Donderdag 21 Junie 2018

Alleenheid: Die eerste program van Diamant Divas op Elan Global Radio aangebied deur Lynelle Clark

Diamant Divas het twee jaar gelede ontstaan nadat ek agtergekom het hoe groot die noot werklik is tussen enkellopendes. Op daardie stadium het ekself deur heelwat skommelinge gegaan en het ek dit vir eers op die ys geplaas. Toe die begeerte weer begin het ek my voorlegging aan Bea gestuur en is dit aanvaar. Dit was nog altyd ‘n kleindogtertjie droom om radio te doen en hierdie is ‘n goeie platform as wegspringplek.

Twee jaar terug, en heelwat verkeerde afdraaipaaie later, was ek rou en vol wroeginge en moes ek eers van dit herstel om werklik waar weer van nut te kon wees. Ek glo nogal daarin om net te praat as ek iets sinvols kan byvoeg anders bly ek stil totdat ek dit deurgewerk het.  

My enkelpad het in 2014 begin en die bewusmaking van die regte ondersteuning het vinnig ‘n werklikheid geword. Diamant Divas is gebore in 2016 nadat ek besef het hoe groot die noot werklik was. Dit is ‘n program uitsluitlik vir die vrou maar mans in nie uitgesluit nie. Alhoewel ons ervarings op verskeie gebiede verskil sukkel ons tog met kwessie uniek aan enkellopendes. Veral as jy jarelank gewoond aan ‘n lewensmaat was en jouself weer alleen bevind. Die aanpassing kan skokkende gevolge he juis omdat ons nie bedag is op die veranderde lewens nie. Om dan te bly staan vat deursettingsvermoë en vernuf in hierdie tyd waar jy moet leer om weer alleen te wees.

Eintlik wil ek nie ‘n geslag daaraan koppel of selfs in ‘n ouderdom groep plaas op die program nie want die onderwerp dek ‘n breë veld van enkellopendes. Hierdie is nie ‘n hoekie van eensames program nie, allermins. Dit is ‘n program om jou as luisteraar sin te gee in die pad waarop jy jou bevind. En om in my beskeie manier saam met jou te wees op hierdie pad.

Ondersteuning is seker een van die nodigste faktore in enige deel van jou lewe maar wanneer iemand verstaan waardeur jy gaan maak dit die pad beter en ligter en kan jy met ‘n positiewe uitkyk na die lewe kyk. Ek wil tog net byvoeg dat ek nie ‘n sielkundige berader of pastorale berader is nie. Ek praat vanuit my eie ondervindings. Ek sal soms my hart heeltemal oopmaak en vertrou dat jy dit in daardie lig sal sien en aanvaar. Indien jy wel iemand wil sien raadpleeg jou gemeente of vriende oor ‘n goeie berader.


Hier gaan ons gesels, pret he en sommer net na musiek luister. Hoe ookal die bui. Daarom wil ek vra dat jy sal meedoen in als en my terugvoer sal gee.
Om te skitter soos ‘n diamant vat baie druk. Die skaaf proses is ‘n seer plek, en indien ons kon sou ons dit wou vermy het maar ons kan nie skitter sonder daardie skaaf proses nie. Skawing vind die meeste van die tyd in donkerte plaas, waar niemand kan sien of verstaan waardeer jy gaan nie.  Dit is ‘n afgesondere tyd en min mense stap saam met jou. Dit gaan nie help om dit aan iemand te verduidelik nie. Tensy hulle nie self daar deur is nie is dit vrugteloos en mors jy jou asem. En bring jy onnodige kritiek op jouself.

Hoekom noem ek my program Diamant Divas? 

Enige diamanthandelaar sal vir jou die proses kan verduidelik. Dit neem miljoene jare en baie grondskuiwings om die nodige resultate te verkry. Dit kos ook baie om die grond oop te breek en die klippie te ontdek. Dit is nie ‘n oornag proses nie. Dit vat baie tyd en baie geduld. As jy jouself op hierdie pad vind weet dat genesing nie oornag gaan plaas vind nie. Dit is ‘n tydsame proses. Alleenheid is seker een van die eerste simptome waarmee jy moet deel.
Dit is seker die ergste gevoel wat jy as mens kan ervaar des te meer tussen ander mense. Hierdie soort alleenheid is ‘n intense eensaamheid wat jou siel versmoor en jou heeltemal verwese laat te midde van ‘n bedrywige wêreld. Daarom verlaat baie mense ‘n jarelange huwelik omdat hulle daardie doodse alleenheid nie meer kan hanteer nie. Dit is ‘n soeke na iets anders, ‘n lewe wat jy net kan kry wanneer jy op jou eie is. In ‘n verhouding word daar van jou sekere dinge verwag, moet jy binne ‘n spesifieke raamwerk beweeg om aanvaar te word. En dan word daar gefrons wanneer jy eintlik selfsugtig raak in jou doen en late en word jy vinnig weer terug in die visbak geplaas. Vir die meeste van ons is dit aanvaarbaar en jy leef so al weet jy daar is meer. Al voel dit jy gaan dood bly jy daar want dit is die beste vir almal. Tot op ‘n dag.

