Dinsdag 05 Februarie 2019

Diamant Divas - Wie is in beheer van jou kontroles?


Image used from Make use of site 
Het jy jou emosies onder beheer?

Is jy ernstig genoeg met jouself om al die verskonings eenkant te plaas en werklik beheer te vat oor jou lewe?

Ek moet erken ek het nogal gesukkel om die regte woorde te kies vir hierdie program. Sonder om soos ‘n onderwyser of streng ma te klink wil ek tog oor die onderwerp gesels juis omdat so baie daarmee sukkel. Selfs op ‘n hoë ouderdom. Vrouens is heel moontlik meer vatbaar daarvoor juis omdat ons tyd ons eie is as huisvrou – vir die wat wel by die huis is. Nie dat werkende vrouens nie ook dit doen nie. Ek dink die meeste van ons is skuldig daaraan.
As tuisteskepper doen jy dinge meestal wanneer jy lus is en more is nog ‘n dag is gewoonlik die houding.

Ek was 19 jaar huisvrou, so ek weet. Dit is makliker om iets anders te doen as die verpligtinge te doen. Of selfs in aksie oor te gaan en werklik iets by te dra in jou ledige ure. Jy weet, soos op die bank te lê en sepies te kyk. As jy weer sien is die dag om en is dit tyd vir aandete en jy het mooi niks gedoen nie. dan skarrel jy rond om darem die illusive te gee dat jy tog iets gedoen het. So mors jy nog ‘n dag op en loop die tyd uit. Minuut vir minuut.

Daar was tye wat ek skuldig gevoel het en liewer die TV afgesit het en met ‘n stokperdjie begin het. Maar dit was van korte duur en dan val jy weer in die ou roetine in.
Toe op ‘n dag besluite ek genoeg is genoeg, en het net nie weer sepies gekyk nie – wat seker maklik 20 jaar gelde was. En dit is waar my lewe begin draai het, ek het my gesindheid begin verander.
Ek het eers werklik dissipline aangeleer gedurende my 5 jaar lange tuisondderrig. Vir my was daar nie kort paaie te kies wanneer dit kom by die fundamentele dinge in die lewe nie. Ek het die verantwoordelikheid op my gevat om my kinders te leer en het geweet ek sal ‘n voorbeeld moet stel. 

Ek is ‘n persoon wat glo aan wys eerder as wat daar gepraat word so ek moes in daardie jare sorg dat ek betyds vir die klas kamer was, aangetrek en netjies sodat my kinders dieselfde kon doen.
Klas het klokslag om 8 elke oggend begin – Maandae tot Donderdae. Vrydae was hul afdae dan het ek hulle ysskaats klasse laat doen, ons het museums en fabrieke besoek, ‘n fliek gekyk en sommer net lekker dinge gedoen wat ons almal betrek het.


Daar het ek die waarde van dissipline geleer en pas dit vandag nogsteeds toe. Dit het ‘n groot verskil gemaak in my daaglikse tydverdrywe en kon ek meer vermag kry.
Vandag is my dae redelik vol, en my energievlak goed. Ek hou dieselfde pas nou al vir ‘n paar jaar en afskaal is nêrens in die vooruitsig nie. Daar is ook altyd plek vir nog iets om te doen. In die proses brei ek myself uit en leer ongelooflik baie in die proses. Maar genoeg van my.

Ek wil graag die gediggie van Stienie Boshoff lees. Sy het dit spesiaal vir hierdie program geskryf.

Kan dissipline red?

Doen dit!! Doen dat!!
Ek is al so siek en sat! 
Van vroeg in die môre, tot laat in die aand.
Pateties en verwaand!!

Staan op, maak klaar!
Is die spek en eiers al gaar.
Trek aan, jy is laat!
Die trein het al reeds die stasie verlaat!!

Sugtend en moedeloos
Besef jy tyd is nutteloos!! 
Alles tevergeefs!!

