Sondag 21 Januarie 2018

Die ander vrou deur Lynelle Clark


As geskeide vrou leer jy vinnig wat beteken die terme: Die ander vrou. Dit is nie iets waarvoor jy beplan nie maar is onvermydelik wanneer jy weer betrokke raak met ‘n man. Julle kan hoe diep in mekaar se oë kyk en op elke vlak mekaar aanvul maar sy is die een wat hom die beste geken het en nogsteeds ‘n rol speel. Soms dink ek dit is juis nodig dat die twee bymekaar uit moet kom en gesels wat positiewe resultate kan lewer. Selfs hartseer kan voorkom. Maar dan kan dit ook ‘n fiasko wees en julle twee is soos olie en vuur en die vonke spat. So, skrap die gedagte. Want dit werk nie. Ek weet.
Die ander vrou is skielik iemand, met ‘n naam. Alhoewel jy haar nog nooit ontmoet het nie, is sy ‘n permanente deel van jou lewe. As nuweling word jy vergelyk, beoordeel en bespreek deur vriende en familie. Ongeag hoe hard jy probeer jy kan haar nie ignoreer nie. Deels omdat sy gedurigdeur opkom in gesprekke veral as julle in dieselfde kringe beweeg of indien daar kinders betrokke is.
Met sosiale media is dit selfs makliker om van die ander vrou te wete te kom en op haar te volg aka spioeneer. Wie het dit nie al gedoen nie? Ons gebruik verskeie redes om onsself te regverdige maar feit bly ons wil meer weet oor die vrou wat die man in jou lewe gedeel het of deel. Dit hang af aan watter kant jy staan.
Ek onthou in my eerste huwelik het ons verhouding ook maar pas begin en het ons saam na ‘n kerkkamp gegaan. Die Sondagoggend moes hy gou ‘n draai loop en sê ek moet solank gaan sit. By ons sitplek het sy Bybel op die vloer gelê waar ek dit op getel het. Daar, voor my voete val toe ‘n foto uit van sy vorige meisie. ‘n Duisend vrae het deur my gegaan in ‘n bestek van sekondes. Agterna het hy my verseker dat die verhouding verby is. Ek het hom geglo. Ons is getroud. Met verloop van tyd het sy elke keer, op die mees onverwagse oomblikke, na vore gekom. Jy sien, sy familie kon haar nie vergeet nie, en het by tye ook kontak met haar gehad. Elke keer het hy my verseker dat sy iets van die verlede is. Maar sy het bly opduik wat wel sy stremming geplaas het. Toe ons huwelik op die rotse loop was sy skielik weer terug. Sommer netso, na 30 jaar van geen kommunikasie. (Ek wil ook nou nie enige wyshede hoor nie… Los dit daar.)
Toe jy vir die eerste keer getroud is was die ander vrou die skoonma en ‘n baie mooi verhouding ontstaan tussen julle twee. Vir my het dit tien jaar gevat om ‘n goeie verhouding op te bou met haar. Ons het beslis ons verskille gehad aan die begin maar selfs dit het minder geword en het ons mekaar aanvaar.  Vir ander is die verhouding pynigende en vind dit so ondraaglik dat hulle sal wegstap bloot net vir die vrede. Luister net na al die skoonma grappe wat sirkuleer en jy sal weet wat ek bedoel. Eintlik is dit baie ernstig en kan ‘n huwelik maak of breek.
Ek het al verskeie boeke gelees, films gekyk en na vrouens geluister waar die ander vrou eintlik ‘n
groot rol speel, besluite en hantering van die nuutgevonde verhouding. Dit is natuurlik nie iets wat ons sal erken nie maar dit gebeur onbewustelik. Soos ek, wat onlangs my haarstyl verander het toe ek agter gekom het ek en die ander vrou se styl is dieselfde. Jip, het haar opgespoor op die sosiale netwerk. Eintlik so onnodig maar dit werk tog sielkundige op jou in. Moenie lag nie… ek is ook net mens.
