“Kyk hierna
Kaptein!” Roep die jong konstabel opgewonde uit terwyl hy in gehardloop kom en
hou ‘n opgefrommelde voorwerp uit na hom; vir ‘n oomblik vergeet Shozi van
protokol, sy eerste moord saak laat hom skoon lighoofdig van opgewondenheid.
Kaptein Swanepoel kyk op van sy notas, ‘n flitsende oomblik
geirriteerd met die nuwe toevoeging tot hul geledere maar hou homself onder
beheer. Hy mis niks in die daaropvolgende sekondes nie en spits sy ore opnuut; daar
is ‘n paar onbeantwoorde vrae en hy het net een bewysstuk nodig vir ‘n
deurbraak op hierdie onverklaarbare moord wat die klein dorpie laat gons van
gisteraand af.
Ou Dominee Koornhof was ‘n geliefde persoon op Duiwelslaagte
en sy dood was onverwags en sinister – die geskreeu van die uil op sy bors, het
soos ‘n aanklag geklink, teen die tyd wat hulle by hom gekom het. Duistere
dinge het in die pastorie gebroei. Die hele kontrei was stomgeslaan en simpatie-mandjies
met treurende-eienaars ─ wat soos nuuskierige agies op die dorp toegesak het,
het die huis vinnig gevul.
Soos blits het die bostelegraaf die storie laat hardloop met
stertjies wat aangelas was en teen die vroeë oggend ure het dit ‘n lewe van sy
eie gehad; dit was verstane want nuus was seldsaam in hierdie omgewing. Die
inwoners het oornag kenners van moord geword en by verskeie geleenthede moes hy
op sy tande kners uit frustrasie vir sy dorpsgenote.
Kaptein Swanepoel vat die platgestrykte foto by hom en staar
stomgeslaan na die afbeelding. “Waar het jy dit gekry?”
“Onder die buffet, waar die liggaam was.”
“En hoekom sien ek dit nou eers?” bulder hy terwyl ‘n stoel
met mening terug geskuif word en hy kwaai na die mannetjie staar wat met groot,
verskrikte oë na hom kyk.
“Ek het dit nou eers gekry, dit was half onder die mat
ingeskuif en eers toe ek die buffet skuif toe sien ek ‘n stukkie papier
uitsteek.” Verduidelik Shozi, nog uitasem, in sy gebrekkige Afrikaans.
Die ou pastorie is reg langs die Polisiestasie maar vir die
konstabel kon dit net sowel aan die anderkant van die een-straat dorpie gewees
het. Hy blaas onnatuurlik en hou sy heup vas van die ongewone oefening, sweet
hardloop in ‘n straal teen sy gesig af.
“Hoekom nou eers, wat het jy die laaste paar ure gedoen
daar?” bulder die Kaptein uit.
Verleë laat sak Shozi sy oë: “Never mind!” Gegrief draai die kaptein weg en gryp sy baadjie in sy
haas om uit te kom.
“Kom jy Konstabel!” roep hy uit in die hardloop en swaar
voetspore volg hom. Dit was genoegsaam om te weet dat die mannetjie hom volg.
Hy kan later die man roskam oor sy nalatgheid; die saak moet nou afgesluit word.
“Skuus Swannie, kan ek jou gou sien?” vra Oom Neels, nog ‘n
beterweterige dorpenaar, die oomblik toe hy hom gewaar.
“Nie nou nie Oom, ek moet beweeg.”
“Wanneer jy ‘n tydjie het,” sê die Oom, onverstoorbaar. “Dit
gaan oor ou dominee.”
“Ja, ja.” Is al wat Swannie sê en rol sy oë. Hy het ‘n dop
nodig maar die sal moet wag.
Hulle hardloop regsom die stasie en gaan by die hekkie van
die Pastorie in. Dié kraak onder die geweld waarmee dit oopgeruk word. ‘n Ou
plaashuis wat deur ‘n destydse boer aan die dorp geskenk is en omdat die Proponent
toe net daar begin het, het hulle dit dadelik vir die toe, jong Dominee
Koornhof, as pastorie gegee. Sedertien was dit die spulpunt van bedrywighede in
die distrik.
Die sement paadjie is amper toegegroei met die kleurvolle wintersblomme
wat nie weet waar hulle grense is nie, en in die twee polisiemanne se haas word
van die blomme vertrap. Swannie draf die paar trappe op in ‘n japtrap en hamer
teen die imposante houtdeur en sekondes later maak ‘n gryskop vroutjie die deur
oop.
