Vrydag 24 November 2017

Naaswenner van die Eiebundel kompetisie: Melinda du Plessis: Metamorfose.

Baie geluk met die vrystelling van jou nuwe boek, Metamorfose

Baie mense weet nie altyd hoeveel tyd in ‘n boekvrystelling gaan nie en ek is seker jy kan boeke skryf net oor die proses. Jy is ook nou betrokke by SA Skrywers en was naas wenner van die SA Skrywers eie bundel kompetisie. Baie dankie dat jy tyd gemaak het vir hierdie onderhoud en ‘n kykie in jou lewe. Baie geluk met hierdie vrystelling. 




1. Hoe het die idee van die bundel ontstaan? 
Dit was totaal onbepland en onverwags. Ek was besig om aan die digbundel vir die eie bundel kompetisie te skryf toe ek n klompie 'writing prompts' na Afrikaans vertaal het. Die een vertaling was ''n uitgedopte hart'. Die prentjie wat ek gekry het was van hierdie meisie wat deur n galery gestap het waar elke kunswerk uitbeeld hoe hierdie kunstenares bespot en seergemaak is in die dorp omdat sy kreupel was en so meer. Almal het gedink sy is n boemelaar. Toe ek die gedig begin skryf het die storie duideliker en duideliker geword en ek het besluit dit sal eerder een van die kortverhale in die eie bundel kompetisie wees. Ek het vir albei kompetisies ingeskryf. Een storie word toe twee en die word toe vyftien stories wat strek oor tien jaar in die meisie se lewe. Soos ek sê, totaal onbepland.
2. Ek hou van die titel van die boek wat het jou laat dink daaraan?
My naam vir die boek was Die legkaart van Anna se lewe... maar toe dit by die drukproses kom het hulle gesê die titel moet verkieslik nie langer as vier woorde wees nie... Ek en vriende het gewonder en met seker twintig titels gesit. Een van my bejaarde Voete Bederf kliënte het gevra waaroor die boek gaan en sy het met Metamorfose vorendag gekom. Dit beskryf die boek uitstekend in een woord.
3. Mense besef nie altyd hoeveel tyd of selfs van jou eie ondervinding gaan in so ‘n boek nie. Is daar ‘n spesifieke staaltjie wat jy ons kan vertel wat die boek lewendig gemaak het?
Jong, hierdie hele jaar is 'n staaltjie wat skryf aan betref. Ek het maar êrens in die begin van die jaar my eerste kortverhaal geskryf vir 'n uitdaging op SA Skrywers en toe geskok in trane gesit toe ek dit wen... die eerste storie in Metamorfose was my tweede kortverhaal. Daar was geen beplanning nie, ek het net geskryf wat ek voor my gesien gebeur het, en simpel maar waar my oë uitgehuil en geskater van die lag saam met die karakters. Met die laaste storie was ek 'n hele dag tranerig voor ek dit geskryf kon kry. 
4. Hoe lank het die skryfproses gevat?
'n Maand in die nagte tussen 22h00 en 2h00 en oor naweke soos ek tyd gehad het.
5. Jy was die naaswenner van die SA Skrywers bundel kompetisie, hoe het dit jou laat voel toe jy die aankondiging hoor?
Ek was die naaswenner ja... dit voel steeds onwerklik al sit ek met die boek in my hand met my naam daarop. Ek was uit die oggend en toe ek by my foon kom sien ek my vriendin het my al n paar maal gesoek, sy het toe op die facebook blad gesien dat ek een van die wenners was. Ek het in trane uitgebars dat die water spat. Ek het so 'n dankbare hart, het nooit gedink God gaan my my droom so vinnig gee nie.
6. Het jy jou familie en vriende se volle ondersteuning of weet hulle niks?
My suster is my grootste ondersteuner, sy is glad nie n leser nie maar het elke storie getrou gelees soos hul gevorm het en pittige terugvoer gegee. Ek dink die res van my familie kan saam met my nie glo dat dit werklik gebeur nie. My vriende is engele om my.
7. Waar het skryf vir jou begin?
Hierdie jaar, 2017. Ek het vroeg in die jaar vir die Here gevra wat my groot uitdaging vir die jaar is... vandat ek 40 is het ek besluit om groot goed - vir my - aan te pak wat ek nog altyd gedink het ek nooit sal kan doen nie. 2014 was Kilimanjaro, 2016 die 800km Camino in Spanje. 
My aksiewoord hierdie jaar was skryf. In mý kop was dit om te dig... vanaf 2008 het ek n paar gedigte geskryf. Ek het dus by n digslypskool aangesluit en myself daarin ontwikkel. Twee van my gedigte is toe opgeneem in Hartswoorde, SA Digters se eerste digbundel wat in Julie bekendgestel is. Intussen het ek my eerste kortverhaal geskryf en die uitdaging daarmee gewen. Ek lees toe raak dat daar n groot kompetisie gehou gaan word op beide die dig en skryf blaaie. Ek kom toe in as een van die twintig mense op beide. Totaal mal ek weet... maar ek het besluit om deur te druk. Ek word moeg as ek terug dink daaraan. Ek het Julie geneem om my digbundel te skryf - ek het net 24 van die 76 reeds gehad; en Augustus om Metamorfose se vyftien stories te skryf.
8. Wat is die mooiste terugvoer wat jy al ontvang het?
My Sus, Ritha Lubbe,  se terugvoer, sy is eerlik en reguit en pittig. Dit beteken baie dat sy dit lees al hou sy niks van lees nie... ook dat sy saam lag en huil. Maar natuurlik is dit lekker om van mense wat ek nie ken nie te hoor dat hul my stories geniet en daarmee kan identifiseer. Een dame het gesê sy het agt ure geneem om te herstel na sy Metamorfose gelees het en nou wil sy dit weer lees.
9. Daar is tye wat ‘n mens twyfel oor jou eie skryf vermoë, daar is ook tye wat kritiek jou teen die aarde kan gooi en jy dink nee wat ek sien nie kans hiervoor nie. Watter raad het jou tweemaal laat dink oor jou skryfloopbaan? 
Griet, ek het nog nie n loopbaan nie. Al raad wat ek kan gee is om eerlik uit jou hart te skryf, wees eg sodat jou leser kan identifiseer. Fantasie is een ding en het sy plek, maar die boeke wat al jare op my rak staan en wat ek weer en weer lees is die wat my hart diepgeraak het, waaruit ek iets geleer het, wat my laat dink het.
10. Wat is jou raad vir aspirant skrywers?
Sjoe, dis n moeilike vraag want daar is baie antwoorde vir ons - ja ek is steeds een - op daardie vraag. My antwoord: Gaan sit by jou Skepper se voete en vra Hom wat Hy wil hê jy moet skryf, wie is jy as skrywer, wat wil jy sê? Wees getrou aan wie jy is. Sit jou boude op die stoel en begin haha!!! Dit was die absoluut moeilikste vir my!
11. Wat sal jy nog als wil skryf en wat is in die pyplyn?
As ek eerlik moet wees kan ek jou nie antwoord nie, my lewe is baie besig en ek weet nie wat God met hierdie skryfding wil doen nie. Ek los dit by Hom om my vry te maak om die tyd te hê om Sy stories in my uit te skryf. Ek het by die sewe maande SA Skrywers slypskool aangesluit en ons moet n 55000 woorde roman skryf in daardie tyd. Gedagtes begin woel in my rondom die storie. Ons, ek inkluis, sal moet wag en kyk wat gebeur. 
My digbundel, Woordsketse, behoort volgende week gedruk te wees - alhoewel ek nie met hom gewen het nie, het ek besluit om hom tog te laat druk. Dis n groot stuk van my ek-wees en die pad wat ek tot hier gestap het, wat op papier in n paar woorde vasgevang is.
12. Wat staan jou die meeste aan in skryf?


