Friday, November 24, 2017

Naaswenner van die Eiebundel kompetisie: Melinda du Plessis: Metamorfose.

Baie geluk met die vrystelling van jou nuwe boek, Metamorfose

Baie mense weet nie altyd hoeveel tyd in ‘n boekvrystelling gaan nie en ek is seker jy kan boeke skryf net oor die proses. Jy is ook nou betrokke by SA Skrywers en was naas wenner van die SA Skrywers eie bundel kompetisie. Baie dankie dat jy tyd gemaak het vir hierdie onderhoud en ‘n kykie in jou lewe. Baie geluk met hierdie vrystelling. 




1. Hoe het die idee van die bundel ontstaan? 
Dit was totaal onbepland en onverwags. Ek was besig om aan die digbundel vir die eie bundel kompetisie te skryf toe ek n klompie 'writing prompts' na Afrikaans vertaal het. Die een vertaling was ''n uitgedopte hart'. Die prentjie wat ek gekry het was van hierdie meisie wat deur n galery gestap het waar elke kunswerk uitbeeld hoe hierdie kunstenares bespot en seergemaak is in die dorp omdat sy kreupel was en so meer. Almal het gedink sy is n boemelaar. Toe ek die gedig begin skryf het die storie duideliker en duideliker geword en ek het besluit dit sal eerder een van die kortverhale in die eie bundel kompetisie wees. Ek het vir albei kompetisies ingeskryf. Een storie word toe twee en die word toe vyftien stories wat strek oor tien jaar in die meisie se lewe. Soos ek sê, totaal onbepland.
2. Ek hou van die titel van die boek wat het jou laat dink daaraan?
My naam vir die boek was Die legkaart van Anna se lewe... maar toe dit by die drukproses kom het hulle gesê die titel moet verkieslik nie langer as vier woorde wees nie... Ek en vriende het gewonder en met seker twintig titels gesit. Een van my bejaarde Voete Bederf kliënte het gevra waaroor die boek gaan en sy het met Metamorfose vorendag gekom. Dit beskryf die boek uitstekend in een woord.
3. Mense besef nie altyd hoeveel tyd of selfs van jou eie ondervinding gaan in so ‘n boek nie. Is daar ‘n spesifieke staaltjie wat jy ons kan vertel wat die boek lewendig gemaak het?
Jong, hierdie hele jaar is 'n staaltjie wat skryf aan betref. Ek het maar êrens in die begin van die jaar my eerste kortverhaal geskryf vir 'n uitdaging op SA Skrywers en toe geskok in trane gesit toe ek dit wen... die eerste storie in Metamorfose was my tweede kortverhaal. Daar was geen beplanning nie, ek het net geskryf wat ek voor my gesien gebeur het, en simpel maar waar my oë uitgehuil en geskater van die lag saam met die karakters. Met die laaste storie was ek 'n hele dag tranerig voor ek dit geskryf kon kry. 
4. Hoe lank het die skryfproses gevat?
'n Maand in die nagte tussen 22h00 en 2h00 en oor naweke soos ek tyd gehad het.
5. Jy was die naaswenner van die SA Skrywers bundel kompetisie, hoe het dit jou laat voel toe jy die aankondiging hoor?
Ek was die naaswenner ja... dit voel steeds onwerklik al sit ek met die boek in my hand met my naam daarop. Ek was uit die oggend en toe ek by my foon kom sien ek my vriendin het my al n paar maal gesoek, sy het toe op die facebook blad gesien dat ek een van die wenners was. Ek het in trane uitgebars dat die water spat. Ek het so 'n dankbare hart, het nooit gedink God gaan my my droom so vinnig gee nie.
6. Het jy jou familie en vriende se volle ondersteuning of weet hulle niks?
My suster is my grootste ondersteuner, sy is glad nie n leser nie maar het elke storie getrou gelees soos hul gevorm het en pittige terugvoer gegee. Ek dink die res van my familie kan saam met my nie glo dat dit werklik gebeur nie. My vriende is engele om my.
