Thursday, November 23, 2017

Vierde plek wen storie: Ek is Marieta deur Lynelle Clark

Marieta kyk na haarself in die lang spieël. Die nuwe snyerspak pas haar perfek. Die potloodromp omhels haar heupe stylvol. Die wit sybloes wys net genoeg sodat sy saaklik maar tog vroulik voorkom. Die baadjie skep die indruk dat sy in beheer is. Haar gemaklike swart skoene blink gevryf. Haar grimmering is foutloos aangewend en haar kort kapsel is vroegoggend al deur Heloise gedoen, dit omraam haar gesig pragtig. Die geheel prentjie lyk versorg en afgerond. Presies soos wat sy dit wou gehad het.
“Ek is ‘n wenner.” Herhaal sy haar daaglikse mantra.
“Niks staan in my pad nie.”
“Ek besit die vermoë om suksesvol te wees.”
“My toekoms is nou. My drome manifesteer vandag. Ek is die beste bate vir Greeff, Van Ryhn en Hoekstra Prokureurs.” Tevrede streel sy oor haar klere. Die dae van hartseer is verby. Weg is die versukkelde vrou wat altyd in haar man se skadu moes bly. Sy het verander in ‘n pragtige vlinder.
“Binnekort sal jou naam ook op die bord verskyn: Greeff, Van Ryhn, Hoekstra en Mulder Prokureurs.” Sy kan al die naamplaat sien en sy glimlag vir haar eie beeld. Sy besef dit kan ‘n geruime tyd wees voor dit realiseer maar sy kan nou al droom.  Op daardie oomblik dring ‘n sonstraal die kamer binne en dit voel asof sy op ‘n verhoog staan met die hoofligte op haar gefokus. Sy straal.
“Jy is dinamies, Marieta Mulder.” Verspot gee sy ‘n kniebuiging aan haarself en lag vrolik. Sy kyk dan na die horlosie teen die muur en besef dat dit tyd is om te gaan. Sy tel haar swart leer-aktetas op – ‘n geskenk van haar ouers toe sy die toelatingseksamen tot die Balie geslaag het - maak seker sy het alles en stap by die voordeur uit. Met ‘n defnitiewe klik sluit die deur agter haar. Vir Marieta is dit die mooiste klank. Die deur simboliseer haar onafhanklikheid asook haar nuwe lewe. Sy het al die negatiewe gebeuretenisse agter gelaat en bewys sy kan dit doen. Sy moes baie brûe oorbrug om tot hier te kom. Die feit dat sy op pad is na die grootste Prokureurs firma vir haar laaste onderhoud is ‘n groot oorwinning. Sy het gedroom van hierdie dag vandat sy 18 jaar oud was. Dit het haar 30 jaar gevat, maar sy het dit gemaak. Sy is op die regte plek.
Marieta stap na haar geparkeerde motor onder die afdak in die kompleks, een van die gegoede buurte in Pretoria. Met ‘n vinnige druk van die knoppie ontsluit sy die kattebak en plaas haar aktetas binne en druk die bak toe. Elke stap vat haar nader na haar toekoms en opgewondenheid bruis deur haar. Sy voel lig en vry en sy glimlag vir haar weerkaatsing in die motorvenster.
‘n Vinnige kyk na agter ry sy agteruit. Vir oulaas kyk sy na haar beeld in die truspieëltjie. Die vrou wat terug kyk is professioneel. Elke haar op sy plek. Met ‘n rustige verandering van ratte volg sy die geplaveide pad na die hoofhek toe. Sy word vriendelik gegroet deur die dag sekuriteit en trek haar kaart deur die kontrole paneel. Die hek swaai geruisloos oop en sy ry stadig vorentoe. By die ingang stop sy en wag vir ‘n geleentheid om by die verkeer aan te sluit. Die oomblik wat dit skoon genoeg is sluit sy aan by die oggend verkeer en volg die padgebruikers op ‘n veilige afstand.  Terwyl Marieta ry herhaal sy die motiverende woorde tot by die kantoorgebou in die middestad. Sy was nog nooit so goed voorbereid vir ‘n onderhoud soos op daardie oomblik nie. Alles het net reg gevoel.  
By die moderne toonbank, ‘n groot bos blomme het die plek opgekikker, meld sy aan en na ‘n vinnige gesprek met die ontvangsdame volg sy die sekretaresse na die raadsaal waar die vennote vir haar wag.
“Mev. Mulder, welkom terug.” Groet die jongste van die drie vennote haar. Ferm neem hulle hande en groet mekaar soos ou kennisse: “Asseblief noem my Marieta.” Die ander twee mans groet haar ook vriendelik en ‘n paar konvensionele vrae word gevra wat haar dadelik op haar gemak stel. Koppies koffie word onmiddelik voor hulle neergesit en die sekretaresse trek die deur agter haar toe. Die onderhoud was amptelik aan die gang en elke prokureur het vertel wat hy verwag van die nuwe junior prokureur. Doktor Greeff, die oudste van die drie, het haar ingelig oor die visie van die maatskappy. Marieta het aandagtig geluister en elke vraag flink beantwoord. Daarna word haar vergoedingspakket bespreek. Haar oë rek met die aanbod en sy glimlag tevrede. ‘n Geleentheid word ook aan haar gegee om vrae te vra en om die beurt beantwoord die mans haar. Die uur was sommer vinnig verby. Hoekstra was die eerste prokureur wat homself verskoon het omdat hy binnekort in die hof moes verskyn.
“Wel Marieta, sien jy kans om saam met die klomp te werk?” vra Greeff minder formeel en sy lag gemaklik; bly dat die onderhoud tot ‘n einde gekom het.
“Defnitief Mnr Greeff. Dit sal vir my ‘n groot eer wees om saam met u en die span te werk.” Alhoewel hulle genoem het dat sy hulle op hul name kan noem het sy tog gevoel dat dit heeltemal onvanpas sal wees en het gebly by die formele aanspreekvorm.
“In daardie geval sien ons jou môreoggend.” Marieta se hart spring in haar keel. Het sy reg gehoor. Sy het die werk gekry. Vir ‘n oomblik was sy stomgeslaan maar antwoord vinnig. “Beslis, ja. Dankie Mnr Greeff.”
“Die besluit was eintlik maklik. Jou Professore het met die grootste lof van jou gepraat en ons sou dom wees om jou vir ons opposisie te los. Welkom aan boord.”
“Baie dankie meneer.” Sy groet albei die mans en verlaat die vertrek eerste. Al die pad na haar voertuig toe voel dit asof sy sweef. Sy het dit gedoen. Sy het dit wraggies gedoen.
“Marieta?” roep iemand haar naam en sy draai om: “Ek is Marieta.” Beantwoord sy die persoon. ‘n Skoot knal so naby dat sy nie anders as om te koes nie. Eensklaps brand haar bors soos vuur en sy druk daarteen. Geskok kyk sy na haar hand. Dié is rooi bevlek met haar bloed en voor sy nog tot verhaal kon kom val sy slap op die plaveisel neer.

©LynelleClark2017



No comments:

Post a Comment

Diamant Divas Program 6: Gee jouself tyd

As ’n verhouding eindig, kan dit pynlik wees, selfs vir die persoon wat dit beëindig het.  “Ek het verskriklik gevoel!” hoor ek dikwels i...