Dinsdag 26 Julie 2016

MY LEWE MET “BEUKES-SINDROOM” deur Elmarie Beukes Pretorius.

Ek het Elmarie deur 'n gemeenskaplike vriend op Bakkiesblad ontmoet en haar storie het my diep geraak. Elkeen van ons se lewe het betekenis en kan 'n bydra lewer en so die las vir die volgende persoon ligter maak. Luister gerus na haar onderhoud vanaand om 7 op Radio Kuber Kontrei. 




Haar Biografie:

Ek is in Pretoria gebore in 1958 as die jongste kind van 2 susters. My sus in 3 jr ouer as ek woon met hul gesin in George waar my Ma (85) ook in 'n woonstel teenaan hul huis woon. Skool gegaan in Centurion en toe getroud met 'n man wat in die destydse Gevangenisdiens was. Ons het Paarl toe getrek en met elke bevordering van hom na Pietermaritzburg, en Leeukop soontoe getrek. Later in Sundra naby Delmas beland. Ons is geskei en ek het my kinders (onderskeidelik graad 8 en graad 10) grootgemaak en deur die Universiteit gesit. My seun van 33 en sy vrou het 2 pragtige klein seuntjies en my pragtige dogter van 35 en haar man het nie kinders nie.


Kontak haar by elmarie2@gmail.com



Passie gesels DINSDAG AAND 26 Julie om 07h00 met 
Elmarie Beukes Stigter van die Beukes Ondersteunings groep oor haar reis met Beukes Sindroom. 
Skakel gerus in op RAdio Kuber kontrei op jou slimfoon, skoot rekenaar of tablet met die volgende skakels en gaan LIKE asb sommer Passie se faceboek blad op passie.kkr


Uittreksel uit haar boek:


