Woensdag 15 Augustus 2018

Vind jou voete te midde van die warboel. Staan 'n kans om die Gospel Skouspel by te woon. Volg net die maklike stappe.


Vandag se program handel oor metamorfose. 
Die proses waar jy van ‘n rou diamant in ‘n pragtige gepoleerde diamant gaan verander. Dit is tydens hierdie proses waar jy jou voete gaan vind en weer die lewe in die oë gaan kyk. Die goeie nuus is dat dit nie die einde is nie. Met Augustus wat vrouemaand as tema het, lees en hoor jy van baie vroue wat wel die siklus deurstaan het en heel anderkant uitgekom het. Dit beteken nie dat alles perfek is nie. Nee, allermins. Hulle het nog hul eie gevegte en struikblokke wat hulle moet oorkom. Maar hulle het wel hul voete gevind te midde van die warboel wat om hulle heers.

Dit is die hoofoogmerk van my programme: om jou op ‘n plek te kry waar jy ‘n gebalanseerde lewe kan lei al woed die golwe om jou. Nie een van ons word gevrywaar van probleme en worstelinge nie maar die manier wat ons dit hanteer is wat ons laat uitstyg bo die res. Elke vrou kan dit behaal mits sy glo in haarself en die basiese riglyne volg. Ek kan net praat vanuit my eie ondervindinge en daarom benadruk ek dat ek nie ‘n berader is nie. Ek gee net weer wat ek geleer het.  Daar is mense meer gekwalifiseerd om jou regtig te help indien jy professionele hulp nodig het. Kontak gerus jou naaste predikant vir advies.
Daarmee wil ek byvoeg, wanneer jy professionele hulp kry maak dit jou nie ‘n swakkeling nie. Dit gee jou die nodige selfvertroue en raad om jou voete te vind te midde van hierdie deurmekaar lewe. Dit maak jou sterker en jy skitter daar waar jy geplant is.
Die beginproses is pynlik, en jy gaan deur baie wroeginge maar as ek jou kan help om jou fokus van die onmiddelike af te haal en te fokus op dit wat jy kan verander dan het ek geslaag in my doel. Op die ou einde is ek die vroedvrou. Die een wat die sweet afvee, jou help met die kraampyne en asemhalingstegnieke leer en jou hand vashou. Jy is besig om geboorte te gee aan ‘n diamant en het hulp nodig. Nie een van ons kan alleen ‘n “baba” in die wêreld bring nie. Daar is dokters, verpleegsters en paramedici wat hierdie taak professioneel kan doen. In die lewe-gewende proses het ons vriende, lewensgidse, predikante en beraders wat ons ook kan help.
Maar niemand kan die pad vir jou loop nie, dit is iets wat jy alleen sal moet doen. Daar was soveel aanpassings wat jy moes maak dat jy soms wonder of jy dit ooit gaan maak. En jou worstelinge is nog nie verby nie. Finansiële probleme kan lank aanhou nadat ‘n skeisaak verby is. Sommige vroue is jare sonder werk en is afhanklik van mense en instansies net om brood op die tafel te sit. Maar solank jy jou kop kan lig, die wêreld in die oë kan kyk en met selfvertroue dit kan doen is jy al klaar ‘n skitterende diamant in eie reg.

