Monday, December 18, 2017

Toewyding skets – 16 Desember


Daar is iets omtrent naambordjies langs die pad wat altyd my oog vang. Dit is so eiesoortig van ons lewe en kultuur as Afrikaner. ‘n Stempel van ons uniekheid afgedruk op ‘n gebied en die spilpunt van ons denke en wyse.  
Weereens was dit so met my onlangse tog na die Suide van ons land en het dit my weereens diep geraak. Dit gee jou ‘n vorm van besitreg, soos ‘n welkom matjie – miskien die rede dat dit so ‘n aanstoot is vir ons regerende regering. Ongeag hoe hulle toi-toi en verander, die waarheid skree dit uit.
Kruger – Dassiedeur – Gannavlakte is ‘n paar name wat by jou bly. Soms wonder ek oor die bepaalde dorpie, sy inwoners en die tipe lewe wat hulle lei. By tye is dit net ‘n vlietende blik van name wat jy mis maar dit verminder nie hul waarde of boodskap nie. Lank na ek en jy weg is sal hulle nog hul doel dien: ‘n stille getuienis van wie ons is.
Die tweede ding wat jou opval van die pad is die berge wat opskied, somtyds in ‘n waas van deinserige blou en in die agtergrond bly─afhangende van die pad natuurlik. Daar is plekke wat dit so naby jou kom dat jy net kan opstaar na die muur van soliede rots soos dit bo jou uittroon en jou in stille eerbied laat. ‘n Konstante  en standvastige teenwoordigheid wat soos sentinels staan: geanker, uitgebeitel en onbeweeglik altyd teenwoordig met ‘n onwrikbare geloof opgehef na die hemele. ‘n Aanwysing van ons eie afhanklikheid na ‘n Hoër hand, ons oë gerig op Hom ongeag die aanslae.
Jou uitsig word verder omsoom met skakerings van lowergroen en spatsels kleur; versierings wat bydra tot ons kleurvolle menswees. ‘n Mengelmoes van besondersheid; die simbool van lewe. Fynbos, Aalwyne en Vuurpyle vertel van deursettingsvermoë en dapperheid. Fyn en fraai of grof en ongeslyp; dit simboliseer ons diepste wese. Selfs die kleinste spikkels van wit, oranje en rooi verklaar ons vermoë om te blom daar waar ons geplant is. Selfs daarin is ons karakter vasgelê en is dit ‘n stille herinnering van ons krag as volk. Sweet en bloed gedrup vir die behoud van hierdie land wat volksbesit geword het. Soos kronkelende riviere bruis dit deur ons. Vol lewe: sterk en magtig. Altyd besig om sy weg te baan, onverstoord deur die vlaktes en klowe. Soms onopsigtelik maar altyd daar.
En dan word jy herinner aan die woorde – woorde wat so ‘n steen des aanstoots geword het.
Ons sal antwoord op jou roepstem. Ons sal antwoord as jy vra. Ons vir jou Suid Afrika.
Kopiereg voorbehou @LynelleClark2017



Thursday, December 14, 2017

Onderhoud met Kobus de Villiers, skrywer van Uiters geheim en ander anekdotes. Nou beskikbaar.


Synopsis

Uiters Geheim en ander Anekdotes.

