Hart’s kiekies
deur
Lynelle Clark
Kliek – en nog ‘n terug
flits so duidelik soos die vorige.
Kliek – wens jy was
hier.
Kliek – vergeet van
hom. Hy het.
Kliek - Soos kortstondige
flitse spoed ons verhouding voor my verby.
Elke keer dat dat ek my
ooglede knip, is daar nog ʼn herinnering; nog ʼn grepie van ons saamwees kristal
helder in my gedagtes. Hoekom het ons nooit foto’s van ons geneem nie? Daar is
niks tasbaar van ons kortstondige verhouding nie, maar tog speel die tonele gedurigdeur
in my geestesoog af dat ek nie anders kan as om in afwagting my oë oop te maak met
die hoop om jou daar te kry nie.
Jou peinsende oë
priemend op my ingestel; jou glimlag wat my knieë lam gemaak het en my hart
gesmelt het; gevolg deur die ondeunde laggie wanneer jy in ʼn stoute bui was.
Die manier wat jy sou
vra: “Is dit nog nie tyd vir ʼn bier nie?”
Die tye wanneer jy
staaltjies van jou lewe vertel het en ek net kon luister; vasgevang in die
oomblik van jou nostalgie.
Nooit was daardie
oomblikke op film vasgelê nie, maar dit is vasgenael in my geheue, so werklik
dat dit voel ek kan my hande uitstoot en jy is daar – voor my.
Hoe harder ek probeer
om te vergeet, hoe meer spring jy op in my gedagtegang; jy bly deel van my lewe
– soms so ongevraagd. Soms raak ek so moeg vir dit. Vir die onthou. Dit mergel
my uit. LOS MY UIT!
So verloop meeste van
my dae – in tweestryd gewikkel tussen verlange, onthou en herlewing.
Ek het nie foto’s nodig
nie; die realiteit van ons saamwees leef nog helder binne my – selfs nou jare
later.
Waar ek ook al gaan - hy
is daar. Onbewustelik is ek altyd op die uitkyk en hou ek ‘n deur dop met die
verwagting dat ek hom nou gaan sien.
Die teleurstelling
wanneer hy nie opdaag nie, is soms so oorweldigend dat dit voel of my hart opnuut
weer uit my borskas geruk word.
Die absolute alleenheid
wanneer ek na my foon kyk en daar geen boodskap van hom is nie; die stille bewys
dat ons nie meer is nie.
Daardie stille leegheid
wat niks of niemand kan vul nie.
“Is als reg met jou?”
Henriette kyk na my met groot vraagtekens in haar helder blou kykers en
outomaties knik ek my kop en gee haar ʼn skalkse glimlag.
“Jy is al die heel dag
besig met jou eie gedagtes, als reg met die kinders?
“Ja wat, net besig soos
altyd.” Beantwoord ek haar starende oë en plaas die afgedroogde bak terug op sy
plek in die kas.
“Enige nuus oor jou
vakansie?”
“Ja, ek het my kaartjie
vanoggend gekry. Ek vlieg môre.”
“Hoe laat?”
“Vroeg, moet ses uur op
die lughawe wees.”
“Dit is goed, ek sal
jou aflaai.”
“Dit is nie nodig nie,
Hettie. Die lugredery het gereël vir vervoer.”
Vir ʼn paar oomblikke
rek daar ʼn gemaklike stilte tussen die twee vriendinne terwyl hulle die
eentonige werk van kombuis skoonmaak outomaties afhandel. Wanneer hulle klaar
is, dryf die soel lug van die aand hulle na buite. Met met ʼn waarderende sug
gaan sit elkeen in hul geliefkoosde stoel en staar in die donker dieptes in. Kondensering
vorm teen elkeen se glas en maak ʼn water ring; so nou en dan word die stilte
verbreek deur die plasing van ʼn glas op die glasblad; elkeen verdiep in haar
eie gedagtes.
Hettie en Meisie bly al
vier jaar saam. Hulle het die eerste dag dat Meisie begin werk het by Jansen Prokureurs
ontmoet. Die onderhoud is gevoer deur Dr. Jansen snr, Hettie se pa. Meisie is aangestel
as assistent vir Prokureur Henriette Jansen of Hettie soos haar vriende haar
ken. Hul vriendskap het vinnig geblom en hulle het mekaar in soveel aspekte
aangevul.
ʼn Gemaklike samesyn het
praat dikwels oorbodig gemaak en Hettie het Meisie vinnig touwysgemaak oor die
wel en weë van die klein dorpie aan die Weskus. Meisie het oorspronklik van die
Wes Rand afgekom, en na haar egskeiding haar weg op haar eie aangedurf.
