Vrydag 25 Augustus 2017

Resensie van SA Stories se Nostalgie bundel en 'n Onderhoud met Elsabe de Beer. 25 Kortverhale 25 Aspirant Skrywers


Beskikbaar op Amazon in eBook

en Hardekopie direk by die skrywers of myself 

lynelleclark@gmail.com

Resensie: 5 Sterre
Ek was bevoorreg om by die boek-bekendstelling, te Haphuis op 1 Julie 2017 te wees en het daar my eie getekende boek gekoop. Ek kon ook met van die skrywers hande vat en saam die kreatiewe eindproduk van hul werk geniet. Op die dag het sommige van hulle hul stories met ons mondelings gedeel wat dit net soveel meer spesiaal gemaak het.
Die goed saamgestelde bundel was heel gepas genoem Nostalgie waarin 25 aspirant skrywers hul gedagtes vêr laat wegvoer het om ons ietsie van hul lewe en hart te openbaar. Dit is kosbare kleinnode wat ons meesleur na vergane dae toe ouma’s en oupa’s geleef het en dinge rustiger was.
Sommige verhale laat ‘n mens vêr dink in ‘n mens se eie lewe en die nostalgie van kosbare waarhede wat ‘n mens gevorm het.
Dit is SA Skrywers se eerste boekvrystelling en ek vind dit verfrissend en baie toepaslik vir vandag. As lid van die Bakkiesblad groep vind ek hul onderwerpe interessant en verrykkend en spoor hulle jou aan om rerig die beste werk te lewer. Vir my wat net gewoond is om in Engels te skryf is dit ‘n welkome plek om ook my skryfstyl in my eie taal te ontwikkel.Waarlik ‘n goeie bundel wat ek kan aanbeveel vir jou boekrak kolleksie.
 
Onderhoud met Elsabe de Beer
1.       Hoe is SA Stories gebore/ Waar het die idee vandaan gekom?
Elsabe: Ek het gesoek op Facebook waar ‘n mens kan wenke kry oor hoe om te skryf, agtergekom daar is baie digblaaie, maar nie veel om skrywers en veral beginner skrywers te help nie. Daar was toe ‘n Facebook blad wat nie ‘n admin gehad het nie. Ek het dit dadelik geneem en die naam verander na SA Stories, aangesien ek en Ilette Strydom van groep 7 al besig was met onderhandelinge om SA Stories te stig. Ek het dadelik vir Riana genader, want met haar talent en werkvernuf het ek kans gesien om dit aan te pak!  Dit was 5 Januarie 2017. Die res is geskiedenis, ons trek nou al by 1 000 lede!

2.       Hoekom nou juis bundels?
Is dit nie maar enige skrywer en veral beginnerskrywer se droom om eendag sy eie of ‘n bundel waarin sy storie opgeneem is, vas te hou nie?

3.       Hoe gereeld sien julle mekaar en word idees gedeel?
Ons het mekaar nog net twee maal persoonlik ontmoet, maar ons beplan stukke aanmekaar oor Facebook messenger en ons telefone! Ons bel mekaar gereeld!

4.       Deel ‘n onnutsige/ stoute gebeurtenis vandat julle met SA Stories begin het.
Sjoe, ja ons het maar aan die begin baie blapse gehad met mense wat onvanpaste plasings gedoen het. Ons moes bontstaan om skade te herstel.

5.       Wat wil julle graag bereik lang-termyn met die boeke?
Ons wil graag alle beginnerskrywers asook gepubliseerde skrywers help om te kan publiseer by ons drukkers, Groep 7. Ons droom is om eendag ‘n eie uitgewerbesigheid te vestig waar ons skrywers help met proeflees, taalkundige versorging en publikasie.

6.       Iets oor julle self: Waar het die passie vir skryf begin, en wat was jou eerste probeerslag?
Ek het al op skool begin skryf en dig, selfs agter in my Wiskunde boek, stories was nog altyd my lewe!

7.       Wie het julle geinspireer om te skryf?
Ek dink dit was my Letterkunde onderwyser op skool, hy het my baie lief gemaak vir prosa en poësie.

8.       In die algemeen, hou julle daarvan om oor julle werk te praat? Indien nie, hoekom nie?
Eintlik is dit al waaroor ek deesdae praat, ek dink dit is vir my man al ‘n groot frustrasie, hy deel beslis nie my passie nie.