Kom in 'n roetine.
Wat jy benodig is dissipline!
Word wakker met 'n lied in jou hart
Daar is mos geen rede vir smart

Met nuwe oë kyk jy na die lewe 
Want daars nou vrede
Meer beginsel vas 
As wat jou lewe al ooit was

Begin reg
Siedaar. jou vrese is weg
Sluit jou oë in die môre
En gee al jou kommernisse vir die HERE
HY is in beheer,
Vertrou HOM dis wat jy moet leer.

'n Bekende het eersdaags gesê
Maak op jou bed na jy in hom lê
Dis een van die wonderlikste dinge wat op jou wag.
Want loop jou dag hoe deurmekaar, kom jy by die huis in die nag
Met 'n opgemaakte bed.
Dis hoe dissipline jou red
© Stienie Boshoff

Is dit nie goed gestel nie?
Dit som dit eintlik so goed op. Indien ons nie gedissiplineerd is in die klein dingetjies nie dan sal die groter dinge onoorkomlik voel.

Ongedissiplineerdheid laat jou rond val sonder enige passie of aksie. Jou dae rol verby sonder enige daadwerklike produktiewe besluite wat jou vul met energie en waardigheid. Dit maak jou lui, rigtingloos en jy voel permanent moeg. Hoekom?

Omdat jy nie beplan nie. Omdat jy nie getrou is in jou eie lewe is nie. Dit vat soveel tyd van jou dat jy naderhand gaan voel dat jy niks bereik nie. Nou des te meer. As enkel persoon het jy die tyd. Niemand wat jou aandag verg nie so jy kan nou meer insit in jou eie belegging.

Wanneer jy doelgerig beplan en daarby bly dan is dit wat jy meer vermag in die ure wat jy het. Jou tyd is kosbaar. Tyd voor die TV is vermorsing ten sy dit nou rerig iets is wat my boei. Soos Suits of Blacklist, of Game of Thrones, Vikings, Handmade’s tale ens. Selfs die tye is beplan.

Dit is hoekom ‘n joernaal of dagboek so belangrik is in jou lewe. Dit help jou met die beplanning en jy voel meer begeester om iets nuuts aan te pak soos inskryf vir ‘n kursus, of tyd met die kinders te spandeer. Jy sal nie meer so geweldig moeg voel nie.

Die voordele daarvan is legio.

Orde in jou lewe is kardinaal om ‘n suksesvolle lewe te kan lei en te skitter in jou alledaagse lewe. Sonder dit kan die normale dag tot dag dinge jou af sleep tot in ‘n donker gat en voor jy jouself kom kry is jy ‘n wrak.

Daar is natuurlik ook ‘n balans in om in beheer te wees van jou lewe en te weet wanneer om te rus en sommer net te ontspan. ‘n Uitgebrande diamant is maar baie dof en beteken niks nie. Werk tyd in jou dagboek in vir ‘n haarsny, massering, naels doen of boek lees.  Of om sommer net na musiek te luister.

Jy moet leer om ‘n gebalanseerde lewe te lei wat jou in elke area van jou lewe aanvuur. Dit verg goeie beplanning om al die balle in die lug te hou maar is doenbaar. Mits jy dit reg doen en genoeg tyd vir jouself inwerk om te ontspan en die dinge te doen wat jou begeester.

Daarom het ek my kinders Vrydae afgegee en ons vier het saam nuwe dinge verken en geleer. So het ons mekaar leer ken. Tuisonderrig werk jy volgens jou eie pas en van Maandae tot Donderdae het hulle gewerk. Ons dae het gewoonlik opgehou teen 3 uur dan moes daar huis skoon gemaak word of in die tuin gewerk word. So het hulle ook geleer dat dit beter is om gedissiplineerd te wees dan word hulle beloon met ‘n lekker dag af en vaar ons die strate in. Dit was gewoonlik die hoogtepunt van die week.

