Maandag 11 September 2017

Alleenheid word nie beplan nie...

Alleenheid word nie beplan nie maar tog bevind baie mense hulself in daardie posisie; ekself is baie gemaklik met my eie geselskap maar ek het tog die behoefte om my lewe met ‘n spesiale persoon te deel. Daar is baie ander wat gemaklik is om vir die res van hul lewens alleen te wees – daar is niks fout daarmee nie.  

Alleenwees het sy eie kriteria waaraan ‘n mens moet voldoen. Jy moet genoeg selfvertroue hê om alleen uit te gaan en nie skaam of ongemaklik voel wanneer mense na jou staar nie. Indien jy ongemaklik is en dit makliker vind om by die huis te bly dan het jy ‘n probleem. Jy veragter heeltemal en verloor waardevolle tyd met mense. Jy raak as te ware afgestomp en verleer om te kommunikeer. 
Jy skuld dit aan jouself om jouself te vind. Jy moet bereid wees om jouself onder vier oë te kan sien en tevrede te wees met wat jy sien. Daar was ‘n tyd dat ek nie na my eie beeld in ‘n spieël kon kyk nie omdat ek bang was vir my eie weerskaatsing.  Jou oë gee jou ‘n kykie in jou siel en partykeer is dit makliker om dit te vermy. ‘n Mens raak gemaklik om jouself mis te kyk: te sien maar niks waar te neem nie. Maar wanneer die lewe jou dwing dan het jy nie ‘n keuse nie. En daardie kyk kan jou gemak zone omkeer en jy moet dit konfronteer want as jy dit ignoreer kan dit groter skade berokken.
Wanneer jy skielik na ‘n egskeiding of dood van ‘n lewensmaat jouself alleen bevind kan daardie alleenheid jou dom dinge laat aanvang in ‘n desperate hoop om die leemte te vul met iemand anders. Maar dit is nie so maklik nie. Indien jy nie vrede gemaak het met die trauma en jou eie menswees nie kan jy nie aanbeweeg en saam met iemand wandel nie.
‘n Mens sien dit so baie: daardie radelose vereensaaming spesifiek op die sosiale netwerke. Enkelmense wat smeek vir aandag, wat op enkelgroepe gaan vir aanvaarding in die hoop om hul droomman/vrou te vind wat geen goeie einde het nie – ek weet, ek was daar, alles om daardie alleenheid te vul. Die seer wat so opgedoen word het verrykende gevolge omdat jou ewewig heeltemal versteur word.
Gesond word kan op verskeie maniere gedoen word: om ‘n berader te besoek, ‘n baie goeie vriend in jou vertroue te neem en jou hart bloot stel aan hom/haar of om jou te verdiep in jou werk. Vir sommige is hul onwrikbare geloof in God ‘n plek van genesing en vrede. Elkeen in sig self kan jou die vertroue gee om voort te gaan na ‘n traumatiese gebeurtenis maar op die ou einde is dit net jy wat dit kan bewerkstellig. Daarom is dit belangrik om jouself te vind en heel te word.
Wat ookal jy besluit op hierdie nuwe pad weet dat jou groei gelyk is aan die tyd wat jy aan jouself spandeer.    
Skitter Diamante.
©LynelleClark – Diamant Diva
Om my te volg gee my net 'n duimpie by: Diamant Divas Facebook Blad 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...