9.       Enige boek in die vooruitsig en waaroor sal dit gaan?
My volgende droom is om ‘n roman te skryf, of oor ‘n vrou wie se man haar gelos het, of oor ‘n kind vir wie ek jare gelede skoolgehou het, arm, verwaarloos, maar tog homself opgewerk het.

10.   Hoe werk die skryf proses vir jou?
Ek kry eerstens die idee in my kop, maak ‘n paar aantekeninge, bou daarom die storieplan. Sodra ek begin skryf, neig my karakters om hulle eie wil te hê en die storie te dwing in ‘n rigting wat ek nie beplan het nie. Hulle maak my moeg!

11.   Waar het jy jou opleiding ontvang?
Ek het by Janie Oostuysen van Skryfgeheime drie kursusse gedoen, en by Leoni Benghiat van SA Vryskutskrywers drie kursusse, laastens die proeflees kusrus by Leoni Benghiat. Iets wat ek baie geniet, seker maar omdat ek ‘n onderwyseres was.

12.   Watter gedeelte van die skryfproses is vir jou die moeilikste?
Die afronding en lees, lees totdat jy tevrede is.

13.   Kan jy aan opbouende kommentaar dink wat jou rerig bemoedig het vandat jy begin skryf het?
Ja, ek het baie opmerkings van mense gekry wat gesê het hulle het my stories baie geniet.

14.   Skryf is ‘n baie persoonlike saak, hoeveel van jou eie ondervindinge word in die stories geweef?
Ek skryf baie oor dinge wat ek self beleef het, of oor iets wat iemand vir my vertel het.

15.   Wat is die beste/ of slegste deel van ‘n skrywer?
Skryf is ‘n alleen-pad. Ek mis soms inter-aksie met mense.

16.   Enige advies vir aspirerende skrywers?
Doen vir seker eers ‘n skryfkursus, en glo in jouself!
17.   Wat is jou gunsteling genre om te lees en te skryf?
Doodgewone lewenservaringe.

18.   Gunsteling skrywer of boek?
Annelie Botes. Al haar boeke. Ek sal graag soos sy wil skryf!

19.   Het jy ‘n loopbaan gehad voor jy as skrywer ontwikkel het?
Ja, ek was ‘n onderwyseres.

20.   Wat het veroorsaak dat jy wel begin skryf het?
Ek het ‘n dringende gevoel gehad dat ek iets het om te vertel!

21.   Enige stokperdjies behalwe skryf?
Ek skilder graag, borduur en skryf natuurlik!

22.   Is jy ‘n avonturier en hoe waaghalsig is jy?
Nee, die mees avontuurlik wat ek is, is om een maal per jaar Wildtuin toe te gaan. Kamp is nie regtig vir my nie.

23.   Het jy jou familie se ondersteuning en wat dink hulle daarvan?
My kinders vertel my dat hulle trots is op my, my man laat my tot ‘n mate toe om aan te gaan met my skrywery soos ek wil, maar soms raak hy moeilik!!! Dan moet ek ophou en TLC gee!!!




Maandag 14 Augustus 2017

Nuwe boekbekendstelling: Stories van my mense deur Madre van Tonder Nou beskikbaar!


Voorwoord:

Gert Coetzee, Volksblad-redakteur, 2017:
Madré van Tonder het aanvanklik onder Volksblad se aandag gekom as ’n briefskrywer van Brandfort wie se briewe graag in die koerant se meningskolom geplaas is. In 2013 het sy ‘n eerste rubriek aangebied oor die storie en heimwee agter die draad-tuinstel wat haar pa nog gemaak het. Die rubriek het ‘n bietjie oorgelê en rypgeraak, en is toe in oorleg met Madré effe geskaaf en aangepas. Een ding lei na ‘n ander ding, en teen 2017 het bykans 80 stukke van die “rubriekskrywer van Brandfort” in Volksblad verskyn. Sy boor die are raak wat Volksblad se lesers verstaan. Brandfort, sy mense en hul dinge is (toevallig) die agtergrond vir haar sketse. Soms is hulle selfs die onderwerp van haar fyn (self)spot en hekelry, maar nie liefdeloos en kleindorps so nie. Dit kon net sowel ’n ander Vrystaatse of Suid-Afrikaanse dorp gewees het, so bekend is dit ­ - toustanery in die kasregister-ry op ’n Saterdagoggend, koekiebakkery, swak dienslewering, spoke, wit olifante, vroue en hul hare, en vele ander stories. Haar gebundelde rubrieke is ’n toevoeging tot die ryk skat Afrikaanse vertellings uit eie bodem.

