Wednesday, August 1, 2018

Diamant Divas: Bestaan Dubbelstandaarde nog?

Na aanleiding van verlede week se onderhoude en die wat nie gebeur het nie agv verskeie redes, het ek weereens net besef hoe pynlik seer die dinge is waarmee ons worstel. Met die aanvang van die program het ek nie gedink dat dit so ‘n ernstige onderwerp sal uitdraai nie. Ek glo egter dit is iets wat aangespreek moet word. Ek wil nie ‘n revolusie begin nie, maar meeste van ons sukkel tog onbewustelik met die dinge. So luister met ‘n oop gemoed en neem vrymoedigheid om terugvoer te gee. Ek sal dit opreg waardeer.
So bietjie van myself sodat julle kan verstaan waar vandaan ek kom. In Februarie 1992 is ek weergebore, die besef dat ek, nietige mens, ‘n Vader het wat vir my omgee en genoeg lief het om sy Seun op te offer, het my ongelooflik getref en ek het net daar my saak met Vader reg gemaak. Daardie selfde aand is ek deur die doopwaters te Buffelspoort en het gesweef. Daar was so baie wat ek wou weet en die Bybel het vir my oop gebreek. Ek het die woord verslind en my pad was besaai met groei tye en wonderwerke. Daar was dae wat dit gevoel het ek sweef in hemelse plekke en het wonders aanskou wat selfs vandag nog ‘n indruk laat. Maar soos wat ek gegroei het - het die aanvalle gekom. Soms was dit teen my persoonlik gemik, ander kere teen my kinders en dan moes ek baklei namens hulle. Dan was die aanvalle teen my man gemik. Soms was dit klein goedjies wat so uit verband geruk was dat ek verstom was teenoor die betrokke persoon. Onverstaanbare dinge wat vandag nog nie sin maak nie.  Soms so fel dat die wonde dieper as veldiepte was. Tog het ek bly groei – volwasse geword om dit wat die Vader in my begin het te vorentoe te vat. Ek wou die hoogste sport bereik soos wat die Bybel gesê het, maar die teenslae het my by tye so verbitterd gelaat dat ek terug getrek het.

Wanneer jy in gehoorsaamheid in Vader se woord wandel word jy skielik ‘n bedreiging vir ander en mense word jaloers en slaan toe op gemene maniere wat wonde laat wat vir baie lank daarna rou bly. Maak nie saak hoeveel keer jy vergewe en dit agter jou plaas nie. Die finale hou het gekom toe ons – ons besigheid in 2008 verloor het en ek het finaal my rug op die kerk gedraai weens die klappe wat ons toe gekry het. Die mense het ons basies verjaag uit die plek van aanbidding. Ons het deur hel gegaan. Ons moes vinnig leer om te oorleef met net die basiese dinge. Krag was ‘n luukse. Meubels was verkoop om rekeninge te betaal. Of vir petrol vir die kragopwekker sodat ons darem sekere dinge kon doen wat krag nodig gehad het. Sommige hout meubels was opgekap vir vuur. Ons moes loop waar ons wou wees. Gras sny was gedoen met ‘n skaapskêr, so nodeloos om te noem maar die grasperk om ons huis het soos ‘n oerwoud gelyk. Skaamte het deel van ons bestaan geword en ons het mense vermy. Ons wou nie hê hulle moet weet hoe dit rerig by ons lyk nie so ons het onsself geïssoleer. My ouers het vir ons deur die week kos gebring, klaar voorberei. Naweke was ons op ons eie. Soms het ek gewonder of ek nie by een van die hoeke moet gaan staan en bedel nie maar my self-trots het my weerhou daarvan. Ek haal my hoed af vir mense wat dit wel doen. Die guts om daar te staan, mense in die oë te kyk en geld te vra kos meer as net ‘n dik vel.

