul geliefkoosde stoel en staar in die donker dieptes in. Kondensering vorm teen elkeen se glas en maak ʼn water ring; so nou en dan word die stilte verbreek deur die plasing van ʼn glas op die glasblad; elkeen verdiep in haar eie gedagtes.
Hettie en Meisie bly al vier jaar saam. Hulle het die eerste dag  dat Meisie begin werk het by Jansen Prokureurs ontmoet. Die onderhoud is gevoer deur Dr. Jansen snr, Hettie se pa. Meisie is aangestel as assistent vir Prokureur Henriette Jansen of Hettie soos haar vriende haar ken. Hul vriendskap het vinnig geblom en hulle het mekaar in soveel aspekte aangevul.
ʼn Gemaklike samesyn het praat dikwels oorbodig gemaak en Hettie het Meisie vinnig touwysgemaak oor die wel en weë van die klein dorpie aan die Weskus. Meisie het oorspronklik van die Wes Rand afgekom, en na haar egskeiding haar weg op haar eie aangedurf.
Hettie was twee maal getroud, albei kere so traumaties dat sy nooit daaroor praat nie en Meisie het dit so aanvaar. Albei het kinders: groot volwasse mense met hul eie lewens en hulle sien of hoor maar min van hulle. Hettie het Meisie genooi om by haar huis in te trek: in ‘n suite van haar eie – kompleet met private kombuis en sitkamer - om die huis te vul soos wat sy dit gestel het.
Met tye kom al die kinders kuier en word die huis ‘n regte tuiste waar die vriendelike gelag van mense-stemme die stilte in die lang gange verbreek.  Vroeër is die huis gebruik vir menigte deftige onthale en die Jansens was bekend vir hul gasvryheid, maar na Mev. Jansen se afsterwe het Dr. Jansen onttrek van die samelewing en homself afgesonder in ‘n gastehuis op die landgoed nie ver van die hoofhuis af nie. Elke Sondag middag is hy daar vir die middagmaal, netjies uitgevat in ‘n driestuk pak en strikdas net om weer stilweg te verdwyn na sy eie plek.
Meisie en Hettie is twee eensame vrouens wat geleer het om saam te werk, saam onder een dak te woon en pak allerlei projekte gesamentlik aan; van stokperdjies tot dien op verskeie rade in die omgewing. Dit is selde wat hulle nie bymekaar is nie en die kontrei se mense het dit so aanvaar.
Dié jaar het Meisie besluit om vir vriende en familie te gaan kuier in Gauteng – nadat sy ‘n uitnodiging vir ‘n troue ontvang het en Hettie sal alleen agterbly – die eerste keer wat Meisie teruggaan.
Met ‘n sug staan Meisie op, haar glas alreeds in haar hand toe Hettie haar stop.  
“Is als reg Meisie?”
“Ja, ek is net moeg vanaand.”
“Lekker slaap vriendin.”
“Jy ook, Het.”
“Sien jou more oggend.”
“Moenie moeite doen nie, ek sal iets op die lughawe kry.”
“Ek sal in elk geval jou wakker maak met ‘n koppie tee.”
“Dit is regtig nie nodig nie.” En Meisie skuifel weg so asof daar iets swaars op haar rus. Hettie staar haar vriendin agterna. Sy is bewus van die verlange wat so diep in Meisie se hart weggebêre is. Hoekom dit juis nou weer sy kop moet uitsteek weet sy nie; sy het geleer om nie vrae te vra nie, want Meisie praat nie daaroor nie. Net eenmaal het sy haar sluier gesak – in ‘n aand van te veel wyn drink, het sy haar hart oopgemaak en Hettie kon net luister na haar vriendin se hartseer – haar rede vir vlug van die Wes Rand af. ‘n Kortstondige liefdes verhouding wat haar met baie vrae agter gelaat het.
Daardie verlange wat haar vriendin weer kruppel maak vanaand en Hettie weet dat Meisie min gaan slaap.
~~~
“Het jy alles?”
“Ek glo so, as ek iets vergeet het sal ek dit maar kry by die menigte Malls aan die Rand.”
“Goed dan. Geniet jou vakansie, en groete aan almal.”
“Maak so. Kyk mooi na jouself en onthou om jou pille te drink.”
“Ja, Ja. Gaan nou. Hulle roep alweer.”