VOORWOORD VAN DANA SNYMAN, SKRYWER 

Die eerste rubriek van Madré wat gelees het, het my laat huil, een oggend in my bakkie langs die pad net buite Koffiefontein.Min dinge op aarde is vir my lekkerder as om soggens in my bakkie te sit en koerant lees. Dis vir my ’n soort stiltetyd. Maak nie saak waar ek is nie, en ek is mos maar knaend aan die swerf, soggens gaan koop ek die koerant – én ’n toebroodjie of ’n pasteitjie – en gaan parkeer iewers eenkant, weg van almal.So sit ek toe die oggend met Die Volksblad in my bakkie buite Koffiefontein en lees hoe hierdie Madré van Tonder-vrou skryf oor hoe sy haar hondjie Obama na ’n veearts in Bloemfontein neem, en hoe sy ná die besoek vir ’n man ’n saamrygeleentheid gee – ’n man met sy hondjie, Buksie, by hom in ’n kartondoos, dood. Buksie moes uitgesit word.Ek is onbetaamlik lief vir honde en het al ’n klomp vertellings gelees oor honde wat uitgesit moet word, sonder om daardeur geroer te word. Maar hierdie vrou verstaan iets diepers van die ding tussen mense en honde, het ek vir myself gesȇ. Sy raak nie sentimenteel en ag-foeitog-rig nie. Sy sien die lewe vir die genadelose plek wat dit kan wees. Sy weet iets van eensaamheid.Nou, skaars ’n jaar later, was dit vir my ’n groot vreugde om die rubrieke in hierdie bundel te lees. Of, nee, “vreugde” is nie die regte word nie. Party van Madré se stories karring aan jou diepste emosies. Sy mors nie met woorde nie, daarom slaat party stories jou nog harder. Naby die einde van die storie, ‘Dae wanneer die son vir ons struikel’, roep sy in slegs vyf woorde  - “Dáár het die Opel geluier” - ’n beeld van verskrikking op wat ’n mens nie wil verlaat nie.Nie dat al die stories swaarmoedig is nie. Glad nie. Allermins. Hoe lekker het ek nie gelag, sommer in die eerste storie al, vir oom Abé wat een aand sy balans verloor en sy oog teen die draadtafel stukkend geslaan het.Ek praat spesifiek van “stories” en nie “rubrieke” nie, want soveel van die vertellings wil meer wees as net die inventaris van iemand se frustrasies. Madré, anders as soveel ander rubriekskrywers, kerm en kla nie oor dit en onbenullige dat nie. Sy sien die menslikheid in situasies raak, selfs die spelfoute in die kennisgewing teen die China shop op Brandfort, haar tuisdorp.Soms raak sy nostalgies, maar dis nie ’n desperate verlange dat als in die land weer moet wees soos in die jare sewentig op Sasolburg, haar grootwordplek, nie. Op haar manier maak sy deur haar skryfwerk vrede met die eise wat die nuwe Suid-Afrika aan ons stel. Haar vertelling oor hoe Brandfort sonder water sit en sy en van die ander dorpsvroue koekies vir die munisipaliteit se watermense bak, is ’n klein meesterstuk.Madré kyk met genadige oȅ na haar dorp en die wȇreld, en sy skryf eerlik en helder oor wat sy sien. Sy is my tipe-skrywer.Koop hierdie boek. Jy gaan nie spyt wees nie.Maak net seker niemand sien jou wanneer jy daardie dekselse mooi storie oor die man en Buksie lees nie. 


      
 Boek is beskikbaar by Madre van Tonder madre@vodamail.co.za

Saterdag 12 Augustus 2017

Ink Webwerf bied aan 'n Skryfkompetisie vir skrywers en digters.