In hierdie tye het niks meer sin gemaak nie. My kinders moes een na die ander uit die huis uit bloot net om te oorleef. Ons moes my seun op ‘n vliegtuig sit na die VSA, sodat hy werk kon kry. Dit het my gebreek. Ek het nog altyd gesê as my kinders oorsee wil gaan sal ek hulle nooit keer nie maar hoekom juis op hierdie manier? Wanneer sou ons hom weer sien? Ons was met baie vrae gelaat en geen antwoorde en ek het al hoe meer in myself gekeer. Dit was in hierdie tyd dat ek boeke begin skryf het. Die enigste plek waar ek ‘n bietjie vrede kon vind en rustigheid vir die verstand. Die skryf het my help fokus op ander dinge as op die onmiddelike. Toe ek my eerste boek in 2012 publiseer was dit eufories en ek het gedink, miskien – net miskien is daar hoop.
Ons het in absolute armoede verval en als verloor en na die derde aflegging (retrenchment) van my man, het ek moed opgegee met my huwelik. Ek het gevoel ek kon my man en God nie meer vertrou nie. Ek wou niks weet van God nie en het gedink hy is vals. Sy woord het betekenloos geword en ek het my rug op hom gedraai. Op daardie stadium was ek ‘n bedelaar, vernedered en platgeslaan en baie naby aan dood. Ek was lewensmoeg. My lewe was ‘n warboel van verwarring met geen uitkoms uit die maalkolk nie. Daar was geen lewensgordel uitgehou na ons nie en ek moes vlug net om weer my kop te kon oplig. Ek kon geen toekoms meer saam vir ons sien nie. Als in my het geskreeu na lewe. Ek het geglo daar is meer as net hierdie sukkelbestaan. Die saad van hoop vir ‘n nuwe begin, ‘n nuwe kans op geluk, was nou meer duidelik as voorheen en dinge het net in plek geval sodat ek besef het, as ek dit nie nou vat nie sterf ek.  
By my ouerhuis het die vrae my gejaag sonder ophou en moes ek aanpas in hierdie nuwe lewe. Net ek kon dit laat werk en die verantwoordelikheid het op my skouers gerus. My lewe het daarna aansienlik verander. Ek kon weer my kop oplig, dit nadat iemand wel ‘n hand uitgesteek het en my opgehelp het. Tree vir tree kon ek weer droom en lag en die lewe met albei hande aangryp. Elke uitdaging was ‘n lewensles wat my vervuld gelaat het. Ek was met nuwe hoop beklee. Ek het heelwat foute in hierdie tyd gemaak in slaggate getrap, bloot omdat ek naïef en onkundig was. In werk en met verhoudings. Ek het baie kere weer die vraag: “Hoekom?” gevra.

Dit het net gevoel of ek nie van die finansiële probleme kon weg kom nie. Hoe harder ek probeer het hoe minder het dinge uitgewerk. Toe my kar gesteel word einde 2016, wat in ‘n groot mate aan my vryheid gebied het  – was ek weer terug waar ek begin het op die pad in 2014. Ek het gesukkel om dit te verwerk en ek wou wegkom. Kennisse wat later vriende geword het, het my uitgenooi om by hulle langs die Vaalrivier te kuier en daar het ek weer my voete gevind, introspeksie gedoen. My kop skoon gemaak en stil geword. Die antwoorde was nou irrelevant. Ek moes van die rebellie en woede ontslae raak en die natuur se rustigheid het helend op my ingewerk. Die behoefte om net weer onder die korporatiewe salwing te wees was groot. Op 22 April 2017, het ek en Isak se paaie gekruis, by ‘n gebedsaksie in Alberton. Die salwing op daardie plek, so onder die groot bome was genesende salf vir my siel en kon ek weer oop kop kyk na dinge om my.
Toe dit lyk of dinge ernstig raak tussen ons wou ek wegskram daarvan. Op daardie stadium het ek nie gedink ek kon hom iets offer nie. Vriendskap was die beste wat ek kon doen en die enigste ding waarin ek belang gestel het. Ek was redelik teer te midde van die vrede wat ek ervaar het. Ek weet dit is teenstellend maar dit was ‘n ander soort rustigheid waarna ek gesmag het en gekry het ten spyte van die onsekerhede. Dinge het toe weer verander en Isak het my genooi om by hom te kom bly in my soeke na werk. So het ons verhouding begin. Tussen Magda se ondersteuning, my pa se finansiële onderskraging en Isak se begrip en liefde kon ek tog weer die lewe in die oë kyk en my voete weer op die pad kry. Noudat ek terug kyk oor die afgelope paar jaar besef ek hoeveel ek as vrou gegroei het. Ek het die lewe aan gegryp en begin leef. Die vrae ‘n konstante metgesel maar die stemme word tog minder, sagter en op plekke stil.