7. Waar het skryf vir jou begin?
Hierdie jaar, 2017. Ek het vroeg in die jaar vir die Here gevra wat my groot uitdaging vir die jaar is... vandat ek 40 is het ek besluit om groot goed - vir my - aan te pak wat ek nog altyd gedink het ek nooit sal kan doen nie. 2014 was Kilimanjaro, 2016 die 800km Camino in Spanje. 
My aksiewoord hierdie jaar was skryf. In mý kop was dit om te dig... vanaf 2008 het ek n paar gedigte geskryf. Ek het dus by n digslypskool aangesluit en myself daarin ontwikkel. Twee van my gedigte is toe opgeneem in Hartswoorde, SA Digters se eerste digbundel wat in Julie bekendgestel is. Intussen het ek my eerste kortverhaal geskryf en die uitdaging daarmee gewen. Ek lees toe raak dat daar n groot kompetisie gehou gaan word op beide die dig en skryf blaaie. Ek kom toe in as een van die twintig mense op beide. Totaal mal ek weet... maar ek het besluit om deur te druk. Ek word moeg as ek terug dink daaraan. Ek het Julie geneem om my digbundel te skryf - ek het net 24 van die 76 reeds gehad; en Augustus om Metamorfose se vyftien stories te skryf.
8. Wat is die mooiste terugvoer wat jy al ontvang het?
My Sus, Ritha Lubbe,  se terugvoer, sy is eerlik en reguit en pittig. Dit beteken baie dat sy dit lees al hou sy niks van lees nie... ook dat sy saam lag en huil. Maar natuurlik is dit lekker om van mense wat ek nie ken nie te hoor dat hul my stories geniet en daarmee kan identifiseer. Een dame het gesê sy het agt ure geneem om te herstel na sy Metamorfose gelees het en nou wil sy dit weer lees.
9. Daar is tye wat ‘n mens twyfel oor jou eie skryf vermoë, daar is ook tye wat kritiek jou teen die aarde kan gooi en jy dink nee wat ek sien nie kans hiervoor nie. Watter raad het jou tweemaal laat dink oor jou skryfloopbaan? 
Griet, ek het nog nie n loopbaan nie. Al raad wat ek kan gee is om eerlik uit jou hart te skryf, wees eg sodat jou leser kan identifiseer. Fantasie is een ding en het sy plek, maar die boeke wat al jare op my rak staan en wat ek weer en weer lees is die wat my hart diepgeraak het, waaruit ek iets geleer het, wat my laat dink het.
10. Wat is jou raad vir aspirant skrywers?
Sjoe, dis n moeilike vraag want daar is baie antwoorde vir ons - ja ek is steeds een - op daardie vraag. My antwoord: Gaan sit by jou Skepper se voete en vra Hom wat Hy wil hê jy moet skryf, wie is jy as skrywer, wat wil jy sê? Wees getrou aan wie jy is. Sit jou boude op die stoel en begin haha!!! Dit was die absoluut moeilikste vir my!
11. Wat sal jy nog als wil skryf en wat is in die pyplyn?
As ek eerlik moet wees kan ek jou nie antwoord nie, my lewe is baie besig en ek weet nie wat God met hierdie skryfding wil doen nie. Ek los dit by Hom om my vry te maak om die tyd te hê om Sy stories in my uit te skryf. Ek het by die sewe maande SA Skrywers slypskool aangesluit en ons moet n 55000 woorde roman skryf in daardie tyd. Gedagtes begin woel in my rondom die storie. Ons, ek inkluis, sal moet wag en kyk wat gebeur. 
My digbundel, Woordsketse, behoort volgende week gedruk te wees - alhoewel ek nie met hom gewen het nie, het ek besluit om hom tog te laat druk. Dis n groot stuk van my ek-wees en die pad wat ek tot hier gestap het, wat op papier in n paar woorde vasgevang is.
12. Wat staan jou die meeste aan in skryf?
 
