Dinsdag 09 Februarie 2021

Kortverhaal: Die vrou by die hek.


“Wie lui die klokkie alweer?” gil Pa beduiweld uit die kamer. Vandag is nie ‘n goeie dag vir hom nie. Laasnag het gepaard gegaan met pyn wat veroorsaak het dat niemand in die huis kon slaap nie. Ma is kliniek toe vir haar kroniese medisyne.

 “Ek sal gaan kyk, Pa.”

“As dit ‘n bedelaar is, jaag hulle weg. Ons het genoeg probleme van ons eie.”

 “Ja, Paps.”

 

“Wanneer jy klaar is, bring my ‘n koffietjie, Engela.”

 

“Ja, Pappie.” Haastig loop ek die gang af en struikel amper oor die stofsuierpyp. Vies skuif ek die masjien eenkant toe. Nog ‘n werk wat vir my wag. Ek self is verby moeg. Wanneer Pa nie slaap nie, slaap niemand in die huis nie. Dit gaan nou al so aan sedert Maandag. Al wat Dokter Barkhuizen sê is dat dit erger sal word. Daar is niks meer wat hulle vir Pappie kan doen nie. Ons moet dit nou net gemaklik maak vir hom, het die dokter aanbeveel.

 

Barkhuizen het vir my ‘n ligte slaappil gegee, maar sover kon ek dit nog nie drink nie. Die gevaar dat ek nie sou wakker word wanneer Pappie of Mammie roep, my motivering.

Ek loer versigtig by die sitkamervenster uit. Die kantgordyn is lankal gedaan, maar ek weet al waar om te staan om nie sigbaar te wees van die straat se kant af nie. Dit gee my ‘n goeie uitsig oor die versorgde voortuin - gelukkig een werk wat ek nie hoef te doen nie.

 

By die skuifhek staan ‘n vrou. Van dié afstand kan ek nie haar hele profiel sien nie, maar sy lyk verslons. Ek skuifel na die volgende venster en loer weer uit. Die klokkie dawer deur die stilte en die vrou kyk onseker om haar maar beweeg nie.

 

“Engela, hoekom het jy nog nie geantwoord nie?” gil pa weer. Sy stem is bewerig.

 

“Ek maak net seker wie dit is, Pa.”

 

“Wel?” vra hy, maar ek antwoord nie.

 

Nou kan ek haar mooi sien en my hart pluk. Die vrou lyk bekend. Weer lui die klokkie, twee-drie-keer. Ek sluit haastig die voordeur oop, dan die ysterhek voor ek die paadjie afstap en nader beweeg. Haar blondekrulle het lanklaas ‘n kam gesien, of ‘n sny. Die rooi sweetpaktrui hang slonserig aan haar skraal skouers. Ek skat ons moet omtrent dieselfde ouderdom wees. Van nader is haar vel bruin en leeragtig van blootstelling. Versigtig stap ek nader.

 

“Middag.”

 

“Het Mevrou vir my kos? Ek het lanklaas geeët.”

 

“Ek het nie veel in die kas nie, maar ek kan vir jou ‘n broodjie maak.”

 

“Enige iets, Mevrou. Ek het drie dae laas geeët. Miskien ietsie ekstra vir die man ook.”

 

Ek weet om nou toebroodjies maak is moeilikheid soek, maar ek draai nietemin om. Pa se goedhartigheid het weggekwyn met die siekte saam. Pa se kamergordyn beweeg liggies en ek weet hy is bewus van wat aangaan.

 

“Wag hier, ek bring.”

 

Sy skud haar kop en gaan sit dan op die sypaadjie met haar kop skuins gedraai. Iewers wil ‘n klokkie lui. Ek is seker ek ken haar. Haastig stap ek die huis in, sluit die ysterhek en stap kombuis toe.

 

“Wat wil sy hê?” gil pa weer van die kamer af.

