Saturday, April 15, 2017

Die verlore dogter vind haar pad terug deur Lynelle Clark





Ek het so lank laas geskryf dat ek eintlik dom voel hier voor die sleutelbord maar tog maal die woorde nimmereindigend in my kop dat ek nie anders kan as om wel stil te sit en neer te pen dit waarvan my hart van vol is nie. Die laaste paar jaar was ‘n warboel van emosies en gebeurtenisse en ek het gesukkel om enige iets neer te pen. Persoonlik dink ek 'n mens is bang om nabetraging te doen vir wat jy mag vind. Ons is immers ons mees kritiese kritic. Skryf gee my die platform om my gedagtes te orden, my gevoelens raak te sien vir wat dit is en opreg te bly in my soeke.

My fokus het geskuif van dit wat vir my belangrik was na die gejaag na fisiese satisfaksie: “I want it my way.” en basta die res, maar tog, indien dit nie gebeur het nie sou ek nie nou met meer insig en wysheid my lewe weer op die regte koers gekry het nie. Die “varkhok” pad het my juis gelouter - soos leer gelouter en die harde kors is gebreek sodat God se lig weereens kan skyn in die donkerste kamers van my hart.

Daar is niks soos lewenservaring wat ons terug bring na die werklikheid toe nie. Vir ‘n geruime tyd was my balans so versteur dat ek swak besluite geneem het en nou dra ek die verantwoordelikheid van daardie besluite.

Die belangrikste lesse wat ek geleer het is:
Wie is ek; wie het ek nodig in my lewe en wie kan ek vertrou. En natuurlik, wat wil ek rerig he van die lewe. My binnekring van vriende is ook op die lys van belangrikheid en kan op een hand getel word maar hulle is die mense wat by my staan deur dik en dun – selfs deur al my onnosele foute. Hulle is onselfsugtig in hul bystand, versigtig met hul wysheid maar met ‘n onbaatsugtige liefde wat my veilig laat voel in hierdie groot wêreld met sy voort snellende skommelinge wat my soms laat voel dat ek gaan verdrink. Hulle is die mense teenoor wie ek my hart kan oop maak en ek weet is veilig; daar is geen veroordeling van hulle af nie. Dit is dan wat ek weer besef hoe gelukkig ek is.

Ek kan ook die bewaring van die Hoër Hand sien in dit alles – kon altyd, wou dit net nie erken nie. Telkemale is ek beskerm op die self opgelegde pad en ten spyte van die eie ek was God altyd daar. Dit in sig self  laat my besef hoe spesiaal ek vir Vader is.



Die warboel van gebeure het defnitief sy merk gelaat en ek bevind my op ‘n mooi plek op die oomblik, die terug keer na die Hemelse Vader ‘n welkome terugkoms soos versadigende reën op dorre grond, terug na die bekende toe – dit nadat ek so verbitterd was oor die lewe.

En deur dit alles vind ek my voete weer op die pad na die enigste uitlaatklep wat vir my werk: skryf. Daar was ‘n tyd in my lewe dat ek boeke vol geskryf het maar in die laaste twee jaar het dit weg gesyfer tot druppels tot die woorde later opgedroog het: leeg, sonder betekenis.

Ek het dit alles geweet maar soos ‘n steeks donkie het ek geweier om te erken dat ek God nodig het maar Hy was nogtans getrou. Die ironie van alles is die ondersteunings groep wat ek om my geskaar het is juis Sy kinders – gebrei deur die lewe in elke opsig – dit is hoe groot Sy Liefde vir my is. Hy het geweet wie ek nodig het en mense so geposisioneer dat ek nie anders kon as om Sy einddoel te sien nie. Hoe kosbaar om te weet dat Hy nog steeds in beheer is.

In 2010 was ek ‘n verbitterede mens wat my rug op Vaders’ Liefde gedraai het en ek het baie verhard in my uitkyk. In die proses het ek baie mense weg gestoot, selfs my 30-jaar lange huwelik het in die slag gebly en die verhoudings met my kinders het bitter seer gekry. Nou, 7 jaar later, vind my voete weer die pad terug en durf ek dit aan tree vir tree. Ek leer weer om Hom te vertrou, om oor te gee en toe te laat dat Sy Gees die leemtes vul en die hardheid finaal af te breek. My lewens uitkyk is besig om te verander en nou, wanneer ek die Woord van God oop maak is dit met nuwe begrip.

Ek het geleer om op te hou om myself te veroordeel en af te skryf op grond van wat ander dink of praat oor my maar myself in die lig van God se genade te beskou. Immers tel Sy opinie meer.

My verhouding met my kinders het die jaar sodanig verbeter dat ek met opregtheid kan sê dit is wel met my siel. Sonder hulle liefde, aanvaarding en bystand sou dit nie moontlik gewees het om weer my voete te vind nie. Kinders maak ons heel – selfs die kleinseuns se kleine handjies is genesing vir die moeë siel. Nathan se woorde het my nou die dag, tydens ‘n kuier, diep getref: “Ek is so bly ouma het nie Kaap toe gegaan nie.” Meer daaroor in ‘n volgende aflewering maar ek het net weereens besef hoe my besluite selfs hom geraak het. Dit is daardie woorde wat dan soos ‘n lieflike geur om my hals hang en ek weet ek is geliefd ongeag die modder waarin ek my bevind het. Miskien klink dit narsisties vir sommige maar my gemoedtoestand was so stukkend en rou dat sulke klein gebare vir my die wêreld beteken.

Alhoewel die huwelik in die slag gebly het sal die goue klontjies van wysheid en die mooi herinneringe daarvan iets wees wat ek sal vertroetel in my hartkamers en die swaar tye, die tye wat my met insig gevul het, my verder lei soos ek die lewe verder aanpak. Elke nuwe tree wat ek gee vul my met groter dankbaarheid vir dit wat tans gebeur.

Ek voel voorwaar soos die spreekwoordelike verlore seun wat in die varkhok tot die besef gekom het dat sonder Hom dit ‘n koue plek is. Weer het ek terug gekom na ‘n Vader wat met ope arms my in gewag het: Sy liefde onverandered en sy rus balsem vir ‘n moeë gees.

Sy genade is genoeg. 


@Lynelle Clark 2017






No comments:

Post a Comment

Die onmoontlike het gebeur, ‘n man stel belang, wil jou ken, en tyd met jou spandeer.

Vandag se program is tweedoelig van aard; waar ek met mans en vrouens wil gesels. Verhoudings is nie maklik nie en elke stap in die ...