Dit word nie beplan nie maar tog bevind baie mense hulself in daardie posisie; ekself is baie gemaklik met my eie geselskap maar ek het tog die behoefte om my lewe met ‘n spesiale persoon te deel. Daar is baie ander wat gemaklik is om vir die res van hul lewens alleen te wees – daar is niks fout daarmee nie.  


Alleenwees het sy eie kriteria waarvan die grootste selfvertroue is. Jy durf die lewe alleen aan en mense gaan praat maar jy moenie ongemaklik voel wanneer mense na jou staar nie. Meeste mense sukkel met die gedeelte en kan nie sonder mense se teenwoordigheid klaar kom nie en daar is niks fout daarmee nie. Indien jy ongemaklik is en dit makliker vind om by die huis te bly dan het jy ‘n probleem. Jy veragter heeltemal en verloor waardevolle tyd met mense. Jy raak as te ware afgestomp en verleer om te kommunikeer.  Kommunikasie is ‘n baie belangrike deel van menswees en groei, daar sonder is ons net ‘n dop.
Jy skuld dit aan jouself om jouself te vind. Jy moet bereid wees om jou self onder ‘n vergrootglas te bekyk en tevrede te wees met wat jy sien. Daar was ‘n tyd dat ek nie na my eie beeld in ‘n spieël kon kyk nie omdat ek bang was vir my eie weerskaatsing.  Ek wou nie gekronfronteer word met die vraag: Wie is jy nie?

Jou oë gee jou ‘n kykie in jou siel en partykeer is dit makliker om dit te vermy deur besig te bly. ‘n Mens raak gemaklik om jouself mis te kyk: te sien maar niks waar te neem nie. Maar wanneer die lewe jou dwing, het sy deur omstandighede of die dood van ‘n geliefde dan het jy nie ‘n keuse nie. Daardie kyk kan jou gemaksone omkeer, jou omkrap en laat dink. Jy word dan gedwing om dit te konfronteer en daadwerklik iets te doen. Ignoreer jy dit kan dit groter skade berokken.
Wanneer jy skielik na ‘n egskeiding of dood van ‘n lewensmaat jouself alleen bevind kan dit jou dom dinge laat aanvang omdat jy nie geleer het om alleen te staan nie. As vrou is ons gewoond dat eers ons pa en toe ons lewensmaat na ons gekyk het. Hy het gesorg dat als vlot loop en ons nie belas met die klein dingetjies nie sodat ons geen benul het hoe dinge werk nie. Dit is dan wanneer ons dom foute maak in ‘n desperate hoop om die leemte te vul. Maar dit is nie so maklik nie. Indien jy nie vrede gemaak het met die trauma en jou eie menswees nie kan jy nie aanbeweeg en saam met iemand anders wandel nie. Die probleme sal homself herhaal en selfs erger word.
Luister na jou hart, hy sal jou lei op die regte pad en ek praat nie van liefde nie. Ons kom nog by daardie gesprek.