Dit geld ook vir jou in hierdie tyd. Dit is so maklik om jou self oor te gee aan selfbejammering en trane, en dit is goed vir ‘n tyd. Maar dan moet jy opstaan, die skouers reguit trek en die wêreld weer in die oë kyk. Jy kan dit nie doen van die rusbank af met die remote in jou hande nie.

Ek weet. Dit werk nie.

Indien jy wil verander moet jy jou gedagtespatroon verander. Jou ‘mindset’ herprogrammeer. Dan vat jy die kontrole vir jou lewe terug.

Vra die regte vrae. Dit is baie belangrik vir jou pad vorentoe.
Vrae wat help om jou lewe oop te sluit en jou oop te maak vir nuwe dinge. Dit beteken jy moet in jouself glo. Tydens die voorbereiding van hierdie program het ek tot ‘n skokkende waarheid gekom. Nie alle mense en adviseurs het jou beste belange op hul gedagtes nie en dink vanuit hul eie tekortkominge. Daarom is dit belangrik dat jy die regte vrae vra. Vrae wat jou lewe sal ontsluit en jy gaan dit nie kry deur naysayers om jou nie. Jy moet glo in jou eie vermoë en wat is moontlik en dan dit te sien. Ons kom draai alweer by daai droomborde. Hoe lyk joune?

Die volgende vraag om te vra is het jy helderheid oor wat jy wil hê? Is jou verwagtings en doele duidelik dat selfs jy dit kan verstaan? Leef jy jou lewe of leef die lewe jou? Wie is in beheer? Werk jy na ‘n spesifieke doel toe om jou planne te verseker? Dit is nie maklik om die antwoorde hiervoor te kry nie. Dit verg dat jy baie eerlik moet wees met jouself. Wees eerlik oor jou lewe en hoe dit tans lyk en wat jy werklik doen om dit te verander.
Vrydagaand het ek vir die eerste keer ‘n storie aan mense voorgelees en ek het dit werklik geniet. Agterna het ek gedink ek moet onthou om sekere dinge by te voeg wanneer ek weer ‘n geleentheid kry. So bly ‘n mens die groeibar te skuif. Jy sien ek stap ook hierdie pad, so julle is nie alleen in die ontwikkeling van die nuwe diamant nie.
Wanneer jy weet wat jy wil hê dan fokus jy daarop. Al jou energie gaan daarin om dit reg te doen sal dit begin manifesteer. 

Wanneer jy meer helderheid het oor jou doelstellings en verwagtings word jy nie gesidetrack nie. Jy bly gefokus op dit. Het julle al die fliek GI Jane gesien. Sy was doelgerig om die Seal opleiding klaar te maak ten spyte daarvan dat die Senator en mense haar probeer ontspoor het. Sy was gedetermineerd om dit te vervul. Sy het baie terugslae gehad in hierdie geveg maar sy het as wenner uitgestap.
Wanneer jy helderheid het dan word jy nie vasgevang met onbenullighede nie. Jy sorter dit uit en is onmiddelik weer terug ongeag wat. Jy is op ‘n misie en werk daarna toe.
Helderheid en fokus skep jou lewe. Dit verg dat jy die groot plan in kleiner, werkbare stappe moet opbreek. Dit help jou om jou doel te bereik. Jy sien, wanneer jy byvoorbeeld ‘n dokter titel voor jou naam wil sien weet jy dit gaan 7 jaar van harde werk kos om dit te doen. Jy gaan dit nie sommer net kry omdat jy mooi geglimlag het vir die Dean van die Universiteit nie. Hy gaan jou trackrekord bekyk. Daarsonder gaan jy dit nie maak nie.

Wanneer jy finansiele doelwitte het sal dit nie help om in skuld te gaan om dit te bereik nie. Jy sal in skuld wees en dalk slegter daaraan toe wees. Dit is nie die beste manier om dit te bereik nie.
Helderheid help jou om die normale pitfalls te vermy wat jou moontlik kan kniehalter op die lang pad. Jy het nie tyd vir dit nie. Hulle help jou glad nie.