Bietjie agtergrond: Dis 'n oorerflike kraakbeensiekte wat gewoonlik in BEUKES-families is. Word na verwys as “DISPLASTIESE HEUPE” – die femurkop is plat bo i.p.v. rond en word die kraakbeen stelselmatig vernietig maar op jong ouderdom en skaaf die heupkop direk teen die bekkenbeen, wat erge pyn veroorsaak. Beukes-lyers het gewoonlik erg pyn in al die gewrigte, hoeweel erger in die groot gewrigte wat insluit heupe, knieë en skouers. Daar is geen kuur daarvoor nie en lyers ondervind gewoonlk ook lae beendigtheid, stress-fakture en rug-probleme. Rugpyn is gewoonlik as gevolg van Skoliose (verwronge ruggraat), Sheurman’s Disease (‘ingeduikte’ lae rug en boggelrige skouers en nek), Kifose (vooroor geboë nek soos ‘n boggel), verkleinde bekken.
Steeds in hierdie 21ste eeu wat ons leef, weet heelwat dokters glad nie van hierdie Sindroom se bestaan nie. Ek het bietjie navorsing begin doen met mense wat enige verband met BEUKES’e het en iewers deur hul pyn en verwronge liggame, as hul terugdink was daar iemand met die van BEUKES. Die Sindroom word geneties oorgedra en was tevore lief om oorkruis te werk. Dus sou die pa dit oordra na sy dogter en die man dit oordra na haar seun. Latere navorsing het egter bewys dis nie die geval nie en dat elke kind van ’n BEUKES-lyer ‘n 50/50 kans het om die siekte te erf. Die Sindroom is ook lief om ‘n generasie of 2 te spring en kom dan skielik byvoorbeeld in die 3de generasie uit. Juis hieroor is die Sindroom nie so bekend nie aangesien ‘n lyer byvoorbeeld by ’n dokter sal kla oor rugpyn of heupe wat pyn, maar die ‘oorspronklike’ lyers, is reeds dood en is inligting vir altyd daarmee heen.
%%%%
Waar begin ek?? Ons het groot geword met my pa wat soos 'n pikkewyn loop en later jare, toe ons kon verstaan, is kortliks aan my en my suster verduidelik my pa se heupkoppe is in die jare 50 vervang en dit was nie juis 'n sukses nie (die medici was nog nie so ‘clued up’ destyds nie). Ek en my suster het groot geword met in ons verstandjies ingeprent, om niks te laat rondlê (speelgoed) waarop my pa kon gly en val nie. Later jare het ek baie gewonder hoe het hy dit dan gehou om so baie by werksfunksies te dans?? Sou hy bv in die momentum van 'n draai op die dansvloer skeeftrap of gly ... Genadiglik het ’n ongeluk nooit gebeur toe ons in die huis was nie.
Daar is vir ek en my suster gesê dat my pa die 3de persoon in Suid-Afrika was om ‘’n heupvervanging te ondergaan met ’n ‘CHARNLEY’. Dis ‘n metaal ‘kop’ wat (na die heupkop afgesaag is in die teater) oor die oorblywende been geforseer is om sodoende soos ‘n kierie te lyk. Dié kop het dus die doel en beweging oorgeneem van die verswakte of gebreekte afgesaagde heupkop. So het hierdie ‘kop’ direk teen die pelvis gedraai en beweeg.
In standerd nege rond kry ek erg blaasinfeksies en word later gestuur vir x-strale. Die radioloog is nie veel begaan oor my blaas nie maar roep my in om te hoor hoekom my heupe lyk soos hul lyk - afgeplat i.p.v. ronde koppe. Ek vertel van my pa ens ens en word deur die radioloog gemaan om nie swanger te raak alvorens my heupe vervang is nie, want hy weet nie of die heupe die gewig van 'n swangerskap sou hou nie. Die medici is i.e.g. nie so gevorderd om iets so drasties te doen nie en die lewe gaan aan.
Kortliks het ek 2 swangerskappe suksesvol gehad en 2 miskrame ook. My afgeplatte heupkoppe het hul heel goed van hul taak gekwyt!! Hoewel my babas albei baie groot was, sou hul koppies in elk geval nie kon sak nie as gevolg van my verwronge bekke, wat in plaas van simetries, asimetries is.
Stelselmatig het die pyn in my heupe meer geword en natuurlik het goed soos tuinwerk, elke paar jaar inpak en trek en uitpak (kids se pa was in die Gevangenisdiens) en dans nie gehelp om dit te verminder nie. In my agterkop het ek geweet een of ander tyd gaan my pyn te erg word en sal ek sekere goed nie meer kan doen nie. Ek was baie, baie onafhanklik - met die kids se pa wat so baie weg van die huis was vir sy werk en loopbaan, was alles van die asblik uitvat tot die kinders se oorpyn op my. My ouers was in Pretoria en ons (eers) in die Kaap en daarna in PMB. So kon ek nie my kinders se probleempies na 'n Ouma vat of net vra nie. Hulle was bloot te ver en verder het hul pa gesê aangesien EK die kinders wou gehad het, maak EK hulle groot - hierdie was vir my geen probleem nie, inteendeel. My grootste wens as dogtertjie was 'n huis, 'n man, kinders en diere en ek het my kinders met baie liefde en ja, ook baie foute (!) self grootgemaak. My dogter was 'n model-baba maar my seun was 'n koliek baba.
Soos die jare aangestap het, het die pyn in my heupe my begin verteer. Ek sou altyd 'n verskoning soek daarvoor - 'n 'spier' wat verrek is toe ek grasgesny het; 'n ligament wat seergekry het toe ek bokse en kaste moes rondskuif, ens. Vele kere moes ek help huis verf, bo-op die dak klim en help geute skoonmaak, ens. Daardie nagte het ek gewoonlik gebars van die pyn.
Een Oujaarsaand, na ons saam 'n groep uit is om te gaan dans en partytjie hou, het ons tuisgekom, net om te hoor iemand in die onderste straat hou steeds partytjie. Ons het nie die mense geken nie, maar my kinders se pa het aangedring hy wil soontoe en verder partytjie hou. So kom ons toe daar en is niemand natuurlik nugter nie en niemand gee om wie nog kon 'join' nie. Later word ek huis toe gestuur om nog drank te gaan kry en in die reënweer sukkel ek boonop om die koppelaar te beheer met die been wat toe reeds geruime tyd nie meer saamwerk nie, en gly die kar en ek stop teen 'n wal. Ek was histeries toe ek uitklim en skoon nugter geskrik want die kar was duidelik beskadig. Ek het ingeklim en myself bietjie kalmer probeer kry en huis toe gegaan. Gewapen met nog drank is ek terug na die partytjie. My kinders se pa het heerlik met die jongetjies gedans terwyl ek moes gaan drank kry en toe ek daar stilhou, bars hy amper 'n aar oor sy kar.
So het die soeke aan 'n ordentlike ortopeed begin, die soeke na 'n ortopeed wat na my heupe se plate sal kyk en weet wat om te doen. Dan besef mens ook eers dat daar ortopede en spesialis ortopede is. Die eerste was in Springs - hy het die plate bekyk, my 'n inspuiting in my rug gegee vir pyn en gesê jammer maar hy werk nie aan jongmense nie.
Tweede ortopeed was in Pretoria. Hy het lank na die plate gekyk en eerlik gesê my heupe lyk gedaan en hy sal die een wat die ergste is eers vervang en 6 mnde die andereen. Ek is ook na 'n derde ortopeed in Sandton - hy het die plate goed bekyk, my allerlei bewegings ens laat doen en toe eers teen die einde van die besoek, opgemerk dat my heupkoppe soos BEUKESE lyk. Jaaaaa Dr, ek is 'n Beukes ... en daar maak alles vir hom sin. Ek het ook ‘n laaste bladsy van professor Celliers se tesis uit my sak gehaal en vir hom gegee. Hierdie was ook ‘n teer punt, want ek is altyd vertel daar is nie iets soos BEUKES-HEUPE nie. En hier weet hierdie man duidelik daarvan! Hy het rustig gepraat en gesê hy wil albei heupe gelyk doen, want die een is so sleg en die andereen gaan i.e.g. binne 6 maande ook so lyk. My verduidelik dis n groot storie as hy albei heupvervangings gelyk doen, maar sal my baie narkose, onkostes en pyn spaar.