Om die karakters te leer ken, hul emosies te ervaar en saam met hulle te lag en huil.
13. Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom?
     
Sjoe, ek lees wyd, maar meestal fiksie. Ek het nie net een gunsteling skrywer nie. Ek lief Wilna Adriaanse,  Annelie Botes, Dee Henderson, Sophia Kapp, Jodi Picoult, Karen Kingsbury, Nicolas Sparks, Lee Child, Irma Joubert, Frank Peretti, Marzanne Le Roux Van Der Boon... hulle karakters word familie, praat met my hart, leer my van die lewe.
14. Waar het jy geleer oor skryf?
In boeke, deur te lees lees lees
Persoonlike vragies:
15.  Het jy enige ander belangstelling behalwe skryf?
       Lees, stap, reis, mense se stories fassineer my
16. Is jy ‘n soettand?
      Beslis daarom sal ek nooit dun wees nie hahaha.

17. Gunsteling gereg?

      Mieliepap met tamatiesmoor en braaivleis
18. Reis jy graag en waarheen?
Ek lief reis en was bevoorreg om al redelik baie te kon sien. Ek hou van Europa en Afrika... enige plek waar daar genoeg natuur ook is om weg te breek, bv. die parke in Londen was my gunsteling deel van die stad. Ek geniet dit om net te sit en luister en kyk na ander se lewens wat om my vloei.


19. Hoe kan mense jou kontak vir hul eie kopie van jou boek? melindaduplessis18@gmail.com is die gerieflikste.
Baie dankie vir die geleentheid!

Metamorfose – Resensie


Dit was met groot opgewondenheid en afwagting waarmee ek die eerste kopie van Metamorfose ontvang het om te lees. Van die voorblad tot die laaste sin was ek vasgevang en kon die boek nie neersit totdat ek dit deurgelees het nie.
 
Metamorfose handel oor die lewe van die hoofkarakter, Anna, wat op 27-jarige ouderdom weer terugkeer na haar grootword dorp. Sy is swanger en sonder werk of woonplek. Hier moet sy vir haar en haar ongebore kind ‘n holte vir haar voet vind en ‘n lewe begin met weinig wat in haar guns tel. Boonop word sy konstant met haar verlede gekonfronteer en raak dit elke keer ‘n rou senuwee aan sodat sy amper haar en haar baba se lewe verloor. Maar Anna oorleef en laat haar nie onderkry deur die moeilikste omstandighede nie en is allermins ‘n slagoffer, al kon sy maklik daardie roete neem en haarself bejammer. In die proses ontdek sy wie sy eintlik is, letterlik en figuurlik. Wie haar biologiese ma is en nog vele meer wat verswyg was vir haar al die jare. Al is dit baie diep emosionele en traumatiese onthullings wip sy elke keer weer terug – sterker as tevore en stukkie vir stukkie word sy ‘n heel mens. En tussen dit alles deur behou sy nog die humor, wat dwarsdeur die boek loop soos ‘n goue draad. Soos wat sy heel raak begin sy ook ander se lewens verryk. Boonop is elke nuwe hoofstuk propvol nuwe verrassings. Die karakters se ontwikkeling en ontluiking vind deurgaans plaas en daar is letterlik nie een vervelige oomblik nie. 

Metamorfose is fiksie, maar geensins vlak nie, inteendeel dit spreek van eg medemenslike lewenservaring. Dit is beslis ‘n moet-lees-boek vir die komende vakansie asook ‘n goeie geskenk. Jy sal nie spyt wees nie!