Dit gaan nie help om weg te kruip nie. Jy moet die lewe vierkantig in die oë

kyk. Daardeur sê jy vir jou omstandighede, eintlik maak dit nie saak wat jy na my toe gooi nie, lewe, ek sal triomfeer! Dit is ‘n kop en hartsbesluit wat jou sal deur dra. Tydens my pad het ek baie keer gedink aan my voorsate. Vroue wat oor die berg getrek het saam met hul mans en die natuur moes trotseer, als vir ‘n nuwe lewe weg van die Engelse af. Met net ‘n ossewa as beskerming. Dan dink ek ook aan die vroue wat omgekom het in die konsentrasiekampe, sommige het oorleef en teruggekeer na ‘n afgebrande wêreld, met niks en weer ‘n bestaan gemaak. Sommige, soos Generaal De La Rey se vrou wat haar vyf kinders in die veld grootgemaak het, met geen dak oor hul koppe nie, het geleef van die veld. Wat ‘n merkwaardige vrou moes sy nie gewees het nie. Hoe op aarde het sy dit gedoen? Die Engelse kon haar net nie vang nie. Wat in ‘n vrou laat haar bokant haar omstandighede seëvier en oorleef, ongeag die tekortkominge? Ek het baie daaroor gewonder maar die besef dat as hierdie vroue dit kon maak dan kan ek ook, het my deur gedra. Dieselfde bloed wat in hul are gevloei het vloei ook in myne. Hulle was ‘n voorbeeld en ‘n stille krag waaraan ek vas gehou het. 
Baie van hierdie vroue het ook foute gemaak. Het mismoedig en verslae geword weens die lot wat aan hulle uitgemeet was. Hulle moes die dood van hul kinders en mans verwerk. Hulle het soveel hindernisse gehad om te oorkom, met geen idee hoe nie. En, hulle moes tog, anders was ons nie hier nie. Daar is so min van hulle stryd neergepen dat ek voel ons mis eintlik ‘n groot gedeelte van ons geskiedenis. Soveel klem word gelê op die veldslae en die generaals maar min is opgeskryf oor hierdie merkwaardige vroue. Tog is daar ‘n monument by die Voortrekkermonument opgerig ter ere van hul rol in die oorlog. Vroue moes agterbly en ‘n lewe bly maak. Hulle moes nog steeds kos op die tafel sit vir die vele honger mondjies, klere maak uit meelsakke vir die kinders net om ordentelik te lyk terwyl die mans die vyand getrotseer het.  Maar ek dwaal af. Dit is ‘n onderwerp op sy eie en miskien eendag maak ek weer so.

Jy gaan foute maak!
Ek kan jou ‘n brief met ‘n rooi seël daarop gee. Dit klink miskien of ek spot maar ek doen nie. Dit kan selfs negatief klink maar dit is feite. Jy gaan foute maak maar in die proses gaan jy jou voete vind.
Transformasie is moeilik. Transformasie kos ‘n prys. Dit is ook ‘n tydsame proses wat net deur deursettingsvermoë en wilskrag realiseer.
Sondagaand kyk ons ‘n fliek “Body Snatchers” met ‘n baie jong Donald Sutherland in die hoofrol. Die storie handel oor Pods wat gegroei word in ‘n kunsmatige kweekhuis. Dit lyk soos groot, plantaardige sade – eintlik baie onnatuurlik. Op een of ander manier verskyn dit naby ‘n slapende persoon en kom ‘n blom te voorskyn. Dan verloor die pod sy blare en ‘n wese, verskans met hare en slym, kom na vore. Dit hele “geboorte” is nogal grillerig. Regte sci-fi goed waarvan baie mense hou. Elke pod gee dan geboorte aan ‘n persoon. En, die oomblik wat iemand wakker word is hy/sy ‘n nuwe mens.  Sonder emosies maar mens. Uitdukkinglose mense sonder enige wil van hul eie. Hulle volg die instruksies soos robotte met geen benul dat hulle nuut is nie. Dit is nie transformasie nie maar die steel van menswees. Ons is gemaak met emosies. Om te sien, te voel, te leef en te ervaar. Ons word kwaad, ons het lief. Ons is verdraagsaam, soms buierig met geen rasionele begrip in sommige gevalle nie. Ons huil soms aanhoudend en lag sonder rede. Ons seer soms so oorweldigend dat ons dink dit gaan nooit ophou nie. Ons maak foute en ons leer. Tussendeur gaan die lewe voort en moet ons oorleef en worstel met die dag tot dag verwikkelinge. Dit is dan wanneer die druk te veel word en ons knak.
Soms wens ek ‘n mens kan die fout-maak-proses mis tydens herskepping maar dit is nie so eenvoudig soos om wakker te word en ‘n nuwe mens te wees nie. Nee, dit vat tyd. Die siklus van ‘n eier na ‘n skoenlapper is tussen ‘n maand na ‘n jaar. Afhangende van die soort skoenlapper. Net so is dit met jou. Die proses, van jou voete vind in hierdie nuwe wêreld waarin jy jou bevind, verskil van die volgende persoon. Daarom is dit belangrik dat jy nie gefokus sal wees op ander mense nie maar dat jy net op jou alleen gefokus sal bly. Jy kan nie jou groei aan ander vroue meet nie. Slegs jou tyd en deursettingsvermoë gaan bepaal hoe lank jy gaan vat om jou voete te vind.
In hierdie proses van jou-voete-vind gaan jy foute maak, sommiges gaan baie maak, ander minder – dit hang af van jou uitkyk en ondervindings en selfs jou onkunde. Maar elke fout is deel van die proses wat jou uiteindelik in ‘n pragtige skoenlapper gaan verander. Jou vermoë om tot hierdie nuwe pad te verander gaan af hang van jou vermoë om in te neem, te verstaan en dan oor te gaan in aksie.