Ek moet huis toe gaan en alles wat ek gehoor en ingeneem het, eers vir myself uitpak en my eie navorsing doen. Ook dit het ek basies alleen gedoen - net my skoonma wat belanggestel het. My kinders was nog te klein om te weet wat aangaan.


2015

Dinsdag 19 Julie 2016

Op watter pad bevind jy jou?


Vandag, oppad terug vanaf Pretoria, het ek tyd gehad om die natuur en omgewing met rustigheid te waardeer. Aan beide kante van die teerpad het plase, ‘n kwekery en verskeie gaste huise my uitsig versier, elkeen het kenmerkende eienskappe wat by dra tot die mooi van dié bepaalde deel van die Ooste. Gewoonlik, in ons haas, flits dit verby maar vandag kon ek die landskap geniet, skakerings van groen en bruin het my oral begroet en elkeen het ‘n ander emosie uitgelok maar die meeste van die tyd het ek net ‘n alleroorheersende rustigheid ervaar en kon ek nie anders as om te dink aan my eie lewe en die paaie wat ek al gewandel het nie.

Sommige was vlietend van aard maar dan was daar die wat ‘n weemoed in my gewek het en trane het onwillekeurig gevloei; spesifieke geleenthede van my lewe het uitgeblink en nou, lank na die lief en seer van die geleentheid verby is kon ek weer die mooi herleef asof vir die eerste keer. Dit het diep spore in my gelos wat ek altyd sal bewaar en ek het ook opnuut besef hoe nietig ek eintlik is.

Ons bestaan word versinnebeeld in die paaie wat ons daagliks wandel; sommige paaie strek voor ons uit soos ‘n groot vet slang wie se kop weg raak in die horison – eindeloos en lui.
Dan is daar paaie wat al kronkellend deur hoë bome vleg en jou uitnooi om deel te word van sy koeltes en skadus, maar, indien jy nie versigtig is nie jouself misgis met die kronkels - wat soms so vinnig kom: sonder waarskuwing – dit is dan wat jy die pad maklik byster raak: verlei deur die mooi maar daar is geen hoop aan die einde nie.



Ons kan liries raak oor ons kuslynne; ons het seker van die mooistes in die wêreld. Langs die einste kuslynne kan ons die uitgestrekte blou water massa bewonder: glimmend en golwend in sy almag. Omsoom met wit strande wat land en see skei en reusagtige rotse wat uit die branders rys, die wind ‘n konstante metgesel wat sy eie taal praat, en die toneel dwing bewondering af. Die majestueuse berge aan die ander kant van die pad troon bo ons uit en jy kan nie genoeg kry van die verskillende rots formasies en plante groei nie. Soms word ons so meegesleur deur die strome van die lewe dat ons nie die verskanste gevare raak sien nie: die gety wat jou dieper mee sleur tot waar jy maklik kan vergaan sonder dat jy dit weet.



Dan is daar die grond paaie wat ons land deurkruis, wat voor ons uitstrek met die horison wat in ‘n “see” geleë is en net altyd aanskuif asof bodemloos en jy wonder wanneer gaan dit klaar kry. Geen skaduwee om jou warmte in te baai nie en geen borde wat jou rigting of bakens aandui nie. Jy het geen benul of jy wel nog op die regte pad is nie en iewers sluimer die twyfel van omdraai, van stop. Dan, skielik sien jy ‘n windpomp uitrys soos ‘n baken van hoop en jy besef jy is nie alleen nie en ‘n glimlag sprei oor jou hele gelaat en jy beur voort totdat jy beskawing bereik.

‘n Sinkblad pad is seker die ergste op ‘n gruis pad – dit skud alles los en jy eet letterlik stof al is al die vensters toe, elke denkbare gat toegemaak en sweet jou afstroom soos riviere op die nimmereindigende geskud. Die pad het net geen genade vir jou nie, vernaamlik as jy met ‘n motor ry wat nie vir daardie tipe paaie ontwerp is nie – soos my Chevvy Sparky. Sy is rats en kan die “punch” vat die meeste van die tyd maar alles skud los binne haar en my hele lyf bewe: maak nie saak hoe stadig ek ry nie. Die lewe is soms so – al vibrëerende en jy eet grond die meeste van die tyd terwyl die verseggende hitte jou uitmergel en jou moeg en uitgewas laat. Niks wat jy doen kan die druk verminder nie maak nie saak hoe stadig jy dit vat nie. ‘n Stuk pad waarmee ek goed bekend is.



Dan is daar die menigte kruis paaie – groot kruisings sonder verkeersligte wat jou verward laat want dit lyk soos ‘n miernes. Dit kos fyn waarneming om die orde raak te sien en dan op die regte tyd te ry. Kruispaaie word altyd geidentifiseer met besluite wat geneem moet word en die meeste van die tyd is dit moeilik want in die kruispaaie van die lewe is daar geen inligtings borde nie maar jy weet jy moet ‘n besluit neem, soms is dit letterlik ‘n lewe en dood besluit voor jy weer kan asemhaal. Is dit nie interresant hoe verlig ons voel sodra ons die keuse gedoen het nie?