Met stywe drukkies neem die twee vriendinne afskeid en Hettie wag totdat Meisie by die hekke instap voor sy ook haar weg baan deur die vroeë oggend skare.
Meisie gespe haarself in die stoel, vandag het sy ‘n sitplek gekry langs die gang en sy weet sommer dit gaan ‘n lang vlug wees soos mense en trollies by haar gaan verby beweeg in hul haas. In plaas daarvan dat dit haar omkrap, maak sy haar oë toe en raak weg in ‘n sluimerende wêreld van verlange en drome na ‘n gister wat nooit sal wees nie.
****
“Hoe gaan dit met almal?”
“Baie goed – die kinders stuur groete. Die kleintjies word nou woelig. Ek raak skoon moeg net om na hulle te kyk.” Meisie se gesig straal soos altyd wanneer sy van haar kinders praat.
“Chrissie-hulle se huis is uiteindelik klaar en dit lyk werklik pragtig met al die nuwe verbouings.”
“Dit moet seker nou ‘n reuse huis wees?” vra Hettie nuuskierig en lus vir gesels na die twee weke van alleen wees.
“Praat jy vrou. Maar dan is dit verstane met al die kinders en ... jy sal nie glo nie maar Chrissie is weer swanger.” En Meisie gee ‘n skalkse laggie as Hettie se oë rek.
“Alweer?” En Hettie klap haar hande saam van stomme verbasing. “Pieter kon nog nooit sy hande van haar af hou nie, sy is ‘n pragtige mens binne en buite.”  Verduidelik Meisie onnodiglik. Hettie het die man al gesien, skoon simpel oor sy vrou.
“Hoeveelste een is dit dan?”
Vir ‘n oomblik bly Meisie stil terwyl sy ‘n silwerraam op die boekrak neersit, peinsend staar sy daarna en beantwoord ingedagte: “Vyfde kindjie.”
“Goeie genugtig.” En Hettie zoom in op die foto maar Meisie skuif die foto so dat sy nie kan sien nie.
“ Maar weet jy hulle is gelukkig en geseënd, en ek gun dit vir hulle.” Meisie draai om en pak haar tas verder uit diep in haar eie gedagtes.
Hettie hou haar vriendin dop vanwaar sy stelling ingeneem het op die rusbank wat ‘n uitsig het oor die private sitkamer en ‘n gedeelte van die tuin. Die oop patiodeur laat ‘n koel windjie inwaai en so nou en dan bol die gordyne. Die sonstrale laat strepe oral oor die mat en die plek lyk vrolik met die vars blomme wat sy nog daardie môre in haar vriendin se suite geplaas het.
Nog ‘n fotoraam verskyn van uit die dieptes en word versigtig neergesit op ‘n ronde tafeltjie nie ver van waar Hettie sit nie en vir ‘n paar oomblikke staan Meisie stil voor die raam terwyl ‘n vinger oor die glas getrek word. Hettie kon sweer sy sien ‘n traan, maar kon haar ook verbeel het toe Meisie wegdraai en doenig raak in die slaapkamer. Kasdeure word oop en toe gemaak. Laaie word toegestoot en ‘n anderse stilte heers in die stel kamers. Hettie wonder hoe dit regtig gegaan het.
Meisie is stil. Te stil.
Hettie loop stadig na die deur toe en staan teen die deurkosyn en kyk hoe Meisie rondskarrel om alles weer georden te kry. Nog twee fotorame het plek gekry op haar spieëlkas. Laggende gesiggies straal vanuit die rame en instinktief weet Hettie dit is die kleinkinders.
“Hoe was jou twee weke?” verbreek Meisie die stilte sonder om regtig op te kyk van die uitpakkery.
“Goed. Mnr Joubert het uiteindelik geskik en ons kon voortgaan met die registrasie van die eiendom.”
“Ag dankie tog. Ek het gedink ons gaan nooit daardie man tevrede stel nie.” Meisie glimlag tevrede – bly dat die moeilike man uiteindelik uit hulle lewe is.
“Blykbaar het dit iets te doen met wat jy gesê het die laaste keer wat hy daar was.”
“Regtig? Wat?”
“Hy het nie gesê nie, maar die skikking is aanvaar.”
“Dan is dit goed.”
“Mnr. Joubert het al tweemaal gebel en gevra na jou.”
“Hoekom?”
“Hy het nie verduidelik nie, jy weet mos. Die man praat net die nodigste.”
