Wednesday, December 14, 2016

Hart's kiekies deur Lynelle Clark #Kortverhaal #Afrikaans


Hart’s kiekies

 deur

Lynelle Clark

Kliek – en nog ‘n terug flits so duidelik soos die vorige.
Kliek – wens jy was hier.
Kliek – vergeet van hom. Hy het.
Kliek - Soos kortstondige flitse spoed ons verhouding voor my verby.
Elke keer dat dat ek my ooglede knip, is daar nog ʼn herinnering; nog ʼn grepie van ons saamwees kristal helder in my gedagtes. Hoekom het ons nooit foto’s van ons geneem nie? Daar is niks tasbaar van ons kortstondige verhouding nie, maar tog speel die tonele gedurigdeur in my geestesoog af dat ek nie anders kan as om in afwagting my oë oop te maak met die hoop om jou daar te kry nie.
Jou peinsende oë priemend op my ingestel; jou glimlag wat my knieë lam gemaak het en my hart gesmelt het; gevolg deur die ondeunde laggie wanneer jy in ʼn stoute bui was.
Die manier wat jy sou vra: “Is dit nog nie tyd vir ʼn bier nie?”
Die tye wanneer jy staaltjies van jou lewe vertel het en ek net kon luister; vasgevang in die oomblik van jou nostalgie.
Nooit was daardie oomblikke op film vasgelê nie, maar dit is vasgenael in my geheue, so werklik dat dit voel ek kan my hande uitstoot en jy is daar – voor my.
Hoe harder ek probeer om te vergeet, hoe meer spring jy op in my gedagtegang; jy bly deel van my lewe – soms so ongevraagd. Soms raak ek so moeg vir dit. Vir die onthou. Dit mergel my uit. LOS MY UIT!
So verloop meeste van my dae – in tweestryd gewikkel tussen verlange, onthou en herlewing.
Ek het nie foto’s nodig nie; die realiteit van ons saamwees leef nog helder binne my – selfs nou jare later.
Waar ek ook al gaan - hy is daar. Onbewustelik is ek altyd op die uitkyk en hou ek ‘n deur dop met die verwagting dat ek hom nou gaan sien.
Die teleurstelling wanneer hy nie opdaag nie, is soms so oorweldigend dat dit voel of my hart opnuut weer uit my borskas geruk word.
Die absolute alleenheid wanneer ek na my foon kyk en daar geen boodskap van hom is nie; die stille bewys dat ons nie meer is nie.
Daardie stille leegheid wat niks of niemand kan vul nie.
“Is als reg met jou?” Henriette kyk na my met groot vraagtekens in haar helder blou kykers en outomaties knik ek my kop en gee haar ʼn skalkse glimlag.
“Jy is al die heel dag besig met jou eie gedagtes, als reg met die kinders?
“Ja wat, net besig soos altyd.” Beantwoord ek haar starende oë en plaas die afgedroogde bak terug op sy plek in die kas.
“Enige nuus oor jou vakansie?”
“Ja, ek het my kaartjie vanoggend gekry. Ek vlieg môre.”
“Hoe laat?”
“Vroeg, moet ses uur op die lughawe wees.”
“Dit is goed, ek sal jou aflaai.”
“Dit is nie nodig nie, Hettie. Die lugredery het gereël vir vervoer.”
Vir ʼn paar oomblikke rek daar ʼn gemaklike stilte tussen die twee vriendinne terwyl hulle die eentonige werk van kombuis skoonmaak outomaties afhandel. Wanneer hulle klaar is, dryf die soel lug van die aand hulle na buite. Met met ʼn waarderende sug gaan sit elkeen in hul geliefkoosde stoel en staar in die donker dieptes in. Kondensering vorm teen elkeen se glas en maak ʼn water ring; so nou en dan word die stilte verbreek deur die plasing van ʼn glas op die glasblad; elkeen verdiep in haar eie gedagtes.
Hettie en Meisie bly al vier jaar saam. Hulle het die eerste dag  dat Meisie begin werk het by Jansen Prokureurs ontmoet. Die onderhoud is gevoer deur Dr. Jansen snr, Hettie se pa. Meisie is aangestel as assistent vir Prokureur Henriette Jansen of Hettie soos haar vriende haar ken. Hul vriendskap het vinnig geblom en hulle het mekaar in soveel aspekte aangevul.
ʼn Gemaklike samesyn het praat dikwels oorbodig gemaak en Hettie het Meisie vinnig touwysgemaak oor die wel en weë van die klein dorpie aan die Weskus. Meisie het oorspronklik van die Wes Rand afgekom, en na haar egskeiding haar weg op haar eie aangedurf.