Thursday, November 23, 2017

Vierde plek wen storie: Ek is Marieta deur Lynelle Clark

Marieta kyk na haarself in die lang spieël. Die nuwe snyerspak pas haar perfek. Die potloodromp omhels haar heupe stylvol. Die wit sybloes wys net genoeg sodat sy saaklik maar tog vroulik voorkom. Die baadjie skep die indruk dat sy in beheer is. Haar gemaklike swart skoene blink gevryf. Haar grimmering is foutloos aangewend en haar kort kapsel is vroegoggend al deur Heloise gedoen, dit omraam haar gesig pragtig. Die geheel prentjie lyk versorg en afgerond. Presies soos wat sy dit wou gehad het.
“Ek is ‘n wenner.” Herhaal sy haar daaglikse mantra.
“Niks staan in my pad nie.”
“Ek besit die vermoë om suksesvol te wees.”
“My toekoms is nou. My drome manifesteer vandag. Ek is die beste bate vir Greeff, Van Ryhn en Hoekstra Prokureurs.” Tevrede streel sy oor haar klere. Die dae van hartseer is verby. Weg is die versukkelde vrou wat altyd in haar man se skadu moes bly. Sy het verander in ‘n pragtige vlinder.
“Binnekort sal jou naam ook op die bord verskyn: Greeff, Van Ryhn, Hoekstra en Mulder Prokureurs.” Sy kan al die naamplaat sien en sy glimlag vir haar eie beeld. Sy besef dit kan ‘n geruime tyd wees voor dit realiseer maar sy kan nou al droom.  Op daardie oomblik dring ‘n sonstraal die kamer binne en dit voel asof sy op ‘n verhoog staan met die hoofligte op haar gefokus. Sy straal.
“Jy is dinamies, Marieta Mulder.” Verspot gee sy ‘n kniebuiging aan haarself en lag vrolik. Sy kyk dan na die horlosie teen die muur en besef dat dit tyd is om te gaan. Sy tel haar swart leer-aktetas op – ‘n geskenk van haar ouers toe sy die toelatingseksamen tot die Balie geslaag het - maak seker sy het alles en stap by die voordeur uit. Met ‘n defnitiewe klik sluit die deur agter haar. Vir Marieta is dit die mooiste klank. Die deur simboliseer haar onafhanklikheid asook haar nuwe lewe. Sy het al die negatiewe gebeuretenisse agter gelaat en bewys sy kan dit doen. Sy moes baie brûe oorbrug om tot hier te kom. Die feit dat sy op pad is na die grootste Prokureurs firma vir haar laaste onderhoud is ‘n groot oorwinning. Sy het gedroom van hierdie dag vandat sy 18 jaar oud was. Dit het haar 30 jaar gevat, maar sy het dit gemaak. Sy is op die regte plek.
Marieta stap na haar geparkeerde motor onder die afdak in die kompleks, een van die gegoede buurte in Pretoria. Met ‘n vinnige druk van die knoppie ontsluit sy die kattebak en plaas haar aktetas binne en druk die bak toe. Elke stap vat haar nader na haar toekoms en opgewondenheid bruis deur haar. Sy voel lig en vry en sy glimlag vir haar weerkaatsing in die motorvenster.
‘n Vinnige kyk na agter ry sy agteruit. Vir oulaas kyk sy na haar beeld in die truspieëltjie. Die vrou wat terug kyk is professioneel. Elke haar op sy plek. Met ‘n rustige verandering van ratte volg sy die geplaveide pad na die hoofhek toe. Sy word vriendelik gegroet deur die dag sekuriteit en trek haar kaart deur die kontrole paneel. Die hek swaai geruisloos oop en sy ry stadig vorentoe. By die ingang stop sy en wag vir ‘n geleentheid om by die verkeer aan te sluit. Die oomblik wat dit skoon genoeg is sluit sy aan by die oggend verkeer en volg die padgebruikers op ‘n veilige afstand.  Terwyl Marieta ry herhaal sy die motiverende woorde tot by die kantoorgebou in die middestad. Sy was nog nooit so goed voorbereid vir ‘n onderhoud soos op daardie oomblik nie. Alles het net reg gevoel.  
By die moderne toonbank, ‘n groot bos blomme het die plek opgekikker, meld sy aan en na ‘n vinnige gesprek met die ontvangsdame volg sy die sekretaresse na die raadsaal waar die vennote vir haar wag.
“Mev. Mulder, welkom terug.” Groet die jongste van die drie vennote haar. Ferm neem hulle hande en groet mekaar soos ou kennisse: “Asseblief noem my Marieta.” Die ander twee mans groet haar ook vriendelik en ‘n paar konvensionele vrae word gevra wat haar dadelik op haar gemak stel. Koppies koffie word onmiddelik voor hulle neergesit en die sekretaresse trek die deur agter haar toe. Die onderhoud was amptelik aan die gang en elke prokureur het vertel wat hy verwag van die nuwe junior prokureur. Doktor Greeff, die oudste van die drie, het haar ingelig oor die visie van die maatskappy. Marieta het aandagtig geluister en elke vraag flink beantwoord. Daarna word haar vergoedingspakket bespreek. Haar oë rek met die aanbod en sy glimlag tevrede. ‘n Geleentheid word ook aan haar gegee om vrae te vra en om die beurt beantwoord die mans haar. Die uur was sommer vinnig verby. Hoekstra was die eerste prokureur wat homself verskoon het omdat hy binnekort in die hof moes verskyn.
“Wel Marieta, sien jy kans om saam met die klomp te werk?” vra Greeff minder formeel en sy lag gemaklik; bly dat die onderhoud tot ‘n einde gekom het.
“Defnitief Mnr Greeff. Dit sal vir my ‘n groot eer wees om saam met u en die span te werk.” Alhoewel hulle genoem het dat sy hulle op hul name kan noem het sy tog gevoel dat dit heeltemal onvanpas sal wees en het gebly by die formele aanspreekvorm.
“In daardie geval sien ons jou môreoggend.” Marieta se hart spring in haar keel. Het sy reg gehoor. Sy het die werk gekry. Vir ‘n oomblik was sy stomgeslaan maar antwoord vinnig. “Beslis, ja. Dankie Mnr Greeff.”
“Die besluit was eintlik maklik. Jou Professore het met die grootste lof van jou gepraat en ons sou dom wees om jou vir ons opposisie te los. Welkom aan boord.”
“Baie dankie meneer.” Sy groet albei die mans en verlaat die vertrek eerste. Al die pad na haar voertuig toe voel dit asof sy sweef. Sy het dit gedoen. Sy het dit wraggies gedoen.
“Marieta?” roep iemand haar naam en sy draai om: “Ek is Marieta.” Beantwoord sy die persoon. ‘n Skoot knal so naby dat sy nie anders as om te koes nie. Eensklaps brand haar bors soos vuur en sy druk daarteen. Geskok kyk sy na haar hand. Dié is rooi bevlek met haar bloed en voor sy nog tot verhaal kon kom val sy slap op die plaveisel neer.