 

Dit is nodeloos om te antwoord, want hy is so doof soos ‘n kwartel. Daarom sit ek die ketel aan en kry brood en kouevleis uit die yskas. Daar is genoeg brood vir twee toebroodjies wat ek in servette toedraai. Dan maak ek vir haar ook koffie, sommer in ‘n polistireen koppie. Vinnig vat ek pa se koffie voor hy weer skreeu.

 

“Waar is jy dat jy my nie antwoord nie?”

 

“Ek was net gou besig met kos maak vir die vrou.”

 

“Ek glo dit nie. Ek het jou gesê ons het nie kos nie.”

 

“Ons kan ‘n broodjie spaar, Pa.”

 

“En wat moet ek vanmiddag eet?”

 

“Ek sal weer ‘n brood gaan koop.” Haastig stap ek uit en kry die broodjies en koffie.

Sy moes by die hek aan die slaapgeraak het, want die manier waarop sy lê laat my ver terug dink na ‘n tyd toe die lewe goed was, kos volop was en ons in die warmte van ons bed kon slaap. Ongekompliseerd, sonder bekommernis. ‘n Tyd van vriendskap en vreugde.

 

“Riekie!” roep ek hard genoeg, eintlik versigtig maar verstom.

 

“Riekie,” roep ek weer. Dié keer beweeg sy. Sy spring op, duidelik verbouereerd. Ek klik die hekoopmaker en die hek kraak oop. Ek gee ‘n tree oor die grenslyn en stop voor my eens beste maatjie. Die tenger skouers lyk nog erger in die oorgrote trui, haar lyf skraal en afgeleef.

 

Verbaas kyk sy my aan. Haar oë registreer nie dat ek haar op haar naam noem nie. Vuil hande word uitgehou en ek handig die eetgoed oor.

 

“Riekie, dit is ek – Engela,” probeer ek weer en staan nader. ‘n Vuil reuk bereik my neus en ek draai sodat ek teen die wind staan. Dit is ‘n warm dag, die somer son bak die wêreld met geweld. Die boom se koelte bied nie veel beskutting nie en die vrou kry koud. ‘n Verwese kyk ontmoet my, die eens helder blou oë nou dof en glasig.

 

“Ek moet loop.” Sy herken my nie, besef ek met weëmoed - Riekie Enslin, die dogter van die dorp se burgermeester ... A-klas student wat graad gevang het in joernalistiek. Ek was altyd so jaloers op haar. Slim en skrander, elke seun was agter haar aan. Hoekom is sy op die straat? My moeë lyf kom in beweging en ek hardloop agter haar aan.

 

“Riekie, wag vir my.” Sy rek egter haar tree en skarrel weg, bang en verlore en my hart vertrek in pyn.

 

“Kom môre weer. Ek sal sorg dat hier ‘n bord kos reg is vir jou!” roep ek verwese, maar sy is alreeds weg.

 

Ek sak neer op die gras en huil my hart uit. My lewe is in felle kontras van hare. Dit is asof ‘n gewig op my gesit word, ‘n gewig te swaar om te dra. My bene gee eenvoudig in en ek huil ... vir my pa, vir ma, vir Riekie. Die moegheid is soos ‘n swaar gordyn wat dreig om toe te trek.

 

Dit is baie later toe ek bedaar en ek terugstap, weer die knoppie druk sodat die hek kan toemaak. Ek het soveel vrae om haar te vra. Hoe kan ek haar help? Dan sug ek. Ek kan myself skaars help. Eintlik is ek op dieselfde plek waar sy is. Ek het darem ‘n Pa en Ma by wie ek nog kan bly. Al is Pa siek, voorsien hy ‘n dak or my kop en kos op die tafel. Ek kan dankbaar wees vir die klein gawes. Die Riekies van die wêreld is nie so gelukkig nie.