Met die onderhoude het baie dinge weer los gekom en is ‘n hele paar trane gestort. Ek het Marie (nie haar regte naam nie) genader om ook ‘n paar vrae te beantwoord en teen Woensdag se program was dit nog nie beskikbaar nie. Ek het geweet sy sukkel nog met dieselfde vrae, dieselfde hoekoms; net soos ek. Sy het ook als opgeoffer, haar lewe vir Vader gegee en hom passievol gevolg. Sy het ‘n fantastiese bediening gehad en geweldige impak op mense se lewens gehad. Toe gebeur die “onmoontlike” en haar man het ‘n buitegtelike verhouding. Sy was verpletter. Nog ‘n paar ander dinge het ook gebeur en op die einde is sy ook weg van hom af. Sondagaand ontvang ek ‘n stem-insetsel van haar, en met trane wat baie vlak lê, verduidelik sy hoekom sy nog nie die onderhoud kon doen nie. Die bitterheid en seer van die verraad asook die feit dat die man in ‘n bediening is en aangaan asof niks verkeerd is nie laat haar ook met heelwat vrae sit. Dit, terwyl hy geen verantwoordelikheid vat vir die skuld waarin hy haar gedompel het nie met geen manier om dit te kan terug te betaal nie. Of die feit dat die kerk hom aanvaar en ondersteun, foute en al terwyl sy op die kantlyn sit, verstote.
Daardie oënskynlike dubbelstandaarde is vir ons onverstaanbaar. Dit wil lyk of sommige mense met die spreekwoordelike “moord” wegkom en dit aanvaarbaar is terwyl jy sukkel om liggaam en siel aan mekaar te hou. So is daar baie mense wat met die selfde wroeginge sukkel. Die waaroms en die hoekoms wat net geen antwoorde het nie en bly ons die slagoffers ongeag van hoeveel keer ons opstaan en van vooraf begin. Dan kom die vraag noodwendig: hoeveel keer moet ons verdra en die ander wang draai? Spesifiek wanneer jy verby die 70 x 7 merk is. Hoeveel keer moet ons struikel oor dieselfde stomp voor ons leer? Wanneer is genoeg, genoeg? Ek sien die vrae ook op bakkiesblad vanaf vrouens wat dit op hul mure plaas. Moeg gesukkel, stukkend geval en opgemors.
Leef ons in ‘n wêreld van dubbelstandaarde? Vir die man is dit aanvaarbaar om sy ding te doen en hy gaan aan maar as vrou word jy gekniehalter en voor stok gekry. Jy offer op: jy skep die huis, maak die kinders groot, tree op soos verwag word en solank as wat jy in jou plekkie bly is jy die toonbeeld van maagdelikheid. Maar die oomblik wat jy jou voet neer sit, dan draai die wêreld teen jou.
‘n Ander vriendin het ‘n stel afgetrap met ‘n man wat weereens met haar gevoelens gespeel het en ek het rooi gesien toe ek daarvan hoor. Toe ek daaroor uitgevaar het word ek uitgehaal omdat ek haar nie gewaarsku het nie. Word daar dadelik aangeneem sy was op onbehoorlike of onsmaaklike plekke. So loop ons in hierdie mure vas en word die vinger na ons gewys terwyl die skuldige weereens “wegkom”.
 ·         ‘n Vrou is sleg as sy in ‘n kroeg is en ‘n drankie saam met haar vriende geniet. Maar ‘n man kan ure daar sit, ‘n drankie geniet en nogsteeds daaruit stap, as man.
·         Of ‘n vrou is sleg as sy seksueel aktief is. ‘n Man mag dit doen en is nogsteeds ‘n man – nie ‘n hoer of slet nie.
·         Wat van ‘n vrou wat hou van die bos, jag of jaag? Dan is sy ‘n tomboy. ‘n Man wat hou van kook word verwonderd aangestaar met geen bynaam nie.
·         ‘n Vrou wat op haar beroep gefokus is, is koud of ‘n ys prinses. ‘n man wat gefokus is op sy beroep is beroepsgerig en gedetermineerd en kry die een bevordering na die ander en word besing.
·         Indien ‘n vrou leierseienskappe toon en ferm optree is sy alwetend en baasspelerig.
So gaan die etikette (tags) aan sonder ophou. Jy moet deurentyd preuts en kuis (prim en proper) wees, en stil bly. Sluk en weer sluk. Want dit is wat ‘n vrou doen.
Nou ja, nie ‘n onderwerp wat ek gedink het ek sal aanraak nie maar hier is ons nou. Dubbelstandaarde in alle vlakke van ons samelewing leef voort ongeag die tydvak waarin ons lewe.
Dan kom die vraag weer op: wanneer kan ‘n vrou dan net deur die lewe gaan sonder die alewige druk vormpies? En net aanvaar word vir wie sy is.
Hoekom moet ons als gee maar tog niks daarvoor verwag nie. Minder voordele, minder salaris, minder geleenthede om te presteer. Al kan ons dinge beter doen leef ons nog met die stigma saam van ondergeskikte. Die dubbelstandaarde ‘n kruis wat ons moet dra.