Hoofweë /Snelweë is gewoonlik heerlik om te ry vernaamlik as jy haastig is en vinnig by ‘n bestemming wil uitkom. Dit veroorsaak dat jy nie deur dorpe of stadige verkeer hoef te vleg wat net jou spoed belemmer nie. Jy kan voet in die hoek sit en jaag – lekker. Maar die opeenhopings agv. padwerke of ongelukke kan veroorsaak dat jy doodstil staan vir ure met geen idee wanneer jy ooit by jou eindbestemming gaan kom nie – en dan is jy afgesny van alle ander paaie. Dan is daar kere dat stadige motors spesifiek in die vinnige baan bly, net om jou die harnas in te jaag. En so kan ek maar die verskillende scenarios opnoem - julle ken dit goed. Op die oog af lyk alles wonderlik en jy geniet die op ‘n vinnige pas tot skielik – dit is daardie oomblikke wat gewoonlik ons die seerste tref, met oop wonde laat wat baie lank neem om te genees en lank na die trauma kan die spore nog raak gesien word: ‘n stille getuie van jou seer.

Persoonlik hou ek van ‘n wandel pad, jy geniet die stilte en die skoonheid van die natuur “up close & personal” en elke oomblik is ‘n vreugdevolle ontdekking. Maar, indien jy nie die gevare ken nie kan ‘n slang jou pik: dodelik in sommige gevalle. Jy kan jou vas loop in dorings: so fyn dat jy dit te laat besef, of ‘n miernes met kwaai werkers miere wat jou aanval en dan praat ons nie eers van die verseggende son wat neer brand op jou nie, die dors indien jy nie vinnig genoeg by die volgende waterbron uitkom nie. Die alleenheid: vir sommige is dit is soms oorweldigend en kan jou teneergedruk los as jy te lank afgesonder word.

Elkeen van ons bewandel verskillende paaie en soms wonder ek wanneer gaan my eindelose pad van sukkel op hou. Dit is dan wat jy ‘n gawe van hoop ontvang in die midde van die onsekerheid en jy beweeg aan. Hierdie hoop kan deur baie dinge gekenmerk word: 'n mooi lied, 'n onverwagse telefoon oproep, 'n mooi lied wat jou tot in die siel tref, die glimlag van 'n vreemdeling, 'n drukkie of iemand wat 'n hand van bemoediging uitsteek of selfs 'n gebed diep uit die hart en opreg. Dit is dan wat jy jou oë vestig op die horison en vertrou, hopelik – binnekort – kom jy by die spreekwoordelike land van melk en heuning uit. En jou paaie verander van gruis na teer en jy die prag daarvan geniet en waardeer.
Mag jou pad mooi word met elke tree.
Mooi loop





Donderdag 14 Julie 2016

Lee hart deur Lynelle Clark



Hoe mis ek nie jou kwinkslae
Die woorde spel wat sorg
Vir ‘n permanente glimlag
Die daaglikse interaksie
Die gemaklikheid van ons samesyn
Die wete jy is daar
Net ‘n oproep ver
Die vraag: “Hoe ver is jy?
Ek mis jou.” in gebrand
In my wese

Nou is my foon stil
En my arms leeg
En elke dag ‘n leemte
‘n Soeke na jou
My hart se geween
My enigste bondgenoot
In die eindelose ure
Wat voor my uitstrek
Ek mis jou
Die ritmiese refrein
Van my hart

Kopiereg voorbehou
@LynelleClark


Dinsdag 05 Julie 2016

Deel 3: 'n Waagstuk van Liefde deur Lynelle Clark


Deel 3 vervolg van Deel 2: 'n Waagstuk van Liefde

“Ja.” En daardie glimlag speel weer oor sy lippe wat sy groen kykers in diamante verander en ek sug van verligting. ‘n Glimlag sprei oor my eie gelaat en ek keer myself net betyds om hom te bespring. Maar ek beteuel myself.
“Ek is bly om dit te hoor.” Sê ek eerder. “Het dit goed afgeloop?”
“Soos ek verwag het, het sy haar pond vleis geeis en is ek armer daaraan toe maar ek is bly dit is verby. Sy is uiteindelik tevrede en los my nou uit.” Hy vryf sy oë en ek besef weereens dat hy deur ‘n emosie belaaide tyd is. Ek was ook daar, ek verstaan die drama van ‘n egskeiding en die senuwees wat rou geskaaf is. Die bakleiery oor aardse goed, die tou trek oor nietighede. Die alleroorheersende leegheid wat jy voel na dit klaar is en my hart gaan uit na hom. Ek wens ek kon daar wees vir hom maar hy het my weg gestoot, het my nie toegelaat om hom by te staan nie.
“Dit is nooit maklik nie.”
“Nee, dit is nie.”
‘n Peisende stilte heers tussen ons, die mors van woorde onnodig maar in dit is daar ‘n koord wat ons bind. ‘n Koord van gemeensaanheid en ‘n rustigheid neem plek in en ons albei drink ons bier in kameradie.
Min woorde was altyd kenmerkend van ons verhouding. In min woorde kon ons mekaar verstaan: die samehorigheid ‘n tasbare bewys dat ons sielsgenote is.
Dirk staan op en neem altwee die leë bottles na die asblik en die dawerende geluid bring ons uit ons stilte terug na die hede en ons glimlag vir mekaar.
“Nog enetjie?” ek knik my kop en soos altyd bedien hy ons met die volgende rondte en ek volg elke beweging asof vir die eerste keer: my liefde brandend en honger na die man wat my wereld geword het. Ek dink vlietend aan al die trane wat gestort is, die kere dat ek so verlore gevoel het en begeer het na net 'n aanraking en ek belowe myself dit gaan anders wees hierdie keer.