©LynelleClark2017



Saturday, November 18, 2017

Onderhoud met Antoinette Venter. Die wenner van SA Skrywers se Bundel Kompetisie. Soos die Dobbelesteen Val.



Baie geluk met die vrystelling van jou nuwe boek, Soos die dobbelsteen val. Baie mense weet nie altyd hoeveel tyd in so ‘n boekvrystelling gaan nie en ek is seker jy kan boeke skryf net oor dit. Jy is ook nou betrokke by SA Skrywers en soos ek jou leer ken het is jy altyd gereed om te help. Daarom is ek dankbaar dat jy tyd gemaak het vir hierdie onderhoud. Baie dankie en baie geluk met hierdie vrystelling.
1.       Hoe het die idee van die bundel ontstaan? Skryf was nog altyd een van my passies en die lekkerste stokperdjie wat daar kan wees. Ek het voorheen meer kortverhale geskryf om voor te lê aan tydskrifte, maar toe ek sien dat SA-Skrywers ‘n kompetisie om jou eie bundel te publiseer aanbied het, het ek dadelik gedink ek moet dalk probeer. Ek het toe die stories vir die kompetisie geskryf en so is die bundel maar ‘gebore.’
2.       Ek hou van die titel van die boek wat het jou laat dink daaraan?
Die meeste van die stories is in die bundel handel maar oor hoe die “noodlot” gewonde mense getref het en wat hulle gedoen het, of nie om daarby aan te pas. (Hoe hulle gemaak het met die dobbelsteen se val – hetsy goed of sleg.) Die titel het eers aan die einde van die bundel sy “verskyning” aan my gemaak en toe moes ek maar vining ‘n oorbrugging storie skryf wat die verhale aan mekaar kan bind.
3.       Mense besef nie altyd hoeveel tyd of selfs van jou eie ondervinding gaan in so ‘n boek nie. Is daar ‘n spesifieke staaltjie wat jy ons kan vertel wat die boek lewendig gemaak het?
Ja, daar gaan nogal baie tyd in enige skryfwerk en dit is nogal moeilik om te skryf wanneer ‘n mens voltyds werk, maar die bevrediging wat die skryfwerk bied is ‘n groot belonging. In “Van brulpaddas en toiletpapier” een van die stories in die bundel, skryf ek van ‘n kroegdame wat voel sy word nie hoog genoeg geag nie, as gevolg van haar beroep en hoe sy bewys dat daar meer tussen haar ore sit as wat haar werkgewer haar wil toegee. Ek was vir ‘n groot deel van my lewe ‘n kroegdame so ek kon nogal redelik met my karakter identifiseer.
4.       Hoe lank het die skryfproses gevat?
Die bundel moes in drie-maande klaar geskryf kom, maar ek moet bieg, van die stories in die bundel is al heelwat vroeër geskryf en ek het hulle net gaan afstof en benut.
5.       Jy was die wenner van die SA Skrywers bundel kompetisie, hoe het dit jou laat voel toe jy die aankondiging hoor?
Ek het dit glad nie verwag nie en ek moes die plasing waar hulle die wenners aangekondig het, ‘n paar keer oorlees om seker te maak ek lees nie verkeerd nie 😊
6.       Het jy jou familie en vriende se volle ondersteuning of weet hulle niks?
Hulle ondersteun my regtig baie goed, maar soms moet ek letterlik met hulle baklei om my die tyd te gun om te skryf. Ek dink nie hulle besef altyd dat die skryfgogga ‘n baie opdringerige gedierte is, wat daarop aandring om gevoer te word nie.
7.       Waar het skryf vir jou begin?
Ek dink dit het al letterlik in kleutertyd begin. Voordat ek kon lees het my ouma en my ma baie stories vir my voorgelees en selfs hulle eie stories opgemaak en vertel. Nadat ek leer lees het, het ek ons kleindorpie se miniatuur bibliotekie se kinderafdeling in ‘n japtrap klaar gelees en toe moes my ouers maar bontspring om elke maand vir my ‘n boek of twee in die ‘stad’ te koop. My liefde vir skryf is ‘n direkte uitvloeisel uit my liefde vir lees. Ek het my eerste storie geskryf om koshuis-studietyd te verwyl. My Afrikaanse onderwyser het die storie raakgelees en in ons skoolkoerantjie geplaas.
8.       Wat is die mooiste terugvoer wat jy al ontvang het?
My ouma se woorde. “Ouma is trots op jou.”
9.       Daar is tye wat ‘n mens twyfel oor jou eie skryf vermoë, daar is ook tye wat kritiek jou teen die aarde kan gooi en jy dink nee wat ek sien nie kans hiervoor nie. Watter raad het jou tweemaal laat dink oor jou skryfloopbaan?
Wel, my swartste oomblik was die terugvoer wat ek jare gelede op een van my stories gekry het. Ek dink dit was vir ‘n ATKV kompetisie en die gewraakte woorde was: “Swak! Nie eens ‘n skoolopstel werd nie!”
Ek het werklik gehoop die aarde sluk my in, MAAR daar was ander kommentare ook op die einste skryfstuk en hulle was werklik positiewe kommentaar. Ek het vir ‘n rukkie my wonde gelek en toe besluit dat ek my beslis nie so maklik gaan laat onderkry nie. Ek dink een van my beste en slegste eienskappe is die feit dat ek bitter koppig is, en as ek besluit het ek wil iets doen sal ek aanhou en aanhou totdat ek dit regkry.
10.   Wat is jou raad vir aspirant skrywers?
Glo asseblief in jouself en moet nooit opgee nie. Indien jy dit kan bekostig, oorweeg om ‘n goeie skryfkursus te doen, want al het jy baie talent, is daar heelwat tegniese punte wat mens moet baasraak. (Natuurlik is daar mense wat baie goed sonder ‘n kursus kan klaarkom, maar ek het een nodig gehad om die meer tegniese punte te leer.”
11.   Wat sal jy nog als wil skryf en wat is in die pyplyn?
Ek beplan tans aan ‘n Romanza en daarna wil ek ‘n roman probeer aanpak.
12.   Wat staan jou die meeste aan in skryf?
Dit is ontspannend en lekker om ‘n karakter wat in jou kop bly te laat lewe kry.
13.   Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom?
Chanette Paul omdat haar stories so boeiend is.
14.   Waar het jy geleer oor skryf?
Ek het by Janie van Skryfgeheime ‘n kursus geneem en ek het regtig baie baat daarby gevind. Verder het ek maar oraloor wenke en raad opgetel en dit my eie gemaak. Blaaie soos SA Skrywers is ook ‘n goeie leerskool.