Ek glo altyd dat ‘n saak twee kante het, elkeen se weergawe kan verskil van die ander. Ek hou daarvan om eerder ‘n ingeligte besluit te neem as om toe oë in iets te stap. Het mos gesê ons elkeen regverdig die spioenasie ding op die Internet. Met my vorige verhouding het die man my alles van homself vertel, sy eie tekortkominge erken en my oortuig dat hy gereed was vir ‘n nuwe blaadjie. Hy het my selfs gevra of ek hom sal help en soos ‘n dapper vrou het ek die stryd betree. Maar daar was verskeie kere wat ek gewonder het wat maak hy, met wie praat hy, en waar is hy? Die saadjie van twyfel was geplant, vernaam hoe meer ek te wete gekom het. Dan het ek gaan ondersoek instel oor die ander vrouens en probeer om alles op te lees wat ek kon. Met hom was dit eintlik maklik want Google het heelwat inligting oor hom gehad.
 Wanneer jy na haar kyk dan wonder jy hoeveel van hierdie man se kwessies moes sy verdra bloot vir die vrede in die huis. Hoekom het sy koud geword? Hoekom het sy weggestap? Wat het haar gedryf om te vra vir ‘n egskeiding? Honderde vrae wat jou laat peins oor die wysheid van die verhouding. Moet jy die kans waag?
Ons wil so maklik glo dat ons lewensmaat die regte ou is vir ons. Jy is bereid om sy foute te oorsien, saam met hom te groei en ruimte te maak vir mekaar maar die ander vrou is altyd in die agtergrond.
“Ek wil eerder by jou bly maar nou moet ek haar gaan help.” Moes ek ‘n paar keer hoor in ‘n vorige verhouding. Dan staan jy terug, oortuig hom dat dit reg is om haar te help. Por hom aan om te gaan.  Jy wil tog nie as die feeks bekend staan nie. Nie dat sy bewus was van my nie – dit het ek ook geweet.
Die ander vrou in my gewese man se lewe het my vinnig laat verstaan dat ek my plek moet ken. So lyk my daar is tog vrouens wat nie ‘n probleem het om te baklei nie. Daar is niks fout daarmee nie en miskien is ek maar net te sag… Hoe ook al sy, elke houding het ‘n reaksie en ek wou net wegkom van als af. So dit het my nie gepla nie.
Op een stadium was ek beskou as die perfekte vrou maar die eise van die egskeiding asook die toenemende finansiële druk gevul met onsekerhede het die verhouding laat skipbreuk ly.
In sommige verhoudings veroorsaak die kinders dat hulle nog moet kommunikeer. Sy kan die kinders gebruik om hom te manupileer om haar sin te kry en as pa is hy in twee geskeur. Jy, as die ander vrou staan dan eerder terug, omdat jy glo dat dit die beste is. Of is dit net ek wat so opgetree het?
In baie gevalle is daardie vrou ‘n spookagtige figuur in jou huishouding. In my verhouding met my verloofde is ek baie dankbaar byvoorbeeld dat niks van die ander vrou saam gekom het nie. Ek weet nie of ek gemaklik sou gewees het om haar geliefde bak uit te haal en iets daarin voor te berei nie. Of om haar tafeldoek te gebruik om vir my kinders te dek nie. Dit is klein goedjies – en sommige sal sê dit is aardse goed – maar aan dit kleef tog ‘n nostalgiese gewaarwording wat jy nie kan ontken nie. Ongeag hoe hard jy probeer om dit te vermy. Ek dink baie keer aan die goed wat ek agtergelaat het, en hoe sy voel daaroor. Kan sy dit regtig met vrymoedigheid gebruik? Of bly sy ook maar stil, verdra dit en stap aan?
Die ander vrou is onlosmaaklik deel van jou lewe. Dit is iets waarmee elke vrou saam leef en na die beste van haar vermoë moet verwerk. Ons vrouens is mos goed daarmee. Om te verdra en aan te stap sonder om ‘n groot bohaai daarvan te maak. Jy steek dit net diep weg want jy wil tog nie hê mense moet dink jy is jaloers of gun haar nie iets nie. Jy leer om nie te reageer op die subtiele maniere van domineer of manupileer nie. Jy wil eerder glo jy is beter as dit. In die proses leer jy jouself vind en bou jy ‘n nuwe lewe saam met jou nuwe liefde as om te top oor haar.    
Ek glo dit is ‘n onderwerp waaroor baie gepraat sal word. Maar is juis ook een van die onderwerpe wat min gepraat word. Ons is net nie altyd bereid om eerlik met onsself te wees nie.
Die ander vrou is hier om te bly – met of sonder jou toestemming. ‘n Wese, nes jy wat net die beste vir jou maat wil hê en sal baklei vir haar eie plekkie in die son. Hoe elkeen dit hanteer hang van ons af.

