Saturday, July 22, 2017

Moord op Duiwelslaagte Deur Lynelle Clark


Kyk hierna Kaptein!” Roep die jong konstabel opgewonde uit terwyl hy in gehardloop kom en hou ‘n opgefrommelde voorwerp uit na hom; vir ‘n oomblik vergeet Shozi van protokol, sy eerste moord saak laat hom skoon lighoofdig van opgewondenheid.
Kaptein Swanepoel kyk op van sy notas, ‘n flitsende oomblik geirriteerd met die nuwe toevoeging tot hul geledere maar hou homself onder beheer. Hy mis niks in die daaropvolgende sekondes nie en spits sy ore opnuut; daar is ‘n paar onbeantwoorde vrae en hy het net een bewysstuk nodig vir ‘n deurbraak op hierdie onverklaarbare moord wat die klein dorpie laat gons van gisteraand af.
Ou Dominee Koornhof was ‘n geliefde persoon op Duiwelslaagte en sy dood was onverwags en sinister – die geskreeu van die uil op sy bors, het soos ‘n aanklag geklink, teen die tyd wat hulle by hom gekom het. Duistere dinge het in die pastorie gebroei. Die hele kontrei was stomgeslaan en simpatie-mandjies met treurende-eienaars ─ wat soos nuuskierige agies op die dorp toegesak het, het die huis vinnig gevul.
Soos blits het die bostelegraaf die storie laat hardloop met stertjies wat aangelas was en teen die vroeë oggend ure het dit ‘n lewe van sy eie gehad; dit was verstane want nuus was seldsaam in hierdie omgewing. Die inwoners het oornag kenners van moord geword en by verskeie geleenthede moes hy op sy tande kners uit frustrasie vir sy dorpsgenote.
Kaptein Swanepoel vat die platgestrykte foto by hom en staar stomgeslaan na die afbeelding. “Waar het jy dit gekry?”
“Onder die buffet, waar die liggaam was.”
“En hoekom sien ek dit nou eers?” bulder hy terwyl ‘n stoel met mening terug geskuif word en hy kwaai na die mannetjie staar wat met groot, verskrikte oë na hom kyk.
“Ek het dit nou eers gekry, dit was half onder die mat ingeskuif en eers toe ek die buffet skuif toe sien ek ‘n stukkie papier uitsteek.” Verduidelik Shozi, nog uitasem, in sy gebrekkige Afrikaans.
Die ou pastorie is reg langs die Polisiestasie maar vir die konstabel kon dit net sowel aan die anderkant van die een-straat dorpie gewees het. Hy blaas onnatuurlik en hou sy heup vas van die ongewone oefening, sweet hardloop in ‘n straal teen sy gesig af. 
“Hoekom nou eers, wat het jy die laaste paar ure gedoen daar?” bulder die Kaptein uit.
Verleë laat sak Shozi sy oë: “Never mind!” Gegrief draai die kaptein weg en gryp sy baadjie in sy haas om uit te kom.
“Kom jy Konstabel!” roep hy uit in die hardloop en swaar voetspore volg hom. Dit was genoegsaam om te weet dat die mannetjie hom volg. Hy kan later die man roskam oor sy nalatgheid; die saak moet nou afgesluit word.
“Skuus Swannie, kan ek jou gou sien?” vra Oom Neels, nog ‘n beterweterige dorpenaar, die oomblik toe hy hom gewaar.
“Nie nou nie Oom, ek moet beweeg.”
“Wanneer jy ‘n tydjie het,” sê die Oom, onverstoorbaar. “Dit gaan oor ou dominee.”
“Ja, ja.” Is al wat Swannie sê en rol sy oë. Hy het ‘n dop nodig maar die sal moet wag.
Hulle hardloop regsom die stasie en gaan by die hekkie van die Pastorie in. Dié kraak onder die geweld waarmee dit oopgeruk word. ‘n Ou plaashuis wat deur ‘n destydse boer aan die dorp geskenk is en omdat die Proponent toe net daar begin het, het hulle dit dadelik vir die toe, jong Dominee Koornhof, as pastorie gegee. Sedertien was dit die spulpunt van bedrywighede in die distrik.
Die sement paadjie is amper toegegroei met die kleurvolle wintersblomme wat nie weet waar hulle grense is nie, en in die twee polisiemanne se haas word van die blomme vertrap. Swannie draf die paar trappe op in ‘n japtrap en hamer teen die imposante houtdeur en sekondes later maak ‘n gryskop vroutjie die deur oop.
