“Jy lyk
moeg vandag, Mart.”
“Ek is
moeg. Slaap maar min deesdae.”
“Hoe so?”
Belinda kyk aandagtig na haar vriendin. Hulle het ’n jaar gelede ontmoet tydens
’n konferensie in Sandton en het goeie vriende geword. Maar iets pla haar.
“Slaaploosheid.
Te veel op die gedagtes. Jy weet, die gewone verskonings.” Haar antwoorde kom
outomaties en geoefend en Belinda voel nie oortuig nie. Daar is meer tot dié
storie.
“Slaaploosheid
is nie goed nie. Eet jy darem gesond en kry jy genoeg oefening?”
“Jy weet
mos. Ek is fanaties oor oefening, maar ek dink
eerder ek het ander oefening nodig.” Mart giggel verleë en kyk dan weg. Die
restaurant is besig. Mense skarrel om hul rond en sommige lag kliphard, wat die
atmosfeer gesellig maak.
“Ander
oefening?” Belinda kyk haar onseker aan. “Wat bedoel jy met ander oefening?”
Dan bloos syself wanneer die besef tot haar deurkom. Dit is nou nie ’n
onderwerp wat openlik bespreek word nie, maar sy dink tog aan haar eie
‘oefeninge’ … of liewer die te kort daaraan.
Mart
giggel ondeund, maar bly op ’n ernstige noot: “Ek kyk deesdae in ’n rug vas en elke aand is dit dieselfde storie. Hy klim in die
bed, gee my ’n skuinsweg ‘nag’ en slaap dan asof daar niks tussen ons is nie.
Hy voel soos ’n vreemdeling in my bed. Waar is die man met wie ek getroud is?”
Mart se stemtoon het ietwat verlaag so asof sy die grootste geheim kwyt raak.
Belinda
sug innerlik. Sy vra haarself daardie selfde vraag af. In die begin kon sy en
Anton nagte om gesels en agterna passievol in mekaar se arms aan die slaap
raak. Nou is dit asof sy nie bestaan nie en hulle is maar net twee jaar
getroud. Hoe lank sal sý dit kan hanteer?
“Ek
verstaan wat jy bedoel,” antwoord Belinda uiteindelik. “Romanse is lankal uit.
Hy is altyd moeg. Soms wonder ek of hy my nog lief het.” Belinda vat ’n hap van
die soet tert en sluk dit dan met koffie af.
“Ek en
Neels is nou twee jaar saam,” voeg Mart by. “Ek weet ek moenie vergelyk nie,
maar in my eerste huwelik was daar ’n openlikheid tussen ons … ons kon gesels.
Ek het die meeste van die tyd geweet wat in my
oorlede man se kop aangegaan. Daar was ’n wedersydse geluksaligheid wat ek nie
met Neels het nie.
Soms wonder ek of ek nie ’n fout gemaak het nie.”
“Wat sê jy
nou eintlik?” Belinda kyk Mart ondersoekend aan.
“’n Tweede
huwelik is nie maklik nie. Te veel ‘baggage’ wat saam kom en Neels is nie van
die maklikste mans nie. Van my kant af is daardie konneksie ook afwesig en soek
ek geen toenadering by hom nie. Ek voel die meeste van die tyd afgestomp as dit
kom by ons verhouding en ek verloor myself in my
werk.” Sy bedank die kelner vir haar bestelling en skuif die eetgerei rond voor
sy voortgaan. “Ek soek meer. Ek soek daardie verhouding wat twee mense deel. Neels
voel werklik soos ’n vreemdeling vir my. Ek weet
nie wat in sy kop aangaan nie en indien ek vra, veroorsaak dit ’n onenigheid waar
al my foute dan vir my uitgewys word. Die onderwerp ter sprake word dan vermy
en hy stap die vertrek uit sonder om my te antwoord. ’n Mens sou dink dat ’n
vrou wat twintig jaar se huweliksondervinding het dit sal verstaan, maar ek
weet nie. Dit lyk my ek mis iets, wat dink jy doen ek verkeerd?” Mart kyk
vraend na Belinda en vat ’n hap van haar Cobb-slaai. Belinda vermy hierdie keer
haar vriendin se oë en vat nog ’n happie. Sy weet sommer sy gaan agterna jammer
voel oor die soet toegewing, maar sy was lus vir suiker. Die gesprek help ook
nie.