Toe hy voor my kom staan en die bottel uit hou na my kon ek nie anders as om van die stoel af te gly en op my tone te staan en hom ‘n piksoen te gee nie. Die ou gebare kom so maklik terug die oomblik toe sy arm om my lyf beweeg en hy my nader trek, styf teen hom vas en ek haal diep asem: neem hom in soos suurstof diep in my longe in. Trane begin onwillekeurig oor my wange rol en hy fluister: “Ek is jammer, regtig jammer.”
“Verduidelik dan net hoekom, help my om te verstaan?” vra ek teen sy lippe, my trane die balm tussen ons.
“Sy het gehoor van jou.” Is al wat hy sê en alles val in plek. Goed wat mense gesê het. Sommige wat smalende verwyte na my gegooi het. Die kyke asof ek melaats is. Hoe seer het dit nie gemaak nie, my wese verpletter. Ek skuif dit eenkant toe, want dit wat saak maak is hier; terug by my.
“Sy het geeis dat ek jou moet los en terug kom na haar toe maar ek het geweier. Ek het dit raadsaam geag om nie weer kontak te maak met jou nie. Ek was bang sy kontak jou. Hoe ek ook al verduidelik ek sy het geglo jy is die oorsaak van die egskeiding.” Ek krimp ineen: ek sal dit nooit aan ‘n ander vrou doen nie.
“Maar hoe?”
“Ek weet nie, iemand moes haar gesê het, sy wou nooit sê nie. Maar nou is dit verby.” En hy vee sy lippe oor myne en soos ‘n uitgehongerde lap hang ek aan hom en geniet die sensasie wat sy lippe skep.
“Is jy nou terug: hier, by my?” vra ek deur die stortvloed soene en hy kreun ‘n ja uit.
“Is jy seker?” vra ek, my ongelowige hart nogsteeds in twyfel oor die skielike wending.
“Dood seker poplap. Nou, gaan jy aan hou praat of my gee wat ek wil he?”
Ek kan nie help om te giggel nie as ek speels vra: “Soos?”
“Moenie jou dom hou nie skattie.” En met dit verdoof hy alle seer, alle vrae met sy hande, sy lippe, sy hele wese en ek laat toe dat sy hitte oor my spoel en ek weet daar en dan dat die liefde gewen het. Dit was ‘n waagstuk van hoop.

Kopiereg voorbehou

@Lynelle Clark 2016


Hoop julle het dit geniet en dankie vir al die besoeke, dit word opreg waardeer. Tot die volgende storie, lekker lees.
Groete Lynelle 