Elke lewe het ʼn storie. Dit is gebeur egter nie gereeld dat die storie vasgelê of oorvertel word nie.
Dit is die sestigs en die wêreld ondergaan groot veranderinge. Daar is die Koue Oorlog, die ruimte wedloop, die Kubaanse misiel krisis, hippies en Woodstock. Die motors het groot stertvinne en Suid-Afrika word ʼn Republiek en ons betaal nou met die Rand eerder as die Pond.
Ek lê op my rug op die grasperk van die ou Vrystaatse plaashuis se tuin en tuur die donker Afrika hemel in om die groen knipoog liggie van die Sputnik te volg tussen die flikkerende blink sterre van horison tot horison.
Ek volg die hele ruimtewedloop tussen die Russe en die Amerikaners.
Hierdie gebeure gryp my verbeelding aan en ek teken boeke vol ruimtetuie en vliegtuie en verslind enige leesstof oor die onderwerpe in die biblioteek en tydskrifrakke van die naaste boekwinkel.
Ek pas nie juis in by enige groep op skool nie en verwar selfs die klas en ons Voorligting juffrou met my verduideliking dat ek eendag by Caltech in Pasadena wil studeer en dan by NASA se Jet Propulsion Laboratory (JPL), gaan werk.
My familie is meestal onderwysers, kuns en musiek, en daar is ʼn paar predikante en so een of twee (my pa ingesluit) wat iets te doen het met mediese wetenskap. Net my een oupa, ʼn plaasboer aan my ma se kant, verstaan my en moedig my aan.
Soos van al die jong manne verwag word, doen ek my Diensplig en Grensdiens. Daarna gaan studeer ek ingenieurswese.
Omdat ek iets so uitheems wil aanpak kry ek min steun van die familie en moet ek vir my eie studies betaal vanaf my tweede jaar op Tukkies. Ek werk vakansies in die myne in ons myndorp, Welkom, waar ek groot geword het.
Weens die Republiek se politiek begin die wapenboikotte en Suid-Afrika begin sy eie lugvaart industrie. Ek gaan vir ʼn onderhoud en vind dat dit die naaste pad gaan wees hoe ek by my drome gaan uitkom. Dit is die begin van ʼn ongelooglike ontdekkingsreis na nuwe lande en ongelooflike ervarings en ondervindinge en ek leer wonderlike lesse van my nuwe omgewing en ook van my myself.
Die werk is egter hoogs geklassifiseer en ek kan vir niemand vertel wat ek doen en wat ek alles gesien en ervaar nie. Dit is eers nou met al die groot veranderinge in ons onlangse geskiedenis dat ek van my stories kan deel.
Die boek is ʼn versameling van party van die staaltjies en stories van die plekke waar ek was, wat ons ervaar het en die wonderlike goed waaraan ek blootgestel was op hierdie ongelooflike reis van die Vrystaat reg om die wêreld.




Vertel ons bietjie van jouself?

Ek is ʼn lugvaart ingenieur en my vrou het linguistiek studeer. Ons is nou afgetree en woon in Port Moody, net buite Vancouver op die weskus Kanada. Ons spandeer ook met rukke tyd by haar woonstel in die suide van Frankryk, waar sy groot geword het.
Hoe ons hier beland het is ʼn lang en half ongelooflike storie. Veral as mens in ag neem dat ek as kaalvoet seun in die Vrystaat groot geword het en dat sy, ʼn beeldskone Franse meisie, naby Le Lavandou in die Côte d'Azur haar kinderjare deurgebring het. Beide van ons het miere gehad en wou om verskillende redes die wereld gaan verken. Om een of ander rede het ek ʼn gawe om tegniese goed te kan ontwerp en dit het vir my geleenthede geskep om in die buiteland te studeer en te werk. Dit is hoe ons mekaar ontmoet het en die wereld gaan verken het.

Wanneer het jy begin skryf en hoekom?