“Ek het
nie raad nie, Mart. As jy nie weet nie, hoe gaan ek kan help?” Sy grinnik
verleë. “Buitendien het ek gehoop om by jou te leer.” Beide vrouens lag saggies
en eet in stilte verder.
“Nog
koffie vir jou?” vra Belinda vir Mart toe sy haar vurk neersit.
“Hoekom
nie, dit sal heerlik wees,” Mart leun tevrede terug
teen die bank.
“Ek wens
net soms ek kan met hom praat. Jy weet, net praat sonder om myself te verdedig
oor die hoekoms, sonder verduidelikings. Ek dink
nie ek is so moeilik om te verstaan nie.” Twee koppies koffie verskyn voor
hulle en albei bedank die kelner voor hulle voortgaan met die gesprek.
“Ek dink
mans is net anders bedraad as ons. Hulle vind uiting op fisiese maniere waar
ons op emosionele vlak wil kommunikeer. My man doen dieselfde. Ons praat bitter
min. Aan die etenstafel en in die bed het ons geen belang om mekaar te leer ken
nie.” Belinda roer die koffie, nie seker of sy suiker ingegooi het nie en reik
na die suikerpot.
“Hoe mense
dit doen vir dertig- of veertig jaar gaan my verstand te bowe,” voeg Belinda by
terwyl sy steeds haar koffie roer en dan ’n
behaaglike slukkie vat.
“Daar was
gewoonlik baie om oor te gesels,” laat Mart hoor, “kinders, skool aktiwiteite,
werk asook die huis. En als wat daarmee gepaard gaan was gewoonlik goeie
aanknopingspunte, maar nou is daar nie meer sulke
dinge nie. Die huis is klaar betaal, ons kinders het nou hul eie huishoudings
en Neels werk nie. Die ouderdomsverskil speel ook ‘n rol. Oefening is uit want
hy is altyd moeg. In elk geval is dié oefeninge,” en Mart rol haar oë
vermakerig. Belinda kan nie help om skalks te lag nie, “ … maar saai en verbeeldingloos. Wanneer hy bevredig is,
dan is dit klaar en ek wonder nou wanneer gaan ek ’n bietjie sweet opbou.” Albei
giggel weer.
“Ja nee,
dit is ’n probleem. Ek wens net ek kan verby die muur kom wat Anton gebou het.
Hy is afsydig en kom altyd later bed toe lank nadat ek al slaap. Ek wonder soms
of hy my nog aantreklik vind? Of daar iemand anders is?” uiter Belinda haar
vrese hardop en ontmoet haar vriendin se priemende oë voor sy haar wimpers laat
sak.
“Jy is ’n
mooi vrou, Belinda. Anton is blind as hy dit nie kan raak sien nie.” Mart sit ’n
gerustellende hand op haar vriendin s’n en Belinda sluk ’n knop weg. Die laaste
ding wat sy nou wil
doen is om aan die tjank te gaan in die koffiewinkel.
“Ek dink darem nie Anton verkul jou nie. Wel, ek hoop nie so nie.”
Mart raak stil en die twee vroue kyk mekaar deurdringend aan.
“Ek moet
gaan, ek sal die rekening sommer op pad uit kry.” Mart staan eerste op, neem
haar handsak en swaai dit oor haar skouer. Die twee vriendinne gee mekaar ’n
druk, “Dieselfde tyd volgende week?” Mart kyk haar vraend aan en Belinda stem
in. “Beslis. Hierdie kuiers doen wondere vir my.”
“Vir my
ook. Sien dan weer, totsiens.”
Belinda
hou Mart dop terwyl sy by die kassier die rekening vereffen. Wanneer sy uitstap
staar Belinda vir lank na haar afgekoelde koffie, nie seker hoekom sy skielik
so ongemaklik voel nie.
By die
huis gekom stop Anton net agter haar motor en hulle stap saam na die ingang van die huis.
“Hoe was
die koffie afspraak?” vra hy terwyl hy die
voordeur oopsluit.
“Heel
aangenaam.”
