Sondag 13 November 2022

Die Genooides deur Lynelle Clark


“Santie, sal jy vir ons ‘n mooi uitnodiging skryf, asseblief?” Die matriekdogter kyk op van haar werk en knik instemmend.

“Watse bewoording wil Ma gebruik?”

“Die normale ding. Jy word hartlik uitgenooi om volgende Sondag te kom aansit vir ‘n familie-ete, so uit Ouma se kombuis - of so iets.”

“Gaan ons nou werklik aan met die ete, Wilma?”

“Natuurlik, Bertus. Die kinders is lus vir Ouma se kos. Jy weet almal het saamgestem dit is ‘n goeie idee.”

“Maar hoekom hier?” vra Bertus en kyk skuinsweg op van die skootrekenaar.

“Omdat ons huis die grootste is en almal kan akkomodeer.”

“Gaan Ma souskluitjies maak?” vra Albi of Albertus volgens sy identiteisdokument, met ‘n sjokoladebroodjie halfklaar in die hand.

“Natuurlik, my kind.”

“En pampoenkoekies,” sê-vra hy grootoog.

“Ja, en pampoenkoekies, boontjies … ,”

“Aggenee Ma, net nie dit nie. Ma weet ek hou nie van groente nie,” onderbreek hy sy ma.

Wilma kyk op van die resepteboeke wat oor die tafel gestrooi is en frons liggies.

“Maar jy eet dan pampoenkoekies?”

“Ja, want dit is soet en lekker.”

“Te veel soetgoed is nie goed vir jou nie, ou seun,” val Bertus die sestienjarige in die rede.

“Ek hou nie van boontjies nie.”

“Wel, ek gaan dit maak soos Ouma dit sou gemaak het. Kompleet - met ‘n klont botter en spek daarin.”

“Wie betaal vir al die kos?”

“Almal dra by. Katrien bring hoenderpastei. Karli maak bobotie met geelrys.”

“En rosyntjies?” vra Santie met opgewondenheid. Onmiddellik keep daar ‘n diep lyn tussen haar oë terwyl Wilma haar kop genoeglik skud. Wilma weet al wat gaan volg.

“Goeie genade, Ma. Wil julle hê ons moet ons dood eet?” vra sy verergd en lig haar kop vir ‘n wyle op van die werksboek.

“Dié kossoorte is besig om uit te sterf. Kitskos is nou die norm. Die lewe bestaan uit meer as net pizza en hamburgers. Ons wil hê julle kinders moet dit onthou. Daarom het ons besluit om dit te maak.”

“Ek dink eerder julle wil julle dood vreet.”

“Bertus! Jou taal asseblief.”

“Toemaar Ma, ons is erger gewoond,” mompel Albi tussenin.

“Moenie met ‘n mondvol kos praat nie. En jy en Wouter gedra julle Sondag. Daar word geen speletjies gespeel nie. Dit is ‘n familiedag.”

“So dit beteken ek moet opgeskeep sit met wat-se-naam van Karli,” sê Bertus en skud sy kop.

“Pieter is ook hier. Jy maak verniet of jy nie met Charles oor die weg kom nie.”

“Wat weet die man in elk geval van Afrikaanse kos?” vra hy vies, staan op en stap reguit na die yskas toe.

“Kultuur is aansteeklik en boerekos het mense nog altyd bymekaar gebring,” antwoord Wilma. Sy skuif die resep vir melktert eenkant toe en gryp ‘n ander boek en begin weer deur dit te blaai. Om die dood toe kan sy net nie Ma Ann se resep kry nie en geen ander sal werk nie.

“Ek dink nie die ding met Charles gaan werk nie.”

“Dit is nie vir ons om te besluit nie, Bertus. Dit is Karli se besluit.”

“Dit beteken nie ek moet die mannetjie aanvaar aan my etenstafel nie.”

“As hulle die knoop deur hak het ons nie ‘n keuse nie.” Bertus kyk gepynigend na Wilma, draai die bierbottel oop en vul sy glas vir die derde keer die aand.

“Ek dink in elk geval jy moet begin kyk na jou bier inname. Kyk waar hang daai maag.”

“Los my maag uit.” Hy trek die boepie in, maar net vir ‘n oomblik voor dit weer al bultend oor die belt hang.

“Jis, het Ma gesien hoe lyk Charles se maagspiere?”