Elke lewe het ʼn storie. Dit is gebeur egter nie gereeld dat die storie vasgelê of oorvertel word nie.
My storie begin in die sestigs en die wêreld ondergaan groot veranderinge. Daar is die Koue Oorlog, die ruimte wedloop, die Kubaanse misiel krisis, hippies en Woodstock. Die motors het groot stertvinne en Suid-Afrika word ʼn Republiek en ons betaal nou met die Rand eerder as die Pond.
Ek lê op my rug op die grasperk van die ou Vrystaatse plaashuis se tuin en tuur die donker Afrika hemel in om die groen knipoog liggie van die Sputnik te volg tussen die flikkerende blink sterre van horison tot horison.
Ek volg in detail die ruimtewedloop tussen die VSA en die Soviet Unie tot met die maanlanding.
Hierdie gebeure gryp my kinder verbeelding aan en ek teken boeke vol ruimtetuie en vliegtuie en verslind enige leesstof oor die onderwerpe in die biblioteek en tydskrifrakke van die naaste boekwinkel.
Ek pas nie juis in by enige groep op skool nie en verwar selfs my klasmaats en ons Voorligting juffrou met my verduideliking dat ek eendag by Caltech in Pasadena wil studeer en dan by NASA se Jet Propulsion Laboratory (JPL), gaan werk.
My familie is meestal onderwysers, kuns en musiek, en daar is ʼn paar predikante en so een of twee (my pa ingesluit) wat iets te doen het met mediese wetenskap. Net my een oupa, ʼn plaasboer aan my ma se kant, verstaan my en moedig my aan.
Soos van al die jong manne destyds verwag word, doen ek my Diensplig en Grensdiens. Daarna gaan studeer ek ingenieurswese.
Omdat ek iets so uitheems wil aanpak kry ek min steun van die familie en moet ek vir my eie studies betaal vanaf my tweede jaar op Tukkies. Ek werk vakansies in die myne in ons dorp, Welkom, waar ek groot geword het.
Weens die Republiek se politiek begin die wapenboikotte en Suid-Afrika begin sy eie lugvaart industrie. Ek gaan vir ʼn onderhoud en vind dat dit die naaste pad gaan wees hoe ek by my drome gaan uitkom. Dit is die begin van ʼn ongelooflike ontdekkingsreis na nuwe lande en byna onbeskryflike ervarings en ondervindinge en ek leer wonderlike lesse van my nuwe omgewing en ook van my myself.
Die werk is egter hoogs geklassifiseer en ek kan vir niemand vertel wat ek doen en wat ek alles gesien en ervaar het nie. Dit is eers nou met al die groot veranderinge in ons onlangse geskiedenis dat ek van my stories kan deel.
My vrou en die kinders wou graag weet waarom ons in verskeie plekke gewoon het, waarom ek soms met rukke weg was vir die werk en wat ek regtig gedoen het by die werk. Ek het ʼn jaar of so gelede begin om my hehinneringe neer te skryf en skielik begin dit verander in ʼn leesbare versameling stories en staaltjies.

Wat het jy geskryf wat ons kan lees?

Ek het die anekdotes en staaltjies gerangskik van my kinderdae tot en met ons aftrede. Daar was hopeloos te veel en ek het baie uitgedun. Vriende en familie wou dit lees en op ʼn dag stuur ek die ‘manuskript’ na ʼn paar uitgewers en kry toe ʼn verbasende positiewe reaksie. Die boek is nou by die uitgewers se webblad beskikbaar.

 Die naam is : Uiters Geheim en ander Anekdotes

Waaroor gaan jou boek/stories en waar kan ons dit kry om te lees?

Die boek is ʼn versameling van party van die staaltjies en stories van die plekke waar ek was, wat ons ervaar het en die wonderlike goed waaraan ek blootgestel was op hierdie ongelooflike reis van die Vrystaat reg om die wêreld.

Hoe verbeter jy jou skryfkuns?

Ek is ʼn ingenieur, nie ʼn skrywer nie, so enige verbetering in my skryfvermoë is goed! Dit is juis hoekom ek by die blad aangesluit het, mens kan altyd leer by ander wat reeds die paadjie geloop het!

Wat is jou groot droom?

Ek het al lank voor die idee van ʼn ‘emmerlys’ bestaan het, baie planne en drome gehad. My groot droom was altyd om kontrepsies te bou wat kon vlieg, vinniger en hoër. Dit het ek toe uiteindelik gedoen. Die baie ander goed op my lang ‘emmerlys’ is al afgehandel, maar omdat ek nog hier is en elke dag iets nuuts leer, wil ek nou die wereld van die skrywers bietjie ondersoek.

Wie of wat inspireer jou?

My insperasie in my loopbaan was mense soos Clarens ‘Kelly’ Johnson, Colin Chapman en Ayrton Senna. My een oupa was ʼn groot invloed in my lewe. My vrou is ʼn baie interressante en slim mensie en sy inspireer my in rigtings wat ek nie voorheen sou oorweeg het nie.

Behalwe vir skryf, watter ander belangstellings het jy?

Ons reis, ek doen fotografie en bou skaal modelle van bote, vliegtuie en vuurpyle. Ek vang vis saam met die seuns. Lees baie en probeer soms ook uitwerk wat laat mense dink en optree soos hulle wel doen!

Gunsteling boek en skrywer en hoekom?

Daar is nie een nie, my belangstelling is tyd wyd en ek leer ook gereeld van nuwe skrywers en onderwerpe.

Waar en wanneer skryf jy die beste?