Hettie was twee maal
getroud, albei kere so traumaties dat sy nooit daaroor praat nie en Meisie het
dit so aanvaar. Albei het kinders: groot volwasse mense met hul eie lewens en hulle
sien of hoor maar min van hulle. Hettie het Meisie genooi om by haar huis in te
trek: in ‘n suite van haar eie – kompleet met private kombuis en sitkamer - om
die huis te vul soos wat sy dit gestel het.
Met tye kom al die kinders
kuier en word die huis ‘n regte tuiste waar die vriendelike gelag van mense-stemme
die stilte in die lang gange verbreek. Vroeër
is die huis gebruik vir menigte deftige onthale en die Jansens was bekend vir
hul gasvryheid, maar na Mev. Jansen se afsterwe het Dr. Jansen onttrek van die
samelewing en homself afgesonder in ‘n gastehuis op die landgoed nie ver van
die hoofhuis af nie. Elke Sondag middag is hy daar vir die middagmaal, netjies
uitgevat in ‘n driestuk pak en strikdas net om weer stilweg te verdwyn na sy
eie plek.
Meisie en Hettie is twee
eensame vrouens wat geleer het om saam te werk, saam onder een dak te woon en pak
allerlei projekte gesamentlik aan; van stokperdjies tot dien op verskeie rade
in die omgewing. Dit is selde wat hulle nie bymekaar is nie en die kontrei se
mense het dit so aanvaar.
Dié jaar het Meisie
besluit om vir vriende en familie te gaan kuier in Gauteng – nadat sy ‘n
uitnodiging vir ‘n troue ontvang het en Hettie sal alleen agterbly – die eerste
keer wat Meisie teruggaan.
Met ‘n sug staan Meisie
op, haar glas alreeds in haar hand toe Hettie haar stop.
“Is als reg Meisie?”
“Ja, ek is net moeg
vanaand.”
“Lekker slaap
vriendin.”
“Jy ook, Het.”
“Sien jou more oggend.”
“Moenie moeite doen
nie, ek sal iets op die lughawe kry.”
“Ek sal in elk geval
jou wakker maak met ‘n koppie tee.”
“Dit is regtig nie
nodig nie.” En Meisie skuifel weg so asof daar iets swaars op haar rus. Hettie
staar haar vriendin agterna. Sy is bewus van die verlange wat so diep in Meisie
se hart weggebêre is. Hoekom dit juis nou weer sy kop moet uitsteek weet sy
nie; sy het geleer om nie vrae te vra nie, want Meisie praat nie daaroor nie.
Net eenmaal het sy haar sluier gesak – in ‘n aand van te veel wyn drink, het sy
haar hart oopgemaak en Hettie kon net luister na haar vriendin se hartseer –
haar rede vir vlug van die Wes Rand af. ‘n Kortstondige liefdes verhouding wat
haar met baie vrae agter gelaat het.
Daardie verlange wat
haar vriendin weer kruppel maak vanaand en Hettie weet dat Meisie min gaan
slaap.
~~~
“Het jy alles?”
“Ek glo so, as ek iets
vergeet het sal ek dit maar kry by die menigte Malls aan die Rand.”
“Goed dan. Geniet jou
vakansie, en groete aan almal.”
“Maak so. Kyk mooi na
jouself en onthou om jou pille te drink.”
“Ja, Ja. Gaan nou.
Hulle roep alweer.”
Met stywe drukkies neem
die twee vriendinne afskeid en Hettie wag totdat Meisie by die hekke instap
voor sy ook haar weg baan deur die vroeë oggend skare.
Meisie gespe haarself
in die stoel, vandag het sy ‘n sitplek gekry langs die gang en sy weet sommer
dit gaan ‘n lang vlug wees soos mense en trollies by haar gaan verby beweeg in
hul haas. In plaas daarvan dat dit haar omkrap, maak sy haar oë toe en raak weg
in ‘n sluimerende wêreld van verlange en drome na ‘n gister wat nooit sal wees
nie.
****
“Hoe gaan dit met
almal?”
“Baie goed – die
kinders stuur groete. Die kleintjies word nou woelig. Ek raak skoon moeg net om
na hulle te kyk.” Meisie se gesig straal soos altyd wanneer sy van haar kinders
praat.
“Chrissie-hulle se huis
is uiteindelik klaar en dit lyk werklik pragtig met al die nuwe verbouings.”
“Dit moet seker nou ‘n
reuse huis wees?” vra Hettie nuuskierig en lus vir gesels na die twee weke van
alleen wees.
“Praat jy vrou. Maar
dan is dit verstane met al die kinders en ... jy sal nie glo nie maar Chrissie
is weer swanger.” En Meisie gee ‘n skalkse laggie as Hettie se oë rek.
“Alweer?” En Hettie
klap haar hande saam van stomme verbasing. “Pieter kon nog nooit sy hande van
haar af hou nie, sy is ‘n pragtige mens binne en buite.” Verduidelik Meisie onnodiglik. Hettie het die
man al gesien, skoon simpel oor sy vrou.