 

Stilweg skiet ek ‘n dankgebed op. Ek sal nooit weer kla as Pa my wakker maak nie, nooit weer moan omdat ek soos ‘n slaaf moet werk nie. Nee, van nou af sal ek dankbaar wees.

 

“Ek moet piepie!” gil pa en ek draf in die gang af. Daar is paniek in elke beweging soos Pa probeer om te keer, maar ek sien dit is te laat. “Ek roep jou - oor en oor! Waar was jy?” ‘n Traan verdwyn tussen die baie plooie - ‘n traan van vernedering.

 

Jammer, Paps ... kom.” Dit is asof ‘n kraan oopmaak en hy huil nog meer.

 

“Jy is goed vir ons, my kind.”

 

“Ek is lief vir Pa,” uiter ek sag.

 

Baie later, toe als rustig is buig ek my kop in diepe dankbaarheid: “Dankie Here vir hierdie oomblikke,” prewel ek sag, “Dankie vir my pa. Bewaar vir Riekie en voorsien aan haar ook net soos wat U aan my voorsien. Sy het dit meer nodig as ek want, my beker loop alreeds oor.

 ‘n Beker van genade.

©LynelleClark2021

 

Vrydag 15 Januarie 2021

Die Donker deur Riaan Palmer.

 


Beste lesers.

 

So is daar ‘n paar van julle wat my vra waar is ek en hoekom het ek niks te sê nie. Nou dat ek ‘n boek geskryf het, dink ek, ek is klaar? 

 

Hoe sê jy vir mense? In ‘n samelewing waar mense gereeld op hulle Facebook post “Ek is hier vir jou as jy wil praat.” Maar kan hulle regtig verstaan? Jy het al telkemale gevind dat ander mense nie belangstel in jou probleme nie. So, jy bly maar eerder stil.

So, hierdie post is nie om jou te laat lag nie. As jy gekom het om te lag, moet jy maar eerder nie verder lees nie. Nie vandag nie. Probeer more weer.

Ek skryf dit nie vir simpatie of “toemaar dit gaan beter word nie”. Hierdie post is vir myself. En dit is vir elkeen wat dit nodig het. En dit is vir elkeen wat regtig hulle geliefdes wil verstaan en help. Ek het “Die Donker” lank terug geskryf, maar dit is nog steeds relevant. Want wéér en wéér kom daar mense op ons pad wat die kaarte wegruk, wegloop en jou net daar los – opgebruik.

Partykeer is dit nie mense nie, maar Die Swart hond wat stil-stil gegroei het tot in ‘n onhanteerbare wilde dier.

 

Onthou dat elkeen wat jou pad kruis is besig om 'n stryd te voer waarvan jy niks weet nie. Wees altyd versigtig hoe jy ander mense behandel. Jou aksies kan iemand se dag beter maak of verwoes. 'n Lewe red of 'n lewe neem.

* * *

𝗗𝗶𝗲 𝗗𝗼𝗻𝗸𝗲𝗿

Jy bou ‘n huisie van kaarte. Elke kaart ‘n hoop. ‘n Droom. ‘n Wens. ‘n Aspirasie. ‘n Verlange. ‘n Begeerte.

Jy werk hard. Jy glo. Hierdie gaan ‘n pragtige huisie wees. Dit is jou hele lewe. Jou hele menswees.

Skielik kom daar ‘n warrelwind – dalk net ‘n ligte briesie en jou hele huisie tuimel in duie. Jou harde werk, hoop, drome, trots: verwoes. Jy sak inmekaar van die terugslag, net soos die huisie tuimel jy – plat op die grond. Moedeloos. Maar jy haal diep asem en jy begin weer bou. Jy blaas die kooltjie van hoop weer aan. Stadig maar seker kry jy opgestaan. Jy pak weer jou kaarte – drome, wense, familie, liefde, jou hart – en stadigaan groei die huisie weer. Uiteindelik staan jy weer regop, trots, by jou skepping. Jy glimlag breed en wys vir ander mense jou huisie – jou hele menswees. Jou siel. Jou vriende en familie bewonder dit. Behandel dit teer en met respek.