Ek het oor die jare altyd ʼn notaboek langs my op die bedkassie. In die dae toe ek nog tegniese ontwerp gedoen het vir die werk, het baie idees sommer so in die nag of vroegoggend uitgepeul. Dan moes ek skryf en skets voordat dit verlore gaan. Ek doen nou maar dieselfde met my skryfidees. Dit is egter in prentjievorm, ek dink nie in woorde nie, maar in tekeninge en sketse, so ek moet later die woorde om die prente skryf. Dit is die moeilike deel.

Watter tipe stories vermy jy en hoekom?

Ek hou nie van spookstories nie. Ek dink dit kom nog van my Diensplig tye op die Grens.

Watter belangrike lewensles(se) pas jy in jou lewe toe?

Daar is so baie! Almal wat so baie goed gedoen en probeer het in die lewe, sal weet hoe baie lesse daar was. Die grootste een vir my is: Jy weet nie waartoe jy in staat is voordat jy nie regtig probeer het nie!

Watter raad sal jy vir ander skrywers gee?

Ek kan nie raad gee vir ander skrywers nie, hulle weet almal meer as ek. Ek is eerder hier om iets by hulle te leer.

Baie dankie vir die geleentheid en 'n kykie in jou lewe, Kobus. Ek wens jou alle sukses toe. 

 Die boek is beskikbaar by Books Direct of Annemarie Meyer annemarie.meyer02@gmail.com 


Monday, December 11, 2017

Boekbekendstelling: SA Skrywers - Kontreistories - 29 Verhale deur verskillend skrywers #Afrikaans


Sinopsis:
Op elke kontrei dorpie is die een of ander bewaarde geheim, staaltjie te vertelle of sommer net ʼn storie wat elke nuweling op die dorp móét hoor. In SA Skrywers se Kontreibundel word jy weggevoer na die lewe van klein Hansie en jy ervaar ʼn begrafnis op Loopspruit. Hierdie bundel se stories beloof om jou volgende keer twee keer te laat dink voordat jy sê: dit is net ʼn scrapyard of dis net ʼn stukkende windpomp.
Durf die reis aan saam met elk van die skrywers en word deel van die lewe in SA Skrywers Kontreibundel se unieke wêreld.
Bestellings kan geplaas word by enige van die skrywers teen R130.00, posgeld uitgesluit.
Sal eersdaag op Groep 7 se Webwerf beskikbaar wees

Skrywers:​
1. Moles voor die Keffie - Babsie Jacobs
2. Wys my ‘n bittersoet wals – Maritza du Preez
3. Hansie se verrassing - Elsabe de Beer
4. Die einde of die begin? - Ilze Beukes
5. Broederlike weddenskap - Lia Killian
6. Soetwals op Bitterfontein- Rosalee Meyer
7. Begrafnis op Sukkelfontein - Ria Fourie
8. Diamante is rooi - Werner Wehmeyr
9. Vrome vriendskap - Hannes Snyman
10. Aronskelk – Ben le Roux
11. Ver pad na verligting - Driekie Grobler
12. Stukkende Windpomp - Lia Killian
13. Salt and Pepper 'n Liefdestorie. Lynelle Clark
14. Scrapyard storie - Antoinette Lourens
15. Baasspeurder Jorsie - Rosalee Meyer
16. Die Spruit, die Lyk, die Boepens.-Hansie Lategan
17. Drie Remora Suigvisse en ń dominee - Antoinette Venter
18. Liefde is ń lang woord – Maritza du Preez
19. Basjan se geheim - Rosalee Meyer
20. Wals op Bitterfontein - Johan Jansen
21. Roomys agter op ń bakkie - Johan Jansen
22. Drukking van die siel - Tarina Jordaan
23. Bekerveld Scrapyard - Pieter van Loggerenberg
24. Skandvlek - Riana le Roux
25. Droogte op die plaas. – Jeannetta Swanepoel.
26. Die huis op Kleinhoop – Marika Giani.
27. DIE HEK – Simon Riekert.
28. Die man met die Swart Skoene – Frans an Aardt.
29. Die Scrapyard op Calvinia - Piet Saayman

Ontmoet die skrywers:

Ria Fourie
Ek is 59 jaar oud, ma van vele en ouma van nog meer. Getroud en woonagtig in Pretoria. Werk my hele lewe nog en was vir een jaar by die huis maar ek het weer begin werk na ek besef het ek kan nog nie die elke dag huis bly ding doen nie. In daardie jaar het ek betrokke geraak by Rainbow Gospel Radio. Vreemd genoeg het ek in Driekie Grobler se voetspore gevolg want sy het voor my gedigte op RGR uitgesaai. Ek het so by SA digters betrokke geraak. Ek skryf al baie jare nie meer gedigte nie. Ek het besef dat my gedigte net vloei as ek gelukkig is. Ek het my hand begin waag aan stories skryf en alhoewel ek nog baie ver van ’n ware skryfster is, is dit vir my lekker om net stories neer te pen. My droom is om ’n skryfskool te kan doen en dan hoop ek om ’n boek te skryf voor ek nie meer kan nie. Ek het een sus en ons twee is baie geheg aanmekaar. Ek het in 2014/15 borskanker gekry maar is tans in remissie. Daarby is ek dol oor katte, maar het die afgelope sewentien jaar nie daai voorreg gehad om een te hê nie. Ek help tussendeur my man om Chinese kontrakwerkers te vervoer en ek besef dat hieruit ook nog ’n storie kan kom, alhoewel dit baie van my tyd vat en my fisies dreineer. Verder werk ek by ’n wonderlike oudioloog en ons twee het baie pret saam. Ek is baie lief vir die Here, al verstaan ek Hom glad nie. Daarom moet ek elke dag die besluit maak om Hom onvoorwaardelik te glo. Partydae is dit makliker as ander dae.

Hannes Snyman 
As oud Transvaler was dit ʼn moeilike besluit om die ooptes van die Karoo aan te durf, maar op die einde het hierdie pragtige Karoodorp, Orania, nesgeskrop in die holte van my hart. Met kinders wat reeds hulle eie dinge begin doen het, is daar nou minsame tye wat ek en vroulief die sterreprag, wat jy net in die Karoo in soveel glorie kan aanskou, kan indrink terwyl ʼn soel windjie die versengende somer hitte afkoel en ʼn Hemelse atmosfeer skep.Dit is ook hier waar ek die pen vir die eerste keer doelgerig opgetel, en besluit het om my hart aan andere oor te dra.
Antoinette Lourens
Ek moes 'n baie suksesvolle loopbaan vaarwel roep toe my man in 2014 met pensioen gaan en aankondig ons verhuis see toe. Na 32 jaar ononderbroke diens in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ekself was te jonk vir pensioen en het nie kans gesien om 160 km per dag te pendel tussen Aston Baai en Port Elizabeth waar hul wel 'n pos sou hê vir 'n luitenant-kolonel nie. Boeke was nog altyd 'n groot passie vir my, en omdat ek baie mentor rolle vertolk het in die polisie het ek besluit om 'n boek aan te pak, gedurende 2015, waarin ek van my kennis kan oordra aan die jeug. Die boek is nog nie voltooi nie. (Die mikpunt tans is 2018). Lynelle Clark, het my genooi, iewers gedurende 2017, om deel te neem aan SA Skrywers se uitdagings, en ek skryf dus die afgelope jaar ook in Afrikaans. Ek praat baie en daarom dink ek is kommunikasie die medium waarin ek myself kan uitleef. My geloof, die see, en natuur lewe, is my kreatiewe bronne. Ek is nog 'n groentjie en skryf is tans 'n lekker stokperdjie, en tydverdryf.

Piet Saayman
Ek is 'n oud Vaaldriehoeker en het in 2009, na my aftrede Pretoria toe verhuis. My liefde vir lees en skryf het al op laerskool begin.
In 2008 begin ek ' n boek skryf wat deur die keurders van 'n drukkery verwerp word. Ek het gou besef mens het leiding nodig en het Janie Oosthuizen se skrywerskursus gevolg.
Na 2 kortverhale in Vrouekeur was ek reg vir die ding. Ek het kortverhale geskryf vir die vale en dit op my rekenaar gebere.
Nadat ek by SASkrywers en Malherbe uitgewers se FB aangesluit het, is die deure vir my oopgemaak en is dit die perfekte platform vir ons aspirant skrywers. Ek skryf omdat ek dit geniet en is opgewonde oor my 1ste kinderboek wat pas verskyn het. Ek is tans besig met nog 2 boeke. 