Persoonlike vragies
15.   Het jy enige ander belangstelling behalwe skryf?
Ek is ‘n Rekenmeester van beroep so ek geniet syfers. Verder geniet ek dit baie om tyd saam met my familie en diere te spandeer.
16.   Is jy ‘n soettand?
Ongelukkig ja. (Ek was nie een voordat ek getroud is nie, maar my man het ‘n slegte invloed op my gehad 😊
17.   Gunsteling gereg?
Dit wissel van tyd tot tyd. Huidiglik is Sushi voor op die lys.
18.   Reis jy graag en waarheen?
Eintlik hou ek meer daarvan om by die huis te bly, maar indien ek reis verkies ek dit om na klein afgeleë plekkies te gaan.

19.   Hoe kan mense jou kontak?
Hulle kan my e-pos op: aventer43@gmail.com of hulle kan my inbox op Facebook.
20.   Facebook
https://www.facebook.com/antoinette.venter.336


Synopsis.
Soos die dobbelsteen val is ‘n kortverhaalbundel met sestien stories in.
Dit handel oor die lief en leed van gewone mense en wat hulle gedoen het met die dobbelsteen wat soms geval het soos wat hy moet – en soms nie.
In ‘Om ‘n skoenlapper te steel.’ ontmoet ons ‘n man wat omtrent enige iets sal doen vir sy sterwende dogtertjie. In ‘Haar verlore seun’ lees ons van ‘n ma wat se hart gebreek is wanneer haar enigste seun verdwyn. Daar is ook meer positiewe verhale. In ‘Van brulpaddas en toiletpapier’ hoor ons hoe ‘n rol toiletpapier die koers van jou lewe kan verander. Verder is daar ook liefdesverhale vir die romantiese siele onder ons.