Is jy n skrywer, digter, liriekskrywer of sanger? Of geniet jy dit net om te lees? Dan ek wil jou uitnooi om te kom loer en aan te sluit by n nuwe webwerf vir Afrikaanse digters/skrywers/Musiek & liriek skrywers en sangers www.ink.org.za ons sal jou baie graag as lid daar wil verwelkom. Ink is selfoon en tablet vriendelik en daar gebeur opwindende dinge en kompetisies vir almal! Hierdie is n stem in Afrikaans waar ons groot talent ontdek en ontgin. Daar is n volledige biblioteek (gedigte, liegstories, kinderverhale en kinderrympies), Elektroniese FAK, (47)E-woordeboeke en kitaardrukke vir bekende Afrikaanse liedjies en Opleidingseksie as jy gratis aansluit. Kom adverteer jou reeds gepubliseerde publikasies in ons boekwinkel. Baie groot blootstelling vir ons lede. Indien jy belangstel om deel van die INKspan te word moet jy asb op die webwerf vir jou n profiel gaan registreer, dan sal jy toegang he tot die hele webwerf en kan rustig deur alles lees en besluit in watter mate jy betrokke wil wees. Kliek asb. op die skakel.

Dan het ons ook n baie groot skryf kompetisie vir skrywers en digters aan die gang....

Dit is vir my wonderlik om die groot nuus met julle te deel. Hierdie kompetisie het die grootste pryse wat ons nog ooit op INK aangebied het! Die wenners sal op die gala-aand 4 November 2017 aangekondig word en ook hulle pryse van die borge ontvang
Die kompetisie het geen tema nie en lede kan self besluit of hulle ‘n digbundel, kortverhale/sketse of ‘n verhaal wil inskryf. Jy moet genoeg plasings (120 bl) op INK doen om te kwalifiseer en MOET ‘n geregistreerde en betalende lid wees om te kan deelneem.
Lede wat inskryf moet daarop let dat INK en borge betrokke GEEN redigeer werk aan die boeke/bundels gaan doen of verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie. Dit is elke lid wat inskryf se plig om toe te sien dat sy/haar inskrywings taalkundig versorg en korrek is.
Lede wat inskryf het moet asseblief daarop let dat die skryfkompetisie niks met die trofee wenners van die jaar te doen het nie. In die kompetisies wat op INK geloots word besluit die borge (op julle finale en volledige produk) wie die wenners is.
Daar is ‘n eerste plek in die gedigte ASOOK ‘n eerste plek in die verhale en dit is nie waar die goeie nuus ophou nie … ons het ook ‘n 2de prys vir die digters en een vir die skrywers EN  dan ook ‘n kontantprys vir die 3de plek in elke afdeling (dig en skryf) van R1 500.
1. Ingeskrewe lede van INK kan deelneem aan die beplande kompetisie in 2 afdelings nl boeke en digbundels wat in 2017 geloots word.
2. Die inskrywings word deur INK geadministreer en die 10 bestes in elke afdeling deur die INK moderators gekies en aan die borge voorgelê vir beslissing. Geen korrespondensie sal oor die uitslae gevoer word nie en die beslissing is finaal.
Eerste prys borg (gedigte & verhale) Groep 7 drukkers en Uitgewers (Pty)Ltd
a. ontvang 10 gekeurde manuskripte wat reeds taalkundig versorg is sowel as die inligting vir die buiteblad (lokteks, foto/skets/foto skrywer of digter).
b. doen bladuitleg en buitebladontwerp vir al 10 (as hule prys vir Top 10)
c. kies 1 wenner uit die 10 finaliste vir elke afdeling en wenners ontvang bykomend:
i. Registrasie van ISBN.
ii. 50 gedrukte boeke elk.
iii. Beskikbaarstelling op Groep 7 se aanlyn boekwinkel of E-boek, volgens die normale kostes en prosedure.
Indien die 9 ander in die top 10, wel hulle boeke wil laat druk, is die professionele voorbereiding reeds gedoen  deur Groep 7 en hulle betaal net vir die drukkostes.
Hierdeur wil Groep 7 poog om die standaard van self-uitgewery te verhoog sodat dit in lyn is met die tradisionele uitgewers en boeke in die handel.
2de prys borg (gedigte & verhale): SA Vryskutskrywer
1. Die tweede pryswenner in die kortverhaalkategorie ontvang ‘n aanlynskryfkursus – LAAT JOU KARAKTERS LEEF.
2. Die tweede pryswenner in die digkunskompetisie ontvang ‘n aanlynskryfkursus – SKRYF JOU GEDIG.
Albei kursusse word deur SA Vryskutskrywer geborg.
Dit sluit in kursusmateriaal sowel as afstandonderrig en ‘n Sertifikaat van Voltooiing, mits die kursus bevredigend afgehandel en die vereiste slaagsyfer behaal word.
Derde prys borg (gedigte & verhale) ’n kontantprys van R1 500 deur die INK moderator geborg vir die verhale en gedigte afdeling
Mag elke lid op INK hierdie goue leentheid aangryp en inskryf!
Skryf lekker, in INK, in Afrikaans!
Anzé