Met dit als gesê wil ek tog ‘n paar oomblikke afstaan aan weduwees en

wewenaars wat die afsterwe van ‘n lewensmaat moet verwerk. Die verandering kom soms skielik, wat jou rigtingloos en ongebalanseerd laat. Of, as gevolg van ‘n lang siekbed, beskou jy die dood op daardie oomblik as ‘n lafenis weens die swaar lyding en pyn waardeur jou geliefde gegaan het. Agterna, bly jy agter met baie vrae. Weereens, ek is nie ‘n berader nie en het nog nie ‘n lewensmaat verloor nie so ek moes staatmaak op my ondervindings met mense na aan my wat daar deur gegaan het of moes gaan oplees om nou nie myself met ‘n plank te slaan nie.

Dood is ‘n traumatiese gebeurtenis wat elkeen ook anders hanteer. So daar is nie rerig reëls in die hartseer stadium nie. Elkeen ervaar en doen dit anders. Sommige mense gaan vinnig aan met hul lewe terwyl ander weer nooit daaroor kom nie. Op die oogaf gaan hulle aan maar daardie hartseer en verlange na hul maat verlaat hulle nooit nie. Ek sien dit met my pa, die verlange is diepliggend en hy praat min daaroor maar dit maak nie die verlange minder of onbelangrik nie. Ek dink ons kyk dit juis mis by mans omdat hulle nie oor hulle gevoelens praat soos ons vrouens nie en daarom is dit belangrik om bedag te wees daarop, veral as kinders. Deur dit te ignoreer maak dit die probleem net erger. Spandeer tyd met iemand wat daardeur gaan. Doen moeite om uit te reik. Ek is gelukkig om ‘n maat te hê wat ook bedag is op my pa se gemoedstoestand en hy nooi my pa dikwels saam wanneer ons die pad vat op een van ons togte of sommer net braai by die huis. Alhoewel ons nooit die plek van my ma kan inneem nie maak dit die las tog ligter en kom hy uit en sien die wêreld om hom.
Ek het ‘n bietjie op Google gaan rondswerf en die volgende doktoraal gekry oor dit. Die skakel is beskikbaar by vandag se plasing.

Daar is die volgende geskryf en ek haal aan:
http://www.koersjournal.org.za/index.php/koers/article/view/408/482

“Ella is 60 jaar oud en haar man is vyf jaar gelede oorlede. Hulle het ’n seun en dogter uit die huwelik, wat haar bystaan in tye van nood. Sy voel veral eensaam gedurende naweke en in die aande, wanneer sy nie besig is nie. Dit is vir haar baie moeilik om alleen na alles om te sien. Sy het nie meer iemand met wie sy probleme en besluite kan deel nie. Dit is nie meer vir haar lekker om kos te maak of naaldwerk te doen as daar nie iemand is vir wie sy dit doen nie.’