Hettie was twee maal getroud, albei kere so traumaties dat sy nooit daaroor praat nie en Meisie het dit so aanvaar. Albei het kinders: groot volwasse mense met hul eie lewens en hulle sien of hoor maar min van hulle. Hettie het Meisie genooi om by haar huis in te trek: in ‘n suite van haar eie – kompleet met private kombuis en sitkamer - om die huis te vul soos wat sy dit gestel het.
Met tye kom al die kinders kuier en word die huis ‘n regte tuiste waar die vriendelike gelag van mense-stemme die stilte in die lang gange verbreek.  Vroeër is die huis gebruik vir menigte deftige onthale en die Jansens was bekend vir hul gasvryheid, maar na Mev. Jansen se afsterwe het Dr. Jansen onttrek van die samelewing en homself afgesonder in ‘n gastehuis op die landgoed nie ver van die hoofhuis af nie. Elke Sondag middag is hy daar vir die middagmaal, netjies uitgevat in ‘n driestuk pak en strikdas net om weer stilweg te verdwyn na sy eie plek.
Meisie en Hettie is twee eensame vrouens wat geleer het om saam te werk, saam onder een dak te woon en pak allerlei projekte gesamentlik aan; van stokperdjies tot dien op verskeie rade in die omgewing. Dit is selde wat hulle nie bymekaar is nie en die kontrei se mense het dit so aanvaar.
Dié jaar het Meisie besluit om vir vriende en familie te gaan kuier in Gauteng – nadat sy ‘n uitnodiging vir ‘n troue ontvang het en Hettie sal alleen agterbly – die eerste keer wat Meisie teruggaan.
Met ‘n sug staan Meisie op, haar glas alreeds in haar hand toe Hettie haar stop.  
“Is als reg Meisie?”
“Ja, ek is net moeg vanaand.”
“Lekker slaap vriendin.”
“Jy ook, Het.”
“Sien jou more oggend.”
“Moenie moeite doen nie, ek sal iets op die lughawe kry.”
“Ek sal in elk geval jou wakker maak met ‘n koppie tee.”
“Dit is regtig nie nodig nie.” En Meisie skuifel weg so asof daar iets swaars op haar rus. Hettie staar haar vriendin agterna. Sy is bewus van die verlange wat so diep in Meisie se hart weggebêre is. Hoekom dit juis nou weer sy kop moet uitsteek weet sy nie; sy het geleer om nie vrae te vra nie, want Meisie praat nie daaroor nie. Net eenmaal het sy haar sluier gesak – in ‘n aand van te veel wyn drink, het sy haar hart oopgemaak en Hettie kon net luister na haar vriendin se hartseer – haar rede vir vlug van die Wes Rand af. ‘n Kortstondige liefdes verhouding wat haar met baie vrae agter gelaat het.
Daardie verlange wat haar vriendin weer kruppel maak vanaand en Hettie weet dat Meisie min gaan slaap.
~~~
“Het jy alles?”
“Ek glo so, as ek iets vergeet het sal ek dit maar kry by die menigte Malls aan die Rand.”
“Goed dan. Geniet jou vakansie, en groete aan almal.”
“Maak so. Kyk mooi na jouself en onthou om jou pille te drink.”
“Ja, Ja. Gaan nou. Hulle roep alweer.”
Met stywe drukkies neem die twee vriendinne afskeid en Hettie wag totdat Meisie by die hekke instap voor sy ook haar weg baan deur die vroeë oggend skare.
Meisie gespe haarself in die stoel, vandag het sy ‘n sitplek gekry langs die gang en sy weet sommer dit gaan ‘n lang vlug wees soos mense en trollies by haar gaan verby beweeg in hul haas. In plaas daarvan dat dit haar omkrap, maak sy haar oë toe en raak weg in ‘n sluimerende wêreld van verlange en drome na ‘n gister wat nooit sal wees nie.
****
“Hoe gaan dit met almal?”
“Baie goed – die kinders stuur groete. Die kleintjies word nou woelig. Ek raak skoon moeg net om na hulle te kyk.” Meisie se gesig straal soos altyd wanneer sy van haar kinders praat.
“Chrissie-hulle se huis is uiteindelik klaar en dit lyk werklik pragtig met al die nuwe verbouings.”
“Dit moet seker nou ‘n reuse huis wees?” vra Hettie nuuskierig en lus vir gesels na die twee weke van alleen wees.
“Praat jy vrou. Maar dan is dit verstane met al die kinders en ... jy sal nie glo nie maar Chrissie is weer swanger.” En Meisie gee ‘n skalkse laggie as Hettie se oë rek.
“Alweer?” En Hettie klap haar hande saam van stomme verbasing. “Pieter kon nog nooit sy hande van haar af hou nie, sy is ‘n pragtige mens binne en buite.”  Verduidelik Meisie onnodiglik. Hettie het die man al gesien, skoon simpel oor sy vrou.
“Hoeveelste een is dit dan?”