So, kyk weer na jou lewe en identifiseer ‘n paar dinge wat werklik saak maak in jou ewe en werk na dit toe. Dit is jou persoonlike doelwitte.
Elke week hersien jy dit, maak seker jy is nog op die pad en kyk wat jy moet verander of wat verhinder jou en werk daaraan. Het jy bereik wat jy jouself ten doel gestel het?

Droom groot. Maak jou kop oop vir nuwe dinge, geleenthede en die lewe. Moenie net brainstorm—dreamstorm nie. Dit is heeltemal aanvaarbaar as jy nie presies weet wat is jou doel nie maar jy moet ‘n darem ‘n idee he in watter rigting jy wil gaan. Dit help nie jy wil jou eie motorwerktuigkundige winkel oopmaak maar jy weet nie hoe werk dit onder die bakwerk nie. Hoe meer stappe jy vat, hoe meer sal jy helderheid kry oor jou pad vorentoe. Jy het nie nodig om te wag tot jy als verstaan of weet nie.
Ek weet op hierdie stadium nog nie presies waarheen ek oppad is nie maar ek doen wat ek kan om vorentoe te gaan. Dit is beter as om my dae om te wens, op die bank te sit en myself jammer te kry. Jy sal vind dat jy jou ‘n paar keer jou pad se loop moet verander om aan te pas. Solank dit jou net op ‘n pad vat wat deel uitmaak van die leerproses.
Een van my drome is byvoorbeeld om te reis – ek sou wat wou gee vir ‘n geleentheid in die reis – industrie maar dit het nog nie gebeur nie en ek laat my ook nie ontmoedig nie.
Maar om op radio te wees was een van my drome en hier is ek nou. Ek praat met julle. Dit kos tyd, dissipline en baie voorbereiding om dit te laat werk maar ek geniet elke oomblik daarvan, selfs al is julle stil.
Hier waar ek sit, besig met my voorbereiding weet ek daar is nog dinge wat ek wil bereik. So ek lees tans heelwat oor publike toesprake, is besig om te kyk na ‘n lewensgidskursus. So ek is besig om my skills te bou. Ek is besig om my portfolio uit te brei. Als ter voorbereiding vir groter dinge.
Ek is knaend besig om myself te ontwikkel, leer uit my foute en groei – my woord vir die jaar. Verbetering is die eerste stap tot sukses. Stilstaan en luiheid nie. Ek weet nie van julle nie maar ek is moeg vir al die kannies, negatiewe kommentaar en teleurstellings. Ek kyk eerder verby dit en bou aan myself en stelselmatig sal ek bereik wat ek droom van. Soek geleenthede, Moenie stop nie. Druk deur.

Mense sien net die eindresultaat van jou hardewerk. Hulle sien nie die ure wat jy spandeer in afsondering, neus in ‘n boek, moegheid of selfs die tye wat jy wil handdoek ingooi nie. Nee dan dink hulle jy het oornag beroemd of gewild geword. Hulle het geen benul van jou finansiele sukkelbestaan of worstelinge nie. Hulle weet maar min van die slapelose nagte, die laat nagte werk en jou opofferings. Die tye wat jy naweke by die huis gebly het om eerder aan die droom te werk, die uitbou van jou beeld en om altyd ‘n stappie voor te wees nie. Jy kry terug wat jy insit.

Om helderheid te kry, moet jy groot droom, en dit stap vir stap vat. Dit is hoe jy beheer terug vat van jou lewe. Miskien, na tien jaar se harde werk, sal iemand jou ook ‘n oornag sukses noem. Jy sal dan net glimlag en hulle bedank want tyd vir verduidelik het jy nie.

“It is not in the stars to hold our destiny but in ourselves.”

– William Shakespeare



Bevraagteken die stem wat vir jou sê jy is nie gereed nie.