Maandag 04 Julie 2016

Deel 2 van 'n Waagstuk van Liefde deur Lynelle Clark

Deel 1 kan hier gelees word
Deel 2 van 'n Waagstuk van Liefde
Deel 3

Alles goed en wel dink ek, hierdie man het my hart in die holte van sy growwe hande. Hande wat gewoond is om raak te vat. Hande wat sag maar hard kan wees. Hande wat my kan oopvlek want hy weet wat hy aan my doen—wat ek wil he. Dit het ek die meeste gemis.
“Ruk jouself reg, magtag Louise jy is nie meer ‘n kind nie.” En ek pluk ‘n skoon bloes van die hout hanger af en sit dit op die bed neer, ek blaai deur my rompe en haal een uit wat geskik is. Met ‘n diep gewortelde sekerheid maak ek myself gereed, vir hom. Ek het myself belowe om nooit weer ‘n man toe te laat om met my te mors nie; dat ek waar sal bly aan myself. Ek het baie geleer in die tydperk van alleenheid: die grootste les dat “dating” ‘n spel is en as jy nie die reëls ken nie verloor jy… elke keer. Nie weer nie…nooit weer nie. Dit is ‘n belofte wat ek aan myself gemaak het kort na die opbreek.
Van die oomblik wat ek Dirk ontmoet het was dinge anders, het ek hom in my lewe aanvaar en ‘n toekoms om hom gebou sonder dat daar enige werklike beloftes was. Elke ontmoeting het ek myself aan hom gegee sonder om twee maal te dink en elke oomblik ten volle geniet. Ek het geglo aan ons.
Hy het niks vir my weggesteek nie en ek was bewus daarvan dat hy ‘n getroude man was maar hulle was alreeds van bed en tafel geskei en het mekaar net gesien wanneer die kinders iets gereël het. Hy het my telkens verseker dat hy glad nie weer terug sal gaan na haar toe nie—dat daar geen kans op hereniging was nie. Ek het sy woord aanvaar, ek het immers dikwels by hom aan huis gekuier so daar was nie rede om te twyfel nie. Maar daar was tog altyd iets wat geknaag het: hy wou my nooit aan sy kinders voorstel nie en ek moes seker maak dat ek nie daar was as hulle wel daar sou opdaag nie. Ek het hom gekonfronteer die laaste keer wat ons saam was en hy het gesê dat die tyd nog nie reg is nie. Die manier wat hy oorgekom het, het my goedkoop laat voel. Ek moes sorg dat ek uit die huis is want hy verwag sy dogter teen 8 uur, in tyd vir ontbyt.  Ek het nog ‘n grap probeer maak en gevra of ek darem koffie kan kry voor ek ry terwyl ek die seer weg gesteek het. Op pad huis toe het ek bitterlik gehuil. Die trane het my oë so verdof dat ek amper in iemand se gat vas gery het op die snelweg maar kon betyds van baan verwissel. Twee dae later het ons ‘n vlietende gesprek gehad op WhatsApp maar nie een van ons het die Sondag oggend se gebeure opgehaal nie. Ek het toe geweet dat dit die einde was, maak nie saak hoe ek oor hom voel nie hy wou my nie meer in sy lewe gehad het nie. Dit was duidelik en soos ‘n verwerpte vrou wat nie goed genoeg is nie het ek terug geklim in my kokon. Die laaste paar maande was ek onherkenbaar vir myself. Weg was die laggende vrou wat in alles net die beste kon sien. Ek was huilirig, bakleierig en het myself afgesny van almal om my. 
Maggie het dit natuurlik nie toegelaat nie en op haar kenmerklike manier my besig gehou maar sy moes tog die trane gesien het, selfs die verslaenheid; ek het deur elke denkbare emosie van verlies gegaan. Soms was ek kwaad vir myself, soms was ek kwaad vir Dirk, maar die meeste van die tyd het ek verlang… so ontsettend verlang dat my hart in twee wou skeur by tye. En nou is hy terug…of was hy?
Met die vraag hoor ek die hek klokkie wat sy koms hard en duidelik verkondig. Ek kyk vir ‘n laaste maal na my weerkaatsing in die spieël en bespeur ‘n verwagting in my blou kykers, die onseker mantel is onmisbaar oor my. Wat gaan vanaand se besoek te weeg bring? Wonder ek weer. Die klokkie weergalm vir ‘n tweede keer en ek stap na die intercom en antwoord: “Hello, Is dit jy Dirk?”