Volg die skakel na die webwerf hier

Donderdag 10 Augustus 2017

'n Besoek aan Jasmyn Boekwinkel



Dit gaan nie altyd oor skryf nie, soms hou ek ook daarvan om die land te deurkruis en te stop by winkels wat uitstaan op hierdie togte. Ons het op die ingewing van die oomblik besluit om te ry op die in-die-middel-van-die-week-breek. Dit is gewoonlik op hierdie onbeplande togte wat 'n mens soveel meer ontdek van ons land en sy mense.  
Een van die ontdekkings van die dag was Jasmyn Boekwinkel in Hartbeespoort. Van die oomblik wat ek die trappe bestyg het na die boekwinkel was ek verras en verwondered - ja, ek voel nog soos 'n kind wanneer ek in 'n boekwinkel instap. :) Dit was my eerste besoek aan hierdie boekwinkel en sal beslis nie die laaste kuier wees nie. 
Ek was aangenaam verras met die uitstallings en algemene atmosfeer van die winkel waar elke boeke liefhebber welkom voel en op 'n rustige manier, boekrak vir boekrak kan deurloop en boeke kan deurlees sonder om gehinder te word.
Boeke verryk ons lewe. Sonder die geskrewe woord sal ons baie arm wees. En vir my is dit die een plek waar ek myself kan verloor in die bladsye van skrywers se stories en dit geniet. Dit is 'n plek wat ek beslis kan aanbeveel vir elke boekliefhebber - en maak jouself reg deur die beursie saam te vat: jy sal beslis koop. :)