“Middag Tannie Marthie, kan ons in kom?” vra hy die Pastorie-moeder. Formaliteite was nog nooit ‘n groot ding in die distrik nie; die dogter van ‘n Predikant was sy gewoond aan die status wat dit meëbring maar op die platteland moes sy derhalwe aanpas. Nogsteeds ‘n statige vrou, deftig met elke grys haartjie op sy plek het die eens pragtige vrou nou net ‘n skaduwee geword van haar jongerself. 
“Ja seker, Swannie, konstabel, kom in.” en sy maak die deur wyer oop en staan terug sodat hulle verby haar kan kom en in die verhitte sitkamer kan instap. Dié tyd van die dag was die pastorie ‘n koue plek en alhoewel sy baie daaroor gekla het, het sy mettertyd geleer om die beste van die koue te maak. So was die kaggel in konstante gebruik en het dit ‘n gesellige vertrek geword waar kuiergaste gereeld onthaal was.
“Waarmee kan ek help?” vra die Tannie nadat hulle plaas geneem het en koffie bestel is by die huishulp.
Sonder seremonie haal Swannie die verkreukelde foto uit en gee dit vir haar terwyl hy haar noukeurig dophou; haar reaksie spreek boekdele en hy weet hier kom ‘n storie, een wat die dorpie tot in sy fondamente gaan skud. Daar is geen manier dat dit stil gehou kan word nie. 
Marthie trek haar asem in, diep geskok en wasbleek knyp sy haar oë toe. Sy het nie gedink sy sal ooit weer die foto sien nie. Hoe? Waar? Is maar net van die vrae wat deur haar storm. Niemand het geweet nie, daarvoor het sy seker gemaak. Haar keel word kurk droog en haar hande bewe so erg dat sy die foto laat val. Dit fladder tot onder op die Persiese mat – ‘n trougeskenk van haar ouers destyds. Toe het sy geglo in ware liefde totdat sy gekonfronteer was met dié foto. Die Kind. Die eenjarige kind staar terug na haar vanuit ‘n verblykte foto, vergeel van ouderdom. Daar sit sy in haar kantrokkie, haar vuisies saam gebondel in haar skoot terwyl sy ‘n skalkse glimlag gee vir die fotograaf. ‘n Mooi kind - sy moet nou in haar laat vyftigs wees. Van die oomblik wat sy bewus geword het van haar bestaan was sy soos ‘n spook in haar huwelik. Altyd, in elke hoekie en gleufie, haar asem ‘n koue rilling wat sy wou wegbrand met die warm kaggel op koue wintersdae. Hulle het geen kinders nie. Sy was altyd skeef aangekyk, met siestog-oë en sy kon die vernedering nooit gewoond raak nie ongeag die pogings om dit te ignoreer. Die kind ‘n verdere bewys van haar mislukte baarmoeder wat arm gebly het.
Toe die vrou gister op haar stoep verskyn het - haar verkreukelde bloes die nasleep van ‘n lang pad kon haar min skeel. Hoe durf sy so onbedaagsaam wees om ongenooid hier in te wals wou sy verergd weet maar Arrie se blydskap was duidelik sigbaar op sy verrimpelde gesig en hy het haar eenkant toe geskuif – in haar eie huis.
Die vrou het ingekom, daar gesit waar die konstabel nou sit en ongeerg haar storie vertel so asof sy wat Marthie is belanggestel het. Sy wou haar wegvee en vir ewig toesluit maar Arrie het anders besluit. Arrie, die stil en teruggetrokke predikant van die kontrei, gerespekteerd en geliefd tussen sy mense. Maar niemand het geweet van sy dwalende oog nie. 
Sy was in hulle lewe vir 6 maande, het hier in die pastorie gebly omdat sy geen ander heenkome gehad het nie. En stelselmatig het sy haar in Arrie se hart ingewurm en hom na haar bed gelok. Soos ‘n lam het hy hom laat lei deur die addergeslag. Sy kon hom dit nooit vergewe nie. Toe trek sy en Marthie het geglo dit was die einde totdat die foto daar opgedaag het, in ‘n koevert met ‘n kort briefie ter verduideliking. Arrie het daardie vervloekte foto saam met hom gedra – elke dag.
