Saterdag 07 April 2018

Hekke: 'n Simboliese kykie van 'n plaashek. 'n Unieke vryheid.



Hoeveel keer moes jy al uitklim om ‘n hek oop te maak?

In ons daaglikse lewe het ons gemaklik geword. Ons druk net ‘n knoppie en die hek maak vanself oop.  Die nuwerwetse hekke is so swaar dat jy nie eers sal droom om dit per hand te stoot nie. Om nie eers te noem dat dit so toe is dat jy nie kan sien wat aan die anderkant is nie. Dit skei ons geheel en al van die lewe daar buite/ binne. Onsigbare wesens wat geruisloos deur ry sonder ‘n gedagte van die wêreld om ons. Indien jy op pad uit is, is jy binne minute deel van die besige lewe en voel ons moeg en afgemat nog voor die dag behoorlik begin het. Selfs die oopskuif in die middag bring net jou verantwoordelikhede nog meer onder die vergrootglas. Alhoewel by die huis is die verpligtinge van ‘n gesin die grootste druk op enige mens en soek jy die ontvlugting van ‘n oop pad sonder dat jy dit besef. Die kontrole knoppie het ons afgestomp gemaak met geen verwagting vir die nuwe nie. 

Alhoewel dit ons lewe vergemaklik, het dit nie dieselfde bekoring as ‘n plaashek nie.
Ons platteland is besaai met die tipe hekke. Dit is laag genoeg dat jy sommer daaroor kan spring met net ‘n paar drade om die diere uit te hou. Verder het jy ‘n duidelike beeld van wat te wagte is voor jou. Dit maak ‘n vryheid oop wat in ons alledaagse bestaan vergete geraak het. Dit vat ons as te ware weer terug na ons wortels, ons word gevul met vrede en ‘n besitreg en jy haal opnuut asem. ‘n Unieke vryheid.
Die natuur het ‘n manier om ‘n mens te anker, weer perspektief te gee. Vars lug in jou longe. Nuwe lewe sigbaar oor die veld. Diere wat kommerloos rond dwaal en herkou. Die geheel beeld wat ‘n verrykkende invloed op jou het.

Met ons afgelope vakansie in die Oos-Kaap moes ek verskeie kere uitspring om ‘n hek oop en toe te maak. Dit is heel anders as ‘n gemotoriseerde hek, nie waar nie? Daar is amper ‘n afwagting in daardie oopmaak. Die lug en lig is skoner, helder so sonder enige wasige rook of afval of op hoede wees vir kwaaddoeners. Dit is die opening tot ‘n ander wêreld en met hernude krag stap ons dit tegemoet. Die kronkelpad, afwagtend om jou te vat na sy geheime plekke lê uitgestrek voor jou oppad iewers heen.
Die eindbestemming wink in die verte en opgewondenheid bruis deur jou are.  Soms is hierdie paaie in skadu’s gehul, geheimsinnig asof dit nie sy geheim met jou wil deel nie. Ander kere glinster dit helder voor jou uit maar gee geen aanduiding van sy eindbestemming nie – geheimsinnig, winkend, al kronkelende verdwyn dit oor die volgende kop of rant. Op een stadium was ons bo op die Baviaansberge en moes ek weer uitspring om ‘n hek of twee oop te maak en die verlatenheid was sprekend, tasbaar maar tog gevul met ‘n eiesoortige heimweë. Miskien na ‘n wêreld van weleer of miskien sommer net na die stiltes van die natuur.

Is ek die enigste een wat dit so ervaar?

‘n Mens kan dit selfs ‘n stap verder vat. Behalwe vir die fisiese is daar ‘n figuurlike betekenis tot die oopmaak. Die oopmaak van jouself veroorsaak dat jy beter sien. Dit bring nuwe lewe asook ‘n verwagting vir die onbekende. Wanneer ons daardie hek oopmaak gebeur daar iets in ons en nuwe lewe bruis deur ons. Dit is dan wanneer ons weer gefokus raak en opnuut ons talente raaksien, onsself leer ken en sommer net weer mens word. ‘n Mens met ‘n doel.

Vanuit my pen groete
Lynelle


In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...