Woensdag 16 Januarie 2019

Diamant Divas - Brandstof vir die siel.


Wat bou jou op, laat jou voortbeweeg. Wat maak jou opgewonde?

Ek spring sommer weg met ‘n paar moeilike vrae. Vir sommiges mag dit dalk maklik wees maar vir die meeste luisteraars is dit vrae wat hulle mee sukkel, selfs tot diep in hul veertigs of vyftigs.

Veral nou dat jy op ‘n nuwe pad is kom hierdie vrae weer skerp onder die soeklig en wonder jy wat is jou doel. Waarom is jy hier?

Vroeër of later word ons almal met dit gekronfronteer. Sommiges kan kies om werklik antwoorde te gaan soek soos die jongman, Tal Gur van Israel. Ek het al ‘n paar keer uit sy boek, The art of living voorgelees. Hy het letterlik vir homself doelwitte gestel wat hy dan na ‘n sekere tyd bereik het. Vandag is die man ‘n motiveringspreker wat duisende mense inspireer deur dit wat hy geleer het. Ek het al van Sunitkia gepraat wat vanuit haar ellende opgestaan het en daadwerklik ‘n verskil gemaak in haar gemeenskap. Die lys is eindeloos.

Ek is seker julle het ook al sulke stories gehoor wat julle heel moontlik geinspireer het, maar julle weet nie waar om te begin nie. Ek self was deur Janine Shapiro se man in ‘n hoek gesit toe hy die vraag, wanneer laas het jy gedroom, aan my gestel het. Dit is waar ek geleer het van droomborde.

Ek was bewus daarvan dat ‘n mens verskillende visuliaserings borde kry, veral kuns studente moet dit gereeld maak. Maar ‘n droombord, nee, ek was totaal onkundig daaroor. Toe volg ek hul raad en kort voor lank het die bord op my rekenaarskerm vorm aangeneem.


Ek leer makliker deur visualiseering en, indien julle my praatjies volg sal julle weet ek het al ‘n paar maal gepraat van Droomborde of Vision bords en hoe dit my gehelp het in my pad van genesing.

Wanneer jy iets fisies voor jou sien, reageer jy makliker en vinniger daarop. Wanneer jy ‘n beroep sien wat jy graag sal wil betree dan plak jy dit op hierdie bord. Of in woorde bv, prokureur, of ‘n fisiese prentjie van ‘n dame wat in die hof staan… Hopelik aan die regte kant van die gereg.

My onafhanklikheid was ongelooflik belangrik, en dan ook stabiliteit. So die eerste prentjies wat op my bord verskyn het was werk, ‘n woonplek en motor. Omdat ek ondervinding het as administratiewe dame het ek ‘n kantoorjuffrou wat by haar lessenaar sit en werk op haar rekenaar op my bord gesit. Ek het my self gesien agter daardie tafel sit en werk. Toe het ‘n mooi foto van ‘n mooi woonstel, met ‘n tuin gevolg. Nie ‘n groot plek nie. Net cosy genoeg vir my. Toe ‘n kar. ‘n Praktiese een en dan een van ‘n bloedrooi Mustang. Die is natuurlik nog ‘n droom maar ai my hart trek darem ‘n punt as een verby my ry.

Stelselmatig het nog meer dinge op die bord verskyn. Meubels, kruideniersware, klere, kombuisware, mooi kunswerke, ‘n vakansie of twee. Nog gepubliseerde boeke. Selfs drome wat ek nog nooit verwoord het nie het begin verskyn op die bord en ek het myself begin inleef daarin. Dit was my anker, my aansporing en my fokus. Dit het my brandstof vir my siel geword wat my daagliks gevoed het om hoër te klim. Om nie vas te hou aan die leuens wat aan my vertel is al die jare nie. Ek het begin uitstyg bo my eie tekortkome en deure het begin oop gaan.

“What does a knock-the-ball-out-of-the-park life look like to you? What is the career that seems so incredible you think it’s almost criminal to have it? What is the dream you don’t allow yourself to even consider because it seems too unrealistic, frivolous, or insane? Start envisioning it. That’s the beginning of having it.” Tara Mohr

Daar is tye op hierdie pad wat jy baie moedverlore gaan voel, selfs raadop. Daar gaan tye wees wat jy wonder of dinge ooit weer reg sal kom maar, indien jy nie jou self motiveer en inent met die nodige brandstof nie gaan jy letterlik op moedverloor se vlakte sit. Jou lewe gaan een lang uitgerekte lewe word en soos ‘n marmot gaan jy die wiel laat tol sonder enige einddoel.

Dit is nodig dat jy in hierdie tyd gefokus raak. Die daaglikse worstelinge kan jou so maklik aftrek na die bodem toe en jou daar hou dat jy dood van binne sal voel.