Lynelle Clark
As 'late-bloomer' het Lynelle ernstig begin skryf in 2010 toe sy baie tyd op hande gehad het. In 2012 het haar eerste boek, A Pirate's Wife, die lig gesien. In 2014 het Bella's Choice verskyn. Albei die boeke is op Amazon beskikbaar. Haar tog het haar op verskillende paaie gelei en so het sy baie aspekte van die skryfkuns geleer. Haar derde boek, Blood Mines, sal vroeg volgende jaar vrysgestel word. Sy hou van diversiteit in haar skrywery en is altyd opsoek na 'n nuwe uitdaging en een van haar stories is so pas vir 'n Aardklop uitdaging in aanmerking geneem. Afgesien daarvan het sy ook 3 Blogs wat haar aandag en tyd verg waar sy nie net haar eie werke bemark nie maar ook mede-skrywers sin. Sy het 'n passie om nuwe skrywers te identifiseer en te help om ook hul skryf drome waar te maak en is voltyds betrokke by SA Skrywers en Digters. 
    
Antoinette Venter
Antoinette woon in die lieflike Jeffreysbaai omgewing saam met haar man, ouma, skoonma, vier honde en twee katte. Haar liefde vir lees kom reeds van jongs af aan. Verskeie tydskrifverhale het gevolg. 'Soos die blou roos blom’ bonus-kortverhaal in een van die Romanzaliefde e-boeke van Lapa Uitgewers en ‘Offerliefde’ in die Hartlam bundel (Tafelberg) Daar is ook verskeie publikasies in saamgestelde bundels deur kleiner uitgewers.

Ilze Beukes Ek bly in Kroonstad in die Vrystaat, is getroud en  het twee getroude dogters, en een seun wat nog swot. Ek is ook 'n ouma vir vier woelwaters. Bedags werk ek by 'n plaaslike laerskool en saans verdwaal ek in 'n wêreld van storieskryf. 




Jeannetta Swanepoel 
Ek woon in 'n klein dorpie in die Noord-Kaap, Ritchie. 'n Plekkie wat ryk is aan geskiedenis, soos Die slag van Magersfontein en Die slag van Modderrivier, uit die dae van die Anglo-Boereoorlog, wat enkele kilometers van ons geleë is. Ek is 'n sjef, kulkunstenaar en Dj, maar my groot liefde lê natuurlik in die kunste. Ek skilder en skryf, nie omdat ek dit gekies het nie, maar eerder omdat die karakters en die verfkwaste my gekies het. Ek is ʼn stil en diep mens wat my woorde en gedagtes met ander mense deel d.m.v. my skryfwerk. Daar is ʼn wêreld van fiksie en karakters binne my wat eenvoudig met lesers móét gedeel word.
Rosalee Meyer
Woorde is vir my so nodig soos my volgende asemteug. Woorde is my vreugde, my skuiling. Die goue draad wat my lewe omraam. My woorde vloei voort uit Genade en Seën. Mag ek deur my woorde ook die voorreg hê om 'n seën vir ander te wees. Mag my woorde my lesers meevoer op 'n betowerende reis. 'n Groot dankie aan SA Skrywers vir die voorreg en die geleentheid. Bowenal 'n dankie aan my Hemelse Vader wat my vir nou hiermee seën. Ek is diep dankbaar dat ek nou 'n flertsie van my droom bewaarheid mag sien.

Lia Kilian 
Lia is gebore in Witbank (1968) en groot geword in Vanderbijlpark. Haar lewensbane het haar deur ons land gevat en haar die voorreg gegee om elke provinsie te leer ken en lief te kry. Sy het reeds as jong meisie begin skryf, maar eers in 2005 haar eerste publikasie gedoen. Sy het reeds al tien publikasies onder haar regte naam en 4 onder haar alias. Sy stel 'n Dig en foto bundel bekend in Desember asook haar eerste kortverhaal bundel. Februarie 2018 verskyn daar twee van haar kortverhale in 'n kortverhaalbundel asook twee gedigte in 'n digbundel wat deur SA Skrywers en Digters uitgegee word. Nog 'n kortverhaal bundel en Digbundel kom in Maart 2018 uit asook 'n roman wat die eerste een is van 'n reeks. Sy doen ook vertaal werk en sketse vir kinderverhale.