“Ja.” Kom sy stem soos ‘n blik na my en ek druk die knoppie terwyl ek deur die venster hom dop hou. Hy parkeer die bakkie op sy normale plek en die deur gaan oop onmiddelik daarna, so asof hy dit elke dag doen. Moegheid is afgeets op sy gelaat—dit val my eerste op en my hart gaan uit na die man wat alles vir my geword het. Die volgende oomblik is hy voor my: wanneer ek die voordeur oopgemaak het weet ek nie maar toe ons oë ontmoet is dit van minder belang.
Vir oomblikke staar ek net na hom: my liefde straal uit my hele wese, ek weet dit sommer. Alles in my wil my arms om sy nek gooi en hom vaspen teen my bors en hom daar hou. Maar ‘n aanhoudende deuntjie versteur my en dwing my terug na die hede en ek maak verskoning en stap terug in die huis en kyk na die “Caller ID”. Maggie.
Ek het vir haar ‘n vinnige boodskap gestuur so tussen die klaar maak en sy het dit natuurlik nou eers gelees. Ek stel die foon op vibreër en draai terug. Ek sal later met haar gesels.
Dirk was reg agter my met die omdraai slag en keer my toe dit lyk of ek my ewewig gaan verloor. Ek kon nie help om my hand op sy bors te sit nie wat skok golwe deur my laat gaan.
“Als reg?” vra hy en ek knik terwyl ek die skielike knop weg forseer. Net om hom te sien en te voel na al die tyd maak die trane los. Hy lyk moeg, maerder as voorheen en verwese maar daardie oë deurboor my nogsteeds op dieselfde kenmerkende manier: ek kon altyd weg raak daarin.
“Kom ons gaan kombuis toe.” Se ek en draai om. Dirk hou van sy yskoue bier en ek weet sonder om te vra dat ek dit vir hom kan offer; hy volg my met seker tree sy teenwoordigheid tasbaar en warm agter my. Ek knyp my oë toe vir ‘n vlietende sekonde en laat toe dat sy teenwoordigheid oor my spoel. My vibrerende foon ruk my weereens terug en ek loop reguit yskas toe waar ek twee bottles uithaal.
“Sit asb.” Ek dui die stoel aan by die ontbyt hoek, ons gunsteling plek. Ek is verbaas oor my stem: hoe sterk dit klink ten spyte van wat in my binneste aangaan.
“Dankie.” en hy neem beide die bottles by my en maak dit een vir een oop. Ons neem albei plaas op die kroeg stoele en ‘n stilte daal oor ons neer terwyl ons die koue vog oor ons lippe laat rol, albei intens bewus van mekaar. Daar heers ‘n afwagtende stilte in die vertrek en vir die tweede keer ontmoet ons oë mekaar voor ek myne weer laat sak—hy het altyd gese my oë vertel vir hom presies hoe ek voel en my soms geterg daaroor. Dirk trek sy stoel nader en ons bene skuur teen mekaar. Ek weet ek moet weg beweeg maar hoe het ek nie verlang na sy aanraking nie en soos ‘n dorstige laat ek hom toe om my stoel nog nader te trek. Sy groen kykers deurboor my honger siel en ek baai daar in. Saggies sê hy: “Jy lyk goed Louise, mooi soos altyd.”
“Dankie Dirk.” En ek weet sommer ek bloos die oomblik toe ‘n skewe glimlag om sy lippe krul.
“Ek het jou gemis.” Sê hy en sy hande beweeg hoër op teen my bene en ek kan nie anders as om my oë toe te maak en hulle te geniet nie. Ek kan nie toe gee nie, nie nou nie; ek soek antwoorde herinner ek myself. Antwoorde wat net hy my kan gee en ek gryp sy hande vas met ‘n bravodo wat ek nie voel nie: “Jy is die een wat my gelos het—net so, sonder verduideliking, hoekom?”
Dirk leun terug teen die stoel en vat nog ‘n diep lang teug van die bier sy oë ontwykend op iets agter my. Die oomblik gebreek en ek wil myself amper skop maar ek druk deur. Die stilte rek hopeloos te lank na my sin en ek kan ne help om ‘n bietjie geirreteerd te raak met hom nie.

