In onderhoud
met Nico Schamrel.
Nico, baie
welkom en dankie dat jy ingestem het tot ’n onderhoud met my.
1.
As afskop vraag en omdat dit Internasionale
Moedertaaldag is, wat beteken Afrikaans vir jou?
Afrikaans is my moedertaal, skryftaal en voertaal –
die fondamente waarop ek gevorm is. Dit is my taal waarmee ek myself kan
identifiseer. ’n Persoon sonder sy eie taal het nie meer ’n identiteit nie en
om daardie rede is ek ’n kampvegter en ondersteuning vir die behoud van Afrikaans.
Dit is ons elkeen se reg in ’n demokratiese land om sy taal te kan praat,
daarin opgevoed en geskool te word. Afrikaans is vir my die kern van my
bestaan.
2.
Jy is ’n kranige sosiale netwerk gebruiker. Wat
beteken hierdie platforms vir jou? Vergas ons met ’n staaltjie van jou
ondervindings.
a.
Platforms soos Facebook en Twitter is ’n maklike
kommunikasieinstrument waarop mens nie net sosiaal kan kommunikeer nie, maar
ook kennis kan oordra en nuwe idees kan voorstel. Sosiale media is ’n bron van
inligting, mits jy dit produktief en vir die regte redes gebruik.
b.
My staaltjie is van ’n ander aard. Baie jare
terug het ek ’n fiktiewe karakter geskep – Antie Fancie van der Merwe –
burgemeester van ’n fiktiewe dorp met die naam van Holbrandfontein. Dit was vet
pret! Antie Fancie het oor die 2000 bewonderaars gehad en sy het byna elke dag
’n storie vertel oor haar dorp. Die mense was gaande oor haar, maar ek moes
haar vaarwel groet toe ek meer ernstig begin skryf het. Nietemin, Antie Fancie
was vir baie eensame mense geselskap en het ’n lag in leke dag gesit – selfs ’n
vrou uit haar depressie gehelp.
Ek glo lag is die beste medisyne wat ons Skepper vir
ons gegee het – ons doen dit net te min.
3.
Jy het met Ns. Skrywershuis in 2021 begin. Wat het
daartoe gelei en wat is jou ondervinding sover daarmee?
a.
Ek het net gevoel dat daar te veel skrywers is
wat nie die nodige diens ontvang as wat hulle verdien nie. Te veel swak werk
word gepubliseer omdat geld ’n rol speel. Die kostes om te publiseer was belaglik
hoog en daar is talentvolle skrywers wat dit nie kan bekostig nie. Bemarking
word veral agterweë gelaat met uitgewers, want sodra hulle die betaling
ontvang, vergeet hulle van die skrywer.
Die proeflees by sommige van hierdie uitgewers is
skokkend en onaanvaarbaar. Oor dit wil ek my liewers nie uitlaat nie. Ek het
ongelooflik baie klagtes ontvang van ongelukkige skrywers en ontvang dit steeds
gereeld – hulpkrete nadat hulle baie geld betaal het vir publikasies en swak
teksversorging – selfs vertalings van boeke.
Ns. Skrywershuis is gestig om talentvolle skrywers te
help, sonder om hulle duisende rande uit die sak te jaag, maar ook om die
skrywer se werk doeltreffend te bemark met stylvolle advertensies en kwaliteit
werk.
Ek werk nou saam met PENdit.za wat die proeflees
hanteer. My ondervinding is dat skrywers goeie diens verwag, maar hulle wil ook
waarde vir hul geld geniet. Hulle waardeer daardie ekstra wat mens doen. Dit is
nie ’n geldmaak bedryf nie, maar ’n bedryf wat ek verskriklik geniet. Dit is só
lekker om ’n tevrede en gelukkige skrywer by jou aanlyn winkel te plaas –
daardie vreugde en tevredenheid is meer werd as rykdom.
4.
Hoe belangrik is boeke in jou lewe?
Boeke is soos kos – ek kan nie daar sonder nie! Boeke
is soos poeding – ek kan ook nie dáár sonder nie. Daarom lyk ek soos ’n
paaseier. Ek woon alleen op ’n gasteplaas. Ek sien die stad min en boeke word
jou lewensmaat. Daar is nie ’n beter kameraad in die lewe as ’n boek nie
(behalwe poeding).