Vir ‘n oomblik bly Meisie stil terwyl sy ‘n silwerraam op die boekrak neersit, peinsend staar sy daarna en beantwoord ingedagte: “Vyfde kindjie.”
“Goeie genugtig.” En Hettie zoom in op die foto maar Meisie skuif die foto so dat sy nie kan sien nie.
“ Maar weet jy hulle is gelukkig en geseënd, en ek gun dit vir hulle.” Meisie draai om en pak haar tas verder uit diep in haar eie gedagtes.
Hettie hou haar vriendin dop vanwaar sy stelling ingeneem het op die rusbank wat ‘n uitsig het oor die private sitkamer en ‘n gedeelte van die tuin. Die oop patiodeur laat ‘n koel windjie inwaai en so nou en dan bol die gordyne. Die sonstrale laat strepe oral oor die mat en die plek lyk vrolik met die vars blomme wat sy nog daardie môre in haar vriendin se suite geplaas het.
Nog ‘n fotoraam verskyn van uit die dieptes en word versigtig neergesit op ‘n ronde tafeltjie nie ver van waar Hettie sit nie en vir ‘n paar oomblikke staan Meisie stil voor die raam terwyl ‘n vinger oor die glas getrek word. Hettie kon sweer sy sien ‘n traan, maar kon haar ook verbeel het toe Meisie wegdraai en doenig raak in die slaapkamer. Kasdeure word oop en toe gemaak. Laaie word toegestoot en ‘n anderse stilte heers in die stel kamers. Hettie wonder hoe dit regtig gegaan het.
Meisie is stil. Te stil.
Hettie loop stadig na die deur toe en staan teen die deurkosyn en kyk hoe Meisie rondskarrel om alles weer georden te kry. Nog twee fotorame het plek gekry op haar spieëlkas. Laggende gesiggies straal vanuit die rame en instinktief weet Hettie dit is die kleinkinders.
“Hoe was jou twee weke?” verbreek Meisie die stilte sonder om regtig op te kyk van die uitpakkery.
“Goed. Mnr Joubert het uiteindelik geskik en ons kon voortgaan met die registrasie van die eiendom.”
“Ag dankie tog. Ek het gedink ons gaan nooit daardie man tevrede stel nie.” Meisie glimlag tevrede – bly dat die moeilike man uiteindelik uit hulle lewe is.
“Blykbaar het dit iets te doen met wat jy gesê het die laaste keer wat hy daar was.”
“Regtig? Wat?”
“Hy het nie gesê nie, maar die skikking is aanvaar.”
“Dan is dit goed.”
“Mnr. Joubert het al tweemaal gebel en gevra na jou.”
“Hoekom?”
“Hy het nie verduidelik nie, jy weet mos. Die man praat net die nodigste.”
‘n Laaste tas word op die bankie voor die bed neergesit en oopgemaak. Toegedraaide geskenke word uitgehaal en sy stap na Hettie toe.
“Die kinders het dit vir jou gestuur,” Vier mooi versierde pakkies word in haar hande gesit.
“Maar hoekom – dit is nie my verjaarsdag nie?”
“Hulle het gevoel om vir jou iets te koop, daar is iets van die kleinkinders ook.”
“Ek sal hulle ‘n luitjie gee om dankie te sê.”
Nog ‘n fotoraam verskyn, dié een is groter as die voriges en die figure duidelik uitgebeeld in die outydse silwerraam. Die bruid en bruidegom staan glimlaggend langs mekaar in ‘n hul trougewaad. Formeel en deftig staan die man daar, elke haar op sy plek; sy baard netjies getrim, das bietjie skeef. Langs hom staan Meisie ewe deftig in haar lig groen rokkie wat hulle nog saam uitgekies het. Meisie lyk vrolik en jeugdig langs die egpaar; die bruidegom se arm rustig om haar skouers – soos ou vriende.
Sy ken nie die blondekop vrou aan sy regtersy persoonlik nie en Meisie self het net eenmaal haar naam genoem, Alida Breytenbach, weduwee wat nou weer gelukkig lyk in die nuwe man se arms; sy straal in haar wit pakkie en glimmende hare terwyl sy opkyk na haar bruidegom – wie vir daardie vlietende oomblik na Meisie kyk.
Meisie stap weg van die tafeltjie en hang die einste rok in die hangkas en Hettie kon nie anders as om die foto raam op te tel en te bestudeer nie. Dit vertel meer as wat Meisie sê en sy moes haar oë ‘n paar keer knip om dan te onthou - die man wat sy nog net eenmaal  - ook op ‘n foto – gesien het.
 “Gerrie Heyens, jou bliksem.”

@Lynelle Clark 2016


No comments:

Post a Comment

Diamant Divas Program 6: Gee jouself tyd

As ’n verhouding eindig, kan dit pynlik wees, selfs vir die persoon wat dit beëindig het.  “Ek het verskriklik gevoel!” hoor ek dikwels i...