Bio
Antoinette Venter woon in die 'lifelike' Jeffreysbaai omgewing saam met haar man, ouma, skoonma, vier honed en twee katte.  Haar liefde vir lees kom reeds van jongs af aan.
Vorige publikasies sluit in:
·         Verskeie tydskrifverhale
·         ‘Soos die blou roos blom’ bonus-kortverhaal in een van die Romanzaliefde e-boeke van Lapa
·         ‘Offerliefde’ in die Hartlam bundel (Tafelberg)
·         Verskeie publikasies in saamgestelde bundels deur kleiner uitgewerye.



BESTEL GERUS HAAR BOEK DIREK BY ANTOINETTE EN 
ONDERSTEUN ONS SKRYWERS.


Monday, November 13, 2017

4de Skryfkompetisie – Ink.org.za (1 Desember 2017 tot 31 Maart 2018)

Dit is vir my wonderlik om die groot nuus met julle te deel. Groep 7 en SAVryskutskrywer is bereid om weer ons INK-lede (digters en skrywers afsonderlik!) te borg vir hierdie kompetisie. Die wenners sal op die gala-aand volgende jaar (Datum sal nog aangekondig word in 2018) aangekondig word en dan ook persoonlik hulle pryse van die borge ontvang.
Die kompetisie het geen tema nie en lede kan self besluit of hulle ‘n digbundel, kortverhale/sketse of ‘n verhaal wil inskryf. Jy moet genoeg plasings (120 bl) op INK doen om te kwalifiseer en MOET ‘n geregistreerde en betalende lid wees om te kan deelneem.
Lede wat inskryf moet daarop let dat INK en borge betrokke GEEN redigeer werk aan die boeke/bundels gaan doen of verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie. Dit is elke lid wat inskryf se plig om toe te sien dat sy/haar inskrywings taalkundig versorg en korrek is.
Daar is ‘n eerste plek in die gedigte ASOOK ‘n eerste plek in die verhale en dit is nie waar die goeie nuus ophou nie … ons het ook ‘n 2de prys in elke afdeling
1. Ingeskrewe lede van INK kan deelneem aan die beplande kompetisie in 2 afdelings nl boeke en digbundels wat in 2018 geloots word.
2. Die inskrywings word deur INK geadministreer en die 10 bestes in elke afdeling deur die INK moderators gekies en aan die borge voorgelê vir beslissing. Geen korrespondensie sal oor die uitslae gevoer word nie en die beslissing is finaal.
3. Eerste prys borg (gedigte & verhale) Groep 7 drukkers en Uitgewers (Pty)Ltd
a. ontvang 10 gekeurde manuskripte wat reeds taalkundig versorg is sowel as die inligting vir die buiteblad (lokteks, foto/skets/foto skrywer of digter).
b. doen bladuitleg en buitebladontwerp vir al 10 (as hule prys vir Top 10)
c. kies 1 wenner uit die 10 finaliste vir elke afdeling en wenners ontvang bykomend:
i. Registrasie van ISBN.
ii. 50 gedrukte boeke elk.
iii. Beskikbaarstelling op Groep 7 se aanlyn boekwinkel of E-boek, volgens die normale kostes en prosedure.
4. Indien die 9 ander in die top 10, wel hulle boeke wil laat druk, is die professionele voorbereiding reeds gedoen en hulle betaal net vir die drukkostes wat ’n baie groot besparing te wee bring.
5. Hierdeur wil Groep 7 poog om die standaard van self-uitgewery te verhoog sodat dit in lyn is met die tradisionele uitgewers en boeke in die handel.
2de prys borg (gedigte & verhale): SA Vryskutskrywer
1. Die tweede pryswenner in die kortverhaalkategorie ontvang ‘n aanlynskryfkursus van SAVryskutskrywer
2. Die tweede pryswenner in die digkunskompetisie ontvang ‘n aanlynskryfkursus van SAVryskutskrywer
Dit sluit in kursusmateriaal sowel as afstandonderrig en ‘n Sertifikaat van Voltooiing, mits die kursus bevredigend afgehandel en die vereiste slaagsyfer behaal word.
Mag elke lid op INK hierdie goue leentheid aangryp en inskryf!
Skryf lekker, in INK, in Afrikaans!