‘n Laaste tas word op die bankie voor die bed neergesit en oopgemaak. Toegedraaide geskenke word uitgehaal en sy stap na Hettie toe.
“Die kinders het dit vir jou gestuur,” Vier mooi versierde pakkies word in haar hande gesit.
“Maar hoekom – dit is nie my verjaarsdag nie?”
“Hulle het gevoel om vir jou iets te koop, daar is iets van die kleinkinders ook.”
“Ek sal hulle ‘n luitjie gee om dankie te sê.”
Nog ‘n fotoraam verskyn, dié een is groter as die voriges en die figure duidelik uitgebeeld in die outydse silwerraam. Die bruid en bruidegom staan glimlaggend langs mekaar in ‘n hul trougewaad. Formeel en deftig staan die man daar, elke haar op sy plek; sy baard netjies getrim, das bietjie skeef. Langs hom staan Meisie ewe deftig in haar lig groen rokkie wat hulle nog saam uitgekies het. Meisie lyk vrolik en jeugdig langs die egpaar; die bruidegom se arm rustig om haar skouers – soos ou vriende.
Sy ken nie die blondekop vrou aan sy regtersy persoonlik nie en Meisie self het net eenmaal haar naam genoem, Alida Breytenbach, weduwee wat nou weer gelukkig lyk in die nuwe man se arms; sy straal in haar wit pakkie en glimmende hare terwyl sy opkyk na haar bruidegom – wie vir daardie vlietende oomblik na Meisie kyk.
Meisie stap weg van die tafeltjie en hang die einste rok in die hangkas en Hettie kon nie anders as om die foto raam op te tel en te bestudeer nie. Dit vertel meer as wat Meisie sê en sy moes haar oë ‘n paar keer knip om dan te onthou - die man wat sy nog net eenmaal  - ook op ‘n foto – gesien het.
 “Gerrie Heyens, jou bliksem.”

@Lynelle Clark 2016


Woensdag 07 Desember 2016

Die lewe is 'n Cha-cha.

Net sodra 'n mens dink jy het nou als geleer wat daar te leer is dan leer jy nog iets.
Dit is nimmereindigend!
Daar is tye wat net niks sin maak nie en ipv om vorentoe te beweeg, beweeg ek terug. Ek het al menigte kere die stelling gelees: "Die lewe is 'n Cha-cha; twee tree vorentoe en een agteruit." 'n Repeterende stappie wat die meeste van ons goed ken. Voeg daar by sensuele musiek, hoehakskoene en ‘n bloedrooi satyn rok en jy het die beste vorm van ontspanning wat jy kan kry. Maar dit is nie werklikheid nie. Dit voer jou weg vir ‘n kortstondige paar minute na ‘n wereld van passie, een word met jou metgesel terwyl polsende musiek deur jou are vloei.
Die werklikheid is nie so nie. En soms dink ek mense is gek om die stelling te glo maar as ek rerig eerlik moet wees met myself dan is dit presies hoe dit is.
Die lewe is vol passie, die eenwording van siele terwyl ons ‘n sekere tyd mekaar se nabyheid deel met die polsende ritme van die lewe wat eb en vloei soos die see om ons. Dit bruis en lewe wat gevolg word met branders wat teen rotse slaan wat jou broos laat aan die einde.

Ons droom van daardie passie - om van die eentonigheid van die lewe weg te kom en vir kortstondige oomblikke gebeur dit wel totdat daardie een tree terug gegee moet word en ons die harde werklikheid in die oe moet kyk.
Dit is hoe my lewe is die laaste 2 jaar. Dit is 'n konstante cha cha van twee tree vorentoe en een tree agter uit. Miskien, juis nou meer omdat ek die lewe alleen aandurf. Voorheen het ek dit nie so intens ervaar soos die afgelope tyd nie; of miskien is dit omdat ek met ander oe daarna kyk. Hoe ook al sy, my uitkyk van die lewe en mense het verander - of miskien is dit omdat ek verander het.
My grootste droom is om onafhanklik te wees.
Ek jaag daarna soos 'n drenkeling wat na ‘n reddingsboot spartel.
Dit dryf my.
Dit spoor my aan.