Die resultaat van sy dwaling het gister voor haar gesit en gesels asof dit die mees alledaagse ding was om te doen en Arrie-haar rustige en bedeesde man- het geblom. Sy het daardie vrou gehaat soos wat sy haar ma gehaat het. Toe die vrou daar weg is, met ‘n stywe druk van haar Pa en ‘n belofte dat hy sal kom kuier het Marthie rooi gesien. Stilweg het sy kamer toe gestap terwyl hulle nog gesels het, haar gesig gepoeier en toe kombuis toe geloop om met aandete te begin. Daar het sy lank na die messe gestaar, netjies in ‘n houtblok – een van die geskenke van die Vroue-unie vir onbaatsugtige werk gelewer in haar tyd as Pastorie-moeder.
In die agtergrond kon sy hoor hoe Arrie die voordeur toegemaak en na die badkamer gestap het. ‘n Swanger stilte het in die huis gehang en soos bittergal het sy haar speeksel terug gesluk. Die verraad dik in haar binneste. Toe Arrie in die deur verskyn, met die glimlag nog steeds om sy lippe het sy ‘n mes uitgehaal, en styf vasgeklem in haar regtervuis, na hom gestap. Doelgerig en sonder emosie.
Verdwaas het hy na haar gestaar tot sy by hom was en toe die lem gewaar wat stadig in sy maag weg gesink het. Gefassineerd het sy na die rooikol wat op sy wit hemp gevorm het, gekyk en geglimlag – die eerste in ‘n baie lang tyd. Hy het nie eers probeer om terug te baklei nie. Weer en weer het die lem in hom weggesink totdat hy op die mat inmekaar gesak het. Gou was die mat deurdrenk van sy bloed en toe sy die foto op die mat sien – ‘n skulderkenning van sy ontrouheid ─ het sy dit opgefrommeld onder die buffet ingegooi en badkamer toe geloop. Sy wou die hoofstuk afwas en vergeet maar nou was die Kaptein voor haar.
Sy deurdringende bruin oë boor in haar wese, soekend vir die antwoorde.
“Wie is dit?” vra sy, haar stem bedaard - ongeerg.
Kaptein Swanepoel het vorentoe geleun en sonder aarseling gesê: “Tannie kan my gerus vertel wie sy is, ek het ‘n gevoel tannie ken haar.”
“Nee, ek ken haar nie.”
“Tannie, wie is die baba?”
“Jy weet ek het nie kinders nie so ek weet nie.”
Vir ‘n lang tyd het hy na haar gekyk, die ou klok die enigste teken van lewe in die stil huis. “My ma het altyd vertel van die jong vrou wat hier gekuier het, die een wat ‘n laggie in ou-dominee se stroewe mondering gegee het. Baie mense het gewonder daaroor maar was nie braaf genoeg om te vra nie. Gister daag hier skielik ‘n vrou op wat baie na Ou Dominee lyk, dit is sy, in die foto?”
“Jy het klaar besluit wat is reg, Kaptein, as jy my sal verskoon – ek verwag kuiermense vir aandete en moet klaarmaak.”
Verergd staan Swannie op en verklaar in ‘n growwe stem: “Marthie Koornhof, jy is onder arres vir die moord op Armand Lukas Koornhof.”
“Nee.” Probeer sy keer maar word in die rede geval. “Ek het my huiswerk gedoen. Die foto is die bewys wat ek gesoek het. Ek het Tannie die heeltyd verdink maar nou weet ek sonder twyfel jy het Oom Arrie vermoor. Jy kon hom nooit vergewe vir die misstap nie. Die vrou, Karen Koornhof Grobbelaar was by my gisteroggend, voor haar besoek aan die pastorie, en ons het lank gesels. Na ‘n lang soektog het sy haar pa hier gekry maar jou selfsug het veroorsaak dat sy hom nooit sal ken nie.”
Marthie luister in doodse stilte na hom maar vermy sy oë. Niemand sal verstaan nie.
“Jy is ‘n verbitterede ou vrou wat hulle nie gelukkig wou sien nie en toe besluit jy om ‘n einde te maak aan hom. Jou selfsug en afguns beroof Karen die geluk waarna sy so lank gehunker het. My ma was reg oor jou.” Hy stop die stortvloed en staar na die vrou wat plotesling soos ‘n vreemdeling voel, voor hy na die konstabel draai en met ‘n moeë stem die opdrag gee: “Neem haar weg, konstabel.”
Op die vensterbank sit die uil grootoog en staar na die Kaptein, toe hulle oë ontmoet knip hy sy oog voor hy wegvlieg en Kaptein Swanepoel ontspan.

@Lynelle Clark 2017



No comments:

Post a Comment

Die onmoontlike het gebeur, ‘n man stel belang, wil jou ken, en tyd met jou spandeer.

Vandag se program is tweedoelig van aard; waar ek met mans en vrouens wil gesels. Verhoudings is nie maklik nie en elke stap in die ...