Om die karakters te leer ken, hul emosies te ervaar en saam met hulle te lag en huil.
13. Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom?
     
Sjoe, ek lees wyd, maar meestal fiksie. Ek het nie net een gunsteling skrywer nie. Ek lief Wilna Adriaanse,  Annelie Botes, Dee Henderson, Sophia Kapp, Jodi Picoult, Karen Kingsbury, Nicolas Sparks, Lee Child, Irma Joubert, Frank Peretti, Marzanne Le Roux Van Der Boon... hulle karakters word familie, praat met my hart, leer my van die lewe.
14. Waar het jy geleer oor skryf?
In boeke, deur te lees lees lees


Persoonlike vragies:

15.  Het jy enige ander belangstelling behalwe skryf?
       Lees, stap, reis, mense se stories fassineer my
16. Is jy ‘n soettand?
      Beslis daarom sal ek nooit dun wees nie hahaha.

17. Gunsteling gereg?

      Mieliepap met tamatiesmoor en braaivleis
18. Reis jy graag en waarheen?
Ek lief reis en was bevoorreg om al redelik baie te kon sien. Ek hou van Europa en Afrika... enige plek waar daar genoeg natuur ook is om weg te breek, bv. die parke in Londen was my gunsteling deel van die stad. Ek geniet dit om net te sit en luister en kyk na ander se lewens wat om my vloei.


19. Hoe kan mense jou kontak vir hul eie kopie van jou boek? melindaduplessis18@gmail.com is die gerieflikste.
Baie dankie vir die geleentheid!

Metamorfose – Resensie


Dit was met groot opgewondenheid en afwagting waarmee ek die eerste kopie van Metamorfose ontvang het om te lees. Van die voorblad tot die laaste sin was ek vasgevang en kon die boek nie neersit totdat ek dit deurgelees het nie.
Metamorfose handel oor die lewe van die hoofkarakter, Anna, wat op 27-jarige ouderdom weer terugkeer na haar grootword dorp. Sy is swanger en sonder werk of woonplek. Hier moet sy vir haar en haar ongebore kind ‘n holte vir haar voet vind en ‘n lewe begin met weinig wat in haar guns tel. Boonop word sy konstant met haar verlede gekonfronteer en raak dit elke keer ‘n rou senuwee aan sodat sy amper haar en haar baba se lewe verloor. Maar Anna oorleef en laat haar nie onderkry deur die moeilikste omstandighede nie en is allermins ‘n slagoffer, al kon sy maklik daardie roete neem en haarself bejammer. In die proses ontdek sy wie sy eintlik is, letterlik en figuurlik. Wie haar biologiese ma is en nog vele meer wat verswyg was vir haar al die jare. Al is dit baie diep emosionele en traumatiese onthullings wip sy elke keer weer terug – sterker as tevore en stukkie vir stukkie word sy ‘n heel mens. En tussen dit alles deur behou sy nog die humor, wat dwarsdeur die boek loop soos ‘n goue draad. Soos wat sy heel raak begin sy ook ander se lewens verryk. Boonop is elke nuwe hoofstuk propvol nuwe verrassings. Die karakters se ontwikkeling en ontluiking vind deurgaans plaas en daar is letterlik nie een vervelige oomblik nie. 

Metamorfose is fiksie, maar geensins vlak nie, inteendeel dit spreek van eg medemenslike lewenservaring. Dit is beslis ‘n moet-lees-boek vir die komende vakansie asook ‘n goeie geskenk. Jy sal nie spyt wees nie!



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...