‘n Dodelike kyk van Bertus laat Wilma haar antwoord sluk … maar ja, sy het gesien. Almal het dit gesien. Die betowerende prentjie het almal laat kyk en die vrouens behoorlik laat drink. Lank gelede het Bertus se maag ook so gelyk, maar dit was baie lank gelede; en sy verberg haar glimlag agter haar wynglas.

***

“Is jy seker jy het als onthou?” vra Bertus die Sondagoggend toe hy die laaste inkopiesak op die tafel neersit.

“Ja, ek is seker.”

“Dit ruik lekker, Wilma,” sê hy oor haar skouer toe sy die gaar skaapboud op die marmerblad neersit. Die stomende geur begroet haar neus en sy trek dit behaaglik in. Dit ruik nes Ma s’n, dink sy genoeglik.

“Dankie, Bertus. Dit is opgestop met stukkies spek en uie ook,” antwoord sy - die trots onverbloemd in haar stem.

“Nou praat jy! Kan ek proe?” Voor sy nog kan antwoord vat hy die skerp mes vas.

“Nee! Dit is vir later, nie nou nie,” betig sy.

“Net een proeseltjie, toe man.”

“Nee. Dit bly nooit by net een proeseltjie nie,” keer sy en sit die deksel terug op die kasserol.

“Jy is ‘n sadis,” grom hy en gee haar ‘n piksoen.

“Ek is seker jy sal kan uithou tot middagete. Nou nog net die souskluitjies, dan is ek ook klaar. Santie, kom laai die skottelgoedwasser vir die eerste lot, asseblief.”

“Ma hoef nie so te skree nie, ek is hier.”

“Moenie vir jou so parmantig hou nie, Santie. Werk net saam. Waar is Albi?” vra Wilma en kyk oor haar skouer na die TV kamer. Die TV is tot haar verbasing af en sy laat haar blik oor die res van die groot vertrek gaan.

“Hy is buite besig om die oprit te vee. Gisteraand se wind het weer die plek behoorlik bemors,” beantwoord Bertus haar vraag.

“Daar is nie nou tyd daarvoor nie. Die kind moet kom help om die tafel te dek.”

“Ek sal dit nou doen, Ma,” bied Santie aan.

“Die tafel moet geskuif word en is te swaar vir jou alleen.”

“Waarmee kan ek help?” vra Bertus.

“Ek is so lus vir ‘n koppie tee.”

Hy kyk Wilma vieserig aan, draai om en gaan sit in sy geliefkoosde stoel. Die volgende oomblik hoor hulle ‘n kardeur toeklap en Albi kom ingehardloop.

“Hy is hier, Ma. Hierdie keer met die swart Porsche.”

“Seker gesteel,” mompel Bertus.

“Wie Albi?” vra Wilma. Sy kyk op van die mengbak en gluur Bertus aan.

“Charles. Vrek, Ma moet sy arms sien.”

“Gedra vir jou, Albi,” grom Bertus. “Is die oprit skoon?”

“Ja, Pa.” Albi gaps ‘n gebakte skyfie aartappel; en voor Wilma nog kan keer is dit in sy mond. Die kraakgeluid ‘n goeie teken dat die aartappels krakerig is.

“Ouch … !” sê hy en Wilma se smalende glimlag spreek boekdele.

“Môre, môre,” groet Karli joviaal en plaas ‘n groot kasserol op die eiland neer. Sy stap oor en gee Wilma ‘n soen en drukkie.

“Hallo, Sus.”

“Charles is hier.” Sy wys na agtertoe waar die gebore Brit kop en skouers bo Bertus uittroon.

“Wilma, dankie vir die uitnodiging. Ek sien baie uit na die unieke ete.” Hy steek ‘n groot hand uit na haar. Sy Afrikaans rol van sy lippe asof dit die mees natuurlikste ding is en Wilma glimlag.

“Hallo, Charles. Daar is niks uniek hieraan nie. Dit is maar normale kos vir ons.”

“Dit klink so eksoties. Souskluitjies, pampoenkoekies, pannekoek en hoenderpastei,” noem hy dit stelselmatig op - elke woord duidelik en perfek uitgespreek.

“Ek sal nou nie boerekos eksoties noem nie, maar ek is bly jy is hier.” Wilma kyk na Bertus wat met rollende oë die gesprek volg en sy glimlag. Immers is die man in háár huis en as daar nou een ding is waarop Ma Ann gesteld was, was dit gasvryheid.  

