Hoeveel keer moes jy al uitklim om ‘n hek oop te maak?
In ons daaglikse lewe het ons gemaklik geword. Ons druk net
‘n knoppie en die hek maak vanself oop. Die nuwerwetse hekke is so swaar dat jy nie
eers sal droom om dit per hand te stoot nie. Om nie eers te noem dat dit so toe
is dat jy nie kan sien wat aan die anderkant is nie. Dit skei ons geheel en al
van die lewe daar buite/ binne. Onsigbare wesens wat geruisloos deur ry sonder
‘n gedagte van die wêreld om ons. Indien jy op pad uit is, is jy binne minute
deel van die besige lewe en voel ons moeg en afgemat nog voor die dag behoorlik
begin het. Selfs die oopskuif in die middag bring net jou verantwoordelikhede
nog meer onder die vergrootglas. Alhoewel by die huis is die verpligtinge van
‘n gesin die grootste druk op enige mens en soek jy die ontvlugting van ‘n oop
pad sonder dat jy dit besef. Die kontrole knoppie het ons afgestomp gemaak met
geen verwagting vir die nuwe nie.
Alhoewel dit ons lewe vergemaklik, het dit
nie dieselfde bekoring as ‘n plaashek nie.
Ons platteland is besaai met die tipe hekke. Dit is laag
genoeg dat jy sommer daaroor kan spring met net ‘n paar drade om die diere uit
te hou. Verder het jy ‘n duidelike beeld van wat te wagte is voor jou. Dit maak
‘n vryheid oop wat in ons alledaagse bestaan vergete geraak het. Dit vat ons as
te ware weer terug na ons wortels, ons word gevul met vrede en ‘n besitreg en
jy haal opnuut asem. ‘n Unieke vryheid.
Die natuur het ‘n manier om ‘n mens te anker, weer
perspektief te gee. Vars lug in jou longe. Nuwe lewe sigbaar oor die veld. Diere
wat kommerloos rond dwaal en herkou. Die geheel beeld wat ‘n verrykkende
invloed op jou het.
Met ons afgelope vakansie in die Oos-Kaap moes ek verskeie
kere uitspring om ‘n hek oop en toe te maak. Dit is heel anders as ‘n
gemotoriseerde hek, nie waar nie? Daar is amper ‘n afwagting in daardie
oopmaak. Die lug en lig is skoner, helder so sonder enige wasige rook of afval
of op hoede wees vir kwaaddoeners. Dit is die opening tot ‘n ander wêreld en
met hernude krag stap ons dit tegemoet. Die kronkelpad, afwagtend om jou te vat
na sy geheime plekke lê uitgestrek voor jou oppad iewers heen.
Die eindbestemming wink in die verte en opgewondenheid bruis
deur jou are. Soms is hierdie paaie in
skadu’s gehul, geheimsinnig asof dit nie sy geheim met jou wil deel nie. Ander
kere glinster dit helder voor jou uit maar gee geen aanduiding van sy
eindbestemming nie – geheimsinnig, winkend, al kronkelende verdwyn dit oor die
volgende kop of rant. Op een stadium was ons bo op die Baviaansberge en moes ek
weer uitspring om ‘n hek of twee oop te maak en die verlatenheid was sprekend,
tasbaar maar tog gevul met ‘n eiesoortige heimweë. Miskien na ‘n wêreld van
weleer of miskien sommer net na die stiltes van die natuur.
Is ek die enigste een wat dit so ervaar?
‘n Mens kan dit selfs ‘n stap verder vat. Behalwe vir die
fisiese is daar ‘n figuurlike betekenis tot die oopmaak. Die oopmaak van
jouself veroorsaak dat jy beter sien. Dit bring nuwe lewe asook ‘n verwagting
vir die onbekende. Wanneer ons daardie hek oopmaak gebeur daar iets in ons en
nuwe lewe bruis deur ons. Dit is dan wanneer ons weer gefokus raak en opnuut
ons talente raaksien, onsself leer ken en sommer net weer mens word. ‘n Mens
met ‘n doel.
Vanuit my pen groete
Lynelle