Dit hou my koers vas; nog net eenmaal op hierdie reis was ek bereid om dit tersyde te stel. Totdat werklikheid my weer 'n paar klappe gegee het. Die werklikheid is so realisties, dit raak die diepste snare van jou hart aan en bring jou vinnig terug na moeder aarde toe. Dan besef jy ipv net een het jy sommer 'n paar tree agter toe beweeg. Tans bevind ek myself sku amper bang om sekere verhoudings weer toe te laat. Versigtig om myself weer oop te maak en net om weer weg te stap met lee hande.
In retrospect bring ek baie van hierdie dinge oor myself. Diep binne my wil ek nog glo in die goedheid van mense. Dat die lewe se passie deel van myne kan word en dat ek dit vir altyd sal leef. Ek wil ek glo dat dit wat mense se hulle respekteer en doen. Nie net se om iets te kry nie maar omdat hulle werklik omgee en waar is teenoor hulle eie woord. Maar telkemale loop ek my vas teen hierdie valsheid en doen ek weer die agter uit stappie. Dit is dan wat ek in elke situasie die leuen wil oop kloof en mense wil eenkant smyt net om te vergeet. Dit is dan wat my droom weer opstaan, my weer herinner hoekom ek op hierdie pad is.
Ek is al voos bloedneus geslaan en soms is dit met moeite wat ek ‘n glimlag op my lippe sit maar tog kry ek dit reg. Tog is daar iets binne my wat die passie geproe het en dit na jaag en glo dat daar tog so iets is soos ‘n Cha-cha waar die musiek sal aanhou speel. Polsend deur my are sal bruis en my die satisfaksie gee waarna ek so naarstiglik soek.
Met my laaste onderonsie het my nou gewese baas sekere beloftes aan my gemaak. Dit was seker die mees interresantse onderhoud wat ek nog gehad het. Hy het 'n paar dinge vir my gese maar wat my die meeste by gebly het was toe hy gese het: "You are the perfect age and at the right place to receive all that was stolen from you. You gave a lot and stood back alot but now is your time to harvest." Nodeloos om te se ek was verstom en ek het die volgende dag begin werk- wat geklink het na 'n droom wat waar geword het.
Nou, 3 maande later bevind ek my weer terug op die plek waar ek begin het met 'n nuwe lewe wat weer vir my wink. En ek wonder wat nou, hoekom weer? Wat gaan aan dat ek my telkemale teen dieselfde goed vas loop om weer van voor af te begin?
Hoekom kan ek nie weg kom van die begin en net vorentoe beweeg nie?
Hier is my konklusie van dit alles: ek het geleer!
Jip, ek was raadop, wou soms teen die mure uit klim van frustrasie, wou my hare uit my kop trek, aanhoudend gehuil waar iemand net kyk vir my en die trane is oop - soos ‘n vloed.
Maar ek het geleer.
Ek verstaan nou die spel van die lewe beter.
Ek verstaan daar is stappe wat gevolg moet word.
Ek verstaan dat elke proses ‘n leer fase was wat my elke keer nader aan my doel gebring het.
Ek het sterker geword.
Geleer om my instink te vertrou.
Geleer om die stil tye waar die musiek so sag is dat dit onhoorbaar is te vertrou dat dinge sal uitwerk. By hook or by crook - soos ons sal se. :)
Maar bo alles het ek geleer dat, as vrou, ek sterker is as wat ek myself wou toegee.
Ek slim genoeg is om nuwe dinge te leer, te verstaan en deur te voer.
Dat ek ek vol energie is wat die lewe in die oe kan kyk.
Bowenal dat ek met 20 plus jariges kan meeding selfs al kom ek tweede: my stamina is onuitblusbaar want ek is op die regte plek. al is dan net vir 2 of 3 maande
En tussen al die nuwe ervarings, ontmoet ek nuwe mense, leer ek die bedryf in al sy fasette beter en sien ek plekke en ry ek paaie wat ek andersins nooit sou ry nie.
Iemand het eenmaal gese dat ek doen sonder om te dink. Dat ek nie bang is om nuwe dinge te probeer nie - en dit is waar - ek doen. Hoekom?
Want ek het niks om te verloor nie!
Geniet die lewe - elke tree wat vorentoe en agtertoe beweeg, volg die polsende ritme daarvan sodat jy ook jou eindbestemming kan bereik.
Maar bo als bly GLO!
Ek wens julle elkeen ‘n Geseende Kersfees toe en ‘n Voorspoedige Nuwe jaar.


Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...