“Middag Tannie Marthie, kan ons in kom?” vra hy die Pastorie-moeder.
Formaliteite was nog nooit ‘n groot ding in die distrik nie; die dogter van ‘n
Predikant was sy gewoond aan die status wat dit meëbring maar op die platteland
moes sy derhalwe aanpas. Nogsteeds ‘n statige vrou, deftig met elke grys
haartjie op sy plek het die eens pragtige vrou nou net ‘n skaduwee geword van
haar jongerself.
“Ja seker, Swannie, konstabel, kom in.” en sy maak die deur
wyer oop en staan terug sodat hulle verby haar kan kom en in die verhitte
sitkamer kan instap. Dié tyd van die dag was die pastorie ‘n koue plek en
alhoewel sy baie daaroor gekla het, het sy mettertyd geleer om die beste van
die koue te maak. So was die kaggel in konstante gebruik en het dit ‘n
gesellige vertrek geword waar kuiergaste gereeld onthaal was.
“Waarmee kan ek help?” vra die Tannie nadat hulle plaas
geneem het en koffie bestel is by die huishulp.
Sonder seremonie haal Swannie die verkreukelde foto uit en
gee dit vir haar terwyl hy haar noukeurig dophou; haar reaksie spreek boekdele
en hy weet hier kom ‘n storie, een wat die dorpie tot in sy fondamente gaan
skud. Daar is geen manier dat dit stil gehou kan word nie.
Marthie trek haar asem in, diep geskok en wasbleek knyp sy haar
oë toe. Sy het nie gedink sy sal ooit weer die foto sien nie. Hoe? Waar? Is
maar net van die vrae wat deur haar storm. Niemand het geweet nie, daarvoor het
sy seker gemaak. Haar keel word kurk droog en haar hande bewe so erg dat sy die
foto laat val. Dit fladder tot onder op die Persiese mat – ‘n trougeskenk van
haar ouers destyds. Toe het sy geglo in ware liefde totdat sy gekonfronteer was
met dié foto. Die Kind. Die eenjarige kind staar terug na haar vanuit ‘n verblykte
foto, vergeel van ouderdom. Daar sit sy in haar kantrokkie, haar vuisies saam
gebondel in haar skoot terwyl sy ‘n skalkse glimlag gee vir die fotograaf. ‘n
Mooi kind - sy moet nou in haar laat vyftigs wees. Van die oomblik wat sy bewus
geword het van haar bestaan was sy soos ‘n spook in haar huwelik. Altyd, in
elke hoekie en gleufie, haar asem ‘n koue rilling wat sy wou wegbrand met die
warm kaggel op koue wintersdae. Hulle het geen kinders nie. Sy was altyd skeef aangekyk,
met siestog-oë en sy kon die vernedering nooit gewoond raak nie ongeag die pogings
om dit te ignoreer. Die kind ‘n verdere bewys van haar mislukte baarmoeder wat
arm gebly het.
Toe die vrou gister op haar stoep verskyn het - haar verkreukelde
bloes die nasleep van ‘n lang pad kon haar min skeel. Hoe durf sy so
onbedaagsaam wees om ongenooid hier in te wals wou sy verergd weet maar Arrie se
blydskap was duidelik sigbaar op sy verrimpelde gesig en hy het haar eenkant
toe geskuif – in haar eie huis.
Die vrou het ingekom, daar gesit waar die konstabel nou sit
en ongeerg haar storie vertel so asof sy wat Marthie is belanggestel het. Sy
wou haar wegvee en vir ewig toesluit maar Arrie het anders besluit. Arrie, die
stil en teruggetrokke predikant van die kontrei, gerespekteerd en geliefd
tussen sy mense. Maar niemand het geweet van sy dwalende oog nie.
Sy was in hulle lewe vir 6 maande, het hier in die pastorie
gebly omdat sy geen ander heenkome gehad het nie. En stelselmatig het sy haar in
Arrie se hart ingewurm en hom na haar bed gelok. Soos ‘n lam het hy hom laat
lei deur die addergeslag. Sy kon hom dit nooit vergewe nie. Toe trek sy en
Marthie het geglo dit was die einde totdat die foto daar opgedaag het, in ‘n
koevert met ‘n kort briefie ter verduideliking. Arrie het daardie vervloekte
foto saam met hom gedra – elke dag.