5.
Waar kom die idee van My gebed vir ’n Boer
vandaan?
Dit was in die begin van ons eerste grendeltyd – toe
ons almal toegesluit was sonder sigarette, drank en Kentucky, met kaste vol
toiletpapier.
Ek het net besef dat ons boere gebed nodig het. Die
geweld in ons land ruk hande uit. Die boer voorsien ons van die kos op ons
tafel – hulle is God se geskapenes om Sy werk op aarde te doen.
Ek het ook toe besef dat ons nie saam kan bid soos,
bv. ’n biddag vir die boer nie (weens grendeltyd). Toe vra ek myself: waarom
bid ons nie almal saam in ’n boek nie? So het die boek toe ontstaan.
6.
Jy is ook besig met die opvolg van die boek. Hoekom
’n opvolg?
Die behoefte vir trauma-berading onder slagoffers is
geweldig groot. Slagoffers het professionele hulp nodig. Daar is baie kostes
daaraan verbonde en daar moet soms lang afstande afgelê word om by slagoffers
uit te kom. Dit gaan nie net oor ryk boere nie. Daar is ook kleiner boere en
minderbevoorregte boere. Hulle het hulp nodig. Om met daardie behoeftes te help,
is die tweede boek begin.
7.
’n Hele paar bekendes het deelgeneem aan die
boek, wat is jou ervaring met die mede skrywers van My Gebed vir ’n Boer.
Die bekendes was ongelooflik wonderlik. Net onlangs
het Jak de Priester vir my ’n video gestuur waar hy gesels oor die boek, asook
vriendin Anneline Kriel-Bacon. Sy is weer die ambassadeur van die nuwe boek.
Bekendes soos Amor Vittone was uit haar vel oor die
projek en Ruben (die bekende sjef) moes opnames herskeduleer om deel te kon
neem. Solly Philander was besig om te bestuur toe ek hom geskakel het. Hy was
so opgewonde omdat ek hom telefonies bedank – ek het gewonder of daar iets fout
is? Ék is die een wat opgewonde moet wees!
8.
In jou mening, was dit suksesvol? Deel met ons
’n staaltjie wat bydra tot die boek se sukses.
a.
Ja, die eerste projek was suksesvol en die
fondse was goed aangewend. Dit was nie duisende rande nie, maar dit het ’n paar
gaatjies toegestop. Ek het regtig mooi briewe ontvang van bekendes, boere en
boervroue wat so dankbaar is vir hierdie projek. Die belangrikheid van die
hierdie projek was ook dat die moord op ons plaasboere, asook werkers, weereens
blootstelling gekry het – nie net in SA nie, maar ook oorsee. Wat vir my só
treffend was, was die vriendskap wat gesmee was gedurende hierdie boek.
Bekendes het mekaar ondersteun en so baie het net ingespring en gehelp.
b.
Eendag, toe ’n klein seuntjie by ’n
kettingwinkel aan my arm kom trek, was ek heel verbaas dat hy my erken het (sy
ma het my erken en hom kortliks vertel van die projek). Hy het skaam na my gekyk.
“Oom, dankie dat oom vir my pa bid ...”
Ek moes hard sluk aan die knop in my keel. Ek was
werklik stomgeslaan. Sy ma het trots glimlag. Ek het na sy onskuldige gesiggie
gestaar. “Nee, dankie vir wat jý doen om ook saam te bid.”
9.
Vertel ons in kort wie jy is en waar jy vandaan
kom.
Ek is gebore en getoë op Uitenhage waar ek my weer bevind
na vele omwentelings in my lewe. My pa is oorlede toe ek twaalf was en ek is
geseënd om nog my moeder na aan my te hê. Sy is my asem en my meeste liefde, my
hartklop en my grootste ondersteuner. Dit staan buite alle twyfel dat ek
ma-se-kind is – ’n groot dromer wat alles in die lewe wil gee en tevrede is met
álles wat ek het. Ek dank my Skepper so veel ek kan, elke dag van my lewe.
Nico, baie dankie vir die saam
gesels ek het dit baie insiggewende gevind.
Vir meer inligting om saam te skryf aan MY GEBED VIR 'N BOER
TWEE kan die inligting verkry word by https://nskrywershuis.co.za/gebedeboek/