Is ons regtig in ‘n vrou se wêreld soos wat Cher sing? Met al die veranderinge deur al die eeue wat ons alreeds beleef het is dit seker so. Een van die eerste reëls wat geval het was die reg om te stem. Vrouens het opgestaan en geweier om stil te bly totdat dit ‘n aanvaarbare reaksie gehad het. Vandaar af kon vrouens verder studeer en onderwysers, dokters, prokureurs, en ingeneurs word. Sommige betree die politieke wêreld met groot sukses. Ander is in die polisie of word paramedisie. Ander betree die wetenskappe en is geniaal op hul eie gebied. Dan kry jy vrouens wat redakteurs word, skrywers wat in hul eie reg kan meeding teen die bestes. Die lys is eindeloos. Elkeen ‘n toonbeeld van vrouwees in ‘n mans-wêreld.
Maar tog sukkel ons nog met die mees basiese dinge in die alledaagse bestaan. Hoeveel vrouens word nie gemolesteer, verkrag en op neergekyk nie? Dit bly op die bopunt van die statiestieke in die wêreld, spesifiek hier in ons eie land.  Kyk net na die plaasmoorde: die vrou, as sagte teiken ervaar sy die brutaalste molesterings aan die hande van die moordenaars.
Dit is asof hierdie soort sadiste die vrou wil ontneem van haar vrouwees, dit wil uitsny, brand of uitkerf. ‘n Siek gebaar wat ons kwesbaar laat sodat ons bly veg vir ‘n plek in die son.
So loop baie vroue met daardie vrae rond met geen sigbare antwoorde nie. Dit is ‘n ding wat jy hier binne moet verwerk en indien jy nie self op daardie plek is nie sal jy aanhou vra: Wanneer is dit my beurt?
Dit was ‘n vraag wat ek myself baie gevra het. Dit was 2009, net na die besigheid gevou het en ek was besig om te was toe my oog die spieël vang. Toe het ek myself gevra: Wie is jy? Hoekom is jy hier? Vrae wat ek vir lank nie wou beantwoord nie. Indien ek dit vroeër sou doen het my lewe dalk anders uitgewerk. ‘n Mens weet nie.
Elke keer wat ek beplan het om iets te begin of verder te gaan leer dan kom als tot ‘n skreeuende halt. Toe my eks die laaste maal weer afgelê is, was my eerste vraag aan hom: Wanneer is dit my beurt! Ek wou nie meer luister na verskonings nie. Ek wou na geen rede luister nie en het al my speelgoed uit die kot gegooi. Ek was moeg om ‘n persoon te ondersteun terwyl ek geen ondersteuning gehad het nie. Die antwoord was altyd nee, nie nou nie, of nee, dit sal nie werk nie, of nee, daar is nie geld nie. En so het dit aangegaan. Ek dink ek was die kwaadste omdat ek nie toegelaat was om iets te begin wat ons moontlik uit die gat kon haal nie. As ek dink aan die vermorste geleenthede wat ons lewe in ‘n ander rigting kon gestuur het. Ek moes net elke keer wag, op die agtersitplek bly met geen idiale van my eie en ek was op. Fisies, geestelik en siels-dodende op. Maak nie saak hoe hy probeer verduidelik het nie ek het hom ‘n dowe oor gegooi aan die einde. Ons huwelik het verander in ‘n stilstuipe klug waar kommunikasie tot die minimum beperk was en ons letterlik net met mekaar gesels het wanneer die kinders naby was, om die skyn te bewaar. Maar ons albei het geweet dit was die einde. My drang om te oorleef was groter as om almal om my tevrede te stel. My kinders was groot en op hul eie, daar was geen nut om die klug aan te hou nie. ek wou vry wees van die jukke. 