“Is jy geskei?” ‘n Knellende vraag en die antwoord gaan bepaal wat verder vanaand gaan gebeur. Beide van ons weet dit. Van die begin af het ek gesê ek stel nie belang in ‘n buitegtelike verhouding nie. Van die begin af was ek beslis oor dit en dit het nog nie verander nie.
Kopiereg voorbehou

@Lynelle Clark 2016


Deel 3 sal volg binnekort.... 

Saterdag 02 Julie 2016

'n Waagstuk van die liefde deur Lynelle Clark: Deel 1 in die nuwe kortverhaal

Deel een van 'n Waagstuk van liefde: 'n Kortverkaal geskryf deur Lynelle Clark


Wie nie waag nie sal nie weet of hulle ‘n goue geleentheid deur hul vingers laat glip het nie.
Dit is ‘n reel in ‘n boek wat my nou weer byval soos ek starend na sy foto kyk. Net so is dit ook met die liefde. Tweede kanse kom nie maklik op ons ouderdom nie – vernaamlik nie by sake van die hart nie; wanneer jy dit wel doen dan verwag jy liefde terug. Tyd is net te kort om dit te mors op ongeantwoorde liefde. Dit is die ou saai maai konsep wat ons almal so goed ken: ‘n Bybelse beginsel.
Jy wonder seker waarheen gaan ek met dit alles en of dié gedagtegang ‘n punt het. Miskien het dit miskien nie, ons sal maar saam hierdeur moet worstel om by die antwoord te kom. Al wat ek weet is dat ek lief is vir die man. Ek waag ‘n kans, hoe klein ookal, ‘n draadjie van hoop tot aan die bitter einde.
Dit is my normale gedagtegang die afgelope tyd: ek praat myself moed in wanneer die geduld min raak en die verlange alles oorheersend word. ‘n Tyd van afsondering waar ek niemand in laat in die kamers van my hart nie. My gedagtes altyd by hom, gevul met hom. Afwagtend. Hopend.
“Trieng trieng!…” my gedagteloop word onderbreuk deur die klanke van my Android. ‘n Irreterrende deuntjie wat ek dreig om te verander maar net nooit doen nie. Vies kyk ek na die caller ID maar dit dui ‘n “Unknown” nommer en sonder om twee keer te dink trek ek ‘n streep daardeur asof ek dit wil uitwis.
Waar was ek…o ja.
Ek het vergeet hoe seer ongeantwoorde liefde kan maak. Ek het vergeet van al die fases waardeur ‘n mens gaan wanneer jy met ‘n stukkende hart sukkel. As ‘n volwasse person is dit nie so maklik soos toe ons jonk was nie; tweede geleenthede nie iets waarop jy hoop nie. Nie op sake van die hart nie. En ek wil glo dat ek nie net ‘n stastistieke nommer is nie maar ‘n vrou van vlees en wie se hart tog die antwoorde sal kry waarna dit smag voor my uurglas leeg loop.
“Trieng trieng…!” ai, wie kan dit wees? Ek staar na die foon: die bron van my irretasie. Die aanhoudende gelui van die deuntjie—die emosielose klanke doen niks vir my beswaardheid nie, inteendeel dit vul my negatiewe gemoed nog verder sodat ek vies oor die ding vee en met ‘n sug antwoord: “Louise wat praat.”
Stilte begroet my aan die ander kant en ek kyk na die skerm; al wat ek sien is “Unknown” op my foon en ek is sommer vies vir myself.
“Hoe kan ek help?” se ek met ‘n defnitiewe ondertoon van ingehoue ergenis in my stem.
“Louise.” Kom die stem…’n bekende stem wat ek vier maande laas van gehoor het en my hart bokspring en mis ‘n slag.
“Dirk?”
“Is dit regtig jy?” verbasende opgewondenheid vul my stem – my hele wese.
“Dit is ek ja.” En hy gee ‘n skalse laggie en onmiddelik is die ondeunde groen oë voor my asof hy hier voor my staan.
Ek lag: nee, giggel vir ‘n wyle totdat werklikheid my oorspoel en ek gee ‘n skugter hoesie.
“Hoe kan ek jou help, Dirk?”
Hy gee weer ‘n skalkse laggie as hy antwoord: “Hoekom so formeel Louise?”
“Ek is nie formeel nie,” Antwoord ek hardkoppig: “net versigtig.”
Weer vul die geliefde laggie my oor en ek kan nie anders as om te glimlag nie. Hoe lank het ek nie gewag vir hierdie oproep nie? Elke dag gewens dat ek net nog eenmaal sy stem kan hoor. Nou is hy so naby dat ek sy teenwoordigheid kan voel. Weer bokspring my hart en vieserig skuif ek die foon na my ander oor. Het ek myself nie belowe as hy ooit weer sou bel dat ek hom sy fortuin sou vertel nie; in geen onduidelike terme nie. En hier giggel ek soos ‘n skoolkind al blosend omdat haar kys gebel het. Jy moet jou kop laat lees: dog ek by myself in die paar sekondes van stiltes.
“Ek verstaan maar alte goed en jy dink dit is seker snaaks dat ek nou bel na maande se stilswye. Maar ek wil met jou gesels en verduidelik as jy my ‘n kans sal gee.” Daar is ‘n versigtigheid in sy stem, fyn maar tog tasbaar deur die golwe en ek vat ‘n diep teug voor ek antwoord.
“Jy het verdwyn uit my lewe uit vir vier lange maande. My blatant geignoreer sonder enige verduideliking ten spyte van al die kere wat ek probeer het om kontak te maak.” Kon ek nie help om uit te byt nie. Katterig ek weet maar ek het deur hel gegaan die laaste paar maande, vir hom. Maar ek wil weet wat is die redes. Ek wil verstaan hoekom hy my net so gelos het sonder verduideliking: hy skuld my dit immers. Of ek hom sal terug vat is ‘n ander storie (wie bluff ek, natuurlik sal ek) maar ek moet nou nie te ver voor uit dink en begin lugkastele bou nie, betugtig ek myself.
Kan ek jou kom sien?”
“Wanneer?”
“Nou?” Dirk is altyd so seker van himself maar nou gewaar ek die spanning in hom en besef ek dat dit vir hom ook moeilik moes wees.
‘n Vlietende gedagte wat my hart laat spring van vreugde—miskien sal dit goed wees om dit sommer gou agter die rug te kry en ek knik my kop. Die stilte rek en ek besef hy kan my nie sien nie en met ‘n knop in my keel stem ek in hardop en hy sluit af met: “Sien jou nou nou.” En ‘n stilte volg die spanning.
‘n Swanger stilte.
Ek ken hom goed genoeg om te weet hy neem nie ligtelike besluite nie en dit moes hom ‘n tyd gevat het om dit wel te doen. Hy sou alles mooi oordink het; vir ‘n ruk lank met die gedagte gespeel het totdat hy vrede het en dan die daad by die woord voeg. So onthou ek hom.
My refleksie weerkaats terug na my vanuit die kamer spieël en ek sluk. Ek weet sommer ek gaan nie genoeg tyd he om ten minste te bad nie maar ek kan darem net iets beter aan trek en my hare kam. My hand gly oor my heupe en vir ‘n oomblik maak ek my oë toe: herleef ek sy hande op my lyf. Dit was altyd eisend, uitdagend en verloklik en ek kon nie help om te droom oor die oomblik van aanraking nie—sy aanraking het my altyd weggevoer na onbeskryflike plekke—weer maak ek my oë oop en ek gewaar ‘n blos op my gelaat. ‘n Sagte glimlag begroet my en vir ‘n oomblik staar ek na my beeld. Ek lyk sag, verlief, soos ‘n bruid—stralend, en ek lag—‘n Uitbundige klank wat met oorgawe deur my ingewande bars en my hele wese vul met iets kosbaars.
“Ruk jouself reg Louise.” En ek stap weg van die beeld van wat kan wees. My maag ‘n maalkolk van lewe wat ek probeer ignoreer.

“Hierdie keer vat jy dit rustig. Hierdie keer laat jy hom toe om die jag werk te doen.” 
Kopiereg voorbehou.

@Lynelle Clark 2016

Volg die link vir Deel 2 van 'n Waagstuk van Liefde
Deel 3

Kom kuier gerus en vind uit wat gebeur tussen Louise en Dirk.
Jul terugvoer sal waardeer word. 

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...