Dinsdag 08 Augustus 2017

Die stukkende windpomp op Hermansdrift deur Lynelle Clark

“Jy het ‘n fout begaan om die plek te koop. Al wat jy nou het vir al jou konfettie-drome is nimmer eindigende probleme.” Die sein was baie swak maar Monica het die boodskap verstaan. Vandat sy haar pa ingelig het oor haar koop, het hy telkemale sy ongevraagde opinie gegee en haar herinner dat sy ‘n groot fout begaan het.
Maar sy wou dit doen. In die eerste plek wil sy ook iets in haar naam besit, wat net hare is, en tweedens aan haarself bewys dat sy meer is as net ‘n ma-plotter van Brakpan. Sy het elke Landbou weekblad-uitgawe nagevors soos ‘n wafferse kundige; Bakkiesblad se Landbou-groepe dopgehou vir daardie een plek wat sy hare kon noem. Sy het jare lank hard gewerk en gespaar met die een doel voor oë; selfs haar oorlede man was skepties oor die droom maar sy het koersvas gebly. Met sy skielike heengaan 2 jaar gelede het die erfgeld haar droom aangehelp en het sy genoeg fondse gehad om haar droom ‘n werklikheid te maak. Die lewensversekeringgelde het veroorsaak dat sy redelik gerieflik kan leef waar sy ookal haarself bevind.
In haar hart was sy ‘n natuur mens, die hunkering na die ruimtes en die vryheid was haar grootste motivering: sy was moeg vir die stad en sy gejaag. Sy wou afsonder en na hartelus skryf sonder die alewige bedrywighede en inmenging van aandagsoekers. Sy wou alleen wees en doen waarvoor sy lief is sonder om toestemming te vra van ouers, ‘n man of kinders.
Op ‘n dag het sy ‘n artikel in die Weg-tydskrif gelees, oor die lewe en sy mense in die Karoo het haar gefassineer en met een van haar togte het die ooptes haar versugtinginge beantwoord en aangepor. Sy het boeke verslind, met mense gesels wat dié wêreld goed ken – selfs by hulle gaan vertoef sodat sy ‘n goed ingeligte besluit kon maak. Sy het haar berekene gedoen en ‘n onbeskryflike vrede het deel geword van haar en sy het net geweet. Die afsondering en skoonheid van die uitgestrekte landskap was die finale deurslag. 6 maande gelede het sy die plekkie raak geloop op een van haar vele ritte, net buite die dorp waar sy gekuier het, en is sy ‘n Karoomeisie vir die laaste 4 maande.
“Wat is nou weer fout?” wil haar pa moeg weet.
“Die windpomp het ingegee.” Antwoord sy, ook moeg maar nie vir die redes wat haar pa dink nie. Sy sal nooit opgee op haar droom nie.
Haar stukkie aarde het die mooiste windpomp op – staalblomme noem die Karoo mense hulle. Hulle versier die uitgestrekte vlaktes met hul blink gesigte en gee die gebied ‘n karakter van sy eie. Soveel toeriste het al by Hermansdrift gestop net om die windpomp af te neem – sigbaar van die groot pad af a.g.v. sy ligging en die panoramiese uitsig wat dit bied. Hier is jou kyk ongehindered en in die deinsende verte omsoom die randjies die gebied in liggrys skakerings. Hier sien jy die rus swewe tussen deur die karige bossies en struike. Die skoonheid van die helder hemelryk wat jou omvou, snoesig en stil, en jy word heel. Tyd is nutteloos hier.  
Sy het planne met die uitsig en as al haar somme-maak uitwerk gaan sy net hier ‘n plekkie oopmaak vir mede-skrywers wat die oopte soek om ook hul verbeelding teuels te gee. ‘n Kuierplek vir eenderse-siele.
Die windpomp is 3km van die plaashuis geleë op ‘n koppie van waar sy haar hele plasie kan besigtig. Hier kom sit sy baie middae, moeg geswoeg in die hitte en stof, om ‘n arendsoog oor haar droom te hê of om net die stilte te geniet.
“is daar iemand wat kan help?”
“Die oom is oppad, pa. Ek sal reg wees.” Probeer sy hom gerustel.
“Weet die man wat hy doen?”
“Ek glo so pa, die mense op die dorp het hom aanbeveel.” Met dié hoor sy ‘n bakkiedeur toeklap. Monica groet haar pa en met uitgestrekte hand ontmoet die man – in sy laat vyftigs is hy die advertensiebord vir die Karoo-mens. Sy denim-kortbroek is veslete en witblou, sy goed deurloopte vellies het al beter dae beleef en sy leeragtige vel ‘n padkaart van lewensondervinding – oop en wys, is sy kykers reguit, en Monica weet sy is in goeie hande.
“Middag juffie,” groet die oom in ‘n hartlike stem wat dawer oor die stilte. Stofdampe draai om sy voete en koester teen hom – dié is duidelik gewoond aan die oom.
