Friday, August 12, 2016

Hoe lyk die voetspore wat jy los in mense se lewens?



Ons loop daagliks verskillende paaie, elke pad het sy eie bestemming, verwagtings en eise op ons tyd, intellek en vermoëns.
Ons beweeg tussen mense ‘n groot gedeelte van die dag, raak betrokke by groepe, leer almal ken of stoot mense weg na gelang van die situasie. Ons kommunikeer, deel gedagtes, lag, huil en skinder soms oor dié wat in ons wêreld in beweeg asof dit alledaags is sonder om te dink aan die nagevolge; alles het in ‘n meerdere of mindere mate ‘n invloed op ons. Sommige ontmoetings is so vlietend dat ons nie eers die gesig ‘n uur later kan oproep nie.

Maar in al hierdie wandel los ons spore agter, en sonder dat ons bewus is daarvan maak ons ‘n indruk op ‘n ander persoon en hulle op ons en so veroorsaak ons rippel effekte in mekaar se lewens deur die spore wat ons agter laat.

Voetspore is in kort die lewens print wat ons agter laat, en lank nadat ons verby is lê daardie spore nog daar. Sommige spore laat iets moois agter, ander ‘n gal bitter smaak wat mense laat wegdeins van die spore af. Ander weer bring ‘n seer op wat selfs jare later nog trane laat rol; ‘n outomatiese beweging waaroor jy geen beheer het nie.

Ek kan dink aan verskeie wat trane in my oë opwel asof met ‘n skakelaar. Jy het geen beheer daaroor nie, die geringste belewenis ontketen ‘n stortvloed van emosies en amper niks kan dit weg wens nie; dit is slegs met ysere wil wat jy beheer oor jou emosies kry.
Voetspore kom in verskillende vorms voor: ‘n liedjie oor die radio, ‘n gedig, die samekoms van vriende, die skielike konfrontasie wanneer jy ‘n foto sien, of ‘n spesifieke geur wek emosies, ‘n stem – en so kan ek aangaan met die lysie.
Die fisiese uitwerking van daardie onthou is so oorweldigend dat dit soos ‘n hammer jou tref en al die ou gevoelens kom weer terug in ‘n vloedgolf. Dit kan insluit: haat, woede, hartseer, pyn, ‘n traan, ‘n glimlag ens.
As die lewens voetspore maar net so maklik weg gewas kan word soos die wat jy op nat sand kry sou die lewe baie makliker gewees het maar helaas dit is nie: Elke spoor los ‘n unieke print soos ‘n vingerprint agter en sekere goed trigger dit eenvoudig so sonder waarskuwing.
Sommige voetspore is soos die negatiewe van ‘n film. Jy word met die wit en swart van die gebeurtenis gekronfronteer; die rede dat ons dit nogsteeds so intens kan beleef – selfs jare na almal vergeet het.
Ons kry traumatiese belewenisse waar die skielike dood van ‘n geliefde so diep in jou sny dat die spore daarvan nooit verdof nie. Die spore van verbreekte vertroue, die verplettering wanneer ‘n geliefde eggenoot wegval of jou verlaat. Die pyn in onbeantwoorde liefde, woorde wat diep gekerf het en die bloed nogsteeds drup, ‘n gruwel daad soos moord of selfmoord – weereens die lysie is lank.
Niemand is gevrywaar van hierdie diep spore nie. As mens loop ons almal daardeur en dit is ons benadering wat bepaal hoe ons verder aanbeweeg.
Soms verstaan ons nie die rye spore nie en snap ons nie die lesse wat dit vir ons agter laat nie. Dit is soms so raaiselagtig dat dit jou in verwarring laat en jy net nie die sin daarin kan raaksien nie.
Jare terug het ek ook so ‘n traumatiese tyd beleef toe ons besigheid toegemaak het. Jy sal vir my se: “Lynelle, maar dit is mos nie erg nie, beweeg aan en stof dit af.”
Makliker gesê as gedaan, want jy sien, toe ons die besigheid begin het het ons uit ‘n lang tyd van werkloosheid gekom. Daar was so baie gebid en gevas vooraf so daardie besigheid was soos ‘n kosbare baba wat ons in die lewe geroep het en gesien groei het. Toe dit 6 jaar later toegemaak word en ons nog slegter af is as voor dit het die gebeurtenis so ‘n effek op my gelaat dat ek nou nog wonder oor die hoekoms. Ons hele lewe her verander na 2009, niks was meer dieselfde nie; armoede het aan ons deur geklop en homself tuis gemaak in ons lewens. Nou, na 6 jaar kan die invloed van daardie gebeure nogsteeds gesien word en is die vrae nog meer en die voetspore onherroeplik deel van my lewe.
Die realiteit van daardie gebeure dryf my voortdurend en my benadering tot mense is sku en versigtig. Trots weerhou my om te vra vir hulp en daar gaan nie ‘n dag verby wat verbittering nie my wil oorweldig nie. Jy dra dit saam met jou, asof die gebeure ‘n permenente woonplek het. Dit beinvloed jou besluite, die manier wat jy na mense kyk, of jy mense vertrou of nie.

Ek is seker dat jy ook sulke herinneringe het: die vraag is hoe hanteer jy dit?
Wat laat jy agter?
Hoe lyk die voetspore wat jy los in mense se lewens?

In ‘n manier is my skrywe ‘n deel met die voetspore wat so diep lê. Kry ek tog die vrede in dit, want swart op wit het ‘n manier om ‘n mens rustig te maak – die feite wat so ontbloot word ‘n manier van herstel in my menswees. Elkeen van ons deel met dit op ‘n ander manier. Die bottel en pil kan net tydelike verligting bring maar tot ons nie met dit deel nie sal geen hoeveelheid van alkohol of pille jou vrywaar nie.
Daar is net een manier: head’s on
Konfronteer die seer direk, verwyder die sluier en deel met dit. Ek kan nie waarborg dat jy antwoorde sal kry nie, maar vrede kan ek wel waarborg. Nie die vlietende aard wat nou hier is en later weer sy kop uitsteek nie. Hierdie is ewigdurend. Met elke konfrontasie breek ons nog bietjie seer af sodat daardie vrede waarna ons so smag deel word van ons.
My wens is dat jy ook daardie vrede sal vind en dat ons eendag die lewe in die oë kan kyk sonder om bang te wees vir sy wonder. Gun jouself die trane sodat dit jou skoon kan was en jy die lewe kan sien met nuwe oë.

Vrede wens ek jou toe. 




No comments:

Post a Comment

Diamant Divas Program 6: Gee jouself tyd

As ’n verhouding eindig, kan dit pynlik wees, selfs vir die persoon wat dit beëindig het.  “Ek het verskriklik gevoel!” hoor ek dikwels i...