“Julle
vrouens klets mos vreeslik. Ek wonder soms waaroor praat julle.”
“Oor als,”
kom Belinda se antwoord saggies en sit haar handsak op die eetkamer tafel neer.
“Is als
reg?” vra hy so terloops by die inloop na die kombuis en sit die ketel aan.
Belinda gaan sit op die naaste eetkamerstoel en hou haar man dop terwyl hy
besig is om koffie vir hulle te maak. Toe hy by haar aansluit en haar beker
voor haar neersit kyk sy hom ernstig aan.
“Hoe gaan
dit met ons?”
“Nou watse
vraag is dit?” Verergd stoot hy sy stoel eenkant toe en draai skuinsweg na die
TV. Onmiddellik vul die nuus se deuntjie die vertrek en Belinda weet dit is die
einde van die gesprek.
“Wat wil
jy eet?”
“Ek is nie
honger nie,” mompel Anton en stap dan na sy gunsteling gemakstoel, sy oë
vasgenael op die skerm.
Belinda
vat haar beker koffie en stap die gang af,
reguit na hul kamer. Sy weet nie hoekom nie, maar hy is meer afgetrokke as
gewoonlik, amper stug en vermydend. Ingedagte gaan sy deur die aand se rituele
en bevind haar in die bed teen agtuur. Die televisie se klanke golf na haar toe
en sy weet dit is net nog ’n aand van ’n leë bed sonder die liggaamshitte van
haar man.
Sy moes byna
aan die slaap geraak het toe sy bewus word van Anton langs haar. Haar bedliggie
word ook aangeskakel en sy intense kykers kyk na haar asof
hy haar nog nie vanaand gesien het nie.
“Slaap
jy?” Sy warm asem waai oor haar en hul oë ontmoet.
“Ek het al
ingesluimer, wat is dit?” Sy probeer regop kom maar hy keer haar.
“Ek wou
maar net sê ek is lief vir jou.”
“O, okay,
dankie.”
“Jy is die
enigste vrou vir my.” Anton leun vorentoe en soen haar saggies. Dit verander in
’n soeke en kort voor lank lê Belinda uitasem in haar slapende man se arms.
“Neels
maak my gedaan,” begin Mart met die intrapslag.
“Hoe so?” Belinda
plaas haar pakkies onder haar stoel in en soek rond vir die kelner.
“Ons het vanmôre weer ’n woordewisseling gehad. Dit voel soms
ek praat met ’n kind van tien. Daar is geld weg uit ons rekening en toe ek
daarna vra, word ek beskuldig dat ek hom nie vertrou nie. En, om die kersie op
die koek te sit, word ek vertel dat ek hom in ’n hoek vaskeer.” Sy sug en lees
die spyskaart, vou dit toe en sit vorentoe en fluister: “Steek hy iets weg?”
Belinda hou haar vriendin aandagtig dop. Die moeë lyne om die mond vertel sy eie storie. Sy
skud haar kop en bestel dan haar ete by die kelner wat flink wegstap die
oomblik wat hul albei klaar bestel het.
“Ek weet
eerlikwaar nie,” antwoord sy oplaas. “Mans is
vreemde verskynsels. Die een oomblik word jy vermy, dan word daar passievol
liefde gemaak. Soms voel dit of net Anton se lyf betrokke is, ander kere is hy
ten volle teenwoordig.”
“Neels is
nooit teenwoordig nie. Maar langs die vuur, goed gekletter, is hy vol lof vir
sy eie vermoëns. Die ander vrouens dink ek is vreeslik bevoorreg, maar back
at the ranch kyk ek weer in die kaal rug vas. Dan is die braai-casanova
weg. Ek is moeg, Belinda. Ek weet nie hoe lank ek dit nog kan volhou nie. Ek kan
die min seks hanteer, maar dan moet hy ten minste met my praat. Ek verwag
eerlikheid. Dit is mos nie te veel gevra nie.” Mart roer haar koffie en kyk
oral rond behalwe na Belinda. “Hy is goed vir my kinders en ek waardeer dit,
maar is dit al waaroor ’n verhouding gaan?”