“Middag Oom.” Groet ek beskeie, nogsteeds onseker of ek dalk die man verniet laat kom het, al die pad van Williston. Ek hoop nie so nie. Ek sal rerig soos ‘n hond se stert voel indien dit so is.
“Wat maker die pomp?” sy oë toegespits op die staalblare en dan sien sy hoe hy die pad volg af dam toe waar geen straaltjie uit die waterpyp kom nie. ‘n Geklinkel breek die swaar stilte en die man draai sy kop sywaarts en luister vir lang minute in na die windpomp. Toe Monica iets wou sê lig hy sy hand op en Monica kan nie anders as om hom fyn dop te hou nie. ‘n Lgte windjie laat die windpomp weer klinkel en ‘n rolbos rol verby – stadig en grasieus oor die dor-vloer tot waar dit teen ‘n rots stop. Die gekners van sy groot voete verbreek die stilte en soos blits is hy op teen die verroeste leer uit tot bo en gee dan ‘n lang dubbel-fluit. Hande in die sye staar hy na die staalblare en begin dan om te wikkel aan die meganismes.
Monica se hart sak in haar skoene: wanneer haar pa gebukkend oor die kar-engin so gefluit het dan het hulle geweet daar is moeilikheid. Groot moeilikheid.  En haar fondse is alreeds so yl gesaai.
Van daar bo af gil hy vir sy handlanger wat Monica nou eers raaksien: “Fielies, bring die blik!”
“Ja Oubaas!” roep Fielies uit en krap dan in die agterbak van die bakkie rond totdat hy met ‘n afgeskilferde rooi en wit blik te voorskyn kom wat hy vasknyp onder die een arm. Sy kakiehemp skeef vasgeknoop in sy haas om saam te ry. Soos blits seil hy die leer op met die een sterk bruin hand wat elke sport raak vat, sy stof-besaaide bruin broek al wapperend in die wind, en kort voor lank is albei die mans op die smal houtplatform daar hoog bo. Hulle verwyder die hoed bo-op die windpompkop en ontbloot al die ratte – weer fluit Oom Piet en Fielies vryf so oor sy kop, die denim hoedjie skeef getrek maar albei se kykers vasberade op die masjien. Monica moes vining leer van windpompe – en verstaan darem die basiese werkinge maar sommige dinge het ‘n kundige en ferm hand nodig en Oom Piet se hande is die beste.
“Oom, is als reg daar?” vra Monica bekommerd, bakhand en met gestrekte nek hou sy hul dop. Die fel middagson se glans so helder dat haar duur sonbril nie opgewasse is vir die werk nie. Elke keer wat sy dit wil vervang duik daar belangriker dinge op en bly die sonbril ‘n knaende probleem.  
“Ja wat doggie,” roep hy van daar bo af, “als is klopdieselboom.” En sy kop sak weer oor die kop maar nie vining genoeg nie en Monica speur ‘n diep groefmyn tussen sy oë en sy sluk hard.
Minute sleep verby, selfs ‘n miskruier se waggel sal tyd verby vat so stadig sleep hy sy voete. Dan, skielik, hoor sy die oom se stem bulder vanuit die blou uitspansel, “Draai hom Fielies.”
“Ja Oubaas.” Fielies hang aan een van die staalblare en gee ‘n harde pluk maar niks. Die windpomp staar stom in die niet in en gee ‘n diep kraak maar verder draai niks nie. “Bliksem!” hoor sy die oom en hulle vroetel voort tot raserny van Monica, haar senuwees is op. Die sukkel voorspel niks goed nie, en die dam is leeg. Sy sien al hoe sy water moet aanry vir die paar diere wat sy op die plasie het.  Sy wou nooit baie diere aanhou nie, net genoeg om aan haar eie behoeftes te voldoen. Sover leef sy relatief goed ten spyte van maar selfs vir ‘n stadsjapie besef sy dat water kosbaarder as goud is in hierdie geweste en dat sy dit nie sal maak sonder die lewensvog nie. ‘n Warm wind waai haar hare deurmekaar en sweet stroom teen haar gesig af – ‘n vrypostige waarskuwing wat teen haar vel skuur en haar herinner aan haar penarie. Die natuur het ‘n manier om ‘n mens nederig te hou in hierdie dor wêreld.  Haar foon lui weer en verbreek die stilte kortstondig. Sy kyk na die foon en sug hardop – sy sien nie kans vir haar pa se negatiewe aanmerkings nie – nie nou nie en druk die foon dood.”
“Oom Piet!” Roep sy uit in ‘n klein stemmetjie en besef dan dat hy haar nie sal hoor nie en roep harder totdat hy afkyk.
“Ons moet die hele kop afhaal doggie, daar is geen keer nie. Wag, ek kom af en sal verduidelik. Fielies pak eers op.” sy swaar stem word aangewaai deur die droeë wind wat sy woorde beklemtoon en flits soos swart neon voor haar en sy weet hierdie is ernstige sake. Hoes gaan sy hoes, verseker.