Met bogenoemde inaggenome is dit dus duidelik waarom juis die geloofsgemeenskap ’n ruimte moet skep vir ‘koinonia, in order to support people who are to be healed and to help them discover meaning’ (Louw 2008:27). In die volgende direkte aanhalings uit gesprekke met die vroue is dit duidelik op watter wyse eensaamheid nie net as ‘n verhaal van nood ervaar word nie, maar dat dié gespreksgenote juis ook ’n behoefte aan gesprek binne die koinonia-ruimte daaroor nodig het:
Marietjie: ‘Dit help dat ek met iemand kan praat wat vir my riglyne kan gee hoe om hierdie eensaamheid te verlig.’
Doman (2007:4) skryf dat eensaamheid gesien word as ’n subjektiewe ervaring wat deur verskeie veranderlikes beïnvloed word. Daar is by eensaamheid twee aspekte van belang is teenwoordig. Eerstens word eensaamheid ervaar as gevolg van swak sosiale verhoudings, waar die basiese behoeftes van die persoon nie bevredig word nie en tweedens as ’n onaangename en soms pynlike verlange na meer interaksie as wat tans ervaar word (Wintrob 1989:80).
Marietjie: ‘Daar is niemand wat regtig vir my omgee nie. Ek moet altyd alles alleen doen.’
Ella: ‘Ander mense gee tog nie om wat met jou aangaan nie. Almal leef net vir hulle self.’
Ansa: ‘Ek pas nêrens in nie. Getroude vroue sien my as ’n bedreiging al is my bedoeling hoe goed.’”
En hierby wil ek aansluit.
Punt nommer 1: Dit is die koinonia of die gemeenskap – hetsy vriende, kinders en die kerk wat hier ‘n groot rol te speel het. Toe my ma nog by die ouetehuis gewerk het, het hulle baie byeenkomste gereël deur die ouer mense te akkommodeer. Hierdie funksies het die moraal van die oumense hoog gehou en hulle het mildelik bygedra. Baie vroue is alleen op hul oudag, met ‘n lewe wat eintlik voor hul uitstrek, leeg en sonder doel. Dan gee hierdie uitreikings hul weer ‘n rede om mooi aan te trek, met mense te kommunikeer en te voel hulle is deel van die gemeenskap. Maar, in baie gevalle is dit net die mense wat daar bly of vriende wat genooi word. Daar is ‘n groot aantal mense wat in hierdie tyd heeltemal alleen is en geen uitreiking na hulle het nie. Die gemeenskap en kinders het hulle bloot vergeet en is die nood groot tussen hulle.
Punt nommer 2: Om die laaste dame se aanhaling aan te haal, en daarmee kan die meeste enkellopendes aanklank vind. Skielik word jy ‘n bedreiging vir, veral getroude vroue. Dit is in hierdie tye wat mense dan die enkellopende verstoot en voel hulle nog meer verwerp en verlore.
Dit is hoekom dit belangrik is dat jy nuwe uitlaatkleppe kry. Nuwe stokperdjies of nuwe velde betree want dit bring jou in voeling met mense en voel jy weer nuttig, as mens.
Om jou voete te vind is nogal ‘n moeilike taak, vernaamlik wanneer jy nie weet wie jy is en waarheen jy oppad is nie. Die meeste mense verval in depressie in hierdie tyd. Hulle sien net nie die lig in die donker tonnel nie. Dit is dan wat jou ondersteuningsgroep hande moet vat en jou daadwerklik help. Die laagtepunte in ‘n mens se lewe is soms oorweldigend en dan sien jy niks en dit is net met liefde en baie geduld wat jy daaruit kan ontsnap. Dit is gedurende hierdie tye wat die verkeerde besluite ook geneem kan word… ek weet, ek was daar. Dit is dan wat jy oorhaastige besluite neem en die prys betaal of jy nou daarvoor gevra het of nie. Dit is dan dat jou hartsvriende tussen beide moet kan tree en jou help voor jy ‘n flater begaan. Maar as julle enigsins na my aard; dan is dit eintlik onmoontlik vir hulle om te help. Want jy tree impulsief op, so vinnig dat jou kop eintlik daarvan sing. Terwyl jy eintlik net moet stil raak, met iemand gesels of vrae vra voordat jy die besluit neem. Trots is ‘n lelike ding. Dit is dan wanneer jy glo jy is moeg gevra vir hulp en moeg vir die afjakke en neem ‘n besluit wat jou erg benadeel. Weereens ek praat van ondervinding.
Om jou voete te vind beteken jy het ‘n stewige fondasie onder jou. Die fondasie is sterk gebou, stewig geanker in moeder aarde en jy is onwrikbaar. In jouself, in jou geloof en in wie jy is. Niks kry jou onder nie. Om hierdie fondasie te verkry is ‘n proses op sy eie.
Jou geloof is jou anker. Daar sonder kan jy nie staande bly teen die storms van die lewe nie. Sonder dit is jy ankerloos terwyl golwe teen jou slaan. Dit is dan dat jou skippie al in die rondte tol, sonder rigting. Ek het vir ‘n tyd so geloop. Ankerloos. Het gedink ek sou dit maak maar dit het nie so gewerk nie. Op die ou einde is ons gemaak om ‘n anker te hê. Ons elkeen sien hierdie anker anders so maak dit vas sodat jy koersvas kan bly.
Jy moet ook glo in jouself. Jy moet jouself baie goed ken. Jou swak punte en jou sterk punte. Maak ‘n lysie daarvan. Wees eerlik met jouself. Jy beindruk niemand nie, en niemand gaan dit sien nie. So, skryf als neer. Selfs daai dinge wat jy agter ‘n masker wegsteek. Dit is nou die tyd om dit uit te haal, af te stof en te deel. Onthou dat hierdie stadium baie uitpuntend kan wees so doen dit oor ‘n tydperk. Gaan kort-kort terug na jou lysie en dateer dit op. Werk aan die negatiewe dinge. Maak ‘n doelbewuste besluit om dit nie meer te doen nie. Net deur daadwerklike aksie sal jy resultate verkry. Wees ingesteld op jou omgewing en die dinge wat jou beïinvloed en kyk hoe jy dit kan verander indien dit negatief is. Verander die dinge wat binne jou vermoë is. Ons houding teenoor mense en ons omgewing kan ‘n bepalende faktor word wat deure oop of toe sluit. 
Tydens my eie soeke het my pad gekruis met hierdie gediggie wat ek graag wil voorlees. Dit was deel van die lewens orienteering’s kursus wat ek gedoen wat my werklik gehelp het om ook my voete te vind.
One
- Unknown
One song can spark a moment,
One flower can wake the dream.
One tree can start a forest,
One bird can herald spring.
One smile begins a friendship,
One handclasp lifts a soul.
One star can guide a ship at sea,
One word can frame the goal.
One vote can change a nation,
One sunbeam lights a room.
One candle wipes out darkness,
One laugh will conquer gloom.
One step must start each journey,
One word must start each prayer.
One hope will raise our spirits,
One touch can show you care.
One voice can speak with wisdom.
One heart can know what’s true.
One life can make the difference,
You see it is up to You!
Don’t ever forget how very important You are.

