Tuesday, August 8, 2017

Die stukkende windpomp op Hermansdrift deur Lynelle Clark

“Jy het ‘n fout begaan om die plek te koop. Al wat jy nou het vir al jou konfettie-drome is nimmer eindigende probleme.” Die sein was baie swak maar Monica het die boodskap verstaan. Vandat sy haar pa ingelig het oor haar koop, het hy telkemale sy ongevraagde opinie gegee en haar herinner dat sy ‘n groot fout begaan het.
Maar sy wou dit doen. In die eerste plek wil sy ook iets in haar naam besit, wat net hare is, en tweedens aan haarself bewys dat sy meer is as net ‘n ma-plotter van Brakpan. Sy het elke Landbou weekblad-uitgawe nagevors soos ‘n wafferse kundige; Bakkiesblad se Landbou-groepe dopgehou vir daardie een plek wat sy hare kon noem. Sy het jare lank hard gewerk en gespaar met die een doel voor oë; selfs haar oorlede man was skepties oor die droom maar sy het koersvas gebly. Met sy skielike heengaan 2 jaar gelede het die erfgeld haar droom aangehelp en het sy genoeg fondse gehad om haar droom ‘n werklikheid te maak. Die lewensversekeringgelde het veroorsaak dat sy redelik gerieflik kan leef waar sy ookal haarself bevind.
In haar hart was sy ‘n natuur mens, die hunkering na die ruimtes en die vryheid was haar grootste motivering: sy was moeg vir die stad en sy gejaag. Sy wou afsonder en na hartelus skryf sonder die alewige bedrywighede en inmenging van aandagsoekers. Sy wou alleen wees en doen waarvoor sy lief is sonder om toestemming te vra van ouers, ‘n man of kinders.
Op ‘n dag het sy ‘n artikel in die Weg-tydskrif gelees, oor die lewe en sy mense in die Karoo het haar gefassineer en met een van haar togte het die ooptes haar versugtinginge beantwoord en aangepor. Sy het boeke verslind, met mense gesels wat dié wêreld goed ken – selfs by hulle gaan vertoef sodat sy ‘n goed ingeligte besluit kon maak. Sy het haar berekene gedoen en ‘n onbeskryflike vrede het deel geword van haar en sy het net geweet. Die afsondering en skoonheid van die uitgestrekte landskap was die finale deurslag. 6 maande gelede het sy die plekkie raak geloop op een van haar vele ritte, net buite die dorp waar sy gekuier het, en is sy ‘n Karoomeisie vir die laaste 4 maande.
“Wat is nou weer fout?” wil haar pa moeg weet.
“Die windpomp het ingegee.” Antwoord sy, ook moeg maar nie vir die redes wat haar pa dink nie. Sy sal nooit opgee op haar droom nie.
Haar stukkie aarde het die mooiste windpomp op – staalblomme noem die Karoo mense hulle. Hulle versier die uitgestrekte vlaktes met hul blink gesigte en gee die gebied ‘n karakter van sy eie. Soveel toeriste het al by Hermansdrift gestop net om die windpomp af te neem – sigbaar van die groot pad af a.g.v. sy ligging en die panoramiese uitsig wat dit bied. Hier is jou kyk ongehindered en in die deinsende verte omsoom die randjies die gebied in liggrys skakerings. Hier sien jy die rus swewe tussen deur die karige bossies en struike. Die skoonheid van die helder hemelryk wat jou omvou, snoesig en stil, en jy word heel. Tyd is nutteloos hier.  
Sy het planne met die uitsig en as al haar somme-maak uitwerk gaan sy net hier ‘n plekkie oopmaak vir mede-skrywers wat die oopte soek om ook hul verbeelding teuels te gee. ‘n Kuierplek vir eenderse-siele.
Die windpomp is 3km van die plaashuis geleë op ‘n koppie van waar sy haar hele plasie kan besigtig. Hier kom sit sy baie middae, moeg geswoeg in die hitte en stof, om ‘n arendsoog oor haar droom te hê of om net die stilte te geniet.
“is daar iemand wat kan help?”
“Die oom is oppad, pa. Ek sal reg wees.” Probeer sy hom gerustel.
“Weet die man wat hy doen?”
“Ek glo so pa, die mense op die dorp het hom aanbeveel.” Met dié hoor sy ‘n bakkiedeur toeklap. Monica groet haar pa en met uitgestrekte hand ontmoet die man – in sy laat vyftigs is hy die advertensiebord vir die Karoo-mens. Sy denim-kortbroek is veslete en witblou, sy goed deurloopte vellies het al beter dae beleef en sy leeragtige vel ‘n padkaart van lewensondervinding – oop en wys, is sy kykers reguit, en Monica weet sy is in goeie hande.