Kopiereg@LynelleClark2018

Vrydag 12 Januarie 2018

‘n Terugblik op 2017


Die jaar het rof begin. Van ‘n blink toekoms op Stilbaai het net die suur van verraad en hofsake oorgebly. My wêreld het oornag drasties verander en ek moes introspeksie doen oor die pad vorentoe. Verdere negatiewe gebeure in die begin van die jaar het my nog verder in ‘n maalkolk gesit en my lewe het uitmekaar geval, so het dit gevoel. Ek kon net niks reg doen nie, elke besluit katastrofies.  Die donker dieptes reg om my in te sluk.
Lesse is onvermydelik in die lewe, daarsonder sal ons onvolwasse mense bly wat geen besluite kan neem nie. Die kleinste dingetjie sal ons ontspoor en verward laat. Lesse maak ons tog sterk, leer ons wat om te vermy en van watter stoffasie ons nou eintlik gemaak is. Die lewe is een groot leerskool – daar betaal jy herhaaldelik skoolgelde, met geen sertifikaat aan die einde daarvan nie. ‘n Kringloop wat ons meësleur en onverklaarbaar laat in sommige gevalle.  Die lewenslesse vorm ons: liggaam, siel en gees.
Die grootste les wat ons moet leer is dat die wêreld ons niks skuld nie en dat alles nie om “my” draai nie. Hoe maklik het ons-ons nie vererg of gewip omdat ons nie ons sin kon kry nie en op geeindig met eier in ons gesig. Want die wêreld skuld my. Of is ek die enigste een met wie dit gebeur het?
Elke les van 2017 het my nog verder gevorm wat my letterlik na ‘n plek gelei het, ‘n plek waar ek moes hensop en oor gee. Vir lank het ek God weggeskuif uit my lewe as gevolg van diep gewortelde seer. Selfs hiermee moes ek deel, danksy gehoorsame mense wat oor my pad gekom het op die regte tyd. Ek moes weereens erken:  sonder Hom is ek niks. Toe ek die leisels weer terug gee aan die groot bestuurder het dinge in plek begin val.
Daar is nog dinge waarmee ek worstel – selfs tye wat ek myself verwyt vir verkeerde besluite die laaste drie jaar wat ‘n nadraai gemaak het. Maar soos wat ek altyd my kinders geleer het – elke besluit kom met verantwoordelikheid saam, en ek moet saam met die gevolge leef. Dit het my tog sterker gemaak, al wou ek dit nie so insien nie of selfs nie verstaan nie. Daar sal seker nog lesse kom, en sommiges sal ek slaag en ander sal ek dop maar ek weet nou sonder die Anker sal ek nie my skippie deur die storms kry nie.
Ek het defnitief geleer om meer te lag en alles nie so ernstig op te neem nie.
Ek het geleer om te laat gaan en dinge te aanvaar vir wat dit is: lesse.
Ek het geleer om nie oor alles skaam of vernedered te voel nie. Life happens met almal, goed of sleg.
Ek is nog hier, ek haal nog asem. Ek leef. Solank ek dit doen is daar hoop om eendag met sekerheid te kan sê: die meetsnoere het vir my ook op lieflike plekke geval.
Kopiereg @ LynelleClark2018


In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...