Net een woord kan jou hele lewe verander. Net een woord kan jou op die regte pad bring maar dit begin by daardie besluit om te wil verander. Om jou voete te vind is ‘n moeisame proses maar dit kan gebeur deur aan te hou. Jouself te verryk en in jouself te belê. Jy is op die ou einde jou grootste bate. Die een belegging waarin jy daadwerklik positiewe dinge kan belê en die regte resultate kan verkry. Onthou jy is nie alleen op hierdie pad nie. Moenie bang wees om te vra nie. Moenie bang wees om uit te reik nie. Kry hulp. Dit maak dit makliker.



Skitter net waar jy is diamant, tot ‘n volgende keer. 
Mooi loop. 




WEN KAARTJIES NA DIE GOSPEL SKOUSPEL MET ELAN GLOBAL RADIO
1 X Dubbel kaartjie (2 persone) vir die GOSPEL SKOUSPEL PRETORIA
25 AUGUSTUS 2018

VRAAG: Watter tipe program is Tannie Corri se Kombuis
SKRYF SO IN:
1. Gaan “like” en “share” ons Facebook bladsy Elan Global Radio Kuier en Klets
2. Stuur die antwoord op die vraag per epos na elanradio@gmail.com tesame met jou naam en kontak besonderhede
3. OF WhatsApp: 066 305 3580
SLUITINGSDATUM: WOENSDAG 22 AUGUSTUS 2018 om 22:00
B & V’s geld
Prys kan nie vir kontant geruil word nie.
Prys sluit geen verversings of vervoer in nie.
Wenners sal toestemming gee om hulle foto op ons facebook bladsy te plaas.
Elan Global Radio
Die Stasie Vir Passievolle Mense
https://www.elanglobalradio.com
GESELS MET ONS:
Web: https://www.elanglobalradio.com/
Facebook: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com
SKAKEL IN:
SIMPLE RADIO App.
http://14123.live.streamtheworld.com/SAM04AAC125_SC



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...