‘n Mens sien dit so baie: daardie radelose vereensaaming, spesifiek op die sosiale netwerke. Enkelmense wat smeek vir aandag, wat op enkelgroepe gaan vir aanvaarding in die hoop om hul droomman/vrou te vind wat geen goeie einde het nie – ek weet, ek was daar. Alles om daardie alleenheid te vul. Die seer wat so opgedoen word het verrykende gevolge omdat jou ewewig heeltemal versteur word. Dit veroorsaak opnuut weer vrae en twyfel terwyl jy nog probeer uitwerk wie jy is.
Ek was net op my eie toe ek betrokke geraak het by ‘n motivering groep. Een man het my met die vraag: Wanneer laas het jy gedroom, gekronfronteer. Ek was ongemaklik met geen antwoord vir hom of myself nie. Gelukkig het hy heelwat wysheid gehad en my ‘n eenvoudige taak gegee om te doen. Gaan plak alles wat jy in die lewe wil doen op ‘n bord. Nuwe kar, woonplek, besittings etc. Ek het op daardie stadium geen kar gehad nie en het by my ouers ingetrek met bitter min aardse besittings na 30 jaar.
Dit was seker die moeilikste taak om te doen maar toe ek eers in dit is kon ek dit makliker afhandel. Ek het ‘n foto gehad van alles, van my boek wat moes gepubliseer moes word, my kar, ‘n vakansie, blyplek, meubels ens. My bord het gou te vol geword en ek het toe skermbewaarder gemaak van my drome. Die het gedurigdeur op my rekenaarskerm geflits en dit het iets in my wakker gemaak. Nuwe lewe. Avontuur. En ek het meer gefokus geword. Drome is kardinaal vir genesing in die soeke na jouself. ‘n mens kan so afgestomp word deur al die probleme dat jy verleer om verder te kyk. Jy tas in die donker rond sonder enige kompas.
Gesond word kan op verskeie maniere gedoen word: om ‘n berader te besoek, ‘n baie goeie vriend in jou vertroue te neem en jou hart bloot stel aan hom/haar of om jou te verdiep in jou werk. Vir sommige is hul onwrikbare geloof in God ‘n plek van genesing en vrede. Elkeen in sigself kan jou die vertroue gee om voort te gaan na ‘n traumatiese gebeurtenis maar op die ou einde is dit net jy wat dit kan bewerkstellig.
Saam met die groep mense wat my gemotiveer het, het ek en my beste vriendin van skooldae af weer hande gevat en Magda was ‘n baie belangrike deel van my gesond word. Sonder om my ooit te kritiseer het sy my by gestaan van dag een af. Sy het my uit gevat en ‘n kykie gegee in ‘n ander lewe. Ek was afgestomp en in myself gekeer maar die Inkopie togte, wat een van haar geliefkoosde tydverdrywe is, het my visie verbreed. Dan piekkel ek maar saam. Met geen geld op my naam nie kon ek net kyk na die verskeidenheid wat beskikbaar was. Dit het my laat glo dat ek deel is van iets groter. Met nuwe oe het ek na als om my gekyk. In die begin was ek bang en het oorweldigend gevoel maar stap vir stap was sy daar. Sonder haar sou ek dit nie gemaak het nie.
Wat ookal die pad is wat jy kies dit is belangrik om jouself te vind en heel te word.
Heel word is meer as net gesond word. Gesond word dui daarop dat jy medisyne geneem het en pleisters op al die sere geplak het. Maar heel word beteken daar is nie meer rowe nie. Die seer is genees en het nie meer ‘n invloed nie. Dit is ‘n stand wat ons almal wil bereik maar bitter min werklik gesmaak het. Heel word is om besluite te neem en verantwoordelikheid te vat vir elke besluit selfs die verkeerdes. Die verkeerde besluite maak jou sterk, help jou om “street smart” te word. Jy weet later watter slaggate om te vermy want jy leer om in jou eie oordeel te glo.

Wat jy ookal besluit om hierdie nuwe pad weer aan te pak weet dat jou groei gelyk is aan die tyd wat jy aan jouself spandeer. Jy is die belangrikste produk van jou keuses. Elke keuse dra by tot jou groei, goed of sleg. Maar dit is belangrik om vir jouself doelwitte te gee en daar by te bly. Die vraag is sal die keuse wat ek maak my doelwit bevoordeel. Indien nie dan weet ek watter keuse om uit te oefen. Hoe die eindproduk gaan lyk is hoeveel tyd en energie jy gaan in sit daarin. Niemand kan dit vir jou doen nie.  Tyd en jou geloof is die beste medisyne en die enigste geneesheer.

Diamant Divas Groete
Lynelle  




GESELS MET ONS:
Web: https://www.elanglobalradio.com/
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580

Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com/

SKAKEL IN:
SIMPLE RADIO App. Laai die Simple Radio App af vanaf Playstore en soek jou gunsteling stasie Elan Global Radio
http://14123.live.streamtheworld.com/SAM04AAC125_SC
http://listen.samcloud.com/w/90758/EGR/?play=y#history
http://www.liveonlineradio.net/south-
…/elan-global-radio.htm


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...