“Mense, maar dit ruik lekker hier binne,” groet Pieter gul en Karlien gee elkeen van haar susters ‘n stywe druk.

“Hallo julle. Kom in en maak julle tuis. Waar is my peetkind?” vra Wilma.

Klein Magda is die laatlam in die familie en word deur almal bederf. Toe Karlien en Pieter hulle verwittig het van hulle peetouerskap, was hulle aangenaam verras en hulle geniet die kleinding terdeë.

“Sy slaap. Pieter het haar sommer op die sitkamerbank neergelê,” antwoord Karlien terwyl sy elke bak se deksel lig en daarin kyk. Net voor sy die kastrol wil oopmaak keer Wilma haar blitsig.

“Asseblief, moenie oopmaak nie! Die keer moet daai souskluitjies reg uit kom of ek gee dit op vir ‘n bad job.”

“Souskluitjies. Ek lief souskluitjies,” roep Pieter uit. Hy haal twee botteltjies uit hulle ysboks en oorhandig een aan Karlien.

“Hou asseblief duime vas dit kom perfek uit hierdie keer.”

“Ja, laas het Ma ons met kluite gestraf. Daar was niks fluffy daaraan nie,” laat hoor Albi en Wouter glimlag skeefweg.

Wilma gluur hom aan, maar glimlag tog. “Help vir Santie met die tafel, julle twee,” gebied sy gemaak streng en die twee tieners draai om na Santie wat alreeds die wit tafeldoek oopgooi.

“Wanneer kom Pa en sy nuwe vrou?”

“Hulle behoort nou enige tyd hier te wees,” antwoord Wilma angstig. Sy kyk na haar horlosie en dan na die stomende kastrol.

“Ek is seker dit gaan perfek uitkom,” praat Charles en sy knik. Sy is nie so optimisties soos hy nie.

“Is daar nog iets wat gedoen moet word?” vra Karli.

“Nee, als is onder beheer. Jy kan miskien net ‘n ogie hou oor die tafeldek. Ek wil hê ons moet eet sodra Pa-hulle kom anders word die kos koud.”

“Reg so.” Karli hak by Charles in en alle oë volg hulle waar hulle vriendelik met die jonger klomp begin skerts. Dan kyk hulle vir mekaar. Die Britse biljoenêr se onderwêreldse konneksies spel net moeilikheid. Sy ouma, ‘n boerenooi van Cullinan, is die rede vir sy liefde vir die taal.

Oupa Theuns sou Charles by die deur uitgeboender het bloot net omdat hy ‘n Engelsman is. Sal Karli veilig wees, of moet hulle haar keuse eerbiedig? Net tyd sal leer.

Op daardie oomblik slaan ‘n kardeur toe en Bertus stap voordeur toe.

“Kom in, Pa … Elize. Welkom,” groet hy. Wilma stap nader en druk haar pa styf vas.

“Hallo Pa … Elize,” groet sy en staan eenkant toe dat hulle kan in kom.

“Ek het soet patats gebring. Jou pa sê julle is baie lief daarvoor.”

“Dankie, Elize. Ja, ons is.”

“Jis, Tannie. Baie dankie,” roep Albi uit en kom staan ook nader toe Wilma die deksel so effens lig.

“O donderdag!” gil Wilma. Wit water borrel oor die rand en sy trek dit haastig oor na ‘n koue plaat wat ‘n sissende spoor agterlaat.

“Wat nou?” vra Bertus.

“Ek het van die souskluitjies vergeet,” roep sy verbouereerd uit. Die hele stoof is bemors. ‘n Onaangename reuk slurp die welriekende geure in tot ‘n onherkenbare reuk. Bertus gooi die vensters oop. Pieter pluk die agterdeur oop.

“Ek is seker dit sal reg wees,” laat hoor Charles naby haar. Al die bemoedigende woorde kolk om Wilma, maar sy hoor niks en haal die deksel huiwerig af.  

“Ek hoop so.”

“Laat ek help daarmee. Waar kan ek dit afgooi.”

“Nee, ek het die water nodig vir die sous,” keer sy Charles wat regstaan met sy bultende arms om die kastrol op te lig. Hy tree terug en Wilma neem ‘n opskeplepel. Sy diep in die kolkende massa terwyl sy ‘n skietgebedjie opstuur - haar hart in haar keel.

“Hier is ‘n bordjie, Sus,” bied Karlien aan. Dankbaar vat sy dit en sit een perfekte bolletjie daarin. Versigtig steek sy deur dit en dit val oop – mooi uitgerys en geurig.