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.

“Nee.” Sê die vreemdeling sonder verduideliking. Gevoelloos. Sonder empatie trek die vreemdeling een van die kaarte uit. Dit is ‘n kaart wat die fondasie van jou huisie vorm. Die huisie stort weer ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle in hulle pad los. Dalk is dit nie eers ‘n vreemdeling nie. Dalk is dit iemand wat jy gedog het jy kan vertrou. Iemand wat help bou het aan die huisie.

Oorweldig deur die terugslag gaan lê jy plat op die grond. Hopeloos. Gebreek. Om jou lê die kaarte gestrooi. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.

Jy kan nie meer nie. 

Jy wil nie meer nie.

Die Donker kom sit langs jou. Die Donker vat met sy hand aan jou arm.

Laat my in.” Sê Die Donker.

Die Donker sit sy arm om jou.

“Ek sal vir jou sorg.”

Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei. Jy voel Die Donker heeltemal om jou. In jou.

 

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.

“Nee.” Sê die vreemdeling sonder verduideliking. Gevoelloos. Sonder empatie trek die vreemdeling een van die kaarte uit. Dit is ‘n kaart wat die fondasie van jou huisie vorm. Die huisie stort weer ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle in hulle pad los. Dalk is dit nie eers ‘n vreemdeling nie. Dalk is dit iemand wat jy gedog het jy kan vertrou. Iemand wat help bou het aan die huisie.

Oorweldig deur die terugslag gaan lê jy plat op die grond. Hopeloos. Gebreek. Om jou lê die kaarte gestrooi. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.

Jy kan nie meer nie.

Jy wil nie meer nie.

Die Donker kom sit langs jou. Die Donker vat met sy hand aan jou arm.

“Laat my in.” Sê Die Donker.

Die Donker sit sy arm om jou.

“Ek sal vir jou sorg.”

Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei. Jy voel Die Donker heeltemal om jou. In jou.

Mense loop verby jou, daar waar jy sonder hoop lê.

Vriende. Familie. Hulle sien nie dat jy plat op die aarde lê nie. Hulle sien nie hoe Die Donker oor jou kruip, deur jou vloei, jou verder wegvat nie.

Die mense vra jou vriendelik “Hoe gaan dit?”

Jy lig jou kop op en glimlag breed. “Goed dankie!” Dit is makliker om te glimlag as om te probeer verduidelik hoe jy voel. Hulle wil in elk geval nie die waarheid hoor nie, want hulle weet nie wat om daarmee te doen nie. Jy wil eintlik jou hand uitsteek en uitroep “Help my!”

Maar Die Donker maak jou stil. “Ek is joune. En jy is myne. Dis net ons. Niemand anders nie.” En dit word nog bietjie donkerder. 

 

Jy weet jy moet hier uit. Maar daar is nie meer krag nie. Nie meer hoop nie. Nie meer drome nie.

Jy het genoeg gehad. Wil nie. Kan nie. Sal nie.

Hoeveel keer moet jy die huisie weer probeer bou? Die kaarte van hoop en drome en geluk en liefde is so gebuig, verinneweer, dat dit nooit weer ‘n sterk fondasie sal wees nie.

Soos jy lê en wag, vir Die Donker om sy werk te doen, sien jy ánder mense om jou wat groter, mooier huisies gehad het. Hulle huisies het ook in duie gestort en nou lê hulle met gewonde siele op die grond. By elke gebreekte mens sit daar Die Donker.

Een vrou het haar kind verloor. Haar Donker is Hartseer. Sy kan geen lig verby haar Donker sien nie, dit oorweldig haar totaal en al. Haar Donker is dood stil. Hy hoef niks te sê nie.

‘n Ander man het alles verloor. Sy Donker is Drank. “Nog net een keer. Hierdie slukkie sal anders wees. Dis die laaste keer.” Sê sy Donker vir hom.