Op 19 het ek nie myself geken nie, als was deur jeugbrille bekyk en toe ek swanger raak met geen benul wat is die volgende stap nie het ek soos ‘n blinde die massa gevolg. Indien ek myself sou geken het sou my keuses heel moontlik anders gewees het maar ek moes deel met die hand wat vir my gegee was. Daarom is dit noodsaaklik dat ons eers self-moet vind. Ons moet ons dogters en kleindogters leer – vind eers jouself voor dat jy droom van die ridder op die wit perd en jou droomtroue. Die werklikheid leer ons vinnig dat jou drome en die realiteit nie hand aan hand loop nie. Daarom moet ons paraat wees en meer tyd aan onsself spandeer voor ons dit aan ander spandeer. Vind jouself en dan kan jy ‘n beter lewe hê. Beter besluite neem en meer doelgerig die lewe tegemoet loop.
Ons het ‘n keuse of ons die massa gaan volg of ons eie pad volg. Die dubbelstandaarde sal daar wees. Vroue mishandeling sal in elke uithoek gevind word ongeag wat ons probeer maar wanneer ons as vrouens die regte leiding ontvang kan ons daardie dinge mis of selfs anders hanteer. Ons kan dan met meer selfvertroue die grootmens wêreld betree en ‘n daadwerklike rol speel daarin en so ‘n toonbeeld word van vrouwees in ons eie wêreld.
Ons word gevorm deur ons kultuur, ons ouerhuis en waar ons bly. Dit is onlosmaaklik deel van ons maar wat ons wel vorm is ons openheid om nuwe dinge te leer. Boeke maak bv wêrelde oop buite die plek waar jy jou bevind. Hoe meer jy lees en in neem hoe meer word jou karakter gevorm en kan jy dan meer ingeligte besluite neem. Dit is so belangrik om in jouself te belê, en jouself te skep. Liggaam, siel en gees. Al 3 het ewe veel voedsel nodig en dit is jou keuse wat jy al 3 gaan voer. Neem ‘n besluit om jouself te verryk. Net dan, kan jy staande bly teen die aanslae en dubbelstandaarde wat mense skep. Waag en leef.
Ek wil afsluit met die lied van Jo Black – die vrou wat ek liefhet. “Daar is soveel meer vir ons in hierdie lewe” sing hy. Wanneer jy en jou maat mekaar lief het maak julle ruimte vir mekaar. Dit is ‘n span poging, ‘n vennootskap waarin albei partye groei as mens. Net soos ons as vrou ‘n behoefte het om te ontwikkel het mans dieselfde behoeftes. Ek glo daarin om my maat te ondersteun in als wat hy aanpak maar dan verwag ek dit ook van sy kant af. Dit is slegs in liefde wat daardie verhouding ‘n sukses kan wees. Juis omdat elkeen hulself verstaan. Wanneer ons lei aan allerhande komplekse dan veroorsaak dit spanning in die verhouding wat gewoonlik op die rotse uitloop tensy daar nie vroegtydig hulp verkry is nie. Om jouself te ken dra by tot jou verhouding en jou lewe se sukses. Dit is dan wat jy die kroon van die skepping word. Soos die woord dit verduidelik. Nie op ‘n ander manier nie.

Tot ‘n volgende keer. 

No comments:

Post a Comment

Blood Mines by Lynelle Clark is on sale. Get your copy today.

Title: Blood Mines Author: Lynelle Clark Book cover: Manuela Cardiga Pages 300 #Thriller #suspense #futuristic #Environmental #r...