Hulle
drink hul koffie in stilte en maak dan plek toe hul kos arriveer. Mart se
pastagereg lyk hemels. Belinda kyk na haar slaai. In teenstelling lyk dit maar vaal en afgewater. Sy trek die slaaisous nader en
gooi dit mildelik daaroor, opgevolg met swart peper.
“Elke
verhouding is besonders, ek verstaan dit. Maar die basiese riglyne werk vir ons
almal. Wedersydse respek, liefde en
gemeensaamheid is die boublokke. Die sement is die tyd wat ons deel. Dié
word gemeng met vertroue en sorg. As een van die bestandele nie funksioneer nie,
is die verhouding gedoem.” Mart kyk aandagtig na haar. “Dit is wat ek verwag
tussen my en Neels, maar ek vertrou hom nie. Ek het eintlik niks in gemeen met
hom nie. Ons bly mekaar mis op elke gebied denkbaar.” Sy vat ’n sluk van haar
water. Haar slanke vingers omsirkel die glas met wit kneukels.
“Ek hou
van jou verduideliking. Ek en Anton het dit, as ek eerlik moet wees. Hoekom ek
ontevrede is weet ek nie. Ons het eintlik ’n wonderlike verhouding.” Belinda
vat ’n skep van die blaarslaai en eet dit langtand. Spyt oor haar keuse skuif
sy die bord halfpad eenkant en roep die kelner.
“Enige
verhouding is ingewikkeld,” beaam Mart. “Die enigste manier om dit te oorkom is
om te praat, soos wat ek en jy nou doen. Hoekom kan ek nie met Neels op so ’n
manier praat nie?”
“My ma het
altyd gesê dat ’n verhouding uit twee dele bestaan …
gee en neem. Die regte hoeveelheid van elkeen moet teenwoordig wees. Maar mans
dink dat as hulle vir jou goed sorg hul werk gedoen is. Het hulle nie ’n
behoefte om te gesels nie? Het hulle nie vrae nie?” Belinda se muffin word voor
haar neergeplaas en onmiddelik smeer sy dit mildadig met die botter.
“My
skoonpa het dit ook genoem toe ek nog sterre in my oë gehad het en gedink het
die wêreld bestaan uit marshmallows en konfettie. Nou voel ek anders daaroor.
Ek gee en gee en gee.” Verergd druk sy die bord eenkant toe, haar kos net
rondgekrap.
Belinda kom
maar min by Mart se huis en het Neels net
eenmaal ontmoet. Hy is ’n gawe man wat lekker gesels.
Is die probleem nie dalk by Mart nie?
Belinda
hap van die lekkerny en eet rustig voor sy weer praat. “Hoe voel jy werklik oor jou lewe?”
“Ek …”
Mart wink die kelner nader en vra vir die wynlys. Dié word dadelik aan haar
gegee. Sy lees die inhoud met ’n kennersoog en
bestel ’n glas rooiwyn.
“Ek voel
vasgevang,” kom haar antwoord uiteindelik, “en ek
het nie meer lus vir die verhouding nie. Ek wil op my eie wees, my eie besluite
neem.”
“Hoekom is
jy dan met Neels getroud?” Weer vermy sy Belinda se oë: “Ek was eensaam. Ek wou
my lewe deel met iemand.”
“Maar nou
is dit nie wat jy gedink het dit sou wees nie, né?”
“Nee, dit
is nie.” Mart raak stil en glimlag skalks, “Ek klink ondankbaar.” Belinda
antwoord nie, maar eet verder. Toe haar bord leeg is vat die kelner dit weg en
sy bestel ’n glasie wyn. Rosé is haar gunsteling.
“Ek dink
ons vrouens is nie altyd seker wat ons wil hê nie. Ons maak besluite op die
ingewing van die oomblik net om dit later te berou. Maar dit is hoe die lewe
is. Boublokke wat rond skuif totdat dit veilig in hul semetnessie is. Gee dit
kans. Miskien moet jy net rustig raak met jouself.”
“Nou klink
jy soos my lewensgids,” lag Mart verleë en Belinda glimlag.
Dit is nie
altyd ouderdom wat wysheid bring nie, maar eerder die persoon wat meer in
voeling is met haarself wat die insig het, besef Belinda en klink haar glasie
teen Mart sin.
©Kopiereg
Lynelle Clark 2020
Photo by Min An from Pexels