Jy weet Die Donker lieg.

Jy sien al die ander mense om jou wat ook deur Die Donker gevat is. Jy verstaan hulle. Hulle verstaan jou. Jy weet jy kan niks vir hulle doen nie. Hulle weet hulle kan niks vir jou doen nie. Party se Donker is baie donkerder as joune. Maar hulle Donker is húlle Donker. Jou Donker is jóú Donker.

 

𝐷𝑖𝑒 𝐷𝑜𝑛𝑘𝑒𝑟 𝑖𝑠 𝑤𝑟𝑒𝑒𝑑. 𝐺𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠.

𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑘𝑜𝑜𝑟𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑜𝑛𝑑𝑒, 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑,

𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑡𝑜𝑒𝑡𝑠𝑒 𝑜𝑚 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑡𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑖𝑠 𝑓𝑜𝑢𝑡 𝑛𝑖𝑒.

𝑁𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑒𝑟𝑜𝑠𝑖𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑒𝑙𝑓, 𝑠𝑜 𝑣𝑒𝑟𝑟𝑎𝑑𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑘𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟.

𝐸𝑛 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑘𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟, 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑛 𝑤𝑒𝑠𝑒 '𝑛 𝑒𝑒𝑛𝑠𝑎𝑚𝑒 𝑒𝑟𝑣𝑎𝑟𝑖𝑛𝑔;

'𝑛 𝑘𝑎𝑚𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑙 𝑚𝑒𝑡 𝑛𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑎𝑎𝑚 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟.

Jy sien ‘n man gaan staan stil langs ‘n gevallene. “Staan op man!” Sê hy vir die gevallene. “Dis nie so erg nie. Moenie so sussie wees nie. Ruk jou reg.” Die gevallene probeer opbeur, maar Die Donker is te groot. Te swaar. Jy wil uitroep “Los hom uit! Wat weet jy van Die Donker af?”. Maar jy’t nie ‘n stem nie.

Langs jou kom kniel iemand. ‘n Vreemdeling. Sy glimlag vir jou en gee vir jou ‘n splinternuwe kaart. Sy draai woordeloos om en loop.

Jy draai die kaart om en om in jou vingers. Dis maar ‘n vaal, onbenullige kaart, maar in jou oë is dit ‘n besondere mooi kaart.

Die Donker haal sy knieg van jou bors af.

Die kaart sal ‘n sterk fondasie maak.

Die Donker gee ‘n tree agteruit.

“Jy is spesiaal. Jy is belangrik vir ons.” Staan die woorde op die kaart.

“Jy is niemand. Jy is niks.” Probeer Die Donker vasklou.

Nog. Net. Een. Keer.

Jy sit die blink nuwe kaart regop en balanseer een van jou ou, geskeurde vuil kaarte teen dit. HOOP – kan jy net-net die woord uitmaak. Die twee kaarte teen mekaar staan net-net regop. Die begin van ‘n kaartehuisie.

Moenie huil as die son nie meer skyn nie. Jy gaan nie die sterre deur jou trane kan sien nie.

𝘕𝘰𝘨. 𝘕𝘦𝘵. 𝘌𝘦𝘯. 𝘒𝘦𝘦𝘳.

* * *

Opgedra aan:

Ek dra hierdie op aan almal wat sukkel met depressie, seerkry, swaarkry. Almal wat Die Donker ken. Ek het nie woorde van wysheid wat jou gaan laat beter voel nie.

Net dit: Nog. Net. Een. Keer.

Nog net een tree.

Nog net een dag.