“Middag juffie,” groet die oom in ‘n hartlike stem wat dawer oor die stilte. Stofdampe draai om sy voete en koester teen hom – dié is duidelik gewoond aan die oom.
“Middag Oom.” Groet ek beskeie, nogsteeds onseker of ek dalk die man verniet laat kom het, al die pad van Williston. Ek hoop nie so nie. Ek sal rerig soos ‘n hond se stert voel indien dit so is.
“Wat maker die pomp?” sy oë toegespits op die staalblare en dan sien sy hoe hy die pad volg af dam toe waar geen straaltjie uit die waterpyp kom nie. ‘n Geklinkel breek die swaar stilte en die man draai sy kop sywaarts en luister vir lang minute in na die windpomp. Toe Monica iets wou sê lig hy sy hand op en Monica kan nie anders as om hom fyn dop te hou nie. ‘n Lgte windjie laat die windpomp weer klinkel en ‘n rolbos rol verby – stadig en grasieus oor die dor-vloer tot waar dit teen ‘n rots stop. Die gekners van sy groot voete verbreek die stilte en soos blits is hy op teen die verroeste leer uit tot bo en gee dan ‘n lang dubbel-fluit. Hande in die sye staar hy na die staalblare en begin dan om te wikkel aan die meganismes.
Monica se hart sak in haar skoene: wanneer haar pa gebukkend oor die kar-engin so gefluit het dan het hulle geweet daar is moeilikheid. Groot moeilikheid.  En haar fondse is alreeds so yl gesaai.
Van daar bo af gil hy vir sy handlanger wat Monica nou eers raaksien: “Fielies, bring die blik!”
“Ja Oubaas!” roep Fielies uit en krap dan in die agterbak van die bakkie rond totdat hy met ‘n afgeskilferde rooi en wit blik te voorskyn kom wat hy vasknyp onder die een arm. Sy kakiehemp skeef vasgeknoop in sy haas om saam te ry. Soos blits seil hy die leer op met die een sterk bruin hand wat elke sport raak vat, sy stof-besaaide bruin broek al wapperend in die wind, en kort voor lank is albei die mans op die smal houtplatform daar hoog bo. Hulle verwyder die hoed bo-op die windpompkop en ontbloot al die ratte – weer fluit Oom Piet en Fielies vryf so oor sy kop, die denim hoedjie skeef getrek maar albei se kykers vasberade op die masjien. Monica moes vining leer van windpompe – en verstaan darem die basiese werkinge maar sommige dinge het ‘n kundige en ferm hand nodig en Oom Piet se hande is die beste.
“Oom, is als reg daar?” vra Monica bekommerd, bakhand en met gestrekte nek hou sy hul dop. Die fel middagson se glans so helder dat haar duur sonbril nie opgewasse is vir die werk nie. Elke keer wat sy dit wil vervang duik daar belangriker dinge op en bly die sonbril ‘n knaende probleem.  
“Ja wat doggie,” roep hy van daar bo af, “als is klopdieselboom.” En sy kop sak weer oor die kop maar nie vining genoeg nie en Monica speur ‘n diep groefmyn tussen sy oë en sy sluk hard.
Minute sleep verby, selfs ‘n miskruier se waggel sal tyd verby vat so stadig sleep hy sy voete. Dan, skielik, hoor sy die oom se stem bulder vanuit die blou uitspansel, “Draai hom Fielies.”
“Ja Oubaas.” Fielies hang aan een van die staalblare en gee ‘n harde pluk maar niks. Die windpomp staar stom in die niet in en gee ‘n diep kraak maar verder draai niks nie. “Bliksem!” hoor sy die oom en hulle vroetel voort tot raserny van Monica, haar senuwees is op. Die sukkel voorspel niks goed nie, en die dam is leeg. Sy sien al hoe sy water moet aanry vir die paar diere wat sy op die plasie het.  Sy wou nooit baie diere aanhou nie, net genoeg om aan haar eie behoeftes te voldoen. Sover leef sy relatief goed ten spyte van maar selfs vir ‘n stadsjapie besef sy dat water kosbaarder as goud is in hierdie geweste en dat sy dit nie sal maak sonder die lewensvog nie. ‘n Warm wind waai haar hare deurmekaar en sweet stroom teen haar gesig af – ‘n vrypostige waarskuwing wat teen haar vel skuur en haar herinner aan haar penarie. Die natuur het ‘n manier om ‘n mens nederig te hou in hierdie dor wêreld.  Haar foon lui weer en verbreek die stilte kortstondig. Sy kyk na die foon en sug hardop – sy sien nie kans vir haar pa se negatiewe aanmerkings nie – nie nou nie en druk die foon dood.”
“Oom Piet!” Roep sy uit in ‘n klein stemmetjie en besef dan dat hy haar nie sal hoor nie en roep harder totdat hy afkyk.