Marika Swart Giani 
Ek is n mamma van 4 en bly in Springs. Ek het van Laerskool dae af gedigte geskryf en dit was 1 van my grootste drome om 'n skrywer te word. Ek hou daarvan om liefdesverhale te skryf want die liefde is vir my baie spesiaal asook enige storie met 'n gelukkige einde. Ek is 'n 'sucker' vir gelukkige eindes.

Hansie Lategaan 
Ek is jare lank in die IT bedryf, maar het altyd vir my plesier en die asblik gekryf tot ek SA Skrywers ontdek het.  Ek woon en werk in Centurion waar ek bedags my brood verdien, maar saans my verbeelding op loop laat gaan en iets skryf.  Skryf is vir my ‘n absolute plesier en ek skryf wanneer ek wil en nooit omdat ek moet nie.  Dit is vir my waaroor dit gaan.  Ek doen dit omdat ek daarvoor lief is. 


Pieter van Loggerenberg
Groot Marico is Bosman wêreld soos hulle sê dit is in die hartjie van die Wes Transvaal en is baie ryk aan die nostalgie van die outyd en dis waar ek woon op 'n plaas al vir 24 jaar. As kind was ek lief vir stories nog voor ek hulle self kon lees of skryf en op skool het dig kuns my verbeelding aan gegryp, maar nooit sou ek kon dink eendag sal ek self 'n skrywer en digter word nie. Ek is 'n stil eenkant mens wat hou van moordsake oplos en navorsing doen op ou sake. Ek is 'n romantikus en is nou maar net eenmaal verlief op verlief wees en happy endings, sou ek 'n liefdesverhaal skryf. Ek is ook 'n goeie potloot skilder as ek die dag lus is vir teken en ek hou van kos maak ek is mal oor musiek wat iets in my binneste aan wakker en is lief vir die natuur. Ek is op my gelukkigste met 'n goeie boek as die wolke toe trek en dit beginne reën of as die mis oor die berge trek en die plaas spookagtig beginne lyk en als net stil om my raak.

Driekie Grobler
Ek is 'n skrywer/digter/motiveringspreker/omroeper/proefleser/redigeerder. Woon in Pretoria en my passie in die lewe is om ander te help en Afrikaans te bevorder. Ek is betrokke by verskeie organisasies soos o.a. die GHA (Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans) en is ook ‘n Ambassadeur by Afrikaans.com. Het al verskeie boeke gepubliseer en heelwat toekennings vir skryf-/en digkuns ontvang. My doel is om ‘n verskil te maak en waarde toe te voeg hoe en waar ek kan.

Tarina Jordaan
Tarina Jordaan is 'n onafhanklike navorser en skrywer. Alhoewel haar skryfwerk tot onlangs toegespits was op akademiese publikasies rondom sin van plek (genius loci) en plekgehegtheid, put sy deesdae meer pret uit die skryf van kortverhale vir die Vrouekeur. Haar nuutste projekte sluit in twee Afrikaanse spanningsromans. Sy woon tans in Antwerpen, België

Elsabe de Beer 

Ek was my lewe lank ‘n onderwyseres, het onlangs skryfkursusse by Skryfgeheime en SA Vryskutskrywers gedoen, en daarna het die gogga my gebyt. Ek het nou al twee kortverhaalbundels gepubliseer, en hoop om nog baie meer te publiseer!