As jy verlore is in die woud, neem dit jou soms 'n rukkie om te besef dat jy verlore is. Vir ‘n rukkie probeer jy jouself oortuig dat jy net so bietjie van die paadjie afgestap het en dat jy enige oomblik weer die voetpad sal kry. Dan word dit nag en weer en weer, en jy weet nog steeds nie waar jy is nie. Dan is dit tyd om te erken dat jy so ver van die pad afgedwaal het, dat jy nie eers meer weet watter rigting die son opkom nie. Maar soek die lig. Dis wanneer dit die donkerste is, wat jy lig die maklikste kan raaksien. En gaan daarnatoe. Dit voel of jy nie krag het nie. Maar jy hét. Soek die lig. Laat die lig toe.

* * *

Meer belangriker dra ek die op aan die mense wat NIE nou op hulle knieë staan met Die Donker langs hulle nie: 𝘋𝘦𝘦𝘭𝘬𝘢𝘢𝘳𝘵𝘦𝘶𝘪𝘵. Oral waar jy gaan. Jy het géén idee hoe groot verskil die mees onbenulligste kompliment aan iemand se lewe/dag kan maak nie. As jy wegstap by iemand, wat los jy daar? Verwoesting? Of hoop? Lewe jy jou lewe so dat, as jy vertrek, die mense wat agter bly is, of jammer is dat jy moet gaan? Dit is so eenvoudig. Daar is mense om ons wat lewens verwoes, en daar is mense om ons wat lewens red. Jou keuse.

 © Riaan Palmer 2021

 Kontak Riaan op sy Facebook blad 


 

Woensdag 11 November 2020

Boek bekendstelling: Juweel van die Oosgrens.

 

Paxi R60 / Aramex R99 / Postnet R99


Titel - Juweel van die Oosgrens

Skrywer – Lynelle Clark

Genre – Geskiedkundige roman

Bladsye 244

Gedrukte Boek: 978-0-620-90279-3

Kindle: 978-0-620-90280-9

 

Verkrygbaar by Amazon / Smashwords en direk by skrywer lynelle@kreativcollectiv.com. 

Synopsis

Die mengsel van tale het ʼn groot rol gespeel in die skepping van die taal wat ons vandag ken. Afrikaans is gevorm in die warm kombuise en wye vlaktes van ons mooi land en het vir vele interessante oomblikke gesorg.

1815 is gekenmerk deur aanpassings, afstande en onluste. In die midde hiervan het Celeste Reyneke geleef. Op haar agtiende verjaarsdag verander haar lewe dramaties en eindig op in ‘n gerieflikheidshuwelik. Twee jaar later moet sy die wêreld weer alleen in die gesig staar en beland op die Oosgrens. Die tweejaar-lange huwelik was alles behalwe maanskyn en rose en eindig traumaties. Ontnugterd volg sy die pad die binneland in.

Celeste het grootgeword in die Kaap van Storms met ʼn oop gemoed en lus vir die lewe. Sy kon lees en skryf en het ʼn ‘beroep’ gehad. Vir haar het dit natuurlik gekom om die tyd en reëls te verander soos wat die geleentheid hom voorgedoen het. Haar unieke talente kom dadelik op die voorgrond en gou besef mense sy is ʼn aanwins vir die gemeenskap. Maar sy het ook die koppe laat draai. Met die tekort aan vroue en haar natuurlike skoonheid trek sy die aandag.

Barend Olivier, die toonbeeld van manlikheid en dapperheid, is op soek na ʼn vrou wat sal aanpas by sy lewe aan die Oosgrens. Tydens ʼn tweeweke-lange patrollie leer die twee mekaar ken. Maar die pad is lank, warm en rof en ʼn man kan net so lank van ʼn aantreklike vrou af wegbly voor die fisiese begeertes oorneem. Sal hulle betyds ʼn prediker kan vind?

Die belangrikste vraag is: Sal Celeste hom toelaat om haar lief te hê?

Ek nooi jou om saam met my op hierdie reis te gaan en nie net die spanning van hierdie tydperk te ervaar nie, maar ook die romanse te vind in die grasvlaktes van ons mooi land.

https://www.kreativcollectiv.com/product/juweel-van-die-oosgrens/




Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...