Wednesday, November 1, 2017

A www Genealogiese katalogus 2009-2017 deur Dr Marthinus J.S. Jordaan (PhD)



My gedagtes oor die boek:
Ek het die boek van die skrywer, Dr Marthinus Jordaan ontvang vir 'n resensie. Dit is 'n goed saamgestelde bronne boek met Webwerwe skakels wat alles handel oor die soeke na Families en waar jy in pas. Die boek is baie prakties saamgestel, en het 'n CD wat jou ook help met jou soektog. Die Inhoudsopgawe dek 'n breë spektrum van onderwerpe en is geskryf met die uitsluitlike doel om die Suid Afrikaner tot hulp te wees. Beide tale, Afrikaans en Engels maak die soektog maklik en gebruikers-vriendelik. Dit is 'n groot bron van kennis wat oor 'n tydperk van 8 jaar strek. Die uitleg maak dit maklik om te volg en elke persoon wat in genealogie belangstel sal dit bruikbaar vind. Dit sal jou navorsing na jou familie wortels vergemaklik en 'n nuwe wêreld ontsluit. 


Some information on the author and his 11th book (24th ISBN), as well as the other two books on which he is currently working  Former president of the Free State and Northern Cape branch of the Genealogical Society of South Africa  In 1995, spent 45 days and travelled 9 500 km across 10 European countries in search of Jourdan/Jordaan ancestors  In the last decade of the previous century, he was heavily criticised for his plans to hold a genealogical exhibition in 2001 (genealogical exhibitions are a common occurrence these days)  Numerous articles in Familia, Bulletin, Maiores, and newspapers  Papers presented at the Historical Association of SA  2005 genealogical register of Jordaans  2005 PhD titled: The Jordaan family: A historical analysis of their genealogy and the establishment of a tourism route in South Africa", and in book form: "Van Cabrieres D'Aigues to Cap de Bonne Espérance  Busy with 2nd edition, 21 020 (almost 64%) names added to initial 33 028  Jordaan family crest registered at the Bureau  FB group:
https://www.facebook.com/groups/6507964203/multi_permalinks=10155235600874204&notif_t=like&notif_id=1491990549522757............. Jordaan / Jourdan Familie Navorsing (family research)  Member of the Genealogical Society of South Africa, the Huguenot Society,     and several groups on social networks  The author encountered the websites in the book during his reading work     between 2009 and 2017  Nominated as Bloemfonteiner of the Year in 1994

  Iets oor die skrywer en sy 11de boek (24ste ISBN) en die ander twee waaraan hy tans werk  Vormalige voorsitter van die Vrystaat en Noord-Kaaptak van SA Genealogiese Vereniging van SA  Spandeer in 1995 45 dae en 9 500 km in tien lande in Europa op soek na die spore van Jourdan-/Jordaanvoorgeslagte  Het in die laaste dekade van die vorige eeu heftige kritiek uitgelok toe hy genealogiese uitstalling in 2001 wou aanbied (vandag vind verskeie genealogiese uitstallings plaas)  Verskeie artikels in Familia, Bulletin, Maiores en koerante  Referate by die Historiese Vereniging van SA aangebied  2005 genealogiese register van Jordaans  2005 PhD met titel: The Jordaan family: A historical analysis of their genealogy and the establishment of a tourism route in South Africa and in book format...Van Cabrieres D'Aigues tot Cap de Bonne EspŽrance  Besig met 2de uitgawe reeds 21 020 (bykans 64%) name bygevoeg by oorspronklike 33 028  Geregistreerde Jordaanwapen by die Buro  FB-groep: https://www.facebook.com/groups/6507964203/?multi_permalinks=10155235600874204&notif_t=like&notif_id=1491990549522757....... Jordaan / Jourdan Familie Navorsing (family research)  Lid van Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Hugenote Vereniging en verskeie groepe op die sosiale netwerke  Die skrywer het die webwerwe in die boek te‘gekom in van sy leeswerk tussen 2009-2017     Word in 1994 genomineer as Bloemfonteiner van die jaar


KONTAK LINKS:

Protea Boekehuis   …nstassen@proteaboekhuis.co.za  en

Fogartys’s Port Elizabeth fogartys@global.co.za / http://fogartysbookshop.co.za


Dr.MarthinusJ.S.Jordaan…



VOLG Dr Marthinus Jordaan by:

Dr Marthinus J S Jordaan

Faks- e-Pos 086 249 6507
Faks -Faks 051-5222522

 

Die onmoontlike het gebeur, ‘n man stel belang, wil jou ken, en tyd met jou spandeer.

Vandag se program is tweedoelig van aard; waar ek met mans en vrouens wil gesels. Verhoudings is nie maklik nie en elke stap in die ...