Simon Riekert
Ek is 'n verplante Laevelder uit die Sabie-vallei en woon die afgelope drie dekades in Pretoria. Danksy gelukkige kinderjare, goeie onderwysers en geduldige ouers het my liefde vir lees en skryf nooit opgehou nie. My inspirasie het van vroeg tyd af gekom van ooms wat grootoog kon vertel langs die kampvuur, ons huisdokter wat poësie geskryf het en 'n tante wat saam met die spookstories in die distrik gespook het. Nou reis ek en my vrou die land vol met bergfietse wat ons geleentheid bied om by die plekke uit te kom waar interessante mense met goeie stories leef. Ek hou van sport, musiek, mense, fotografie en fyn kuns. Ek skryf stories en poësie oor die lewe, mense se dinge en die dinge van die lewe. Tussendeur pleeg ek regsadvies in 'n vennootskapspraktyk en geniet my lewe as geakkrediteerde rugbyjoernalis. Of al my stories waar is, bly 'n goedbewaarde geheim. Nie eens 'n goeie stukkie biltong breek die stilswye nie. Maar 'n mens weet nooit...
Frans van Aardt 
Ek is lief vir die natuur. Kom goed met mense oor die weg, maar baie gelukkig alleen in die veld. Baie lief vir lees van jongs af. Die skrywery het vir my genesing gebring na 'n baie traumatiese tydperk Ek is mal oor ingelegde druiwe, verkieslik die rooies. My tipe boeke wat ek skryf word grootliks daardeur bepaal.
1 Glasie = spanning
2 Glasies = riller
3 Glasies = romanse
4 Glasies = wetenskap fiksie
Nou ja, hierbo het julle gesien dat ek ook van grappies hou!

Johan Jansen
Vandat ek kan onthou, het ek ñ groot verbeelding gehad en altyd stories opgemaak. Skryf was nog altyd my passie en my vriendin het my geraai om te skryf. Op die oomblik is ek besig om ñ verhoogstuk vir Aardklop te verwerk vir die wenner (Lynelle Clark) wat aan ñ SA Skrywer kompetisie deelgeneem het.




Werner Wehmeyr
Ek bly tans in ʼn dorp oorkant Edinburgh in Skotland. En daar is ʼn groot stuk see tussen my en die hoofstad. Ek is gebore in Pretoria en dit is waar my liefde maar nog lê al het die kaap my tweede blyplek geword omdat my pa nou daar bly. Ek het nooit besef skryf sou ʼn groot deel word van my lewe nie maar in 2010 het ek gedigte begin skryf wat ek op die webblad Woes geplaas het. Dit was vir my ʼn ongelooflike ervaring want vir die eerste keer het ek besef dat ek hier ʼn talent het want ek nooit geweet het bestaan nie.
Ek was ʼn analis programmeerder gewees tot die tegnologie so verander het dat ek ook my beroep moes aanpas en werk tans as ʼn boekhouer in Edinburgh. Ek is ʼn baie diep mens wat op ʼn ander vlak oor dinge dink en redeneer. Ek het nou onlangs begin om selfs kortverhale te skryf en doen tans ʼn skryf kursus.
Ek is meer bekend as ʼn romantikus via my gedigte en stories maar ek probeer om so wyd moontlik te skryf. Ek het reeds ʼn gedeelte bundel uitgebring met stories en gedigte maar binnekort kom my eerste solo digbundel uit wat ek as prys gewen het. 

Babsie Jacobs
Gebore op Jacobsdal, skool gegaan op Hoopstad, grootmens geword op Douglas en nou besig om oud te word op Harrismith – dis Babsie Jacobs. Ek ‘n enkelouer met kluisenaarneigings en as dit nie vir die stemme in my kop was nie, sou my lewe baie vervelig gewees het!
In 2007 was ek 'n finalis in NB Uitgewers en Leserskring se liefdesverhaalwedstryd vir nuwe skrywers. My inskrywing, Volbloedvrou vir 'n Vaalseun, is gepubliseer onder die skuilnaam Kobie Smit en dit bly nog steeds vir my ‘n wonderwerk! Dit was ook ‘n groot verrassing toe dit in September 2017 opgeneem is in NB Uitgewers se Melodie Omnibus 2.
Na tien jaar het die skryfgogga my weer gebyt en my eerste kortverhaal het onlangs in Die Huisgenoot verskyn.  
Wanneer ek nie werk om die pot aan die kook te hou nie, reis ek die wêreld vol, red renosters, vang misdadigers en verlei sexy mans. Alles in my verbeelding, natuurlik.






Die onmoontlike het gebeur, ‘n man stel belang, wil jou ken, en tyd met jou spandeer.

Vandag se program is tweedoelig van aard; waar ek met mans en vrouens wil gesels. Verhoudings is nie maklik nie en elke stap in die ...