Maandag 18 Desember 2017

Toewyding skets – 16 Desember


Daar is iets omtrent naambordjies langs die pad wat altyd my oog vang. Dit is so eiesoortig van ons lewe en kultuur as Afrikaner. ‘n Stempel van ons uniekheid afgedruk op ‘n gebied en die spilpunt van ons denke en wyse.  
Weereens was dit so met my onlangse tog na die Suide van ons land en het dit my weereens diep geraak. Dit gee jou ‘n vorm van besitreg, soos ‘n welkom matjie – miskien die rede dat dit so ‘n aanstoot is vir ons regerende regering. Ongeag hoe hulle toi-toi en verander, die waarheid skree dit uit.
Kruger – Dassiedeur – Gannavlakte is ‘n paar name wat by jou bly. Soms wonder ek oor die bepaalde dorpie, sy inwoners en die tipe lewe wat hulle lei. By tye is dit net ‘n vlietende blik van name wat jy mis maar dit verminder nie hul waarde of boodskap nie. Lank na ek en jy weg is sal hulle nog hul doel dien: ‘n stille getuienis van wie ons is.
Die tweede ding wat jou opval van die pad is die berge wat opskied, somtyds in ‘n waas van deinserige blou en in die agtergrond bly─afhangende van die pad natuurlik. Daar is plekke wat dit so naby jou kom dat jy net kan opstaar na die muur van soliede rots soos dit bo jou uittroon en jou in stille eerbied laat. ‘n Konstante  en standvastige teenwoordigheid wat soos sentinels staan: geanker, uitgebeitel en onbeweeglik altyd teenwoordig met ‘n onwrikbare geloof opgehef na die hemele. ‘n Aanwysing van ons eie afhanklikheid na ‘n Hoër hand, ons oë gerig op Hom ongeag die aanslae.
Jou uitsig word verder omsoom met skakerings van lowergroen en spatsels kleur; versierings wat bydra tot ons kleurvolle menswees. ‘n Mengelmoes van besondersheid; die simbool van lewe. Fynbos, Aalwyne en Vuurpyle vertel van deursettingsvermoë en dapperheid. Fyn en fraai of grof en ongeslyp; dit simboliseer ons diepste wese. Selfs die kleinste spikkels van wit, oranje en rooi verklaar ons vermoë om te blom daar waar ons geplant is. Selfs daarin is ons karakter vasgelê en is dit ‘n stille herinnering van ons krag as volk. Sweet en bloed gedrup vir die behoud van hierdie land wat volksbesit geword het. Soos kronkelende riviere bruis dit deur ons. Vol lewe: sterk en magtig. Altyd besig om sy weg te baan, onverstoord deur die vlaktes en klowe. Soms onopsigtelik maar altyd daar.
En dan word jy herinner aan die woorde – woorde wat so ‘n steen des aanstoots geword het.
Ons sal antwoord op jou roepstem. Ons sal antwoord as jy vra. Ons vir jou Suid Afrika.
Kopiereg voorbehou @LynelleClark2017



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...