Toe hy eintlik onder kom, skop Monica stof op soos sy die gaping kleiner maak tussen hulle. “Wat is die diagnose, oom?” vra sy versigtig. Hy haal sy hoed af en vee die sweet van sy gesig af met ‘n sakdoek wat seker die oggend wit was. “Wel juffie, die saak staan so. Ons sal die pyp moet vervang, en ek het my laaste pyp gister gebruik by Japie se plek.” En hy beduie met sy duim agter sy skouer, “Dit was nou ‘n gedoente hoor, Fielies hier het amper afgedonner van daarbo af.” Hulle albei kyk op en kyk hoe Fielies afgeklouter kom met die geroeste blik onder die arm. Toe hy onder staan gaan die oom voort met sy vertelling, onverstoord: “Die hele kop moet afgehaal word om dit te vervang, die pyp is al te veel gelaslap. Ek sal moet terugkom daarvoor, oormôre.   
“Hoeveel oom?”
Hy kug so ‘n bietjie en vryf dan weer oor die yl wordende grys hare met die sakdoek, natgesweet en die ring wat die hoed maak, versteur. “Dit gaan ‘n paar rand kos juffie, maar moenie jou mooi koppie daaroor breek nie, ek sal ‘n plan maak, moet net gou bel.” En sonder om te wag draf hy na sy Ranger toe wat onder die enigste boom se skaduwee staan.
Monica staar hom agterna, Verdwaas. Wat nou? Dit sal seker nie anders kan nie, sy sal moet uithaal en wys. Planne sal later gemaak moet word maar vir nou moet hierdie windpomp in werkende toestand wees anders het sy beslis probleme. En opgee is nie ‘n opsie nie. Met vaste tred loop sy na die bakkie toe en wag met geboeë hoof dat die oom sy oproep klaar maak. Hy lag en vee or sy kop, en praat dan weer in sy kenmerkende bulderende stem, alles terwyl die sigaret se rook hom volg oral in die kajuit, soos hy grawe. Op langelaas kom ‘n pen te voorskyn en hy griffel sommer op die agterkant van sy sigaret-boksie ‘n nommer. Hy sê totsiens vir Fanie met ‘n laaste grappie en druk weer knoppies, so alles in een vloeiende beweging. Die oom is duidelik in sy element so tussen die wind, stof en hitte…onverstoorbaar.
Monica bly bid en hoop vir ‘n goeie resultaat. Uiteindelik klim die oom uit sy bakkie, als ruk soos hy op die stofaarde trap, stof al kolkend om hom.
“Goeie nuus doggie, Wouter van Grootvlei kan ons help met ‘n pyp. Ek moet hom net gou gaan haal. Dit is nou ‘n agtermekaar mannetjie daardie.”
“Hoe lank oom?” Val sy die relaas in die rede, sy het nie nou die krag vir ‘n storie nie.
“As als goed gaan behoort ek so teen 8uur vanaand terug te wees, kan ons oorslaap? Sommer so op die stoep, ek en Fielies is voorberei vir sulke onverwagte oorslapies,” en hy lag diep uit sy maag uit. “Dan kan ons voor die lig nog op is die pyp vervang en kort voor lank daardie water laat spuit in die dam. Het jy helpers?”
“Ja natuurlik oom, ek sal aandete reg hou.” Stem sy in, verlig. “En Klasie kan help, oom.”
“Kostes oom?” vra sy weereens… die spanning sny diep in haar senuwees in.
Ons sal praat oor ‘n knertsie doggie, moenie worry nie. Als sal reg wees.” en met dit gil hy op Fielies: “Klim Fielies, ons moet ry.
Sy volg die stofstreep tot by die grootpad en kyk dan na haar staalblom, ‘n baken van hoop in die stiltes en prewel saggies: “Jy sal weer draai al kos dit my ook wat. Dankie vir jou harde werk.” En met ‘n eerbiedige hand streel sy saggies oor die ysterpoot, liefderyk en teer; hy sal haar nie in die steek laat nie.
Met genoegdoening staar sy oor die veld, haar plekkie en sy sug tevrede.
Sy kry gaste en die kos gaan nie vanself gemaak word nie.

@LynelleClark 2017


Foto geleen by Lekkaslaap





Woensdag 02 Augustus 2017

Boekbekendstelling: SA Hartswoorde en SA Stories




Boeke is verkrygbaar by my lynelleclark@gmail.com teen R120 posgeld ingesluit. 
U kan ook aansluit by die groep op Facebook om so jou eie skryfwerk te bevorder en te publiseer. 

Ek deel graag fotos van die amptelike boekbekendstelling op Saterdag, 29 Julie te Haphuis, Capital Park.






Verskeie sprekers, wie se werk in die boeke gepubliseer is, het vir ons voor gelees wat by gedra het tot die suksesvolle dag. Dit was 'n belewenis om elkeen te ontmoet en mekaar se werke te kon geniet.








In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...