“Ons moet die hele kop afhaal doggie, daar is geen keer nie. Wag, ek kom af en sal verduidelik. Fielies pak eers op.” sy swaar stem word aangewaai deur die droeë wind wat sy woorde beklemtoon en flits soos swart neon voor haar en sy weet hierdie is ernstige sake. Hoes gaan sy hoes, verseker.
Toe hy eintlik onder kom, skop Monica stof op soos sy die gaping kleiner maak tussen hulle. “Wat is die diagnose, oom?” vra sy versigtig. Hy haal sy hoed af en vee die sweet van sy gesig af met ‘n sakdoek wat seker die oggend wit was. “Wel juffie, die saak staan so. Ons sal die pyp moet vervang, en ek het my laaste pyp gister gebruik by Japie se plek.” En hy beduie met sy duim agter sy skouer, “Dit was nou ‘n gedoente hoor, Fielies hier het amper afgedonner van daarbo af.” Hulle albei kyk op en kyk hoe Fielies afgeklouter kom met die geroeste blik onder die arm. Toe hy onder staan gaan die oom voort met sy vertelling, onverstoord: “Die hele kop moet afgehaal word om dit te vervang, die pyp is al te veel gelaslap. Ek sal moet terugkom daarvoor, oormôre.   
“Hoeveel oom?”
Hy kug so ‘n bietjie en vryf dan weer oor die yl wordende grys hare met die sakdoek, natgesweet en die ring wat die hoed maak, versteur. “Dit gaan ‘n paar rand kos juffie, maar moenie jou mooi koppie daaroor breek nie, ek sal ‘n plan maak, moet net gou bel.” En sonder om te wag draf hy na sy Ranger toe wat onder die enigste boom se skaduwee staan.
Monica staar hom agterna, Verdwaas. Wat nou? Dit sal seker nie anders kan nie, sy sal moet uithaal en wys. Planne sal later gemaak moet word maar vir nou moet hierdie windpomp in werkende toestand wees anders het sy beslis probleme. En opgee is nie ‘n opsie nie. Met vaste tred loop sy na die bakkie toe en wag met geboeë hoof dat die oom sy oproep klaar maak. Hy lag en vee or sy kop, en praat dan weer in sy kenmerkende bulderende stem, alles terwyl die sigaret se rook hom volg oral in die kajuit, soos hy grawe. Op langelaas kom ‘n pen te voorskyn en hy griffel sommer op die agterkant van sy sigaret-boksie ‘n nommer. Hy sê totsiens vir Fanie met ‘n laaste grappie en druk weer knoppies, so alles in een vloeiende beweging. Die oom is duidelik in sy element so tussen die wind, stof en hitte…onverstoorbaar.
Monica bly bid en hoop vir ‘n goeie resultaat. Uiteindelik klim die oom uit sy bakkie, als ruk soos hy op die stofaarde trap, stof al kolkend om hom.
“Goeie nuus doggie, Wouter van Grootvlei kan ons help met ‘n pyp. Ek moet hom net gou gaan haal. Dit is nou ‘n agtermekaar mannetjie daardie.”
“Hoe lank oom?” Val sy die relaas in die rede, sy het nie nou die krag vir ‘n storie nie.
“As als goed gaan behoort ek so teen 8uur vanaand terug te wees, kan ons oorslaap? Sommer so op die stoep, ek en Fielies is voorberei vir sulke onverwagte oorslapies,” en hy lag diep uit sy maag uit. “Dan kan ons voor die lig nog op is die pyp vervang en kort voor lank daardie water laat spuit in die dam. Het jy helpers?”
“Ja natuurlik oom, ek sal aandete reg hou.” Stem sy in, verlig. “En Klasie kan help, oom.”
“Kostes oom?” vra sy weereens… die spanning sny diep in haar senuwees in.
Ons sal praat oor ‘n knertsie doggie, moenie worry nie. Als sal reg wees.” en met dit gil hy op Fielies: “Klim Fielies, ons moet ry.
Sy volg die stofstreep tot by die grootpad en kyk dan na haar staalblom, ‘n baken van hoop in die stiltes en prewel saggies: “Jy sal weer draai al kos dit my ook wat. Dankie vir jou harde werk.” En met ‘n eerbiedige hand streel sy saggies oor die ysterpoot, liefderyk en teer; hy sal haar nie in die steek laat nie.
Met genoegdoening staar sy oor die veld, haar plekkie en sy sug tevrede.
Sy kry gaste en die kos gaan nie vanself gemaak word nie.

@LynelleClark 2017


Foto geleen by Lekkaslaap





No comments:

Post a Comment

Die onmoontlike het gebeur, ‘n man stel belang, wil jou ken, en tyd met jou spandeer.

Vandag se program is tweedoelig van aard; waar ek met mans en vrouens wil gesels. Verhoudings is nie maklik nie en elke stap in die ...