Die resultaat van sy dwaling het gister voor haar gesit en
gesels asof dit die mees alledaagse ding was om te doen en Arrie-haar rustige
en bedeesde man- het geblom. Sy het daardie vrou gehaat soos wat sy haar ma
gehaat het. Toe die vrou daar weg is, met ‘n stywe druk van haar Pa en ‘n
belofte dat hy sal kom kuier het Marthie rooi gesien. Stilweg het sy kamer toe
gestap terwyl hulle nog gesels het, haar gesig gepoeier en toe kombuis toe
geloop om met aandete te begin. Daar het sy lank na die messe gestaar, netjies
in ‘n houtblok – een van die geskenke van die Vroue-unie vir onbaatsugtige werk
gelewer in haar tyd as Pastorie-moeder.
In die agtergrond kon sy hoor hoe Arrie die voordeur
toegemaak en na die badkamer gestap het. ‘n Swanger stilte het in die huis
gehang en soos bittergal het sy haar speeksel terug gesluk. Die verraad dik in
haar binneste. Toe Arrie in die deur verskyn, met die glimlag nog steeds om sy lippe
het sy ‘n mes uitgehaal, en styf vasgeklem in haar regtervuis, na hom gestap. Doelgerig
en sonder emosie.
Verdwaas het hy na haar gestaar tot sy by hom was en toe die
lem gewaar wat stadig in sy maag weg gesink het. Gefassineerd het sy na die
rooikol wat op sy wit hemp gevorm het, gekyk en geglimlag – die eerste in ‘n
baie lang tyd. Hy het nie eers probeer om terug te baklei nie. Weer en weer het
die lem in hom weggesink totdat hy op die mat inmekaar gesak het. Gou was die
mat deurdrenk van sy bloed en toe sy die foto op die mat sien – ‘n skulderkenning
van sy ontrouheid ─ het sy dit opgefrommeld onder die buffet ingegooi en
badkamer toe geloop. Sy wou die hoofstuk afwas en vergeet maar nou was die
Kaptein voor haar.
Sy deurdringende bruin oë boor in haar wese, soekend vir die
antwoorde.
“Wie is dit?” vra sy, haar stem bedaard - ongeerg.
Kaptein Swanepoel het vorentoe geleun en sonder aarseling gesê:
“Tannie kan my gerus vertel wie sy is, ek het ‘n gevoel tannie ken haar.”
“Nee, ek ken haar nie.”
“Tannie, wie is die baba?”
“Jy weet ek het nie kinders nie so ek weet nie.”
Vir ‘n lang tyd het hy na haar gekyk, die ou klok die
enigste teken van lewe in die stil huis. “My ma het altyd vertel van die jong
vrou wat hier gekuier het, die een wat ‘n laggie in ou-dominee se stroewe
mondering gegee het. Baie mense het gewonder daaroor maar was nie braaf genoeg
om te vra nie. Gister daag hier skielik ‘n vrou op wat baie na Ou Dominee lyk,
dit is sy, in die foto?”
“Jy het klaar besluit wat is reg, Kaptein, as jy my sal
verskoon – ek verwag kuiermense vir aandete en moet klaarmaak.”
Verergd staan Swannie op en verklaar in ‘n growwe stem: “Marthie
Koornhof, jy is onder arres vir die moord op Armand Lukas Koornhof.”
“Nee.” Probeer sy keer maar word in die rede geval. “Ek het
my huiswerk gedoen. Die foto is die bewys wat ek gesoek het. Ek het Tannie die
heeltyd verdink maar nou weet ek sonder twyfel jy het Oom Arrie vermoor. Jy kon
hom nooit vergewe vir die misstap nie. Die vrou, Karen Koornhof Grobbelaar was
by my gisteroggend, voor haar besoek aan die pastorie, en ons het lank gesels.
Na ‘n lang soektog het sy haar pa hier gekry maar jou selfsug het veroorsaak
dat sy hom nooit sal ken nie.”
Marthie luister in doodse stilte na hom maar vermy sy oë. Niemand sal verstaan nie.
“Jy is ‘n verbitterede ou vrou wat hulle nie gelukkig wou
sien nie en toe besluit jy om ‘n einde te maak aan hom. Jou selfsug en afguns beroof
Karen die geluk waarna sy so lank gehunker het. My ma was reg oor jou.” Hy stop
die stortvloed en staar na die vrou wat plotesling soos ‘n vreemdeling voel, voor
hy na die konstabel draai en met ‘n moeë stem die opdrag gee: “Neem haar weg,
konstabel.”
Op die vensterbank sit die uil grootoog en staar na die
Kaptein, toe hulle oë ontmoet knip hy sy oog voor hy wegvlieg en Kaptein
Swanepoel ontspan.
@Lynelle Clark 2017