Maar wanneer jy gefokus raak word die worstelinge draagliker, meer beheerbaar. Jy sien elke struikelblok as ‘n groei proses, ‘n inspuiting as te ware van nuwe lewe. Wanneer jy gefokus raak droom jy. Drome word realiteit en jy begin om met nuwe oe na die wêreld te kyk. Dit is dan wat jy ‘n gaping byvoorbeeld sien en jy stap in en doen iets daarmee.

Geleenthede kom nie as jy op Faceboek kerm en kla en vir vreemde mans geld vra nie. Ek is jammer as ek op ‘n paar tone trap maar ek sien dit soveel kere, vroue wat bedel, oop en bloot. Mensie, dit is onaanvaarbare gedrag. Dit maak jou meer seer as goed. Jy is nie ‘n bedelaar nie. ‘n Ander persoon man of vrou is nie jou oplossings nie. Nee, geleenthede kom wanneer jy jouself anders instel, verby die onmiddelike kyk en fokus.

Jou siel moet gevoed word met ‘n konstante inspuiting van nuwe lewe. Boeke is ‘n groot teenvoeter van die dag tot dag probleme. Dit gee jou die kennis wat jy nodig het en help jou om te vergeet van die te korte en verder te kyk. Soms tel jy goeie idees daarin op en jy wonder hoe jy dit kan laat werk vir jou.

Die Bybel is natuurlik ook ‘n groot bron van inspirasie wat jou siel voed.  Die beste brandstof wat jou heel maak in elke area. Dit is goed om by ‘n woordgefundeerde sel of kerkgroep aan te sluit wat jou fokus weg van jou probleme sal vat en jou laat fokus op die woord.

Indien jy in die posisie is om ‘n lappie aarde te hê, is dit net so ‘n goeie plek om nuut te word. Die natuur se rustigheid maak jou kop skoon, verwyder die muisneste en spinnerakke.

Probleme is daar om ons te leer hoe die lewe werk. Dit leer ons wat is nuttig en vorm ons lewe maar is nie gemaak om daarby stil te staan nie. Dit is net ‘n stadium in ons lewe wat ook verby sal gaan. Dit definieer ons nie. Onthou probleme is ook tydelik en dit sal oorgaan, soos enige storm.

Kom ons stop en dink bietjie oor die volgende vrae:
    ·         Hoe lyk jou knock-the-ball-out-of-the-park lewe?
·         Wat is die beroep wat jy graag sal wil beoefen?
·         Wat is jou droom, die een wat jy jouself nie toelaat om te droom nie, wat selfs onrealisties lyk? The impossible dream.
 Huiswerk vir die week:
Hoe het dit verlede week gegaan, kon jy dit regkry om getrou te bly aan jou woordkeuse vir elke dag? Ek hoop so.
Vir die week wat voorle wil ek hê jy moet die antwoorde op die vrae gaan oordink en daaroor mediteer. Maak doelbewus tyd daarvoor. Sit elke negatiewe gedagte eenkant oor hoe jy dit nie gaan maak nie en vervang dit met die vraag hoe gaan ek dit doen? Daardie antwoorde sit jy om in prentjies en skep jou eie droombord.
 
Picture from Google

Vir ‘n oomblik wil ek stilstaan by die pyn van ‘n gebroke hart.

 As enkellopende bevind die meeste mense hulle vroeër of later hier. Selfs mans ervaar dit. Afgesien van al die probleme wat jy ondervind is jou hart seker die een orgaan wat die meeste ly. Die meeste van die tyd in stilte. Soms is dit ‘n fisiese pyn en geen pynpil help daarvoor nie. Drank mag dalk dit verdof maar dit is stil, kloppend net onder die oppervlak.

Hierdie seer kan jou laat reageer op verskillende maniere. Woede, trane, verwerping, irrasionele uitbarstings, selfs onttrekking. Alhoewel dit op die oomblik voel dat jy nooit weer heel gaan word nie – is daar tog goeie nuus.

Jy sien wanneer jy jou fokus skuif en fokus op die dinge wat jy kan verander dan word dit minder, en verdwyn. Tyd is jou enigste bondgenoot hierin. Niks gaan dit gesond maak soos tyd nie. 

‘n Gebroke verhouding is die bron van baie negatiewe gedagtes. Dit is dan maklik om op FB groepe te gaan waar jy negatiewe dinge sê of verklaar dat jy mans haat. En jy sal jou volgelinge kry.  Baie van hierdie vrouens is bitsig en verdra nie dat jy hulle vertel om hul houding te verander nie; kort voor lank kan jy saam praat. Aangevuur deur hul haat. Dit is die soort brandstof wat jy moet vermy. Hulle verbitterdheid gaan jou net sus en jy gaan glo dit moet so wees en jy deel nie met die pyn nie. Dit is nog daar, net verbloem en jy stel die onvermydelikke uit.