Jy het dalk miskien nie die kwalifikasies nie en daarom diskwalifiser jy jouself. Jy sien net al die imperfeksies raak en in plaas om dit uit te sorteer gebruik jy dit as ‘n verskoning. Wel, terwyl jy gewag het het iemand anders ingestap en dit gedoen. Nou sien jy die eindresultaat en jy kan jouself skop omdat jy dit gemis het. Ek hoor dit nogal baie. Wat maak hulle beter as vir jou?

Dit vat ‘n sekere arrogansie om vooruit te loop. Indien jy wegkruip gaan als verby jou gaan en jy sal onvervuld bly. Mense met spunk kry daardie verhogings, of is ‘n leier. Die tyd is nou om te beweeg en werklik die bul by die horings te vat.

Hoe gereed is jy?

Ek wil ‘n besigheid begin maar…. Wat keer jou?
Soek meer verantwoordelikhede… wat moet jy doen om dit te verkry?
Skryf daardie boek…wat verhinder jou?
Begin met ‘n blog…goeie idee, en?
Vra vir daardie verhoging…hoekom is jy huiwerig?

Ek dink ek moet meer …. he vir my om aan te gaan: ondervindng / kennis / oefening / mentors / geld / tyd / volwassenheid / (voeg nog goed by hierdie lysie….)

Huiswerk vir die week.


Kies iets belangriks in jou professionele lewe wat jy gedink het jy voor reg is nie en toets die gedagtes. Kies iets om te doen of te skep.

Indien jy nog sukkel om werk te kry wat kan jy doen om jou CV beter te laat lyk? Is daar miskien ‘n kursus wat jy kan doen om jou te help? Of is daar miskien tydelike werk wat jy kan doen om ondervinding te kan kry? Hoe lyk jou CV? Wanneer laas het jy hom afgestof en gestuur na besighede toe? Of kla jy dat jy te oud is, gee jy BEE die skuld? Stop daarmee. Dadelik.

Tydens ons af dae het ek en my kinders na opbouende flieks gekyk. Ek sal aanbeveel om dieselfde te doen. Gifted hands, October sky, Faith like Potatoes, Erin Brockovich and My left foot. Die lys is eindeloos. Daarin leer jy van terugslae, hul reaksies en handelinge ten op sigte van die probleme wat hulle ervaar het en moes oorbrug.

Wat kan jy vir jouself vat en jou eie maak?



Begin om beheer terug te vat. Begin met klein stappies.

Maak tyd met die Here, lees meer oor die onderwerp, leen boeke by die biblioteek. Begin paraat te wees in die dinge wat jy wil vermag. Sluit by ‘n groep aan waar jy kan geslyp word om die beste jy voort te bring.

Die tyd is nou.

Môre is jou nie belowe nie, maar vandag se keuses kan môre beinvloed. Maak seker dit is die regte besluite en keuses.
Met goeie beplanning en ‘n bietjie effort kan jy vermag wat jy gedink het nie moontlik is nie. Begin met daardie eerste stap, wat het jy om te verloor?

Onthou jou diamant status. Dit gaan nie oornag gebeur nie. dit gaan baie werk kos maar jy is mos nie bang nie. jy is ‘n vrou van durf en daad. Een met wie mense moet rekening hou. Of jy is dalk lief om jou vingers te klap en uit te gil “Watch this space!”
Dink jy die space gaan vanself gebeur?

Nee, dit gaan werk kos. Is jy bereid om dit in te sit en die vrug daarvan te dra eendag.

Skitter net waar jy is diamant.

Tot ‘n volgende keer, mooi loop. 



LAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
https://www.elanglobalradio.com
Die program vir die enkellopend waarin ons saam gesels oor al die slagysters, vrae, vrese en vreugdes van die enkel lopende.
WOENSDAG 6 FEBRUARIE 2019 at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Web: https://www.elanglobalradio.com/
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com/



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...