“Dit lyk perfek, Sus,” sê Karlien en gee haar ‘n drukkie.

Wilma slaak ‘n sug van verligting en werk vinnig om die kluitjies na ‘n ander bak oor te plaas. Dan sprinkel sy dit mildelik met kaneelsuiker en voeg klontjies botter oor die lae. Laaste volg die sous en sy kyk op. Alle oë is op haar gerig, Karli se minsame glimlag die laaste wat sy sien voor sy die kasserol toemaak.

“Daar … ons is klaar. Kan almal kom aansit?” vra sy met ‘n moeë stem.

“Albi, Santi. Is die tafel klaar gedek?”

“Ja, Tannie,” antwoord Wouter.

“Waar is die twee?”

“Hier, Ma. Sjoe, moet al die vensters oop wees?” vra Albi en gryp die eerste vensterknip en slaan die venster toe. Bertus maak die res toe, sy glurende blik op Albi wat eenkant toe staan.

“Dit lyk baie lekker, my kind. Nes jou ma se kos,” sê Pa Jan en gee haar ‘n drukkie.

“Dankie, Pappie. Vandag verlang ek baie na Ma.”

“Ek ook,” beaam die ander dogters. Elize skuifel eenkant toe en Charles gaan staan by haar.

“Ek is Charles.”

“Aangename kennis,” groet sy en kyk na haar pa; en dan na Wilma voor sy die aangebode hand neem.

“Kom sit almal. Pa, sit op die kop en Elize, jy kan aan sy regterkant sit. Sus, Pieter, julle kan in die middel sit. Jul kinders sit oorkant Oom Pieter-hulle. Karli, Charles, julle kan hier sit,” wys Wilma aan en elkeen gaan sit terwyl sy en Santie die kosbakke op die tafel sit.

“Dit lyk nou sommer baie lekker, Ma.”

“Ja Tannie, dit lyk soos ‘n fees.”

“Mammie!” gil die kinderstemmetjie vanuit die sitkamer.

“Ek sal haar kry, tannie Karlien.”

“Dankie Santie.”

“My ma het gesê dat die Afrikaanse kultuur gevind word in die sintuie van ons menswees. Vandag kan ek dit ruik en sien uit om dit te proe ook,” val Charles weg en almal se oë draai na hom voordat Pa Jan hom antwoord.

“Dit is nou wyse woorde daardie, jong man.” Hy gee sy bord aan vir Elize. “Lekker warm,” voeg hy by en glimlag vir Wilma. Warm borde is vir Pa Jan ‘n baie belangrike element van enige goeie ete. Gelukkig het sy dit net betyds onthou.

“Sal Pa die seën vra, asseblief?” vra Bertus en all koppe sak. Selfs klein Magda sit stil op haar pa se skoot, vinger in die pruilmondjie.

Pa Jan knik en almal vat hande. Charles, wat langs Bertus beland het, bied ook sy hand aan en Bertus kyk na Wilma wat sy hand hard druk. Hy sit sy hand in Charles s’n en Pa bid.

Wilma staar na die groepie langs die tafel - dit is háár familie. Dan beland haar blik op Charles wat met geboë hoof na Pa luister. Daarenteen, staar Elize strak na haar bord. Soos altyd is sy eenkant, maar op haar plek. In die twee jaar wat hulle al getroud is, is sy nogsteeds ‘n vreemdeling en miskien is dit tyd om dit te verander. As hulle Charles kan aanvaar, kan hulle haar ook aanvaar.

Wilma skiet ‘n gebedjie op en wanneer Pa amen sê kyk sy na haar stiefma en sê kliphard:

“Ma Elize, die patats lyk lekker. Ek kan nie wag om daarvan te eet nie.”

Die vrou lig haar blik, verbasing in die dieptes. Vir die eerste keer merk Wilma op dat hulle bruin is net soos hare; en sy glimlag breed vir haar en dan vir haar pa. Hy gee haar ‘n waarderende kopknik. Dan verskuif sy haar blik na die res van haar familie toe.

Dit is waar wat Charles se ma gesê het, dink sy. Kultuur bring ons saam, ongeag die verwantskap.