“Hoeveelste een is dit
dan?”
Vir ‘n oomblik bly
Meisie stil terwyl sy ‘n silwerraam op die boekrak neersit, peinsend staar sy daarna
en beantwoord ingedagte: “Vyfde kindjie.”
“Goeie genugtig.” En Hettie
zoom in op die foto maar Meisie skuif die foto so dat sy nie kan sien nie.
“ Maar weet jy hulle is
gelukkig en geseënd, en ek gun dit vir hulle.” Meisie draai om en pak haar tas
verder uit diep in haar eie gedagtes.
Hettie hou haar
vriendin dop vanwaar sy stelling ingeneem het op die rusbank wat ‘n uitsig het
oor die private sitkamer en ‘n gedeelte van die tuin. Die oop patiodeur laat ‘n
koel windjie inwaai en so nou en dan bol die gordyne. Die sonstrale laat strepe
oral oor die mat en die plek lyk vrolik met die vars blomme wat sy nog daardie
môre in haar vriendin se suite geplaas het.
Nog ‘n fotoraam verskyn
van uit die dieptes en word versigtig neergesit op ‘n ronde tafeltjie nie ver
van waar Hettie sit nie en vir ‘n paar oomblikke staan Meisie stil voor die
raam terwyl ‘n vinger oor die glas getrek word. Hettie kon sweer sy sien ‘n
traan, maar kon haar ook verbeel het toe Meisie wegdraai en doenig raak in die
slaapkamer. Kasdeure word oop en toe gemaak. Laaie word toegestoot en ‘n anderse
stilte heers in die stel kamers. Hettie wonder hoe dit regtig gegaan het.
Meisie is stil. Te
stil.
Hettie loop stadig na
die deur toe en staan teen die deurkosyn en kyk hoe Meisie rondskarrel om alles
weer georden te kry. Nog twee fotorame het plek gekry op haar spieëlkas.
Laggende gesiggies straal vanuit die rame en instinktief weet Hettie dit is die
kleinkinders.
“Hoe was jou twee
weke?” verbreek Meisie die stilte sonder om regtig op te kyk van die uitpakkery.
“Goed. Mnr Joubert het
uiteindelik geskik en ons kon voortgaan met die registrasie van die eiendom.”
“Ag dankie tog. Ek het
gedink ons gaan nooit daardie man tevrede stel nie.” Meisie glimlag tevrede –
bly dat die moeilike man uiteindelik uit hulle lewe is.
“Blykbaar het dit iets
te doen met wat jy gesê het die laaste keer wat hy daar was.”
“Regtig? Wat?”
“Hy het nie gesê nie,
maar die skikking is aanvaar.”
“Dan is dit goed.”
“Mnr. Joubert het al
tweemaal gebel en gevra na jou.”
“Hoekom?”
“Hy het nie verduidelik
nie, jy weet mos. Die man praat net die nodigste.”
‘n Laaste tas word op
die bankie voor die bed neergesit en oopgemaak. Toegedraaide geskenke word
uitgehaal en sy stap na Hettie toe.
“Die kinders het dit
vir jou gestuur,” Vier mooi versierde pakkies word in haar hande gesit.
“Maar hoekom – dit is
nie my verjaarsdag nie?”
“Hulle het gevoel om
vir jou iets te koop, daar is iets van die kleinkinders ook.”
“Ek sal hulle ‘n
luitjie gee om dankie te sê.”
Nog ‘n fotoraam
verskyn, dié een is groter as die voriges en die figure duidelik uitgebeeld in
die outydse silwerraam. Die bruid en bruidegom staan glimlaggend langs mekaar
in ‘n hul trougewaad. Formeel en deftig staan die man daar, elke haar op sy
plek; sy baard netjies getrim, das bietjie skeef. Langs hom staan Meisie ewe
deftig in haar lig groen rokkie wat hulle nog saam uitgekies het. Meisie lyk
vrolik en jeugdig langs die egpaar; die bruidegom se arm rustig om haar skouers
– soos ou vriende.
Sy ken nie die
blondekop vrou aan sy regtersy persoonlik nie en Meisie self het net eenmaal
haar naam genoem, Alida Breytenbach, weduwee wat nou weer gelukkig lyk in die
nuwe man se arms; sy straal in haar wit pakkie en glimmende hare terwyl sy
opkyk na haar bruidegom – wie vir daardie vlietende oomblik na Meisie kyk.
Meisie stap weg van die
tafeltjie en hang die einste rok in die hangkas en Hettie kon nie anders as om
die foto raam op te tel en te bestudeer nie. Dit vertel meer as wat Meisie sê
en sy moes haar oë ‘n paar keer knip om dan te onthou - die man wat sy nog net
eenmaal - ook op ‘n foto – gesien het.
“Gerrie Heyens, jou bliksem.”
@Lynelle Clark 2016