Dinsdag 02 Maart 2021

Moles by die Rugbyklub

 


Om die volledige boek aanlyn te lees kliek hier.

Musiek pols deur die luidsprekers die oomblik wat Chris die klub binnestap. By die toonbank sit Johan en Neels, elkeen met ‘n koue bier in die hand.

“Hoesit, Hoesit!” groet hy bo die lawaai uit.

“Welkom. Ek kan nie glo jy waag dit om jou gesig hier te wys nie?” sê-vra Johan snedig.

“Kyk Tjom, ek het nie hier na toe gekom om deur jou beledig te word nie.” Antwoord Chris verdedigend. Hy weet sommer waarheen hierdie gesprek gaan. Fok, hy het al genoeg van almal se ‘raad’ gehad.

‘Theunsie!’ roep Jannie van agter die oomblik toe ‘n liedjie van Theuns Jordaan begin speel. “Sit hom harder, Bertman!” roep hy bo die lawaai van die stampvol klubhuis uit en sekondes later blêr Theuns se stem nog harder deur die luidsprekers: “Ek voel die koue, ek voel die vuur. Dit vreet my stuk stuk op…” weergalm die sanger se stem. Asof hy bewus is van die onheil wat besig is om daar uit te broei.

Chris weet sommer hierdie aand gaan lelik uitdraai wanneer van die bloedbelope oë na hom draai. Die drankies loop al vroeg en nou, na die eindfluitjie geblaas het is almal goed besope. Dit voel of Theuns met hom praat… hy voel die vuur. Beslis. So stuk stuk vat dit hom ook.

“Wat kan ek vir jou kry Chris!” vra Bertman en verbreek so sy morbiede gedagtes.

“’n Yskoue bier Bert, asb!” beantwoord Chris. Sy mond is kurkdroog, selfs na die liters water wat hy alreeds gesluk het. Een bier dan is hy weg, belowe hy homself. 

“Jy weet jy het ons die game gekos, nè tjom.” Skree Johan en bier stort uit sy glas. Koppe knik in eenstemming.

Ag voetsek’ dink Chris. Ja, hy weet. Flip weet. Moet die mense dit so invryf. Die kastyding deur spanmaats en toeskouers na die wedstryd sal hom lank bybly.  By die huis wag sy pa ook nog. Die rede dat hy eers ‘n lafenis kom soek het. Vrek weet, hy gaan dit nodig kry.

“Vir ‘n senter het jy maar pap in jou hande. Ek hoop die afrigter het jou bas gefire!” Neels is bloedrooi in die gesig en alreeds onvas. Verbete klou hy aan die kroegtoonbank se rant vas. Of hy die grafitasie kompetisie met die aarde gaan wen is ‘n ope vraag maar Chris gaan nie nou daaroor wonder nie. 

“Nee,” is al wat Chris uitkry. Die volgende oomblik word hy hard gestamp van agter af. Die woorde sissende toe Twakkie voor hom kom staan. “Jy is ‘n Bliksem!” kry hy ‘n spoeg-sproei in sy gesig. Twakkie vul sy hele gesigsveld so naby is hy aan hom. Drankwalms omhels sy sintuie met elke uit blaas. Hy en Twakkie kom al ‘n lang pad maar vandat Chris gekies is vir die plaaslike span het Twakkie teen hom gedraai. Hulle was lank kompeterend maar toe Chris gekies is, was dit die laaste strooi van hul vriendskap. Twakkie glo dat sy pa, Chris Rheedeman Snr, President van die Kontrei Rugby Federasie, daarmee iets te doen het maar hy het daardie posisie verdien. Dit is, tot vandag toe.

“Ek sou ‘n beter spel gespeel het vandag. Heng, ons sou gewen het. Maar nee toe mors jy daai bal. Die drie was letterlik vir jou gegee. Al wat jy moes doen was om die donnerse bal oor die lyn te kry. Maar nee, wat doen Chris Parravis? Hy laat val die bal en skop die bal uit.” Chris word weer gestamp en hy retireer vinnig, verloor amper sy balans. Sy skouer kloppend.

“Vertel hom, Twakkie!” skree Johan hier langs hom en sy ore tuit. Stilte daal oor die klubhuis, die musiek nou sagter gestel en Chris behou Twakkie se doodse kyk. Hy weet hy het gefouteer. Dit was die laaste paar minute van die spel en die ander span het voor geloop. Hy kon dit verander het toe die geleentheid mooi in sy hande geval het maar toe verloor hy die bal, en skop dit oor die lyn as ‘n laaste beweging. Die ander span het gewen met twee punte. Hy het geweet hy sal die dorpsmense moet ‘face’ maar hy het nie gedink hulle sal hardhandig raak nie. Die kyke vertel hom dat hy ‘n loesing vanaand gaan kry. Daar sal ook geen hulp wees nie. Hy sal hier moet uit kom. So gou moontlik. Die probleem was dat sy pad toegemaak is deur mense wat hom nou as melaats bestempel. Almal is goed die bliksem in vir hom. Toe die eerste vuis hom tref en Chris op sy knieë beland weet hy dat dit nie mooi gaan uitdraai nie. Houe reën op hom neer en ongeag hoe hy probeer keer, tref dit hom soos hael korrels.

“Wat gaan hier aan?” bulder ‘n vreemde stem. Die houe reën stop en almal draai na die persoon wat in die deuropening staan.  Fluister stemme bereik Chris waar hy op die vloer lê. Daar is nie ‘n plek wat nie seer is nie maar hy strompel op en leun teen die toonbank. Daar staan niemand anders as die Kaptein van die wenspan nie.

Stilte omvou die gehoor toe nog spelers by die man aansluit. ‘n Moses paadjie verskyn soos wat hulle deur die mense stap om tot voor Chris te stane te kom. Die Kaptein gee hom een kyk en gee ‘n slu glimlag. “Dankie vir die great game, mater.” Pandemonium breek los en Chris staar na die spulletjie.

“Drink boet.” Roep Bertman bo die lawaai en sit weer die musiek harder.

“Cheers.” Roep hy nou ewe rustig terwyl hy die bottel lig. Te bly vir die verandering van fokus en slaan ‘n sluk van die yskoue bier weg.    

Kopiereg Lynelle Clark

Vir boekbestellings kontak my by lynelle@kreativcollectiv.com

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...