Friday, January 12, 2018

‘n Terugblik op 2017


Die jaar het rof begin. Van ‘n blink toekoms op Stilbaai het net die suur van verraad en hofsake oorgebly. My wêreld het oornag drasties verander en ek moes introspeksie doen oor die pad vorentoe. Verdere negatiewe gebeure in die begin van die jaar het my nog verder in ‘n maalkolk gesit en my lewe het uitmekaar geval, so het dit gevoel. Ek kon net niks reg doen nie, elke besluit katastrofies.  Die donker dieptes reg om my in te sluk.
Lesse is onvermydelik in die lewe, daarsonder sal ons onvolwasse mense bly wat geen besluite kan neem nie. Die kleinste dingetjie sal ons ontspoor en verward laat. Lesse maak ons tog sterk, leer ons wat om te vermy en van watter stoffasie ons nou eintlik gemaak is. Die lewe is een groot leerskool – daar betaal jy herhaaldelik skoolgelde, met geen sertifikaat aan die einde daarvan nie. ‘n Kringloop wat ons meësleur en onverklaarbaar laat in sommige gevalle.  Die lewenslesse vorm ons: liggaam, siel en gees.
Die grootste les wat ons moet leer is dat die wêreld ons niks skuld nie en dat alles nie om “my” draai nie. Hoe maklik het ons-ons nie vererg of gewip omdat ons nie ons sin kon kry nie en op geeindig met eier in ons gesig. Want die wêreld skuld my. Of is ek die enigste een met wie dit gebeur het?
Elke les van 2017 het my nog verder gevorm wat my letterlik na ‘n plek gelei het, ‘n plek waar ek moes hensop en oor gee. Vir lank het ek God weggeskuif uit my lewe as gevolg van diep gewortelde seer. Selfs hiermee moes ek deel, danksy gehoorsame mense wat oor my pad gekom het op die regte tyd. Ek moes weereens erken:  sonder Hom is ek niks. Toe ek die leisels weer terug gee aan die groot bestuurder het dinge in plek begin val.
Daar is nog dinge waarmee ek worstel – selfs tye wat ek myself verwyt vir verkeerde besluite die laaste drie jaar wat ‘n nadraai gemaak het. Maar soos wat ek altyd my kinders geleer het – elke besluit kom met verantwoordelikheid saam, en ek moet saam met die gevolge leef. Dit het my tog sterker gemaak, al wou ek dit nie so insien nie of selfs nie verstaan nie. Daar sal seker nog lesse kom, en sommiges sal ek slaag en ander sal ek dop maar ek weet nou sonder die Anker sal ek nie my skippie deur die storms kry nie.
Ek het defnitief geleer om meer te lag en alles nie so ernstig op te neem nie.
Ek het geleer om te laat gaan en dinge te aanvaar vir wat dit is: lesse.
Ek het geleer om nie oor alles skaam of vernedered te voel nie. Life happens met almal, goed of sleg.
Ek is nog hier, ek haal nog asem. Ek leef. Solank ek dit doen is daar hoop om eendag met sekerheid te kan sê: die meetsnoere het vir my ook op lieflike plekke geval.
Kopiereg @ LynelleClark2018


No comments:

Post a Comment

‘n Terugblik op 2017

Die jaar het rof begin. Van ‘n blink toekoms op Stilbaai het net die suur van verraad en hofsake oorgebly. My wêreld het oornag drasties v...