Kopiereg Lynelle Clark

Maandag 07 November 2022

Grepe uit My Lewe: Hoofstuk 3: Deel 2

 

Dit vang my altyd onkant; die verwagting, teenoor die realiteit. ‘n Mens sal dink dat wat ek verwag en wat werklik gebeur my nie meer onkant kan vang nie. Maar dit doen. Die verwagting het getaan en die werklikheid staar my in die gesig en dit sny diep. Soms wens ek dinge wil vinniger gebeur en nie so uitgerek word nie. Of hoekom moet ek alweer hiermee sukkel?

Skoonmaak bring mee dat jy met goed moet deel en dit vat tyd. Daardie dinge wat in jou verlede weggekruip het, kom nou na vore en staar jou in die gesig. Soos bondels stof lê dit oral in die hoeke van jou siel. Die walgende reuk van dood sweef op en kriewel jou neus en jy nies totdat die trane vloei. Allergex gaan nie hier voor help nie. “Elbow grease” wel, plus om myself te vergewe, en om ander te vergewe met kamers vol genade. Dit is ‘n moeisame proses en daar is dae wat ek net nie lus is daarvoor nie.

Na vier maande van geweldige pyn, is my arm nou meer beweeglik en word dit makliker om bokse rond te skuif. Ek het nuwe respek gekry vir mense met sportbeserings of ander liggaamlike gebreke.  Die liewe vader weet dit is vrek seer. Dit maak nie saak hoeveel keer jy probeer iets doen nie jou liggaam werk nie saam nie. Skielik mis jy die vryheid van beweging en kyk jy verlangend na mense wat dit wel kan doen. Dan klop selfbejammering aan jou deur en jy moet deur dit druk om nie verswelg te word in die selfbejammering-partytjie nie. Kompleet met ballonne, rooi koeldrank en streamers.

Wanneer jy uiteindelik wel daarby uitkom bring elke nuwe skuif ‘n nuwe vlaag van stof mee en weer word jy gedwing om met die nuwe gevoelens te deel. Dit het party dae gevoel soos ‘n maalkolk waarvan ek net nie kan losbreek nie.

Dit is waar wat Salomo in al sy wysheid geskryf het: “Dit is daardie klein jakkalsies wat die wingerd verwoes.” Dit sluip baie subtiel rond en wag totdat dit iets sien wat kwesbaar is en dan fokus dit daarop. Soos ‘n dief in die nag sluip dit al hoe nader en wanneer jy dit die minste verwag val dit aan. Dit gaan gewoonlik vir die nek maar sal aan enige iets byt om jou te verswak tot waar jy heeltemal ingee en gaan plat lê. In my geval was dit my skouer. En die kommentare van familielede. Ken my familie my dan nie? Is gewoonlik my weervraag. Hoekom sou hulle so dink van my? Voel almal so?

Ek weet nie van julle nie maar wanneer ek beskuldig word van iets so absurd slaan dit al die lug uit my seile uit en laat my lam. Dan gaan delf ek diep rond in my geheuekabinet en inspekteer en evalueer elke aantuiging. Is dit waar? Ens.

Maar ons het altyd ‘n keuse. ‘n Keuse om terug te baklei of terug te staan en toe te laat dat die Here ons lei. Immers belowe Hy om my te beskerm en selfs te verdedig. Hy ken my hart. Hy weet waarmee ek sukkel en waar my swak plekke is. Daarom, wanneer ek swak is, is Hy sterk. Dit is dan wanneer die emosies en gebeurtenisse waarmee ek lank terug gesukkel het opnuut weer verrys uit die as.

Daar is baie bitter herinneringe waarvan die rowe nog nie afgeval het nie, in my lewe. Dan is die mooi minder mooi en die glimlagte geforseerd. Ek is een van daardie mense wie se emosies openlik op my gesig wys. Die besef dat jy nooit met daardie gevoelens gedeel het nie en die rede hoekom jy nogsteeds optree soos toe, ‘n helderheid wat jou eintlik laat klein voel.

Skoonmaak is beslis nie maklik nie. Die deurbrake is ver uit mekaar uit maar wanneer dit klaar is en die stof weggegooi is dan haal jy vrylik asem.

Dit is waarheen ek mik. My doel om eendag heeltemal vry te kan wees van hierdie juk.

Miskien eendag kan ons ‘n allergiese pil drink teen dit. Maar tot dan moet ons met hierdie dinge deel op die ou manier. Dit maak ons immers sterker en maak ons pad duideliker.

En God is getrou. Hy sal ons nooit los nie.

©LynelleClark

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...