Dit is absoluut fataal om toe te laat dat jou emosies jou in hierdie tyd beheer. Jy stel jouself op om nog verder seer te kry. In hierdie tyd is dit beter om eerder deur die emosies te werk. Praat met iemand hieroor, praat met die Vader daaroor, deel met elke seer en elke gedagte wat dit prikkel. Skryf dit neer en verbrand die papier. Hoe ookal jy besluit om met dit te deel, deel daarmee.

Jy wil nie verander in ‘n verbitterde vrou nie. Nee, jy wil skitter. Jy wil blom. Jy wil lewe.
Daarom gee jouself die tyd.

Ek lees graag ‘n gedig voor van Jacques van Zyl.

Dis nie my plek nie
Die wêreld is nie my plek nie
Dis waar ek vertrek
Ek gaan maar net hier verby
Sal nie lank hier bly nie

Ek sien

Soveel somber mense
Sonder mooi wense
Hulle swoeg en hulle sweet
Word gou vergeet

Ja dit alles

Is ‘n gejaag na wind
Wat jou verblind jou bind
Aan dinge doelloos
Aan dinge soms boos

Ek verkies

Om nie hier vas te haak
Geklee of naak
My oë vestig op ‘n reis
Jesus het klaar betaal vir ‘n prys

©Jacques van Zyl 2019

Wat sê Isak:

Die afgelope paar weke worstel ek in myself omdat soos my geaardheid is, ek die wêreld graag self sou verander in plaas daarvan dat ek geduldig moet wees sodat elkeen om my net kan opvang. In ligte luim kan ek vertel dat die huis waar ek groot geword in Patiencestraat was, maar helaas ek het dit nie gesnap nie en is steeds redelik ongeduldig. Darem nie sodat ek aan padwoede toegee nie.

Ek het so paar programme op Kruiskyk oor ‘Breinkrag.’ gevolg. Dit is baie duidelik dat ons brein en denke ‘n enorme invloed het, nie net op ons self nie, maar ook die omgewing om ons en selfs die Heelal. Dit is egter ‘n veel groter onderwerp as om hier te bespreek. Jou brein is soos ‘n magneet en trek aan wat jy dink. Negatief na negatief en positief na positief. Dit is so geskep en so sal dit werk.

Ek sal kortliks ‘n paar aspekte noem:

Die Woord sê: “As a man thinketh in his heart, so is he!” My oorlede ma was verslaaf aan nuus. Dit was internasionale nuus, plaaslike nuus, streeknuus, kontreinuus, koerante, tydskrifte, sterre voorspel, you name it en sy het angsbevange geraak as sy iets gemis het. Nodeloos om te sê maar sy was omtrent ‘n wrak.

Onthou dat ons oë die vensters van ons siele is. Wat jy kyk, sien en lees rig jou gedagtes. Dis belangrik om te let daarop dat gedagtes word woorde, en woorde wek dade.

Die punt wat ek wil maak is dus dat as ons iets volg in die media, dan oordink ons dit en dan tree ons volgens ons verwysingsraamwerk op. As dit positief was affekteer dit ons liggaam, ons onmiddelike omgewing en uiteindelik die heelal, positief. Netso kring negatiewe goed ook uit tot daar ver en terug.

Hier is ‘n paar voorbeelde:

      ·       Ek het saam met Mnr De Beer gewerk. Hy was tweede senior in die stadsraad. Welaf. Hy het egter as ek hom sou groet en vra hoe dit gaan die ‘arm maar darem’ standaard geantwoord. Die gevolg was dat hy deurgaans sonder geld was en van die een benarde situasie na die ander gestruikelval het. Hy het arm in sy brein gestoor en dit aanhoudend bevestig deur sy mond..
·         Vanoggend in die apteek was daar ‘n dame wat baie warm en benoud gekry het. Sy het aanhoudend sweet afgevee. Opgekyk en genoem dat die lugreeling gehoor kan word maar dat dit nie afkoel nie. Skoonpa het verduidelik dat dit stukkend is en dat hulle besig is om dit reg te maak. Haar reaksie: “Alles in die land is stukkend.” Die arme dame het seker baie frustrsies want wat sy dink (en sê) sal en moet gebeur. Die Skrif sê: “What you say, is what you get.”

Ongelukkig is ons gedagtes en woorde soos ‘n klip uit ‘n kettie – dit kan nie terugkom of terug getrek word nie.

Nou hoe oorkom ons die penarie? Deur ons denke reg te programmer en dan reg te dink en reg te praat. Dis ‘n lang proses maar wanneer ons hard daaraan werk sal ons die resultate sien.


Sterkte julle, tot volgende week dan – onthou om awesome te wees.


ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
https://www.elanglobalradio.com
Lynelle Engelbrecht Clark: DIAMANT DIVAS. 
Die program vir die enkellopend waarin ons saam gesels oor al die slagysters, vrae, vrese en vreugdes van die enkel lopende.
WOENSDAG 9 JANUARIE 2019 at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Web: https://www.elanglobalradio.com/
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com/



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...